Читать книгу Laat u Naam geheilig word - Esté Geldenhuys - Страница 11

YHWH

Оглавление

Die groot EK IS, die Een wat op

sy eie bestaan, die Verbondsnaam

Baie jare gelede, terwyl ek by ’n hoërskool in George in die Suid-Kaap skoolgehou het, het ek die voorreg gehad om Bybelkunde as vak aan te bied vir standerd 9-leerders (vandag se graad 11). In een van die klasse was slegs seuns en hulle het graag my outoriteit getoets. Op een mooi Maandag het een van die jongmanne met ’n hart vol arrogansie vir my gevra: “Juffrou, as daar ’n God is, vertel my, hoe lyk Hy?”

Net die vorige dag, die Sondagmiddag, het ek en my man in die berg bokant George gaan rondry op paaie waartoe net mense wat by Bosbou betrokke was, soos my man, toegang gehad het. Daar was op een plek ’n plaat moederkappie-blommetjies in die veld. Die moederkappie is familie van die lelies. Hulle het ’n baie dun steel, omtrent 30 sentimeter lank. Aan die punt van die fyn steeltjie hang die pragtigste blou blommetjie met vyf blare wat amper ’n bakkie vorm. Twee van die blaartjies aan die een kant is korter as die drie aan die ander kant. Binne-in die bakkie is die mooiste en sagste kleure fyntjies gerangskik op ’n manier wat jou aan ’n gesiggie laat dink. Maar al die blomme se koppies hang af grond toe, asof hulle skaam is.

Dié blommetjies was vir my verruklik mooi, maar ek wou hulle nie “pla” deur hulle gesiggies om te draai sodat ek hulle kon sien nie. Toe gaan lê ek op my rug op die grond en kyk op in hierdie pragtige blomgesiggies met die blou lug agter hulle en die berg rondom my. Toe het ek geweet: Wat ek nou aanskou, is “die Gesig” van die Een wat ek aanbid! En dat hierdie seun toe sowaar net die volgende dag hierdie vraag vir my vra! Ek het vir hom vertel wat ek in die berg beleef het en hom saamgenooi sodat ek die blomme vir hom kon gaan wys. Hy het regop gesit in sy bank, sonder ’n verdere woord.

YHWH is inderdaad “the beautiful One”, so mooi soos ’n moederkappie teen George se pieke. YHWH of Yahweh, dikwels vertaal as “Jehova”, is die heiligste Naam vir die Jode. Hulle spreek nie eens hierdie Naam uit nie. In die antieke tyd het hulle ’n baie spesifieke ritueel gehad wanneer hulle hierdie Naam moes skryf. Elke keer wanneer hulle die Naam YHWH moes skryf, het hulle eers ’n reinigingsbad of ’n mikvah ondergaan.

Die bad vir die mikvah was só ingerig dat daar ’n stel trappe vanaf grondvlak gedaal het na ’n bad benede. Dié bad was groot genoeg om vir een man die geleentheid te gee om homself in die water te onderdompel. In die middel van die trap was daar, van bo na onder, ’n baie geringe aanduiding wat skeiding geïmpliseer het tussen dié deel van die trap waarmee jy na die bad kon afdaal en dié deel waarop jy weer na bo sou stap.

Wanneer die mans hierdie mikvah ondergaan het, het hulle hulle kleed by die bopunt van die trap gelaat sodat niks skeiding kon maak tussen die water wat moes reinig en die liggaam nie. Die afstap na onder was ’n simbool van selfvernedering en die opstap na bo ’n simbool van “opgaan na die Allerhoogste” wat reinig en lewe gee. Ook die trap was deel van die oefening of ritueel. Hulle sou stadig stap sodat hulle op elke trap kon oordink waarmee hulle besig was. Verder het hulle seker gemaak dat hulle met die opstap nie raak aan een wat afstap en hulle daardeur weer onrein maak nie.

Miskien kan ’n mens dink hierdie mense voer dit te ver. Máár, die uiterstes waartoe hulle bereid was om te gaan, was juis ’n aanduiding van die ontsag wat hulle vir die Naam van God gehad het en van hoe heilig hierdie Naam vir hulle was en steeds is.

