Читать книгу Laat u Naam geheilig word - Esté Geldenhuys - Страница 12

El Olam

Оглавление

Die ewige Almagtige

Daar is woorde wat ons lukraak gebruik soos dit het “toevallig” of “per ongeluk” gebeur. Of jy hoor mense verwys na hulle “lot” of “lotsbestemming”, asof daar ’n eksterne mag is wat nie noodwendig vriendelik is nie. Ander klink of hulle klaar boedel oorgegee het wanneer hulle sê: “Wat help dit om te kla?” of: “Môre is nog ’n dag.” Ek onthou sowaar mense wat in die ou dae uitgeroep het: “Gode sy dank!” Vandag wonder ek na watter gode hulle verwys het.

Teenoor al hierdie uitsprake staan El Olam.

Stel jou ’n almagtige Skepper voor wat groter is as tyd – wat nie eens deur tyd begrens word nie. Hierdie Skepper het selfs “tyd” in al sy betekenisse geskép. Voordat daar enigiets was, het Hy die einde van alles geken. Hoewel die mens besluite neem en reaksies het wat teen sy plan ingaan, kan Hy steeds tussenbeide tree om sy doel te bereik – sodat alles aan sy wil sal antwoord.

El Olam ís die mens se lot – in die sin van eindbestemming. Niks gebeur per ongeluk nie, maar volgens die beplanning van El Olam.

“Toevallig” is eintlik “toe val die Lig”.

Gebruik van die Naam El Olam in die Woord

Hoewel daar tientalle plekke in die Skrif is waar daar verwys word na die ewige kwaliteite van die almagtige El, asook na beloftes wat vir ewig bly staan, word die kombinasie El Olam waarlik net een maal gebruik en dit is in Genesis 21:33:

En hy het ’n tamarisk in Berséba geplant en daardie Naam van die HERE [YHWH], die ewige God [El Olam], aangeroep.

Die feit dat hierdie Naam so min in die Skrif voorkom, beteken nie dit is onbelangrik nie. Inteendeel, die begrip van ewigheid ten opsigte van YHWH Elohim, wat uitdrukking kry in die Naam El Olam, is sekerlik een van die belangrikste waarhede oor Hom wat ons moet snap om altyd te onthou.

Kyk hoe eggo die belangrikheid van die feit dat Hy die ewige God is uit die volgende psalmvers:

Voordat die berge gebore was en U die aarde en die wêreld voortgebring het, ja, van ewigheid [olam] tot ewigheid [olam] is U God [El].

– Psalm 90:2

Lees ook Psalm 93:1-2.

Dit is egter belangrik om behoorlik te kyk na die gebeure wat opgeskryf staan in Genesis 21, waar Abraham die Naam El Olam gebruik.

Abram het stabiliteit geken toe hy in Ur gebly het. Hy het eiendom besit en op een plek met sy vrou en familie gebly. Toe kom die opdrag om te trek en niks in Abram se lewe was daarna meer stabiel nie. Hy het ’n nomadiese bestaan gevoer terwyl hy weer en weer moes trek. Die enigste grond wat hy na sy vertrek uit Ur besit het, was die spelonk van Magpela wat hy bekom het omdat hy Sara wou begrawe.

Let op dat die hele tyd dat Abram bly verskuif, daar ook geen vaste verbintenisse is wat hy aangaan met die mense om hom nie. Melgisedek, die koning van Salem, wat ’n priester van God die Allerhoogste was, seën Abraham, maar niemand anders erken hom as mens, as vriend, as ’n betroubare persoon of vir enige ander deug nie.

En intussen leef hy met hierdie groot beloftes van die almagtige YHWH Elohim:

En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.

– Genesis 12:2-3

En die HERE [YHWH] sê vir Abram nadat Lot van hom geskei het: Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid [olam]. En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word. Maak jou klaar, trek die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal dit aan jou gee.

– Genesis 13:14-17

Kyk na die teenstelling. Die Almagtige wat vir hom ’n beeld voorhou van die hele land as eiendom wat sy groot nageslag vir ewig sal besit. Aan die ander kant is daar die feit dat hy op 100-jarige ouderdom sy enkele Isak ontvang en toe steeds geen grond in hierdie Beloofde Land besit het nie.

En toe was daar Abimelek, die koning, wat spesiaal gekom het om Abraham te besoek. Lees hierdie verhaal in Genesis 21:22-34.

