Читать книгу Laat u Naam geheilig word - Esté Geldenhuys - Страница 13

El Elyon

Оглавление

Die allerhoogste God

Daar is ’n man wat op ’n dag besluit het om in die Ooste te gaan werk. Hy het in verhoogproduksies gedans en gesing. ’n Tyd lank het dit goed gegaan, maar toe het die werk skielik opgedroog. Intussen het hy nie baie wys omgegaan met sy geld nie en toe hy hom kom kry, was alles op – werk, geleenthede en geld. Saam met ’n vriend wat in dieselfde bootjie was, het hulle selfs begin bedel net vir ’n stukkie kos.

Iemand wat hulle dopgehou het, kom toe met ’n aanbod. Dit was so maklik. Die man sou vir hulle ordentlike klere gee en al wat hulle moes doen, was om van die een stad na ’n ander in ’n naburige Oosterse land te vlieg en ’n tas saam te neem. Daarvoor sou hulle elk ’n hand vol geld kry. Hulle het dit gedoen. En toe doen hulle dit weer. Die vriend het benoud geraak en kop uitgetrek, maar die man wou dit net nog een laaste keer doen … en dit wás toe die laaste keer.

Hy het die doodstraf gekry vir dwelmhandel, maar om die een of ander rede is dit nie gou voltrek nie. Hy het jare lank in die tronk gesit en sieker en maerder en ellendiger geword. Saam met mense uit Suid-Afrika het hy betoog op betoog gerig aan die owerhede van daardie land. Intussen het hy Jesus in die tronk ontdek as die enigste Een wat waarlik vrymaak, maar hy wou nogtans so graag uit daardie omstandighede wegkom.

Op ’n dag het dit gebeur! Teen alle wette in, teen alle gebruike in, ja, tot die verstomming van almal wat daardie land se hardvogtige houding teenoor misdadigers en veral dwelmhandelaars ken, het hierdie man ’n brief ontvang van die hoogste gesag van die land wat hom ’n “koninklike vryspraak” aangebied het. Hy was vry om uit te stap uit die tronk en die misdaadrekord wat teen sy naam gestaan het, is deur hierdie heerser uitgewis. Hy was vry om te gaan!

En hy het. Hy het teruggekom na Suid-Afrika. Vandag is hy terug in die Ooste om die evangelie van die Koninkryk daar te verkondig. Dit alles sou nie moontlik gewees het as die een met die hoogste gesag hom nie vrygespreek het nie. Die hoogste gesag in daardie land was die enigste een wat hom kon vryspreek. Maar nou wonder ’n mens: Waarom hét hy dit gedoen? Was dit omdat hy ’n oomblik van “weekheid” beleef het? Of was dit omdat daar ’n ander “Gesag” is, wat die ware allerhoogste Gesag in die ganse skepping is, wat hom gedring het om dit te doen? Onthou, daar was baie mense wat ernstig gebid het. Was hierdie “hoogste gesag” in die land, wat van God en sy gebod niks geweet het nie, gehoorsaam aan die allerhoogste Gesag, die ware Een wie se gesag uiteindelik in die ganse skepping seëvier?

Sy Naam is El Elyon – die almagtige Allerhoogste.

Skrik nie vir hulle nie, want die HERE [YHWH] jou God [Elohim] is by jou, ’n groot en gedugte God [El].

– Deuteronomium 7:21

Want die HERE [YHWH], die Allerhoogste [Elyon], is gedug, ’n groot Koning oor die hele aarde.

– Psalm 47:3

Gebruik van die Naam El Elyon in die Woord

Die Naam Elyon kom min of meer 40 keer in die Ou Testament voor en 15 van hierdie 40 keer is dit in kombinasie met ’n ander Naam. Kombinasies word gevorm met El, YHWH en Elohim. Uit die 40 keer dat hierdie Naam voorkom, vind ons dit 17 keer in die Psalms en 12 keer in die boek Daniël. Dit staan dus 11 keer in die res van die Ou Testament se boeke. Dawid en Daniël het iets van die wese van Elyon gesnap wat min ander mense gesnap het.

Blaai gerus terug na die Naam El en kyk onder “Voorbeelde uit die Skrif” (bl 31) na Genesis 14:18-20. Dit is die eerste keer dat die Naam Elyon in die Woord voorkom.