Ons het eenmaal in Israel by Koemraan beleef dat ons gids, terwyl hy verduidelik het watter ontsag die Essene vir hierdie Naam gehad het, skielik opgehou praat het. Hy was op die punt om te sê “the Name”. Glad nie YHWH nie, maar net “the Name”. Hy het skielik om hom rondgekyk asof hy soek na iets wat hy laat val het. Toe het hy vinnig in sy rugsakkie gekyk en homself merkbaar “bymekaargemaak” om verder te praat. Hy het sy sin herhaal en met die sê van “the Name”, het hy sy hand op sy kop gesit. By gebrek aan sy hoedjie, nie eens ’n kippah nie, maar sy pet, het hy as ’n teken van respek sy kop met sy hand bedek vir die duur van die oomblikke dat hy wou sê: “the Name”. Ek het my verwonder aan die feit dat hierdie hedendaagse Jood, wat nie Ortodoks of Messiaans was nie, steeds hierdie selfde ontsag vir die Naam YHWH gehad het as die mense van wie hy ons vertel het.

Die Hebreeuse taal bevat nie vokale nie, maar slegs konsonante. Daar is wel kolletjies wat vokale aandui. Daar was ’n tyd toe hulle opgehou het om die vokale in die naam YHWH in te skryf, soos wat dit van ouds af wel die geval was. Dit is juis gedoen omdat dit as heiligskending beskou is om die Naam YHWH uit te spreek. Die gevolg was dat niemand meer geweet het wat die korrekte uitspraak van die Naam is nie. Klaarblyklik het die volk tydens hulle verblyf in Babilon, terwyl hulle in ballingskap was, by die Babiloniërs ’n gebruik oorgeneem wat Vader hulle nie geleer het nie. Volgens hierdie nuwe gebruik sou dit beteken jou god verloor krag elke keer wanneer jy sy naam uitspreek. Dit sou ook ’n teken van ’n gebrek aan respek wees as ’n mens die naam van jou god uitspreek. Eksodus 20:7 leer duidelik dat die Naam van YHWH nie ydellik gebruik mag word nie. Maar daar is nooit ’n verbod geplaas op die gebruik en uitspreek van sy Naam nie.

In Oktober 2012 het ek ’n man ontmoet wat vir my vertel het ’n vriend van hom het die geleentheid gehad om as taalkenner in die museum van Jerusalem te gaan werk met die teks wat juis in Koemraan in kleipotte ontdek is. Volgens dit wat hierdie man daar gevind het, is die uitspraak baie soos dit in die King James Version gegee word: Ja-hô-va met groter klem op die Ja- en die va-klanke, en met ’n baie effense pouse ná die Ja.

Ongelukkig het vertalers wat aanvanklik die Bybelvertalings gedoen het dit in Engels vertaal met “LORD” en in Afrikaans met “HERE”, alles in hoofletters. Daar is wel ’n onderskeid gemaak tussen “HERE” in hoofletters, wat YHWH is, en “Here” met net die H as hoofletter, wat Adonai is. In die Bybel word daar na belangrike persone soos konings verwys as “heer” en dit word alles met kleinletters geskryf.

In meer onlangse vertalings is weggedoen met die gebruik van slegs hoofletters om die Naam YHWH aan te dui sodat dit nie meer met die lees duidelik is wanneer die Naam YHWH in die oorspronklike taal gebruik is nie. Verder is “here” of “heer” ’n titel en nie ’n naam nie. Met al hierdie keuses in vertalings hou ’n mens jou op die ou end, terwyl jy lees, besig met ’n titel. Dan verloor jy die rykdom van die betekenis van hierdie geweldige Naam. En dit is baie jammer.

Waarom hierdie lang verduideliking? Dit is bedoel as ’n oproep!

Ons leef vandag in ’n samelewing wat nie meer respek het nie. Mense het nie respek vir mekaar, vir besittings, vir tyd en selfs vir ’n lewe nie. Respek is ’n voorloper vir ontsag. As respek reeds so uit ons menswees verdwyn het, het ons nodig om biddend by die HERE, by YHWH, te gaan stil word sodat Hy Self vir ons die gawe van ontsag vir Hom kan gee. Ontsag vir YHWH loop oor in die vrees van die HERE, en die vrees van HERE is die beginsel van wysheid (Ps 111:10).

