Читать книгу Laat u Naam geheilig word - Esté Geldenhuys - Страница 15

Adonai

Оглавление

Die soewereine God

Daar is ’n Engelse uitdrukking wat vra: “What’s in a name?” Die doel van die skryf van hierdie boek wil vir seker hierdie vraag beantwoord. Maar dan kan ’n mens ook vra: Wat word verskuil in ’n titel?

Op die meeste vorms wat ’n mens kry om in te vul, moet jy ’n titel aandui – jou titel dui eerstens jou geslag aan en dan ook jou status in die huwelik, as jy ’n vrou is. Maar ’n titel kan ook jou professionele posisie aandui. ’n Titel kommunikeer iets van die persoon wat die titel dra. Dink aan die Engelse kultuur waar daar van ’n “Sir” en ’n “Lord” en ’n “Earl” sprake is. Onthou, so ’n titel word nie sommer aan enigeen toegeken nie.

Wat is in ’n titel? Baie. Regtig baie.

Adonai sou kon beskou word as ’n titel – met ’n ryk betekenis.

Gebruik van die Naam Adonai in die Woord

Adon kom sowat 30 keer voor in die Skrif en Adonai 290 keer. Die woord “heer” as aanspreekvorm vir ’n hooggeplaaste mens is ook adon, maar wanneer ’n mens as sodanig in die Woord aangespreek word, word die “heer” met ’n kleinletter geskryf. Adon is ’n naam in enkelvoudsvorm, terwyl Adonai na die almagtige Drie-eenheid verwys wat Vader, Seun en Gees insluit.

Dit is belangrik om daarop te let dat sowel YHWH as Adonai in ons Bybel vertaal is met die woord “Here”. In die 1933- en die hersiene 1953-weergawe van die Ou Afrikaanse Vertaling van die Bybel word YHWH geskryf in kleinhoofletters: HERE – “LORD” in die ouer Engelse vertalings soos die King James Version – terwyl Adonai geskryf word met hoofletters en kleinletters: Here (“Lord”). Wanneer ’n mens dus in die ouer vertalings in een teksvers lees van HERE én Here, verwys die eerste na YHWH en die tweede na Adonai of Adon. ’n Mens is dankbaar dat daar nog vertalings is wat steeds hierdie verskil uitwys, maar ook hartseer dat vertalings soveel van die diepte van die betekenis van YHWH se Name gelykgemaak het, asof almal dieselfde is.

En waarom sou Bybelskrywers meer as een Naam in een sin gebruik om uitdrukking te gee aan die Een van wie hulle praat? Enersyds om seker te maak dat die leser of hoorder weet van Wie gepraat word. Andersyds beslis omdat die Een wat ons aanbid so groot is dat dit nodig is om soveel moontlik Name te gebruik wat sy wese kan omskryf.

Dit is baie interessant om te sien hoe verskillende Bybelskrywers meer gebruik maak van spesifieke Name sodat ander Name in sekere Bybelboeke byna nie voorkom nie, terwyl dit in ander herhaaldelik gebruik word. In die boeke Genesis tot Job kom die name Adonai en Adon gesamentlik 47 keer voor. In Psalms vind ons dit 61 keer, in Spreuke tot Jeremia 81 keer en Daniël tot Maleagi 50 keer. Die profeet Esegiël het hierdie Name egter 222 keer gebruik, en dan is dit hoofsaaklik Adonai wat in hierdie boek voorkom. Dit is wanneer ’n mens sulke getalle sien dat jy nuuskierig raak oor die betekenis van ’n Naam. Wat is dit waaraan Esegiël so graag uitdrukking wou gee waaraan die ander Bybelskrywers nie so ’n dringendheid ervaar het nie?

Esegiël is gestuur om te praat met mense wat verharde harte gehad het. Kyk weer na Esegiël 2 en sien raak dat hy gewaarsku is dat die mense nie na hom gaan luister nie, maar dat hy nie vir hulle bang mag word nie.

