Читать книгу Laat u Naam geheilig word - Esté Geldenhuys - Страница 14

El Chay

Оглавление

Die lewende Almagtige

Lewende. Lewe. Wat ’n geweldige begrip! Teenoor die lewe staan die dood. Daar is nie iets soos “byna lewend” nie. Iemand of iets is óf lewend óf dood. En waar daar lewe is, is daar hoop en ’n toekomsverwagting en geleenthede, nog ’n kans …

Dood is finaal, afgehandel, verby, klaar.

’n Baie groot wonder ten opsigte van lewe is dat slegs lewe daartoe in staat is om lewe te baar. Wat sou die mens tog wou gee om uit eie krag iets uit niks te kon skep, iets wat lewend is, hetsy ’n plant of dier of vis of voël. Ja, die mens is betrokke by die voortplanting van die mens, maar selfs dit is ’n wonder wat nie vir almal in ’n japtrap gebeur nie. Slegs die Bron van lewe kan vir die mens die vermoë verseker om lewe voort te bring.

Lewe het ’n bron, ’n begin, ’n oorsprong en hierdie oorsprong lê in die enigste lewende God wat lewe in Hom omdra. Daarom kan Hy lewe baar, weer en weer en weer. Dit is die lewende God wat voortplanting in plante en in diere en visse en voëls en die mens ingebou het. Elkeen en alles wat kan voortplant, het daardie vermoë te danke aan die Een wat die enigste Gewer van lewe is. Maar Hy wat lewe gee, kan ook lewe neem.

Dink maar aan die vyeboom wat verdor het omdat Jesus dit oor hom gespreek het (Matt 21:19-21). Onthou ook die verwoesting van Sodom en Gomorra en selfs die vrou van Lot en daarteenoor Abraham en Sara wat op ’n hoë en menslik onmoontlike ouderdom hulle eie seun gehad het. Slegs “Lewe” kan lewe baar, selfs in die onmoontlikste situasies.

Dink ook weer na oor die miljoene gode wat op aarde aanbid word. Nie een van hulle lewe nie; almal is morsdood. Die grootste wonder is dat nie een van hierdie lewelose gode hulle lewe gegee het vir dié wat in hulle glo nie. Jesus, Yeshua, wat die Christus is, het as mens sy lewe gegee vir elkeen wat in Hom glo. As mens het Hy aan ’n kruis gesterf. Yeshua wat as mens gekom het, het doodgegaan, maar omdat die Skepper-God lewe is, het Hy uit die dood opgestaan. Die dood kon Hom nie oorweldig nie, want Hy is die Skepper van lewe en die Goddelike lewe wat in Hom is, het die dood oorwin.

Die God wat ons dien, lééf; Hy is die enigste bron van léwe! Sy naam is El Chay.

En El Chay vra vandag steeds vir ons elkeen: “Kies dan die lewe” (Deut 30:19). Saam hiermee vra Hy ook dat ons Hom en Hom alleen sal vertrou. Kyk na die belofte van lewe wat met hierdie vertroue saamgaan:

So sê die HERE [YHWH]: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die HERE [YHWH] afwyk. En hy sal wees soos ’n kaal bos in die wildernis, en hy sal nie sien as die goeie kom nie, maar dor plekke in die woestyn bewoon, ’n brakkerige en onbewoonde land. Geseënd is die man wat op die HERE [YHWH] vertrou, en wie se vertroue die HERE [YHWH] is. Want hy sal wees soos ’n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ’n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie. Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken? Ek, die HERE [YHWH], deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.

– Jeremia 17:5-10

Gebruik van die Naam El Chay in die Woord

Die begrip “lewende God” kom 29 keer in die Woord voor, 15 keer in die Nuwe Testament en 14 keer in die Ou Testament. In die Ou Testament kom die gebruik van hierdie Naam 9 keer voor as Elohim Chay en 5 keer as El Chay. Dit is heerlik om te sien dat die Een wat ons as die lewende God aanbid, erken word vanaf Deuteronomium tot in Openbaring.

Vir almal wat meer wil lees, hier is die teksverwysings: Deuteronomium 5:26; Josua 3:10; 1 Samuel 17:26, 36; 2 Konings 19:4, 16; Psalm 42:2; 84:2; Jesaja 37:4, 17; Jeremia 10:10; 23:36; Daniël 6:20; Hosea 1:10; Matteus 16:16; 23:63; Johannes 6:69; Handelinge 14:15; Romeine 9:26; 2 Korintiërs 3:3; 6:16; 1 Timoteus 3:15; 4:10; 6:17; Hebreërs 3:12; 9:14; 10:31; 12:22; Openbaring 7:3.

Die klem val op Chay, wat “lewende” beteken. Dit gaan oor die feit dat Hy die lewende God is. Wanneer die kombinasie Elohim Chay gebruik word, verklaar dit dat die drie-enige Skepper van soewereiniteit en outoriteit die lewende God is. Waar El gebruik word, word daar verwys na die Almagtige wat die lewende God is.