Gebruik van die Naam YHWH in die Woord

Hierdie Naam, Yahweh of YHWH, is die een wat die meeste voorkom van al die “beskrywende” Hebreeuse Name vir God. Dit kom ongeveer 7 000 keer voor in die Ou Testament. Wanneer Moses YHWH in die woestyn ontmoet, is dit die eerste keer dat ons bewus raak van hierdie Naam. Maar dit beteken nie dit is die eerste keer dat dit gebruik is nie. Hierdie vergissing is weer eens ’n gevolg van vertalings wat die oorspronklike Name verduister het. Die Naam YHWH kom reeds voor in Genesis 2:

Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag toe die HERE [YHWH] God [Elohim] die aarde en die hemel gemaak het.

– Genesis 2:4

•Dit was YHWH Elohim wat vir Adam en Eva uit die Tuin van Eden weggestuur het.

•Dit was YHWH wat met Kain afgereken het.

•Dit was YHWH wat vir Noag die opdrag gegee het om die ark te bou en wat daarna die vloed oor die aarde gebring het.

•Dit was YHWH wat vir Abram uit Ur weggestuur het na Kanaän.

•Dit was YHWH wat ’n verbond met Abraham, Isak en Jakob gesluit het.

YHWH was van Genesis af aktief teenwoordig. Voordat tyd ontstaan het en tot in ewigheid waar tyd van geen belang meer sal wees nie, is Hy YHWH. YHWH ís wie Hy ís!

Betekenis van die Naam YHWH

YHWH beteken “die groot EK IS”, “die Een wat op sy eie bestaan”. Dit word so mooi uitgedruk in Engels as “the self-existing One”.

YHWH beteken EK IS. Dit is so eenvoudig. EK IS. Nie EK WAS of EK SAL WEES nie, maar EK IS. EK IS is nóú wat EK IS nog áltyd was. EK IS kan nie verander nie, want Hy IS. Hierdie IS van EK IS vind sy beslag in die teenwoordige tyd. Hy IS in elke oomblik van “nou”.

Verder beteken hierdie Naam ook “EK IS wat jy My nodig het om vir jou te wees”, wat dit ook al mag wees.

Die feit dat EK IS in hierdie oomblik is wie Hy is, beteken dat Hy dit nie eers môre sal wees, of volgende week wanneer jy jouself waardig bewys het nie. “EK IS nóú vir jou wat jy My nóú nodig het om nóú vir jou te wees.”

Die betekenis van EK IS in die Naam YHWH hou die pertinente belofte in dat Hy nie kan verander nie. Hy IS wie Hy IS, en dit sal Hy vir altyd wees sonder om ooit te verander. Hy is nie ’n mens dat Hy kan lieg nie (Num 23:19), en Hy is nie ’n mens wat vandag sus en môre so “voel” oor dinge nie. Sy karakter en besluitneming is onbesproke.

YHWH is by uitstek ook die Verbondsnaam van die Almagtige. Dit is YHWH wat ’n verbond met Noag, Abraham, Isak en Jakob gesluit het. Dit is ook YHWH wat by Sinai met die volk ’n verbond gesluit het en wat aan sy belofte gestand gedoen het om Josua te begelei tot in die Beloofde Land. YHWH was die Een wat met die rigters ’n verbond gesluit het, en dit was YHWH wat met koning Dawid ’n ewige verbond gesluit het – dat die troon van Dawid altyd sal bly staan. Ons weet dit het waar geword toe die Seun van Dawid, Silo, met die septer en die veldheerstaf (Gen 49:10) die finale oorwinning behaal het vir die Koninkryk van die Almagtige. Hoewel Hy Hom aan Abraham, Isak en Jakob nie bekendgemaak het met die Naam YHWH nie, is dit van al die baie Name waarop ons die Almagtige ken die Naam waarmee verbonde gesluit is.

Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.

– Genesis 49:10

Daar is nog drie baie interessante waarnemings ten opsigte van hierdie Naam om na te kyk.