And you, son of man, be not afraid of them, neither be afraid of their words: though briers and thorns are all around you and you dwell and sit among scorpions, be not afraid of their words nor be dismayed at their looks, for they are a most rebellious house. And you shall speak My words to them whether they will hear or refuse to hear, for they are most rebellious. As for you, son of man, hear what I say to you; be not rebellious like that rebellious house; open your mouth and eat what I give you.

– Ezekiel 2:6-8 (The Amplified Bible)

Esegiël gebruik die Naam Adonai so dikwels om te verseker dat dié mense met wie hy moet praat, verstaan van Wie die boodskap kom, en omdat die betekenis van hierdie Naam die gewig dra wat gevoeg moes word by die boodskap wat hy moes bring.

Betekenis van die Naam Adonai

Die Naam Adonai, soos dit met die Hebreeuse taal die geval is, is ryk aan betekenis. Daar is vyf gedagtes wat in die Woord aan my uitgewys word.

1. Outoriteit

Wanneer jy die boek Esegiël lees, is daar frases wat jou soos ’n golf bly tref: “So spreek die Here HERE,” en: “So sê die Here HERE”. Op elkeen van hierdie uitdrukkings volg ’n aankondiging van wat Adonai YHWH beplan en gaan doen. Álles wat Hy aankondig, gebeur dan volgens dit wat Hy gespreek het. En ’n mens sidder!

Daarom, profeteer teen hulle, profeteer, mensekind! Toe val die Gees van die HERE [YHWH] op my, en Hy sê vir my: Spreek, so sê die HERE [YHWH]: So het julle gespreek, o huis van Israel; en wat in julle gees opkom, weet Ék. Julle het die wat deur julle verslaan is, in hierdie stad vermenigvuldig, en julle het sy strate vol gemaak met die wat verslaan is. Daarom, so sê die Here [Adonai] HERE [YHWH]: Die wat deur julle verslaan is, wat julle daarin neergelê het, hulle is die vleis, en hierdie stad is die pot, maar júlle sal Ek daar uitbring. Julle is bevrees vir die swaard, maar die swaard sal Ek oor julle bring, spreek die Here [Adonai] HERE [YHWH]. En Ek sal julle daar uitbring en julle oorgee in die hand van vreemdes en strafgerigte onder julle oefen. Julle sal deur die swaard val; by die grens van Israel sal Ek julle oordeel. En julle sal weet dat Ek die HERE [YHWH] is.

– Esegiël 11:4-10

Die Naam Adonai hou in die eerste plek die betekenis van outoriteit in. Hy sien alles, Hy weet alles en Hy is tot alles in staat. Hy neem voortdurend alles waar en dan neem Hy besluite. Hy kondig aan wat Hy besluit het en Hy voer dit uit. Wat Adonai ook al besluit, kan Hy doen, want Hy het outoriteit oor alle kragte en magte in die ganse skepping.

Daar is niks in die skepping wat groter is as Hy of wat Hom in sy planne kan stuit nie.

2. Mag

Die feit dat daar niks is wat groter is as Adonai nie, bring jou by die volgende betekenis van hierdie Naam: Hy is magtig, Adonai is álmagtig.

Nog ’n frase wat meer as 20 keer in die boek Esegiël voorkom, is “en hulle sal weet dat Ek die HERE is” of “dat Ek die Here HERE is”. Waarom sê Hy dit anders as om sy mag te beklemtoon? Dit is soos ’n waarskuwing dat Hy dit wat Hy aangekondig het, sál uitvoer. Wanneer die mens sien dat dit gebeur het, sal dit soos ’n teken vir die mens wees dat Hy is wie Hy sê Hy is – die Almagtige wat besluit en dan uitvoer wat Hy besluit.

3. Soewereiniteit

Net Een wat soewerein is, kan besluit en dit uitvoer. Die naam Adonai verwys dus ook na sy soewereiniteit. “Soewereiniteit” is ’n woord wat ons nie dikwels gebruik nie. Onthou, dit beteken “oppermagtige heerskappy”. Die “oppermagtig” in die betekenis van soewereiniteit verwys na sy Goddelikheid. Dit is wat Adonai uitoefen: oppermagtige, of Goddelike, heerskappy.