Betekenis van die Naam El Chay

“Lewe”, met ander woorde “nie dood nie”. “Lewend”, wat verwys na iemand of iets wat nie net lewe nie, maar wat ook vol van lewe is. In die Hebreeus bevat die betekenis van Chay ook die gedagte van “vars”, wat ’n mens herinner aan die vars kleur en voorkoms van nuwe lewe wat met lente uit die oënskynlik dooie takke van winterbome begin bot. Chay verwys na lewe in die letterlike en figuurlike betekenis. Daar is ’n verskil tussen ’n mens wat letterlik lewe en die figuurlike opdrag van God wat in die mens se hart bly lewe.

Nog ’n kwaliteit wat vir Chay uit die Hebreeus gehaal word, is “sterk”. In hierdie konteks herinner “sterk” aan die krag wat daar in lewe is. Een wat vanweë siekte of honger en dors uitgeput en afgetakel is, het nie dieselfde krag as een wat gesond en sterk is nie. Die “lewe” in El Chay is kragtig en dit gee krag.

Die stamwoord van die Hebreeuse woord chay hou ook die betekenis in om te “herlewe”. Dit beteken ook “om te voed tot lewe”, “om te bewaar, te beskerm en te behoed sodat waar lewe is, dit behoue en gesond sal bly” en “om te bewaar om heel te wees”.

Voorbeelde uit die Skrif

U dienaar het die leeu sowel as die beer doodgeslaan, en met hierdie onbesnede Filistyn sal dit gaan net soos met een van hulle, omdat hy die slagordes van die lewende God [Elohim Chay] uitgedaag het.

– 1 Samuel 17:36

En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God [Elohim].

– Matteus 16:16

Lees ook Deuteronomium 5:26; Josua 3:10; Psalm 42:3; Jeremia 10:10; Johannes 6:69, en 2 Korintiërs 6:16.

Jesaja 44 bied ’n skrille teenstelling met die boodskap van die verse wat hier genoem word. Lees gerus weer die hele hoofstuk en sela oor die wete dat geen afgodsbeeld wat dood is enige lewe kan voortbring nie.

Wat beteken hierdie Naam vir my in my alledaagse lewe?

Die lewe wat in Elohim is, het soveel fasette. Hier is ’n paar om oor na te dink:

1. Daar is soveel name, idees en dinge in die wêreld wat deur mense aanbid word. Sekere gelowe aanbid ongeveer drie miljoen gode. Ons aanbid die een God wat bekend is onder soveel verskillende Name wat elk ’n ander faset van wie Hy is, openbaar. Daar is drie baie belangrike verskille tussen die God wat ons aanbid en al die ander “gode”:

a)Ons God – YHWH – is die enigste LEWENDE GOD – El Chay of Elohim Chay.

b)Ons God is die enigste God wat Homself vir sy onderdane gegee het, in die sin dat Yeshua, Jesus, vir ons gesterf het sodat ons kan lewe.

c)Toe het Yeshua opgestaan uit die dood. Hy léwe en hang nie meer dood aan ’n kruis soos dit in sekere kerklike tradisies uitgebeeld word nie.

Terwyl ons oor die kruisdood praat, is daar ’n geweldige groot gedagte waaroor ons moet nadink. Dit gaan oor die rede waarom Yeshua mens geword het.

Op die vraag waarom Hy as mens moes sterf, is die onmiddellike antwoord dinge soos dat Hy die enigste volmaakte offer was om verlossing en versoening te bewerk. Dit is waar, maar daar is ’n ander ontsaglike gedagte: El Chay lééf en Hy kan nie sterf nie. Dit is onmoontlik. As deel van die Goddelike Drie-eenheid sou Yeshua nooit hierdie offer kon word nie. As God kon Hy nie sterf nie. Hy moes mens word juis sodat Hy kon sterf. En toe Hy mens geword het, was Hy (wat steeds deel was van die volmaakte Drie-eenheid) volkome mens. Anders sou hierdie offer ook nie gewerk het nie.

Hy het ons waarlik in alles vooruit gegaan. Sela hieroor.

2. Dit is baie spesiaal om aan die lewende God te dink as die Een uit wie altyd nuwe lewe “bot” volgens die beeld van bome in die lente. Uit El Chay of Elohim Chay vloei ’n nimmereindigende stroom van lewe en buiten Hom is daar geen lewe nie. Hy ís die enigste Een wat lewe gee, en hierdie lewe dra soveel krag dat dit Jesus uit die dood laat opstaan het.

Dit is ook hierdie krag wat water uit ’n rots, of dan Rots, kon voortbring terwyl die volk in die woestyn moes leef. Hierdie water het vir seker nie uit die Rots gedrup nie; dit moes sterk genoeg gevloei het om drie miljoen mense se dors te les, dag ná dag ná dag! Veral in die woestyn is water lewe; dit gee krag en dit verkwik.

Die lewe wat in Elohim is, gee Hom krag en dit verkwik Hom en dit gee terselfdertyd krag en verkwikking aan elke mens op aarde. Hy doen dit elke dag.

