Читать книгу Laat u Naam geheilig word - Esté Geldenhuys - Страница 10

El

Оглавление

Die Almagtige, die sterk Een

Hebreeus is oorspronklik in ’n piktografiese alfabet geskryf. Daar word vertel dat die teken wat oorspronklik gebruik is om El aan te dui ’n juk nageboots het. Dit is nou die juk waarin osse vasgemaak word om ’n wa of ’n vrag te kan sleep. Osse word gewoonlik twee-twee gejuk, langs mekaar. Deur die eeue heen was dit die gebruik om ’n jong en onervare os saam met ’n sterk en ervare os in ’n juk in te span. Op dié manier kon die jong os van die ou os leer wanneer die ou os die leiding geneem en die jong os gevolg het. Die krag van die ou os was ook van groot belang. As die jong os in ’n verkeerde rigting sou beur, moes die ou os genoeg krag in hom hê om die rigting te bepaal.

Die pragtige beeld van die twee osse saam in een juk, en veral die feit dat die beeld van ’n juk gebruik word om El te beskryf, hou ’n boodskap in wat ’n mens baie stewig in jou hart moet vasmaak voordat jy die volle betekenis en toepassing van hierdie Naam oorweeg. Besef dat El reeds in die juk staan. Sien dan hoe jy langs Hom gejuk word. Hy ken die pad wat aan jou onbekend is. Hy ken die beste roete na die eindpunt. Hy het genoeg krag wanneer jy geen krag het nie. Jy kan jou op Hom verlaat vir die regte rigting. Sy krag is altyd teenwoordig; wanneer jy voel dat jy nie meer kan aanhou nie, sal Hy jou saamneem omdat sy krag genoeg is vir julle albei. Verder, dink daaraan dat jy nooit alleen is nie. Jy stap jou lewe in – in een juk saam met El. Nooit aan jouself oorgelaat nie … tensy jy kies om weg te breek.

Gebruik van die Naam El in die Woord

Die Naam El word ongeveer 250 keer in die Woord gebruik. Hoewel dit heelwat minder is as die gebruik van Name soos Elohim, wat na raming 3 000 keer voorkom, en YHWH, wat 7 000 keer voorkom, beteken dit nie dat hierdie Naam minder belangrik is nie.

Dit is baie interessant om op te let dat die Naam El in die eerste 17 boeke van die Ou Testament (met die uitsondering van Job en Psalms) 58 keer verskyn, terwyl dit in die boek Job alleen 52 keer voorkom en in Psalms 64 keer. Hierdie feit is ’n weerspieëling van Job en Dawid se verhouding met El, die Almagtige. Dit is twee mense wat waarlik geleer het om hulle ondergeskik te stel aan die juk van El.

Toe het Job die HERE [YHWH] geantwoord en gesê: Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie. Wie verberg die raadsbesluit daar sonder kennis? So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie. Hoor tog, en ék sal spreek; ek sal U ondervra en onderrig U my! Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as.

– Job 42:1-6

Lees ook Psalm 121:1-8 en kyk hoe Dawid sy afhanklikheid daarin uitspel.

Betekenis van die Naam El

Hierdie naam beteken “die almagtige, sterke God”. In Engels word dit vertaal met “the strong One”.

In die Hebreeus staan die woord “krag” voorop. El is die God van krag; daarom weet ons ook uit die Hebreeus Hy is almagtig, wat ook in ’n persoonsnaam gebruik word as “die Almagtige”.

In die Hebreeus is daar nog ’n paar kosbare woorde wat gebruik word om die spesifieke krag van El te verduidelik:

•Hoof – in die sin van ’n politieke opset.

•Dit verwys ook na die krag van ’n ram.

•Dan is daar ook die betekenis van ’n sterk pilaar wat onwrikbare ondersteuning gee, waarop jy kan vertrou.

El is kragtiger as enigiets of enigiemand anders. Onthou jy hoe seuntjies graag spog oor wie se pa die sterkste is? Ons kan waarlik sê ons Vader, wat ook El is, is die sterkste. Die Naam El is die fondasie van wie God is. Hy is in die eerste plek krag en sterkte en sy almag troon uit bo alles en almal wat mag het. Daar is niks in die skepping, geen mens of dier, geen regering of weermag, geen geestelike wese, afgod, demoon of idee, wat groter krag of mag het as El nie.