4. Eienaarskap

Omdat YHWH die Skepper is van alles wat bestaan, is alles wat geskep is sy eiendom. Hy is die eienaar van sy skepping en van elk van sy skepsels.

Dit is ’n baie belangrike element van die betekenis van Adonai. In die eerste plek is dit omdat Hy eienaar is dat Hy besluite kan neem en dit kan uitvoer. Hy antwoord aan niemand anders nie.

Dink aan die volgende teksverse:

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

– Romeine 11:33-36

Hierdie saak, dat Adonai die reg het om oor sy eiendom te besluit, het twee kante. Die feit van Adonai se eienaarskap is die byna vanselfsprekende deel; die ander sy van hierdie betekenis is nie so vanselfsprekend nie, naamlik dat elk van Adonai se skepsels Hom moet ontdek en erken as “Eienaar”. Solank ek Hom nie erken as die Een wat in soewereiniteit en almag oor my lewe wil heers nie, kan ek nie waarlik deel word van sy volmaakte plan vir my lewe nie. Solank die mens Hom nie erken vir wie Hy is nie, kan die mens Hom ook nie aanbid vir wie Hy is nie en kan die mens nie in ’n opregte liefdesverhouding met Adonai staan nie.

5. Verhouding

Die wat Hom erken as “Eienaar”, erken dan ook sy eienaarskap en wil daarom met Hom in ’n verhouding staan, Hom aanbid en Hom gehoorsaam en respekteer.

Dit is veral in die Psalms van koning Dawid dat ’n mens bewus raak van hierdie kosbare, intieme liefdesverhouding wat Dawid met Adonai gehad het. Hoe mooi as hy byvoorbeeld in Psalm 8 uitroep: “HERE [YHWH] onse Here [Adonai]”. Dit is asof die dubbele Naam hier die intensiteit van Dawid se versugting na die Almagtige uitspel.

Dan is daar ook die volgende pragtige teksverse:

Waarlik, ék weet dat die HERE [YHWH] groot en onse Here [Adonai] bo alle gode is.

– Psalm 135:5

Want op U is my oë, HERE [YHWH] Here [Adonai]; by U skuil ek: giet my siel nie uit nie!

– Psalm 141:8

Lees ook Psalm 16:2; 136:3 en 140:8.

YHWH het na Dawid verwys as ’n man na sy hart. Dit moet te doen hê met die feit dat Dawid verstaan het wie Adonai is. Dawid het Adonai erken as die Een wat eiendomsreg oor hom het en Dawid het Adonai aanbid as soewereine, Goddelike opperwese van outoriteit en mag. Dit is slegs wanneer ons Adonai in ons lewe erken dat die volheid van Adonai se eienaarskap in ons lewe in vervulling kan gaan. Dit is wat koning Dawid beleef het, te midde van al die foute wat hy gemaak het.

Mag ek en jy begeer om Dawid se voorbeeld te volg in ’n soeke na die intimiteit van ’n liefdesverhouding met Adonai:

En hy het gesê: Ek het U hartlik lief, HERE [YHWH], my sterkte.

– Psalm 18:2

Voorbeelde uit die Skrif

Toe vra Abram: Here [Adonai] HERE [YHWH], wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan en die erfgenaam van my huis die Damaskéner Eliëser is?

– Genesis 15:2

Die Gees van die Here [Adonai] HERE [YHWH] is op My, omdat die HERE [YHWH] My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis.

– Jesaja 61:1

Lees ook Eksodus 4:10; 34:8-9; Josua 3:13; Amos 3:7-8, en Sagaria 9:14.

Wat beteken hierdie Naam vir my in my alledaagse lewe?

Wanneer jy oor hierdie Naam stil word, besef dat Adonai alles van jou weet. Hy ken ook jou hart. Adonai is voortdurend bewus van jou en van jou totale omstandighede. Adonai dra kennis van alles oor jou, of dit nou ander mense se gedagtes, omstandighede of nuwe moontlikhede is wat op jou wag … of dinge wat juis om ’n goeie rede nog nie bymekaar kan kom nie.