Staan ’n slag weer vroeg genoeg op, terwyl dit nog nagdonker is. Bly dan kyk totdat kleur die dag begin aankondig. Het jy al ooit opgelet dat, voordat die son sy kop uitsteek, dit “kleur” is wat die koms van die dag duidelik maak?

“As the sun brings everything to light, brings out all the colors and shapes.”

– Job 38:14 (The Message)

Die lewe wat in El Chay is, kom soos lig ook in ons lewe in om orde uit ons chaos te skep.

3. Hy lééf! Hy leef op hierdie oomblik. Hy het nog altyd geleef en Hy sal vir ewig leef! Dit is omdat Hy leef dat Hy alles weet en oor alles heers. Dit is omdat Hy leef dat Hy alles kon skep wat bestaan. Elohim Chay gee lewe aan alles wat lewe. Of dan – alle lewe in die ganse skepping kom van Hom af!

4. Om in El Chay te lewe is ’n opdrag:

Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die HERE jou God [YHWH Elohim] lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae.

– Deuteronomium 30:19-20

5. El Elyon léwe en Hy sluimer of slaap nooit nie – daarom is Hy altyd lewend en wawyd wakker, bewus van alles wat gebeur. Dit is onmoontlik dat Hy sy oë selfs net lank genoeg knip dat die Satan van Hom kan steel. Hy sluimer of slaap nooit nie.

Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my hulp vandaan kom? My hulp is van die HERE [YHWH] wat hemel en aarde gemaak het. Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie. Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie. Die HERE [YHWH] is jou Bewaarder; die HERE [YHWH] is jou skaduwee aan jou regterhand. Die son sal jou bedags nie steek nie, die maan ook nie by nag nie. Die HERE [YHWH] sal jou bewaar vir elke onheil; jou siel sal Hy bewaar. Die HERE [YHWH] sal jou uitgang en jou ingang bewaar, van nou af tot in ewigheid.

– Psalm 121:1-8

6. Terwyl ek hierdie gedeelte skryf, is ’n kosbare vrou wat ek ken, sterwend. Sy het kanker. Haar longe is ook aangetas sodat sy veg om asem. Asem is lewe. Elkeen wat al beleef het hoe sleg dit is om nie genoeg lug in jou longe te kan kry nie, verstaan hoe ’n mens kan stoei vir asem. Die teenoorgestelde van hierdie stoei, sou wees om te rus.

Om te rus in YHWH is ook lewe. Om nie self te stoei nie. Om jou nie morsdood te werk omdat jy iets wil bewys of verdien nie, maar om Hom te vertrou en alles aan Hom toe te vertrou. L Grant Luton deel in sy boek In His Own Words ’n kosbare juweel:

Jesus, of dan Yeshua, leer dat Hy die lewende Water is. Die volgende twee Hebreeuse letters spel “lewe”. (Onthou, ’n mens lees Hebreeus van regs na links.)

יח – lewe

Wanneer Yod, die tweede letter, verander in die letter na Nun, word dit:

ןת – genade

Ruil die twee, Chet en Nun, om en dit word ’n Hebreeuse woord wat “rus”, maar ook “Noag” beteken.

תנ – rus

En onthou:

Maar Noag het genade gevind in die oë van die HERE [YHWH].

– Genesis 6:8

Noag het nie in die vloed gesterf nie, maar bly lewe.

Dit is die lewe van El Chay wat jou krag gee om aan te hou wanneer dinge vir jou te veel raak.

Dit is die lewe van El Chay wat vir jou wysheid gee om verhoudings te bou en nie te vernietig nie.

Dit is die lewe van El Chay in jou wat jou in staat stel om ’n kreatiewe bydrae in die gemeenskap om jou te maak sodat sy lewe ook deur jou versprei kan word.

Rus in El Chay. Rus in sy genade en sy lewe sal jou gees verkwik en sterk maak. Hy wil ín jou leef! Laat Hom toe om dit te doen.

Maar God [Elohim] sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus [Messias] en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei. Want ons is ’n aangename geur van Christus [Messias] tot eer van God [Elohim] onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste ’n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ’n reuk van die lewe tot die lewe. En wie is tot hierdie dinge bekwaam?

– 2 Korintiërs 2:14-16

Hoe om te bid oor die Naam El Chay

Bid voortdurend dat hierdie lewe van El Chay in jou en deur jou sal vloei. Bid dat hierdie lewe, sy lewe in jou, groei in Hom word, asook groei in jou verhoudings en in jou besluite en in elke aspek van jou lewe sodat die geur van sy lewe deur jou lewe versprei kan word.

Bid ook:

Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê.

– Johannes 5:26

El Chay! Ek jubel oor U. Ek bely dat U alleen lewe kan voortbring! Ja, U is die enigste bron van lewe. Daar is niemand soos U nie. Dankie dat ek in die Naam van Jesus kan vra: Maak my sensitief daarvoor om voortdurend u lewe om my raak te sien. Wanneer ek oor dinge praat, help my om lewe in U te proklameer, nie dit wat tot dood sal lei nie. Dankie dat u stroom van lewe elke môre ook vir my nuut is. Ek aanbid U as my bron van Goddelike lewe! Amen.

Laat u Naam geheilig word

Подняться наверх