Читать книгу Laat u Naam geheilig word - Esté Geldenhuys - Страница 5

Inleiding

Оглавление

Hoekom hierdie boek?

Wanneer iemand my sou vra hoekom ek hierdie boek geskryf het, is die enigste antwoord dat ek ervaar het ons Vader het my gevra om dit te doen. My opdrag was ook duidelik om dit in Afrikaans te skryf. Daar is reeds baie boeke wat in Engels oor die Name van God geskryf is, maar baie min in Afrikaans. Verder weet ek dat ek my makliker in my moedertaal uitdruk. Een groot aspek wat van die begin af in my gehuiwer het, is die feit dat ek nie Hebreeus magtig is nie. Die beskikbaarheid van konkordansies en die Woord wat spreek en aanmekaar na my uitgeroep het, het my egter so oorweldig dat ek dit wat ek in myself as ’n tekortkoming beleef het, eenvoudig opsy moes skuif. Die skryf van hierdie boek is ’n stap van gehoorsaamheid. Dit is al. Ons alwetende Vader-God het my gevra om dit te doen en ek was gehoorsaam. Nou staan ek terug om Hom toe te laat om daarmee te handel volgens sy wil.

’n Akademiese handboek?

Dit is nie ’n akademiese handboek hierdie nie. Dit is gebore uit persoonlike intimiteit met die almagtige drie-enige God in wie ek glo. Daarom is dit ook bedoel om elkeen wat dit lees te begelei na ’n dieper verhouding met ons Vader, met Jesus en met Heilige Gees. Hiermee bedoel ek hoegenaamd nie dat ek die optimale diepte in my verhouding met die Almagtige bereik het nie. Al wat ons elkeen te doen staan, is om te getuig van dit wat ons in die Vader beleef. My gebed is dat Heilige Gees krag sal verleen aan die getuienis wat in hierdie boek opgeteken is; krag wat, soos Hy dit wil, lewe en groei teweeg sal bring.

Die inhoud van hierdie boek is om ’n baie spesifieke rede in vier dele verdeel. Deel een gaan oor agt Name wat die grootsheid van die Skepper-God beskryf. Die Een wat soewerein, almagtig en alwetend is. Name wat verwondering by ons wakker maak. Deel twee gaan oor dit wat hierdie almagtig God van enige ander wese onderskei – sy heiligheid. Omdat Hy heilig is, is geregtigheid deel van wie Hy is. Omdat Hy slegs vanuit geregtigheid optree, is Hy die God wat straf en vergeld en daarom ook verlos. Deel drie gaan oor drie Name wat God beskryf as die HERE van die leërskare en die magtige Kryger wat ons wil beskerm. Deel vier kyk na Name wat ons verseker God versorg en voed ons omdat Hy altyd dáár is. Hy is die Een wat vrede gee.

Bronne

Die bronne wat in die studie vir hierdie skrywe gebruik is, was hoofsaaklik die Bybel en wel verskillende vertalings van die Bybel. Dit is nie my gewoonte om net een vertaling van die Bybel te lees nie. Hoe meer vertalings ek het om te raadpleeg, hoe beter.

Die vertaling waaruit die meeste aanhalings in hierdie boek kom, is die Ou Afrikaanse Vertaling, die hersiene uitgawe van 1953, uitgegee deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

’n Lys van ander vertalings en bronne wat ek gebruik het, verskyn agter in die boek.

Laaste maar nie die minste nie, is hierdie boek geskryf soos Heilige Gees dit gelei het.

Die spelling van Hebreeuse woorde in Afrikaans

Wat die spelling van die Hebreeuse Name van God betref, is dit ’n geval van soveel hoofde, soveel sinne. Veral vir die Naam YHWH is daar meer as een spelling wat aanvaar word.

Sommige glo die korrekte spelling is Yahuweh, terwyl ander verkies om dit Yahowah te skryf. Dan word daar ook gebruik gemaak van Yahweh terwyl die King James Version dit vertaal het met JEHOVAH. Ander dring aan dat die spelling YHVH behoort te wees.

Die spelling van die Naam Yeshua lok ook baie redenasies uit omdat sommige aandring dat dit Yashua moet wees.

Vir hierdie publikasie het ek die keuse gemaak om te volstaan met YHWH vir die Naam van die almagtige EK IS wat op sy eie bestaan, en vir Yeshua vir die Naam van ons Messias en Verlosser.

Die gebruik van Skrif in die boek

Daar is in hierdie boek baie van aanhalings uit die Skrif gebruik gemaak. Die boodskap van die boek is op Skrif gebaseer; daarom moet ’n mens self die Skrif kan lees om saam te gesels oor dit wat daar geskryf word. Omdat dit dalk vir baie mense moeite sal wees om die boek met die Bybel reg langs hulle te lees, maak ek dit makliker deur die Skrif direk aan te haal. Moet asseblief nie die Skrif oorslaan nie. Lees elke aanhaling. Dit is juis die Skrif wat verskillende mense op verskillende maniere gaan aanspreek soos geen mens dit kon bepaal nie. Mag die Gees van Christus deur die Woord in hierdie boek nuwe lewe bring!

Waarom Hebreeuse Name?

Ons hemelse Vader het besluit om vir Hom ’n volk te skep en daar te stel as ’n mensegroep deur wie Hy Homself fisies maar ook profeties aan die mensdom wou openbaar. Hy het gekies dat daardie mensegroep Hebreeus sou wees. Die taal wat God se volk gepraat het, was Aramees en Hebreeus. Die Name wat aan Hom gegee is en wat ons veral in die Ou Testament kry, is dus Hebreeuse Name. Om hierdie rede word die Hebreeuse Name van God in hierdie boek bespreek. Dit is ’n wonderlike studie juis omdat die Hebreeuse taal so ryk en vol is. Dit is dan ook al waarop hierdie studie gemik is. Daar is geen ander bedoeling met hierdie werk nie. Jesus Christus het as die Seun van God die Seun van die mens geword sodat Hy Homself as die volmaakte offer kon aanbied om só die Nuwe Verbond vir die mensdom te kon instel. Maar Hy het ook gekom om as die “Woord” stem te gee aan die Vader se liefde vir die mensdom. Yeshua het gekom om die Vader aan ons bekend te stel, en hierdie Vader word soveel dieper geken deur die verstaan van sy Hebreeuse Name. Alle lof en eer aan Yeshua en deur Hom aan YHWH.

Die invoeging van Name in Hebreeus in Skrifaanhalings

In die Skrif, die Bybel, word na die Skepper verwys as “Here”, “HERE” of “God”, ook as die “Almagtige” of “Ewige”. Daar is soveel Name vir God in Hebreeus wat in ons vertalings tot genoemde verwysings gereduseer word. Ja, daar is net een God, maar sy karakter is so groot en omvangryk. Dit word so wonderlik in sy Hebreeuse Name uitgedruk. Omdat die doel van hierdie boek is om ons te help om die omvang van God se karakter en wese te snap, gebruik ek hier die Hebreeuse Name wat volgens Strong se Konkordansie in die oorspronklike taal gebruik is. Ter wille van begrip voeg ek dit tussen hakies in teksaanhalings in.

Laat u Naam geheilig word

Подняться наверх