El ís die Almagtige, die sterke God.

Voorbeelde uit die Skrif

Die heel eerste keer waar die Naam El in die Woord voorkom, is in Genesis 14:18-20:

En Melgisédek, die koning van Salem, wat ’n priester van God [El], die Allerhoogste [Elyon], was, het brood en wyn gebring en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God [El], die Allerhoogste [Elyon], die Skepper van hemel en aarde. En geseënd is God [El], die Allerhoogste [Elyon], wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles.

Dit is wonderbaarlik dat die eerste vermelding in die Woord van die Naam El kom uit die mond van die priester Melgisedek. Hy was meer as ’n heenwysing na Jesus, of dan Yeshua. Hebreërs 7:3 verwys daarna dat Melgisedek aan Christus gelykgestel word, sodat Yeshua Hoëpriester sou word volgens die orde van Melgisedek. Dit is nie moontlik dat Yeshua, ons Messias, in die priesterorde van ’n mens sou volg nie; daarom glo sekere studente van die Woord dat Yeshua, as Melgisedek, Self vir Abraham ontmoet het.

Gesien in die lig van die belangrikheid van sy rol, is dit betekenisvol dat juis Melgisedek die eerste ooit was om brood en wyn te bedien, en dit sowaar aan Abraham, die vader van alle gelowiges. In hierdie gebeure word ook vir ’n eerste keer in die Woord genoem dat iemand ’n tiende van sy inkomste géé – Abraham het ’n tiende van sy buit aan Melgisedek gegee. Daarna is dit ewe betekenisvol dat Melgisedek Abraham seën voordat hulle mekaar groet. Dit is die eerste voorbeeld daarvan dat een mens ’n ander seën. Voor hierdie insident word daar wel beskryf dat Elohim mense geseën het. Noag was die eerste mens oor wie Elohim ’n seën uitgespreek het, maar geen mens het in daardie stadium ’n ander mens geseën nie. Boonop gebeur dit alles in Salem, wat later Jerusalem sou word, die plek wat Elohim gekies het as die plek waar Hy aanbid sal word.

Hierdie gedeelte is ryk aan voorbeelde van dinge wat eers in die Nuwe Testament duidelik verstaanbaar sou word en wat in Yeshua in vervulling sou gaan. Dink ’n oomblik wat alles gebeur het tussen hierdie oomblik wat in Genesis 14 beskryf word en Lukas 2. Dink aan die soewereiniteit en outoriteit van die Almagtige wat oor so ’n lang tydperk gedoen het wat Hy beplan het om te doen, en weet dat dit wat die hele proses gedra het die almag, krag en sterkte van El was.

As die betekenis van die naam El krag en sterkte impliseer, besef ’n mens dat dít is wat Job en Dawid en ander psalmskrywers baie nodig gehad het – krag en sterkte.

Kyk hoeveel keer het Dawid na El uitgeroep. Nogtans het dit jare geduur voordat die vlug voor Saul tot ’n einde gekom het. Maar Dawid het geweet waar sy krag lê:

En hy het gesê: Ek het U hartlik lief, HERE [YHWH], my sterkte. Die HERE [YHWH] is my rots en my bergvesting en my redder; my God [El], my rots by wie ek skuil; my skild en die horing van my heil, my rotsvesting. Ek roep die HERE [YHWH] aan wat lofwaardig is, en van my vyande word ek verlos. Toe ek benoud was, het ek die HERE [YHWH] aangeroep, en ek het tot my God [El] geroep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor, en my hulpgeroep voor sy aangesig het in sy ore gekom.

– Psalm 18:2-4, 7

Die verwysing na “die horing van my heil” is ’n Ou-Testamentiese simbool van die krag van El. Vir die volle duur van Dawid se vlug voor Saul het hy na El uitgeroep. In dié mate dat Dawid sy afhanklikheid van die almag van El bely het, het hy self in die karakter van El ingegroei en in die proses self meer outoriteit ontvang.

Job het verstaan wat met hom gebeur:

God [El] gee my oor aan slegte mense en werp my in die hande van die goddelose.