Eerstens, ons weet YHWH het met Moses gespreek vanuit ’n brandende doringbos en dat Hy toe vir Moses gesê het wie Hy is. Die Naam wat Hy daar in Hebreeus gebruik het, is nie YHWH nie, maar wel היה

Hierdie woord, of Naam, Hâyâh, is die grondwoord van sowel Yâh as YHWH. Albei hierdie Name het hulle oorsprong in die woord hâyâh wat beteken “om te bestaan”, “besig om iets te word” of “om in vervulling te gaan”, soos ’n belofte wat in vervulling gaan.

Die woord hâyâh kom weer van ’n stamwoord wat beteken “properly to breathe; to be (in the sense of existence)”. Asem, om asem te haal en om te wees. Net een wat asemhaal, kan “wees”. Of andersom bedink, wanneer daar asem is, is daar lewe. Hierdie stamwoord en die uitspraak daarvan figureer sterk in die Naam YHWH.

Selfs met die uitspreek van die Naam YHWH is daar ’n asemrige klank. Die uitspraak van sy Naam word dus sterk gedra op asem saam met stemhebbende klank. Net nadat ’n baba gebore is, is die eerste ding waarop almal fokus dat die baba sal begin asemhaal. Wanneer ’n mens sterf, is dit die laaste wat gebeur – jy blaas jou laaste asem uit. Mag ons leer dat YHWH die asem is wat ons lewe gee – in die vlees, maar veral ook in die gees. Mag YHWH elke oomblik van elke dag waaragtig die asem wees wat ons elkeen léwe gee – in die vlees, maar ook in die gees.

Wanneer ons voor ons eie waarheid te staan kom in situasies waar ons weet dat ons met dinge moet breek of moet bely dat ons drooggemaak het en moet regstel waar ons verbrou het, kan ons ook weet dat YHWH die asem is wat sy vars lewe in ons inblaas.

Tweedens, in sy boek In His Own Words skryf L Grant Luton dat Ortodokse Jode ’n oggendgebed bid waarin hulle die Almagtige seën omdat Hy eenheid bring deur sy Naam, deur die betekenis van die eerste helfte van sy Naam te verenig met die betekenis van die tweede gedeelte van sy Naam. Dié gebed verwys na die eerste twee letters van die Naam, Yod en Hey, wat verbind word met Vav en Hey.

Die Naam YHWH lyk in Hebreeus só – onthou om van regs na links te lees – ה ו ה י

Wanneer jy die letters van regs na links lees, is dit Yod, Hey, Vav, Hey. Wanneer die Naam in twee verdeel word, lyk dit so:

ה י

ה ו

YH of Yah vorm die eerste deel en dit word geskryf deur die letters Yod en Hey te gebruik. Die tweede deel bestaan dan uit Vav en Hey.

Yod-Hey verteenwoordig die karakter van regspraak, “judgement”, terwyl Vav-Hey verwys na die genade in sy karakter.

In die betekenis van die Naam YHWH lê dus reeds die belofte dat YHWH, omdat Hy genade ís, ons wil begelei om ontslae te raak van alles wat skeiding maak tussen ons en Hom. Hy is heilig. Daarom, hoe dieper ons kan groei in heiligmaking, hoe nader kan ons aan Hom kom.

Vader! YHWH! Wees ons genadig en leer ons wat dit vra om ons lewe, ons verhoudings, ons omgewing, ons stokperdjies en ons praktyke te suiwer van wat nie die vuur van u oordeel sal kan weerstaan nie! Amen.

Derdens, waaroor ons ook regtig moet nadink, is die manier waarop Yah in die Woord gebruik word. Onthou, hierdie Naam verwys na die geregtigheid van die Almagtige. Die geregtigheid van sy karakter duld nie iets wat verkeerd is nie. Wanneer Hy dus op hierdie Naam aangeroep word, roep die mens na Hom in sy suiwer waarheid, met geen verskuilde agendas nie, net waarheid en die krag daarvan.

Daar is min dinge wat soveel krag inhou as die waarheid en die volle waarheid. Dit is ook waarom Yeshua ons leer dat niks so vrymaak soos die waarheid nie. Wanneer die waarheid jou dan vrygemaak het, kan jy nie anders as om te jubel in die Almagtige nie.