Terwyl Melgisedek vir Abraham seën, gebruik hy hierdie Naam. Hierdie gebeurtenis moes waarlik een van die grootste gebeurtenisse in Abraham se lewe gewees het. Met die bespreking van die Naam El het ek verwys na die wonder van drie dinge wat ’n eerste maal gebeur het: die seën wat deur een mens oor ’n ander uitgespreek is; die brood en wyn wat as ’n heenwysing na die Verbondsmaal bedien is, en Abraham wat ’n tiende van sy inkomste as gawe vir iemand anders gegee het.

Saam met al hierdie wonderbare “eerstes”, was dit ook die eerste keer dat Abraham iemand anders ontmoet het wat skynbaar in ’n dieper verhouding met YHWH gestaan het as hy self. Abraham kon van Melgisedek leer wat hy nog nie die geleentheid gehad het om van iemand anders te leer nie. Hy moes iets gesnap het van wie die almagtige Allerhoogste, El Elyon, was, iets wat hy nie vroeër besef of verstaan het nie. Hierdie ontdekking moes vir hom tot bemoediging en verdieping in sy verhouding met Elyon gelei het.

Daarby moes die betekenis van “Allerhoogste” vir Abraham ’n bevestiging gewees het van sy posisie voor Elyon waar Elyon almagtig en groot is en Abraham klein – net maar ’n afhanklike mens.

’n Posisie van Groot teenoor klein bring ontsag mee. Ontsag sluit respek en onderdanigheid in en hierdie dinge is slegs moontlik wanneer die mindere erkenning gee aan die “Groot Een” oor wie dit gaan.

Slegs die Saad van die Lewende Woord van Elohim kan die gees van die mens wederbaar of tot lewe wakker maak. Totdat die Woord van God dit nie in die gees van die mens gedoen het nie, is die gees latent; teenwoordig, maar slapend. Wanneer mense wat YHWH Elohim glad nie ken nie, betrokke raak by die aanbidding van afgode, vind hierdie aanbidding plaas vanuit die sielsdimensie. Abram het uit Ur gekom. Sy familie in Ur het afgode aanbid. Die aanbiddingsrituele en praktyke wat saamgaan met die aanbidding van afgode wat in die sielsdimensie plaasvind, was dus vir hom bekend. Dit is baie interessant dat antieke Hebreeuse geskrifte beweer dat Abram reeds in Ur ’n bewustheid gehad het van YHWH en daarom nie deelgeneem het aan sy pa se afgodsaanbidding nie.

Toe YHWH Elohim vir Abram roep om uit sy land weg te trek, was hy gehoorsaam. Hoe sal ’n mens weet wanneer in sy lewe Abram se begrip van hierdie God, YHWH Elohim, wat hy al dieper ontdek het, verskuif het van sy sielsdimensie na sy geesdimensie toe? Daar is tog ’n reuse-verskil. Abram moes, soos die mense van sy tyd, ’n sterk begrip gehad het van die geestelike dimensie. Hy moes verstaan het dat YHWH Elohim ’n geestelike werklikheid is, anders sou hy Hom nie gehoorsaam het nie. En tog – ook Abraham moes groei in hoe hy YHWH Elohim in die geestelike dimensie moes plaas.

’n Getuienis dra geweldige krag om lewe te gee in die gees waar daar geen lewe was nie. Daar was krag in die getuienis van Melgisedek se verhouding met YHWH Elohim. Hierdie getuienis wat van Melgisedek na Abraham uitgegaan het, het meer behels as woorde of dade. Die karakter en kwaliteite van Melgisedek was alles deel van die volheid van wie El Elyon is, en dit is wat deur Melgisedek aan Abraham oorgedra is. Die feit dat Abraham onmiddellik self die Naam El Elyon gebruik het, getuig van ’n nuwe openbaring wat hy ontvang het. En die kern van die openbaring? Dat hy wat Abraham is, hier te make het met die Allerhoogste. Dat daar niks en niemand is wat hoër is as Hy nie. Voorwaar ’n keerpunt in Abraham se lewe!

