Читать книгу Laat u Naam geheilig word - Esté Geldenhuys - Страница 6

Voorwoord

Оглавление

Vir baie jare het ek God geken deur van Hom te weet. Ek het nogal baie van Hom geweet en graag oor God gepraat. Maar die hele tyd het ek nooit geweet ’n mens kan in ’n persoonlike liefdesverhouding met hierdie God staan nie. Ek het ’n godsdiens beoefen waarin ’n intieme verhouding met God geen plek gehad het nie. Ek het die Bybel gelees, deur kosbare lysies gebid en gereeld kerk toe gegaan. Maar alles het gedraai om my bydrae wat deur mense bepaal en bestuur is. Alles was altyd dieselfde. Intussen het ek beleef dat ek loop en val en loop en val en skynbaar net nooit daarin kan slaag om uit hierdie siklus weg te breek nie. Daar was ’n onvergenoegdheid in my en onopgeloste kwessies in my lewe, kwessies wat ek soms nie eens aan myself wou erken nie.

Hierdie saai, niksseggende pad het drasties verander toe ek God gevra het om my te wys hoe sy liefde vir my werk. Toe ek by Radiokansel begin uitsaai het, was daar soveel mense met wie ek onderhoude gevoer het en wat my telkens laat besef het: Hierdie mens voor my het iets wat ek nie het nie. Daar was ’n toenemende begeerte in my om te verstaan wat dit was wat ek nog nooit gesnap het nie. Dit was toe dat ek op ’n dag gevra het dat Vader aan my sal verduidelik hoe sy liefde werk. Deel van hierdie begeerte was dat ek ook “so mooi wou klink” soos sommige van die mense met wie ek te doen gekry het.

Een oggend het ek spesifiek daarvoor gebid, maar kort daarna met een ná die ander van my huismense stry gekry, sommer oor goeters. Op pad werk toe het ek my vererg vir ander padgebruikers en teen die tyd dat ek by die werk aangekom het, was ek in trane. ’n Kollega, Doris Coetzee, het my gevra wat fout is. Ek het haar vertel dat ek so graag ook mooi wil praat, maar al wat by my mond uitkom, is stry en baklei. Sy het ongeërg maar vol liefde gereageer met: “Well, dear, God first merely had to open your ears so you could hear what you actually sound like. He cannot help you to change before you realise that.”

Hoor het ek gehoor. Vir die eerste keer in my lewe was ek eerlik oor myself en oor wat regtig in my binneste aan die gang was. Uiteindelik kon ek myself sien vir wie en wat ek was, vol tekortkominge en eiegeregtigheid. Nogtans het Vader my so lief dat Hy sy Seun gestuur het om ook vir my te sterf. Dit is wat sy liefde vir my behels. En Jesus? Ten spyte van wie ek was, het Hy ook vir my aan die kruis gesterf. Dit is waar die nuwe pad begin het – ’n pad van ontdekking van myself en my waarheid en uiteindelik ook wie hierdie almagtige God is wat ek in daardie stadium nog nooit werklik leer aanbid het nie. Ek was onder die indruk dat ek Hom ken en aanbid, maar ek was versluier en vasgevang in die strikke van onkunde en in gebeure uit my verlede wat my letterlik in geestelike boeie geplaas het.

In Jesus wat die Christus is, kon ek ware verlossing ontdek en vind. Ek het uiteindelik God se stem leer ken. Ek het die doping in die Heilige Gees ontvang en die Woord het vir my begin oopgaan soos ek nooit geweet het moontlik is nie.

Met die wegbreek uit my ou mens wat in geestelike gevangenskap was, het ek op ’n dag vir Vader gevra wat dit beteken om Hom lief te hê. Die woorde “ek het U lief” was nie vir my voldoende nie; ek wou tasbare betekenis daaraan heg. Vader het vir my drie sleutelwoorde gegee – vertroue, intimiteit en gehoorsaamheid. Ek het verstaan dat, elke keer wanneer ek Hom vertrou, ek daarmee liefde teenoor Hom leef. Elke keer wanneer ek met Hom intimiteit soek, was dit ’n daad van liefde. Elke keer wanneer ek Hom gehoorsaam, het ek liefde aan Hom bewys. Alles het by vertroue begin.

My volgende dilemma was dat ek iemand nie kan vertrou as ek hulle nie ken nie. Intimiteit is onmoontlik sonder vertroue en sonder intimiteit is daar nie sprake van gehoorsaamheid nie. Daar was ’n soort desperaatheid in my. Ek het besef dat ek God tot elke prys moes leer ken. Dit was my enigste begin. Omdat ek soveel dinge in my verlede beleef het wat sleg was, wou ek my nie op enige bekende maniere of kennis verlaat nie. Ek het na nuwe plekke en maniere begin soek.

Ek het uitgeroep: “Vader, help my! Hoe maak ek om u karakter te leer ken?”

Sy antwoord was duidelik. Dit het gelê in die betekenis van sy Name. God se karakter is verskuil in sy Name en hierdie baie Name praat nie elkeen van ’n ander wese nie. Sien dit soos die fasette van ’n diamant. Elke ander Naam van God is ’n ander faset van die Wese wat ons aanbid. Ons moet besef hoe meer fasette van hierdie wonderbare Diamant ons ontdek, hoe groter en helderder sal die glans word van die Lig wat na ons gereflekteer word.

Saam met hierdie belewenis was daar soveel Bybelfigure se interaksie met God waaruit ek soveel waardevolle lesse kon leer. Daar het ’n opwindende pad van soek en vind vir my begin … ’n pad wat op die skryf van hierdie boek uitgeloop het.

Hierdie pad het my ook gebring by die besef hoe uiters noodsaaklik dit is om my identiteit in Christus te ontdek. Dink daaraan, as ons identiteit as gelowiges in Christus te vind is, is dit noodsaaklik om eerste sy identiteit te leer ken juis sodat ons kan leer om daarin te groei.

Jesus het mens geword om die Vader aan ons bekend te stel en om versoening te bewerk tussen ons en ons Vader. Sy lering was ook daarop gemik om ons in te lei in die Koninkrykslewe. Hy het Heilige Gees vir ons gestuur om ons te leer en te ondersteun. Alles gaan daaroor dat ons met die Vader in intimiteit sal leer leef.

Die begeerte is in my om hierdie boek op te volg met ’n boek oor Jesus, Yeshua, en dan ’n derde oor Heilige Gees en die baie ander Name van God wat net een maal in die Bybel genoem word.

Mag hierdie boek die Naam van ons Vader heilig.

Esté Geldenhuys

Laat u Naam geheilig word

Подняться наверх