Die meeste teksverse waarin die Naam Yah as deel van YHWH voorkom, besing sy almag en grootheid en uitredding. Albei die volgende teksverse uit Eksodus is woorde wat Moses uitgeroep het in lofprysing nadat YHWH hulle in groot oorwinnings gelei het, eers met die farao wat met sy hele weermag in die Rooi See verdrink het en toe ná die oorwinning oor Amalek wat by Rafidim plaasgevind het.

Die HERE [YAH] is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God [El], Hom sal ek roem; die God [Elohim] van my vader, Hom sal ek verhef.

– Eksodus 15:2

Lees ook Eksodus 17:16.

Veral die psalmdigters het gebruik gemaak van lof aan YAH:

Loof die HERE [YHWH], alle nasies! Prys Hom, alle volke! Want sy goedertierenheid is geweldig oor ons, en die trou van die HERE [YHWH] is tot in ewigheid. Halleluja (YAH)!

– Psalm 117:1-2

Lees ook Psalm 68:5-6; 118:5-6, 17-20; Jesaja 12:2 en 26:4.

Onthou, die “ja” wat by name gevoeg is, verteenwoordig ook YAH, soos Jesaja, Jeremia(h), Abraham, Elia(h) en baie meer.

Ook die “-ja” van “halleluja” is niks anders nie as YAH! Dit is ook belangrik om te weet dat “loof” of “praise” in die Hebreeuse taal ’n baie sterk betekenis het. Dit vra letterlik dat blydskap gevier sal word met helder en duidelike klank en selfs kleur.

Volgens die verduideliking wat in The New Strong’s Exhaustive Concordance of the Bible aangebied word, word blydskap waarlik oorspronklik deur klank, maar normaalweg deur kleur gevier.

Verder moet die karakter van hierdie vreugde oorkom met pronk en spog – “to boast” in Engels. Dis nie al nie. Dit vra ook dat ’n mens jouself so sal vergeet in die manier waarop jy jou in blydskap oorgee aan YAH dat jy jouself sal belaglik maak (“stultify”).

Ek glo dat die betekenis hiervan vra dat ’n mens elke vorm van trots en “waardigheid” sal neerlê wat jou moontlik daarvan kan weerhou om opregte blydskap met oorgawe aan YAH te betoon.

Onthou, in alles kyk ons Vader meer na ons harte as na ons handelinge. Soek eerstens daarna om Hom in ware en opregte blydskap te loof. Om te oefen om êrens iets in jou lyf in beweging te bring terwyl jy dit doen, sal vir elke mens bevrydend wees.

Hier is nog voorbeelde waar “halleluja” in die Psalms voorkom:

Halleluja! [YAH] Loof die HERE [YHWH]], want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.

– Psalm 106:1

Lees ook Psalm 135:19-21; 146:1-2; 147:1-2; 148:1, en 149:1.

Voorbeelde uit die Skrif

Die HERE [YHWH] sal jou seën en jou behoed; die HERE [YHWH] sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou genadig wees; die HERE [YHWH] sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.

– Numeri 6:24-26

Die HERE [YHWH] is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.

– Psalm 34:19

Lees ook Eksodus 5:2, 24 tot 6:2; Psalm 32:10; Spreuke 3:26; 1 Samuel 6:13; Jesaja 1:18, en 40:10.

YHWH in kombinasie met ander Name

Daar is heelwat ander Name wat gekombineer word met die Naam YHWH. Elke keer dat dit gebeur, word die betekenis van die tweede Naam weer eens versterk deur die betekenis van YHWH:

YHWH ElohayDie HERE my GodSagaria 14:5
YHWH ElohekaDie HERE jou GodEksodus 20:2
YHWH EloheenuDie HERE ons GodDeuteronomium 6:3
YHWH ElohimGod die SkepperGenesis 2:4-25
YHWH ElyonDie AllerhoogstePsalm 7:17
YHWH GmolahDie Een wat vergeldJeremia 51:56
YHWH GaolDie HERE jou VerlosserJesaja 44:24
YHWH HosenuDie HERE ons SkepperPsalm 95:6
YHWH JirehGod sal voorsienGenesis 22:8-14
YHWH MekkaddishkemDie HERE wat julle heiligLevitikus 20:8
YHWH MakkehDie HERE wat strafEsegiël 7:9
YHWH NissiDie HERE my BanierEksodus 17:15
YHWH RohiDie HERE my HerderPsalm 23:1
YHWH RaphaDie HERE wat gesond maakEksodus 15:26
YHWH SabaotDie HERE van die Leërskare1 Samuel 1:3
YHWH ShalomDie HERE gee rus; God is vredeRigters 6:24
YHWH ShammahDie HERE is daar; die Oorvloedige; die ewig teenwoordige EenEsegiël 48:35
YHWH ShammalGod is met myPsalm 23:4
YHWH TsidkenuDie HERE verskaf reg aan ons
Die HERE ons geregtigheidJeremia 23:6; 33:16