Besef dat wanneer ek en jy te make het met iemand wat reeds begin ingroei het in die karakter van YHWH Elohim, met ander woorde, wat reeds gegroei het in heiligmaking, ons dieselfde ervaring het: Hierdie mens dra ’n Goddelike teenwoordigheid in hom of haar. En in dié mate dat jy in heiligmaking groei, is dit wat ander mense ook in jóú beleef! Dra jou beeld met verantwoordelikheid.

Dit is waarskynlik dieselfde ontdekking wat Dawid en Daniël in hulle verhouding met El Elyon gemaak het: die ondersteuning en beskerming wat die Naam inhou, maar ook hulle posisie voor Hom. En kom ons wees eerlik. Enige dienaar of onderdaan wat sy meester erken en uit nederigheid onderdanig is aan hom, sal sy meester se hart verbly. Ons as mense kan ook die Almagtige seën. Wanneer ons leef met ’n gesindheid soos wat hier beskryf is, sal ons die almagtige Allerhoogste seën.

Betekenis van die Naam El Elyon

Die betekenis van Elyon is so eenvoudig. Dit beteken “hoogste” of “opgelig”. Die Naam word ook gebruik as ’n titel: Allerhoogste.

Daar is niks en niemand, geen regering of weermag of instansie of enige posisie wat hoër is as Elyon nie. Hy is die allerhoogste Allerhoogste. Die byvoeging van El by hierdie Naam bring weer die toegevoegde waarde van krag by die betekenis van die Allerhoogste.

En hierdie Allerhoogste beteken “letterlik hoog op”, hoër as enigiets anders. Die wese van El Elyon is hoog verhewe, maar so is ook sy outoriteit bo alle ander outoriteit. Sy liefde is bo die liefde van enige menslike wese, net soos sy genade en geduld, maar ook sy oordeel. Dan is ook sy wysheid en raad en sterkte wat tot ons beskikking is bo enige ander wat ons kan dink om te ontvang. El Elyon is letterlik hoër as enigiets wat jy kan bedink.

Voorbeelde uit die Skrif

Uit die hemel het die HERE [YHWH] gedonder, en die Allerhoogste [Elyon] het sy stem laat hoor.

– 2 Samuel 22:14

Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste [Elyon] sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige [Shaddai].

– Psalm 91:1

Lees ook Deuteronomium 32:8; Psalm 21:8; 74:3; 78:35; Daniël 5:18; Lukas 1:31-32; Handeling 7:47-49, en Hebreërs 7:1.

Wat beteken hierdie Naam vir my in my alledaagse lewe?

Daar is niemand soos Hy nie. Hy is so hoog verhewe bo alle dinge dat niks in hierdie lewe Hom kan beïnvloed nie.

Nie werkloosheid nie.

Nie wanorde nie.

Nie die “God-loosheid” van mense nie.

El Elyon is groter as kanker.

El Elyon is groter as kinderloosheid.

Hy is groter as ’n swak oes en ’n derde party in ’n huwelik.

El Elyon is groter as eensaamheid en liefdeloosheid. Hy is groter as jaloesie en verwerping en enigiets wat op hierdie oomblik soos ’n berg voor my en jou kan staan.

Maar nog meer, Hy is nie slegs “hoër as” alles en almal nie; El Elyon héérs as Allerhoogste oor alle dinge. Dit gaan oor sy heerskappy. Hy het werklik die laaste sê en nie jou bankbestuurder of die waarde van die rand nie. Sy bepaling staan bo die besluite van mense en natuurkragte. El Elyon heers oor tsoenami’s en aardbewings presies soos Hy heers oor operasies en ’n veilige rit af Kaap toe vanuit die binneland. En Hy heers in die maande waarin daar geen kontantvloei in die huis is nie en in al die jare wat dit lyk of verhoudings nooit gaan herstel nie. El Elyon héérs oor alles. As daar iets is waaroor Hy nie geheers het nie, was Hy nie die Allerhoogste nie.

Die feit dat El Elyon heers, beteken nie dat alles altyd perfek volgens ons behoeftes en beplanning sal verloop nie. Solank die mens die “geslaagdheid” van die heerskappy van El Elyon meet aan voorspoed, is ons skuldig aan “voorspoedteologie”. El Elyon heers volgens sy plan en nie volgens ons planne nie. Sy plan sluit soms in dat dinge juis nie sal verloop soos ons dit sou gekies het nie. Dan is die uitdaging aan ons om te bly glo dat Hy ook oor die slegte deel van ons situasie heers.