– Job 16:11

El in kombinasie met ander Name

Die naam El kom in kombinasie met ander Name voor. Elk van die ander Name het ’n eiesoortige betekenis. Elke keer dat die Naam El by ’n ander Naam gevoeg word, beteken dit dat die grootste krag wat bestaan tot die betekenis van daardie Naam toegevoeg word.

El Chaydie Lewende God

El Elyondie Allerhoogste

El GibborMagtige Kryger

El OlamDie ewige God

El RoiDie God wat sien

El ShaddaiDie Algenoegsame Bevrediger

El – Elohe – IsraelDie God van Israel

Wat beteken hierdie Naam vir my in my alledaagse lewe?

Geen mens se krag is groter as die krag van El nie. Sy krag oorskadu ook die krag van die Bose totaal. Niks wat die Bose beplan, kan die krag van El troef nie.

Dink aan die aanslag op Job se lewe. Lees daarvan in Job 1:6-12.

Dit is ’n baie interessante toneel wat hom hier afspeel. Die “seuns van Elohim” na wie in die Skrif verwys word, is dié wat aan Elohim behoort. Sou dit ’n geleentheid wees om op die een of ander manier verslag te doen, of was dit gewoon beraadslaging? Maar in hierdie Goddelike geledere van die almagtige YHWH Elohim wurm Satan hom in.

Interessant dat YHWH hom vra waar hy vandaan kom. Op sy antwoord – ’n swerftog oor die aarde – vra YHWH of Satan vir Job gesien het. Dan gee YHWH ’n karakterskets van Job: “’n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad”. Sonder inagneming van die krag van El wat steeds die hef in die hand het ten opsigte van Job se lewe, maak Satan allerlei listige voorstelle. Hy gaan ’n ooreenkoms met YHWH aan dat wanneer hy alles wat aan Job behoort van hom af wegneem, Job sy rug op YHWH sou draai, aldus volgens Satan.

Ja, die aanslag op Job se lewe was ’n sataniese aanslag. Satan is baie dinge, slu en agterbaks en hy is ’n vasbyter – maar ’n mens moenie vergeet dat hy ook baie magtig is nie. El is almagtig, maar niemand moet die krag van Satan onderskat nie. Toe Satan met mag en mening op Job neerkom, was dit slegs die krag en sterkte van El wat Job kon red. En Job het die regte keuse gemaak toe hy gekies het om saam met El onder dieselfde juk te staan.

Lê hierdie gedagte by jou vas: Job het geen planne gehad nie en hy het geen uitkoms gesien nie. Hy het álles verloor en was sonder moed. Selfs sy vriende se inspraak was van so ’n aard dat ons in Afrikaans ’n idioom het wat na Jobstroosters verwys. Krag, innerlike krag, is waarlik al wat Job weer kon optel. Onthou ook dat daardie krag in Job gekom het nadat hy ’n persoonlike ontmoeting gehad het met die lewende, almagtige Elohim, die Skepper van alle dinge. Dit is baie insiggewend dat die vroom Job moes uitroep:

Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie. Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. Daarom herroep ek en het berou in stof en as.

– Job 42:2, 5-6

Dit is vandag nog vir alle mense waar dat gebeure in ons lewe ons so kan lamlê dat ons enigste kans om op te staan die krag van El in ons is. En soos met Job, is die enigste manier om waarlik deur hierdie krag versterk te word ’n persoonlike ontmoeting met El, die Almagtige.

Weet jy dat jy Yeshua as jou Verlosser ontvang het? Beoefen jy godsdiens (waar die dóén van dinge vir jou belangriker is as enigiets anders), of weet jy dat jy leef vanuit ’n persoonlike liefdesverhouding met die Een wat jou Skepper en die krag in jou lewe is? Soveel mense gaan gebuk onder situasies in hulle lewe. Mense word die slagoffers van hulle omstandighede wat hulle al dieper in ’n put aftrek. Maar die krag van El kan ons uit enige gat uithaal. Dink oor jouself. Is jy ’n “victim” van of die “victor” in jou omstandighede? Leef jy soms in ’n put? Of is jy gejuk saam met El, in sy krag op pad om vir ander rondom jou die koers aan te dui?