(Hierdie lys Name is geneem uit die boek Verander jou wêreld deur gebed geskryf deur Bennie Mostert.)

Wat beteken hierdie Naam vir my in my alledaagse lewe?

Hierdie Een wat onafhanklik bestaan, is van die begin af, toe tyd nog nie bestaan het nie, en sal tot in alle ewigheid wees: EK IS wat jy My op hierdie oomblik nodig het om vir jou te wees.

Elke oomblik van elke dag van jou lewe is Hy daar vir jou, bereikbaar, beskikbaar en kragtig om te red, om raad te gee, om eenvoudig bý jou te wees. Onthou wat Hy vir Moses gesê het:

Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.

– Eksodus 4:12

Dit is wat Hy vir Moses gesê het, maar dit is ook wie Hy is, dit is sy karakter – Hy is dáár om diegene by te staan wat Hom aanroep.

En onthou, nie EK WAS of EK SAL WEES nie, maar EK IS, op hierdie oomblik, en hierdie een, en hierdie een …

Hoe om te bid oor die Naam YHWH

Vra Hom om jou, deur die krag van sy Gees, te help om die hele dag lank van Hom bewus te lewe. Praat dan deur die dag met Hom oor die dinge waarmee jy besig is. Onthou om Hom te onthou. Onthou dan ook om te onthou dat Hy tot alles in staat is en dat Hy waarlik elke oomblik vir jou IS wie jy Hom nodig het om vir jou te wees.

In Jesaja 11 staan die volgende oor Yeshua die Messias geskryf:

En op Hom sal die Gees [Ruach] van die HERE [YHWH] rus, die Gees [Ruach] van wysheid en verstand, die Gees [Ruach] van raad en sterkte, die Gees [Ruach] van kennis en van die vrees van die HERE [YHWH].

– Jesaja 11:2

Bid elke dag dat hierdie “Gees van YHWH” ook oor jou en in jou vaardig word. Bid dat Hy waarlik die Asem van jou lewe sal word. Dat Hy Homself adem oor alles waarmee jy besig is, in al jou verhoudings en veral in jou binneste.

Leer om te leef met HalleluYAH op jou lippe. Dit maak nie saak waarmee jy besig is of wat teen jou te staan kom nie, Hy is altyd groter en magtiger en het die oorwinning reeds behaal, ook die oorwinning oor jou onvermoë. Erken Hom. Gee alles in totale vertroue oor aan Hom terwyl jy jou oë op Hom hou en nie skrik vir enigiets nie.

En sing daaroor jou eie HalleluYAH.

YHWH! Ek wil saam met Paulus uitroep dat niemand u diepte, u wysheid en u kennis kan peil nie! U is die Enigste wat groter as die lewe self is. U plan en u pad wat na u doel lei, u oordele is waaragtig onnaspeurlik. Omdat U alles ís en alles kán, is daar niemand wat vir U raad gee nie. Ja, uit U en deur U en tot U is alle dinge.

In die Naam van Yeshua bid ek, stroop my van elke flenter grootheidswaan en eiegeregtigheid. Plant in my ’n dieper saad van nederigheid as wat aan my bekend is. Ja, Vader, ek wil in diep nederigheid en absolute afhanklikheid laag voor U buig en erken dat U God is! Mag ek met elke asemteug bely dat U IS WIE U IS.

Ek kies om U lief te hê met my hele hart, my hele verstand en al my kragte.

HalleluYAH ! Amen.

Laat u Naam geheilig word

Подняться наверх