Читать книгу Versamelde poësie - D.J. Opperman - Страница 69

Nagwaak by die ou man

Оглавление

Die wind waai waar die otter blink die kuil

verlaat en teen grasdrifsels snuif en huil,

fluit uit spelonke van die nag en ruis

egalig deur basbome om die huis,

maar tussen balke en vaal mure brand

’n kersie in die kamer stil eenkant

oor sy beroerte-liggaam, soos ’n maan

oor stukke seilskip teen ’n kaap vergaan,

waar ander strome aan die wrakhout roer

en weg van wind-omwaaide rotse voer.

In ’n riem-oog uit die hoë balke

rus sy dooie arm . . . ’n oopgespalkte

boavel hang teen die muur, en horings

van die groot sterk bokke uit die dorings.

Karosse op die vloer . . . maar skielik

uit geel portrette groei die streng blik

van voorgeslagte, en ek voel die gloed

wat in hul oë brand, mag in my bloed,

mag in my lende nie sy einde vind,

moet verder veg teen tier, teen hierdie wind.

Hoe vreemd dat almal hier vannag, uit hom

soos pluimsaad uit ’n ope skede kom:

hy wat geel stede bou maar in die fyn

stem van die troffel teen die steen sy pyn

herken; ’n jongere wat in die nagte

soos ’n sku dier in die aarde skagte

grawe; en ’n regter wat sy vonnis vel

maar snags homself veroordeel tot die sel;

hoe hulle, anders van mekaar verwyder,

vannag weer in die eerste skede sluimer.

“Nou dat die berge, sterre, in hom stort

en baard en oë riet en water word,

sien jy in hom die ruie oer-moeras

waaruit jy kruip en vegtend verder tas.

Óm jou word alles weer opnuut gevorm:

die berge styg, die sterre en die storm,

maar sal weer stort; jy moet geboorte gee

aan stringe kuile, kranse en die see

en so aan My; Ek is die skepping, roer

van poel tot poel, en wee die blinde moer!”

Was ek vanoggend aan die spruit se kant

dan spits kristal, verwarde waterplant,

die ooggat van ’n grot? Uit hamerkop

hou ek bedags die troebel kuile dop,

is snags reikhalsend in elk onderdeel

van die heelal gevange, U geheel

wat dromend wissel uit die eerste poel

deur klip en varing na ’n verre doel.

Ek, sewe selwe in myself gesluit,

kan nooit met sekerheid oor iets besluit;

ek: snags ’n doringboom wat op die Plein

gewaar uit elke vastigheid verskyn

daar sewe skaduwees, en deur die nagte

óm my die skimme sien van voorgeslagte

wat altyd in my skuil . . . en insigte

wat wissel volgens sewe ligte.

As die volmaan oor die valleie kwyn

en alles silwerig verglans, verskyn

hul op wit hingste in die nek en kyk

na die ver-land wat voor die enkeling wyk,

want as ou vegters word ons afgeskif

soos leë silwer velle van die drif

wat deur die eeue veg. Net snags verskyn

party as skimme as die volmaan kwyn.

Maar wind sal waai, ’n otter blink sy kuil

verlaat en teen grasdrifsels snuif en huil,

die lamp sal oor my liggaam brand, ’n maan

oor stukke seilskip teen ’n kaap vergaan,

en uit my sal die jongeling op die strand

hom vind voor bosse van ’n nuwe land

waaroor die wind nog waai, die weerlig vleg,

en teen die tier sal hy die stryd besleg

maar weet soos voorvaders met ruie baard

die streke van die gees bly ongekaart.

Versamelde poësie

Подняться наверх