El heers ook oor die krag van die natuur. Wanneer siklone en tsoenami’s op kusstroke afstorm, besef ’n mens die ware krag van die natuur wat niks en niemand in ag neem nie. Hierdie natuurkrag is die krag van El. Dit is waartoe Hy in staat is. Van tyd tot tyd het die mens nodig om van die omvang van sy krag kennis te neem.

Maar wat dit ook al is wat teen jou te staan kom, weet dat El sterker is. El is groter as ’n gewapende aanvaller. Hy is groter as ’n finansiële krisis of ’n verhouding wat skeefloop of ’n verslawingsprobleem of eensaamheid. Daar is soveel mense wat getuig van Goddelike uitkoms wat net deur El bewerk kon word.

Onthou net, die feit dat El sterker is as enige storm waarin jy in jou lewe kan beland, beteken nie sy krag sal onmiddellik elke storm stilmaak nie. Nee. Maar Hy sal vir jou krag gee om te bly staan terwyl Hy vir jou die pad deur die storm en uiteindelik uit die storm uit wys. Petrus hét op die water geloop – totdat hy sy oë van Jesus afgehaal en vir die storm gekyk het.

Hoe om te bid oor die Naam El

Bid dat jy sal leer om op El te fokus.

Bid vir sy vrede. Terwyl jy op Hom fokus, ontvang jy reeds vrede. Bid dat die vrede van El ’n direkte invloed op jou gedagtes sal hê, en dat hierdie vrede jou sal help om rasioneel te dink sodat die nuutskeppende gedagtes van Elohim jou kan rig.

Bid dat jou swakheid sal verdwyn in sy krag. Paulus het ook hieroor geskryf:

Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.

– 2 Korintiërs 12:10

Bid dat jy sal leer wat jy moet leer uit elke lewenstorm en dat El jou in die proses sal beklee met sy karakter. Swaarkrytyd is karakterboutyd. Elohim stel meer belang in ons karakter as in ons gemak.

Weet dat El ook die horing van jóú lewe is. Terwyl dinge om jou woed, loof die Naam van El omdat Hy groter en sterker as jou probleem is. Wees veral bedag op die krag van El wanneer jy nie krisisse beleef nie.

Om El te vertrou is om in Hom te rus. Wat beteken dit?

Wat maak jy wanneer jy rus? Jy doen so min moontlik. Om in die rus van YHWH Elohim in te gaan, is om ook in die gees terug te staan, om nie self planne te maak en jouself te probeer red nie. Onthou, solank ek en jy self en uit eie krag veg, onttrek YHWH en sy engele. Óf ek veg en los my probleme alleen op sonder enige hemelse hulp óf ek laat YHWH Elohim toe om dit vír my te doen. Die oomblik wanneer ek terugstaan en Hom vertrou, ontvang ek krag van El om terug te staan en op Hom te wag. Daardie wag – om dít te oefen, is om te oefen om in sy rus in te gaan. Enige bydrae wat ek en jy dan maak in ons situasie, sal moet geskied deur die inspraak van YHWH Elohim.

As ons die plek van rus in Hom leer ken terwyl ons nie krisisse beleef nie, is dit makliker om in daardie rus in te gaan wanneer iets skeefloop. Ons moet leer om te rus in Hom in elke situasie van ons lewe. Hoe meer ons op Hom vertrou, hoe meer kan sy krag ons ondersteun.

Weet dat El ook die horing van jou lewe is. Neem Skrif soos Psalm 18 en bid dit oor jouself.

Ek het U hartlik lief – elke keer wat ons El vertrou, het ons Hom lief. Vertrou op sy krag in jou situasie en weet: Omdat jy Hom vertrou, het jy Hom lief. Maar leer om die woorde uit te spreek – “Ek het u hartlik lief!”

Bid dan:

Vader, dankie dat U as El ook my krag en sterkte is! Daar is so dikwels dinge waarvoor ek te staan kom wat vir my te veel is. Ek kies om my voortaan net op U te verlaat. Ek bely dat ek nie regtig weet hoe nie. Leer my wat dit behels dat ek met U gejuk is, dat U my elke dag die regte pad wil wys en dat u krag my las lig maak. In die Naam van Jesus, help my om u krag en u voorsiening raak te sien. Ek aanbid U. Amen.

Laat u Naam geheilig word

Подняться наверх