Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 76
Legende van die drenkelinge
ОглавлениеHet water rijst aan ’t hart.
VONDEL (Noach)
Toe die eerste los bui oor die aarde val
het geeneen Hom herken – die kinders het mal
in die reën gespeel en diep in hul longe
die klam lug gesnuif of koel op hul tonge
die druppels laat breek; die oues teen bome
het stiller gekyk hoe dampe afstoom
van kors-droë klippe en talmend opstyg
langs die stamme, die blaarlose twyg:
Die reën het gekom, die reën
ná die roep van korhaan en deur nagte aaneen
die paddas en kriekies.
Maar later toe die druppels deur
die rooi hibiskuskelke en piesangblare skeur,
en uit die watervlies rysmiere twee-twee tou
teen stele gras en aan die hoogste stengels klou,
toe sterk fonteine orals uit die splete borrel,
erdwurms slymrig boontoe kruip, die eerste korrels
hael die wildevy en -dadel saai, die vlerkie breek
sodat die bruinpatrys dit spring-spring langs hom sleep,
bosbokke na mekaar toe draf en bulk en stom
gaan staan in halwe kringe en met rûe krom
teen wind; die wolke krys en met geel kloue
bome uit die aarde ruk, was elke kind en vrou
en agter al die kalmte elke man bevrees
vir die ongekende toorn van die Watergees.
En een, ’n reus uit die verdorwe ras
wat onverskrokke in sy sondes was,
het onrustig gedink: “Is dit ons te wagte
ná al die gevegte, besittings en nagte
van fees en van vrou? Is dit ná die spot
tog die uitverkore groepie se God
wat in slypende wind en verblindende mis
ons begeertes met weerlig en hael uitwis
en die kruipende waters wat alles bedreig,
bó die mes se kerf teen die stam laat styg?
Is dit nou die wraak van die aardse dinge
wat ons jaag met ’n haat na die hemeltinne?
“Agter ons in takke van die bome vasgekeer
spring die wildekat en apies klaend heen en weer,
maar uit bosse voor die waters wat ons volg,
maanhaarleeu en kalf, duikerlam en wolf,
vinnig voor ’n Herder, één kudde teen die bult,
draf ons langs mekaar, wedersyds geduld;
wedersyds geduld, leeu en lam, deur die nood één
draf ons oor die klippe, draf ons deur die reën,
draf ons langs mekaar, Sy kudde aangehits
met wit swepe na die hoogste spits.”
Maar dan groei die haat: wie die vinnigste
klim teen die rots kan miskien die enigste
wees wat dié nag in genade sal bly.
Toe gryp hy sy mes teen die steilte en sny
en steek sy pad langs die hygende flanke oop
dat hy vryer kan trek aan die wortels en loop
oor die lys na die rots; en sy kierie die klink
teen kneukels en koppe wat een vir een sink
terug deur die reën en rol en ingly
slap in die waters wat kwaaier uitsprei
waar die voëls moeg en honger in klompe
neerstort in die donker of tjulp op drywende stompe.
“U stroom groot en grys om die klip
en die wêreld bly enkel ’n stip
in U roering en kolk.” Laat die nag het hy
sy hand oor die laaste kriekie gesprei –
en toe die more rooi oor die waters skyn
en ’n walvis wat spuit soos ’n kleinvis verdwyn,
klou hy vingers en naels aan die klip
wat skielik soos ’n dier onder hom ruk.
“Al was ek op aarde U sterkste mens
tot die end . . .”
Maar die blink sens
van die golwe maai oor die rots.
“Ag, alles bly stroming en donker geklots
van diep branders . . . buite U Ark van Genade.
En wat is die mens, en wat is sy dade
sonder U? Ek spartel in seë, snik
in U branding, sink tot slik . . .”
Toe breek uit nastuiwende wolke hoog
en diep in die waters ’n groot reënboog.