Hoewel hulle eerste ontmoeting nie getuig van eerlikheid van Abraham se kant nie, sien Abimelek in Abraham meer as die mens wat voor hom staan. Om hierdie rede kom hy na Abraham toe, vergesel van Pigol, sy leërowerste as getuie, om met Abraham ’n verbond te sluit. Abimelek se eerste woorde aan Abraham is dat hy kan sien dat God, Elohim, mét hom is in alles wat hy doen. Abimelek openbaar ontsag vir hierdie God wat Abraham aanbid. Hy het ook ontsag vir Abraham as ’n gesant van hierdie almagtige Elohim. Daarom vra hy dat Abraham sal sweer by Elohim dat hy sal goed wees vir (1) Abimelek, (2) sy nageslag en (3) die land waarin hy as vreemdeling vertoef. Abraham het gesweer en die twee groot manne het ’n verbond gesluit.

Dit is een van die verhale in die Woord wat ’n mens nie oppervlakkig durf beoordeel nie. Tot op hierdie punt in Abraham se lewe was daar al hierdie wonderlike beloftes wat YHWH Elohim aan hom gemaak het, en skielik is daar ’n mens van vlees en bloed wat ook praat oor die nageslag en die land – dinge wat in die toekoms lê. Twee beloftes oor dieselfde dinge, maar met die verskil dat hierdie YHWH Elohim wat Abraham nou al leer ken het, se belofte tot in die ewigheid strek, anders as die nabye toekoms waarvan Abimelek met hom praat.

Daarop plant Abraham ’n tamariskboom as ’n soort gedenkteken vir die gebeure wat daar plaasgevind het. Hy roep oor hierdie boomplanting die Naam – El Olam – asof Abraham met hierdie uitroep sê: Hy weet dat dit waar is, dat El Olam die ewige Almagtige is. Dat die beloftes wat El Olam aan Abraham gemaak het, waar is en dat dit vir ewig vasstaan. En dat hierdie verbond met Abimelek ’n bevestiging is van die belofte van El Olam – al kan hy wat Abraham is nog niks daarvan sien nie. Met die uitroep van die Naam El Olam erken Abraham dus dat hy verstaan dat El Olam groter is as sy eie leeftyd, want El Olam bestaan buite die grense van tyd.

’n Tamarisk is ’n immergroen boom wat goed aard in die woestyn, maar hulle groei besonder stadig. Daar is ’n gesegde oor die tamarisk: Die man wat ’n tamarisk plant, plant dit vir sy nageslag, want self sal hy nie in die boom se skadu sit nie.

Daar is nog ’n waarheid wat uit hierdie gebeure spruit en wat vermelding verdien. My gids in Israel, Elio Bachar, het my geleer dat Abraham kennis en vernuf gehad het om putte te grawe en te bou. Hierdie kennis het hy uit Ur met hom saamgebring, gebruike wat nie aan die mense van die land Kanaän bekend was nie. Klaarblyklik het Abraham by hierdie geleentheid ooreengekom om hierdie kennis van hom met Abimelek te deel. Vandaar die naam Berséba wat “die put van ’n belofte” beteken. Sien die profetiese betekenis ook hierin – dat Abraham regtige water, maar ook geestelike water in die land kon inbring en dit aan die mense van die land kon bekendstel. Hierdie bekendstelling word bevestig deur Abimelek wat na Elohim verwys in sy gesprek met Abraham. Abimelek het dus reeds kennis geneem van die waarheid oor Elohim; daarom het hy Elohim in die gesprek genoem.

Betekenis van die Naam El Olam

’n Mens sou wou verduidelik dat “ewig” gelyk staan aan “altyd”. Maar dit is onvoldoende. In Strong se konkordansie is daar ’n byna visuele verduideliking vir die begrip ewigheid wat nader aan die waarheid is. Dit lees: “anderkant die verste punt wat vir die oog sigbaar is”.

Ewig is so ver dat die menslike verstand dit nie kan vasvang of begryp nie. Dit hou voortdurend aan. Die ewigheid van Olam dui ook op toekomende sowel as die verlede tyd. Dit dui op konstante ewigheid, dit wat sonder ophou ewig is, asof niks dit kan onderbreek of keer nie. Hierdie ewigheid duur voort sonder ophou, in die verlede in en net so in die toekoms in.

Die stamwoord van Olam beteken “om te versluier” of “om onsigbaar te maak”. Hierdie ewigheid is dus nie vir die mens om te sien en van te weet nie, tensy iets daaruit aan die mens geopenbaar word deur die Een wat dit wel ken.

Ewig is sonder begin en sonder einde. En dit is wat Olam beteken. Voeg nou nog El daarby, wat dui op die sterk en almagtige Een, en jy praat van ’n kragtige Teenwoordigheid wat nooit ophou nie, wat aanhou “ver verby die verste punt wat vir die oog sigbaar is”.