Soos Abram ’n openbaring ontvang het van wie El Elyon in die Gees is, kan ek en jy vandag ook nie tevrede wees daarmee om deur letters op papier te probeer verstaan wat “Allerhoogste” beteken nie. Daar is so ’n groot verskil tussen woorde op papier en die Woord wat harte verander. Ons het dit nodig om hierdie waarheid met ons harte te verstaan. Eers wanneer die Woord in ons harte lewend geword het, kan dit ons verander.

El Elyon ís die Allerhoogste in elke faset van ons lewe. Ook wanneer ons gekonfronteer word met siekte, misdaad en die gemors van swak politieke leierskap, bly El Elyon die Allerhoogste wat in soewereiniteit wil en kan heers. Hy begeer dat ons deur geloof betrokke sal wees by dit wat Hy beplan. Ons mag nie fokus verloor deur toe te laat dat ons omstandighede groter word as Hy nie, maar ons moet bly fokus op die posisie en die outoriteit van die Allerhoogste wat alreeds vir Yeshua die oorwinning oor die Bose gegee het.

Wat beteken dit in die praktyk om op Hom te bly fokus? Wanneer gedagtes oor dinge jou wil oorweldig, praat met El Elyon, praat selfs hardop dat jou eie ore dit kan hoor. Erken Hom vir sy grootheid, beheer en insig. Práát die woorde dat jy weet dat Hy groter is as dít wat jou pla.

Verklaar dat sy beskutting en beskerming en ondersteuning altyd daar is vir jou. Om sulke woorde te praat gaan nie oor positiewe denke nie. Positiewe denke raak jou denke en nie jou hart nie. Geloofsverklarings wat in die gees plaasvind, versterk jou gemoed en jou geloof en dit bewerk ’n hartsverandering. Neem weer teksverse soos dié wat hier genoem word en spreek hierdie Skrifwoorde ter versterking van jou geloof in Hom uit.

Hoe om te bid oor die Naam El Elyon

Bid vir ’n persoonlike openbaring van wie El Elyon vir jou is. Bring tyd deur om deur Skrif te werk terwyl jy die betekenis daarvan oordink.

Gaan lees weer die woorde wat Dawid in 1 Samuel 17:46 teenoor Goliat gespreek het voordat hy hom verslaan het. Dawid het letterlik in die Naam van YHWH ’n proklamasie uitgespreek van wat sou gebeur met Goliat en die Filistyne, en dit het presies net so gebeur. Ná die proklamasie het Dawid gou gegaan sodat daar geen tydsverloop kon wees waarin twyfel hom kon oorval nie.

Dit gaan alles oor vertroue. Die feit dat El Elyon die almagtige Allerhoogste is, staan vas. Weet dit en oefen om dit in die hitte van jou stryd te onthou en Hom juis dan te vertrou.

Natuurlik gaan die betekenis van El Elyon as die Allerhoogste nie net oor dinge wat ons wil oorweldig nie. Onthou die verwysing na Abraham en raak stil oor die wonder van die karakter van El Elyon. Hierdie kragtige Naam roep ons op tot aanbidding. Oefen jou in om die verskil raak te sien tussen om oor Hom te dink ter wille van wat Hy vir jou kan doen en om oor Hom te dink om te besef wié Hy vir jou is. ’n Groot verskil! Leer om Hom waaragtig te aanbid vir wie Hy is – net vir wie Hy is … en al die ander dinge sal vanself, natuurlik, uit hierdie besef voortvloei.

Daar kom ’n dag, en dit sal kom op El Olam-tyd, wanneer elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Jesus die Here is, ja, en daarmee saam ook dat El Elyon die enigste Almagtige en Allerhoogste is!

El Elyon, in die Naam van Yeshua bid ek dat U vir my my persoonlike openbaring sal gee van die feit dat U hoër, groter en meer superieur is as enigiets wat bestaan. Ek wil oefen om te glo dat u grootsheid geskryf staan oor elke dag van my lewe. Dankie dat ek ook oor ons land en gemeenskappe kan uitroep dat U groter is as enige probleem wat ons sosiaal, polities of finansieel in die gesig staar. Wees my genadig en leer my om in afhanklikheid van U te leef. Amen.

Laat u Naam geheilig word

Подняться наверх