Weet ook dat Adonai enigiets vir jou kan doen. Hy kan jou rug laat aangroei minute nadat dit in ’n motorongeluk gebreek het. Hy kan maande lank vir jou en jou gesin genoeg gee om te eet al het jy geen inkomste nie. Adonai kan jou die moed gee om groot take aan te pak en dit deur te voer. Hy kan huweliks- en gesinsverhoudings herstel, al neem dit dalk baie jare voor dit gebeur.

Adonai weet van jou en Hy begeer dat jy elke kamer van jou hart vir Hom sal oopmaak en eerlik sal wees met Hom oor wat jy beleef en dink. Al weet Hy alles van jou, kan Hy jou slegs ken in dié mate dat jy Hom toelaat om jou te ken. Solank jy Hom ignoreer, kan Hy jou nie bedien nie. In sy boek Secrets of the Secret Place skryf Bob Sorge oor hierdie saak. Hy sê die belangrike vraag om aan gelowiges te vra, is nie of hulle as mense vir God ken nie, maar wel: Ken God jou?

Dan verduidelik hy verder dat dit moontlik is dat mense YHWH goed genoeg sal ken om in sy Naam duiwels uit te dryf en siekes te genees, maar dat hierdie selfde mense nie deur Adonai geken word nie. Die verskil lê in ’n lewende verhouding teenoor ’n liefdesverhouding, soos ’n man eendag in ’n onderhoud teenoor my getuig het. Hy het vertel dat ons Vader hom op ’n dag gevra het om op te hou soek na die wil van God en te begin soek na die God van die wil. Daar is ’n groot verskil tussen om te soek na Adonai en om te soek na dit wat Adonai vir jou kan doen.

Wat moet jy doen sodat Adonai jou sal ken? Maak jou hart vir Hom oop in opregtheid. Wees eerlik oor alles wat jy voel en beleef. Praat oor jou foute en verkeerde gesindhede en onsekerheid, net soos jy sou praat oor jou behoeftes. Nooi Hom in tot in die kleinste plekke van jou hartkamers en wees dapper genoeg om te hanteer wat Hy dan met jou deel. Dit is al manier om jou hele lewe met Hom te begin deel. Dit is ook die enigste manier om te leef volgens die plan wat Adonai vir jou lewe het.

Hoe om te bid oor die Naam Adonai

Glo jy dat Hy is wie hierdie Naam sê Hy is? Glo jy dat jy die eiendom is van Adonai en dat Hy opperheerskappy uitoefen – ook oor jou lewe? Sê dit dan vir Hom. Oefen om eerlik met Hom te praat oor alles wat in jou binneste aangaan. Terwyl jy met Hom daaroor praat, oefen om te glo dat Hy die antwoorde het waarop jy wag, dat Hy die uitkoms kan bewerk. Dat Hy die mag en krag het om elke faset van jou lewe aan te raak. Erken Hom. Praat met Hom en Hy sal jou antwoord.

Vind dan jou vreugde daarin om Adonai te leer aanbid. Hoe doen jy dit? Dink die hele dag aan hom. Wanneer jy Hom onthou, weet dat Hy van jou weet en loof en eer Hom dan daarvoor. Gee aan Hom erkenning vir wie Hy is wanneer jy aan Hom dink. Vind dan jou vreugde daarin dat jy met Hom kan praat oor dit waarmee jy besig is. Ontdek Hom as jou toevlug, jou “plek van rus” en jou bron van nuwe lewe.

Vader, dankie dat U ook my Adonai is! Ek bely dat ek nodig het om te verstaan hoe u liefde vir my regtig werk. Leer my. En leer my wat dit van my vra om in ’n liefdesverhouding met U te staan. Ek wil U nie gebruik of misbruik nie, maar ek begeer om U te ken en U toe te laat om my te ken sodat ek U in Gees en waarheid kan aanbid! Amen.

Laat u Naam geheilig word

Подняться наверх