Voorbeelde uit die Skrif

El Olam is ewig en sy kwaliteite is vir ewig. Hier is net ’n paar voorbeelde wat verwys na die ewigheid van El Olam:

Maar die goedertierenheid van die HERE [YHWH] is van ewigheid [olam] tot ewigheid [olam] oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders.

– Psalm 103:17

U koninkryk is ’n koninkryk van alle eeue, en u heerskappy duur deur al die geslagte [ewige Koninkryk].

– Psalm 145:13

Maar die HERE [YHWH] is waarlik God [Elohim], Hy is die lewende God [Elohim] en ’n ewige (olam) Koning; vir sy toorn beef die aarde, en die nasies kan sy grimmigheid nie verdra nie.

– Jeremia 10:10

Lees ook Psalm 10:8-10; 139:23-24; Jesaja 60:19; 61:7; 63:12; Jeremia 32:40 en Esegiël 37:26.

Wat beteken hierdie Naam vir my in my alledaagse lewe?

Wanneer dit by die begrip “ewigheid” kom, is die mens se grootste moeilikheid dat ons lewe gereguleer word deur die tyd wat deur die horlosie en jaarkalenders aangedui word. ’n Maand bestaan uit weke wat bestaan uit dae en dae het ure … Ons hele lewe is gekoppel aan tyd. Ons leef met dagboeke en jaag om betyds by plekke te wees. Take word gekoppel aan datums waarop dit afgehandel moet word en ons raak onrustig wanneer afsprake en selfs kerkdienste “die tyd” oorskry wat ons in ons kop daarvoor toegelaat het. Mense beweer selfs dat liefde gespel word met die letters: t-y-d.

Tyd het so belangrik geword dat die hantering daarvan vir sommige die middelpunt van hulle bestaan geword het. Tyd vorm grense, selfs vir gesprekke met geliefdes. Dit word ’n meetstok vir dinge soos sukses en verhoudings en antwoorde, veral van God af. Maar Elohim het tyd geskep ter wille van orde, nie sodat dit oor ons sal heers nie. Ons hantering van tyd pootjie ons in ons begrip van ewigheid. YHWH se begrip van ewigheid word deur geen vorm van tyd soos ons dit verstaan, begrens nie.

El Olam word nie gemeet aan die tyd wat deur Greenwich bepaal word nie, maar daar is ’n ander wonder ten opsigte van “tyd” wat in El Olam verskuil lê wat die mens moet snap. Kyk na teksverse soos die volgende:

Sara het bevrug geword en vir Abraham in sy ouderdom ’n seun gebaar op die bepaalde tyd wat God genoem het.

– Genesis 21:2

Weet jy die tyd as die steenbokke lam? Neem jy dit waar as die takbokooie voortbring?

– Job 39:4

Toe sê Jesus [Yeshua] vir hulle: My tyd is nog nie daar nie. Maar julle tyd is altyd daar.

– Johannes 7:6

Jesus [Yeshua] sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.

– Johannes 8:58

Lees ook die volgende verse: Eksodus 9:5; Deuteronomium 11:14; Ester 4:14; Daniël 7:25; 8:19; Matteus 24:36, 42; Markus 1:15; 13:33; Johannes 4:23; 7:30; 12:27 en 17:1.

El Olam ken en bepaal die tyd van alle dinge. Hy weet wanneer die koringoes gaan ryp wees. Hy bepaal die tyd waarop elke blom in die veld sal oopgaan. Hy weet wanneer elke rooiboklam gebore gaan word. Hy weet watter staatshoofde se tyd verby is. Omdat El Olam die volle raadsplan van alle dinge ken, gebeur dinge volgens sy tydsberekening. Sy raadsplan bepaal die volheid van die tyd en dit is sy Olam-tyd. Ons kan soms stoei en veg dat dinge gebeur en deurkom, maar ons moet leer om rustig te wees en te wag op die Olam-tyd van die Almagtige. Hy is die Ewige, maar Hy is ook die Een wat die volheid van die tyd bepaal.

Loof sy Naam daarvoor! Aanbid El Olam vir wie Hy is!

Daar is ’n verskil tussen Greenwich-tyd en die Goddelike volheid van tyd. Die Goddelike volheid van die tyd is die volmaakte tyd vir alle dinge wat bepaal word volgens die soewereiniteit van Elohim. Kyk biddend na die Skrif wat aangehaal is en sien dat daar ’n baie spesifieke orde is in die beplanning en bepaling van dinge; dit alles is deel van die Wese van El Olam. Daar is eenvoudig tye waarvan die mens geen begrip het nie, maar alles gebeur op sy bepaalde tyd.

Wanneer ’n mens die wonder van El Olam se hantering van tyd begin verstaan, besef jy dat jy nie ongeduldig mag raak as dit lyk of Hy talm om op gebede te antwoord nie. Ons durf nie ons gebedsversoeke aan El Olam aan Greenwich-tyd koppel nie. Hy wat alles beheer, beheer ook die volmaakte tyd vir dinge om in vervulling te kom. Wanneer dit lyk of Hy talm, durf ons nie geloof verloor in onsself, in ons gebed of in Elohim nie. Wat ons wel sonder ophou moet volhou, is om te waak en te bid, juis omdat ons nie die tyd – Olam se tyd – ken nie.

Die kuns is om te leer om El Olam te verwag, en nie dit wat Hy vir ons kan doen op die tyd wat ons sal pas nie.

Die Woord van God is waarheid en die Woord leer dat El Olam die ewige God is. Hy is sonder begin en sonder einde. Maar daar is ook geen einde aan wie Hy is nie. Aan elk van die karaktertrekke van Elohim word in Olam ewigheidswaarde gegee. Sy liefde sal nooit ophou nie. Ook nie sy genade, getrouheid of goedheid nie. Sy beskerming en onderwysing vir ons staan vir ewig vas.

Hoe om te bid oor die Naam El Olam

Die verlossing wat Jesus vir ons aan die kruis bewerk het, staan vir ewig vas. Heilige Gees is die Een wat van voor Genesis 1 af tot nou toe en van nou af tot in ewigheid met ons is. Elke woord wat YHWH ooit spreek en gespreek het, staan vir ewig vas omdat Hy nie op sy woord teruggaan nie:

God [El] is geen man dat Hy sou lieg nie; of ’n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?

– Numeri 23:19

Daarom, bid vir ’n persoonlike openbaring van die waarheid en betekenis van die nimmereindigende kwaliteite van El Olam. Maak jou eie lys van die karaktertrekke van God: liefde, genade, vrede, teenwoordigheid, vertroosting. Bid dan deur elk van hierdie begrippe. Besef dat, omdat Jesus vir elke mens gesterf het, elk van hierdie begrippe vir ewig waar is vir mense van alle tye en vir alle mense wat op die oomblik op aarde lewe. Dit is ook waar vir jou.

Bid ook vir ’n persoonlike openbaring daarvan dat jou hoop op Elohim en sy Goddelike karakter sal wees, en nie op die aardse tyd waarop Hy jou gebed beantwoord nie. Laat toe dat El Olam met jou praat hieroor.

El Olam se volmaakte tydsberekening sluit ook ’n Goddelike orde in. Dissipline en veral selfdissipline moet gekoppel word aan die orde van El Olam. Of jy jou dag beplan en of jy die hantering van ’n opdrag beplan, El Olam se orde vir die gebeure in jou lewe is in alle opsigte die beste orde. Kom in die gewoonte om alles wat jy moet hanteer biddend voor El Olam te bring. Lê jou beplanning voor Hom en wag op sy inspraak.

Hoe doen ’n mens dit? Bely (of verklaar) eerstens dat Hy die volmaakte orde van dinge ken asook die tyd waarop dinge moet gebeur. Spreek die begeerte uit dat jy dinge op geen ander manier wil doen as op sy manier nie. Spreek die woorde van 2 Korintiërs 10:5 uit waarin jy verklaar dat jy kies om jou gedagtes gevange te neem en te onderwerp aan Jesus Christus. Begin dan jou gedagtes neerskryf en vertrou dat die gedagtes wat by jou opkom Elohim s’n is, soos belowe in Spreuke 16:3b in The Amplified Bible:

He will cause your thoughts to become agreeable to His will, [and] so shall your plans be established and succeed.

Volg dan die vrede van Elohim wat in jou is as jou skeidsregter (Kol 3:15, The Amplified Bible). Wanneer jy onvrede beleef, stel vas wat dit is wat jou vrede wegneem en bid weer daaroor. Volg altyd die orde van El Olam om orde in jou lewe te kry.

El Olam, dankie dat U is wie U is en dat U nooit verander nie, nooit nie! En dankie dat ek êrens in die enorme omvang van u ewigheid inpas. Ek is op u Olam-tyd gebore omdat u Goddelike raadsplan dit so bepaal het. Leer my wat dit behels sodat my lewe die doel wat U vir my bestaan bepaal het, kan bereik. U is wonderbaar! Amen.

Laat u Naam geheilig word

Подняться наверх