Читать книгу Laat u Naam geheilig word - Esté Geldenhuys - Страница 9

Elohim

Оглавление

Goddelike Drie-eenheid,

die Skepper van alles wat bestaan

Elohim is die meervoudsnaam vir die Goddelike Drie-eenheid: Vader, Seun en Gees. Dit is die Naam wat verwys na die Skepper van alles wat bestaan.

Daar is soveel gedagtes oor hoe alles tot stand gekom het. Gesprekke daaroor kan ’n mens lank besig hou. Wanneer ons al die teorieë en bespiegelinge uit die pad vee en net aan die skepping dink, wat is die belangrike elemente wat bly staan? Oorweeg onder meer die volgende gedagtes:

•Die skoonheid van die natuur verstom ons altyd weer. Die kleur en vorm en samestelling van alles in die natuur is ontsaglik indrukwekkend. En die geweldige variasie! Niks wat die mens maak, kan ooit so mooi wees soos dit wat ons in die natuur beleef en sien nie.

•Daar is ook die unieke patrone in die natuur. Dink aan die branders van die see en die rotse van die berge. Elkeen is anders. Dink vingerafdrukke en sneeuvlokkies – elkeen uniek.

•Orde is die grondslag van alles in die natuur. Alles het ’n tyd en ’n plek en ’n oorsaak en ’n gevolg. Alles werk volgens seisoene en die een bou op die ander. Daar is ’n ritme in die natuur. Wanneer die orde van hierdie ritme versteur word, loop dinge verkeerd.

•Lewe is in die natuur. Daar is lewe en dan is daar dood. Geen mens kon nog ooit uit niks lewe skep nie. Wanneer iets dood is, kon geen mens nog nooit uit eie inisiatief lewe daarin terugbring nie. Waar daar lewe is, bou lewe op homself. Lewe baar lewe. Geen mens of dier of plant kan leef sonder water nie; water is lewe. Geen mens kan uit niks water skep nie. Lewe is afhanklik van lig. Die volheid van sonlig kan nie nageboots word nie.

•Alles in die natuur word deur interaksie in stand gehou. Onder diere, voëls en selfs visse is daar voedselkettings, om van die mens nie eens te praat nie. Bome berg voedsel in hulle blare, wat hulle dan laat val net voor die volgende groeiseisoen sodat hulle wortels weer dieselfde voedsel kan opneem deurdat reënwater dit terugwas tot die grond in. Daar is blomme wat gevorm is sodat slegs sekere insekte by hierdie blom se nektar kan uitkom en net hierdie insekte kan hierdie blomme bestuif.

•Alles het ’n begin gehad. Wanneer jy oor die natuur dink, moet jy erken dat die Een wat alles uitgedink en gemaak het, meer intelligensie en kreatiwiteit en insig het as wat jy al ooit van gehoor het. Dit is so groot; dit is selfs bo die mens se vermoë om te begryp. Hierdie omvangryke en ontsaglike Wese het ’n Naam. As jy glo dat die Bybel waar is, moet jy weet dat sy Naam Elohim is.

Dit is die eerste Naam vir God wat in Genesis 1 genoem word; daarom begin die bespreking van die Name by hierdie Naam. Kyk weer na Genesis 1:1.

In die begin het God [Elohim] die hemel en die aarde geskape.

– Genesis 1:1

Wanneer die skeppingsverhaal die tweede keer in Genesis 2 vertel word, word die Naam YHWH saam met Elohim gebruik. YHWH is dus die tweede Naam wat in die boek Genesis gebruik word.

Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag toe die HERE [YHWH] God [Elohim] die aarde en die hemel gemaak het.

– Genesis 2:4

Gebruik van die Naam Elohim in die Woord

Die Naam Elohim kom volgens The New Strong’s Exhaustive Concordance of the Bible 3 000 keer in die Bybel voor. Daarteenoor kom die Naam El min of meer 250 keer voor. Hierdie feit gee ’n aanduiding van die rol wat hierdie Naam en natuurlik die betekenis van die Naam Elohim in die Woord speel. Behalwe die Naam Adonai, is dit die enigste Naam wat verwys na die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Dit is sekerlik ook ’n rede waarom hierdie Naam so dikwels voorkom.

Ek is die HERE [YHWH], en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God [Elohim] nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE [YHWH], en daar is geen ander nie; wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE [YHWH], is dit wat al hierdie dinge doen.

– Jesaja 45:5-7

Betekenis van die Naam Elohim

Die Naam Elohim het ’n drieledige betekenis. Dit is interessant dat die Naam na die Drie-eenheid verwys en dan ook ’n drieledige betekenis het. Maar dit is belangrik om te weet dat Vader, Seun en Gees as ’n eenheid by elk van hierdie drie betekenisse betrokke is: Skepper-God, Soewereine God en God-van-outoriteit.

Daar is diegene wat glo die meervoudsvorm in hierdie Naam verwys eerder na die intensivering van die majesteit van Elohim, wat na sy krag en mag verwys, as na ’n meervoudige getal. Maar hierdie gedagterigting laat nie ruimte vir die Nuwe Testament se beskrywing van Yeshua, Jesus, se betrokkenheid by die skepping soos dit in die Evangelie van Johannes, in hoofstuk 1, verduidelik word nie. Volgens Genesis 1 is ook Heilige Gees onmiskenbaar teenwoordig by die skepping.

Skepper-God

Elohim is die Skepper wat alles wat bestaan, geskep het: Die Gees was teenwoordig toe die almagtige El die Woord gespreek het wat Jesus, Yeshua Self, is. Elohim skep álle dinge. Die verwysing na Yeshua in Johannes 1:3 sluit alles in:

Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

– Johannes 1:3

Voordat ’n mens by enige redenasie betrokke raak, soos die tydsduur van die skeppingsdae of die invloed wat een element op ’n ander gehad het, raak net eers stil en dink! Dink aan wat alles in hierdie skepping bestaan en registreer dié feit in jou denke – sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

In Hebreeus het die werkwoord wat in Genesis 1:1 vir die begrip “skep” gebruik word, altyd Elohim as onderwerp. Dit dui daarop dat Hy uit niks iets kon skep. Hy is dus die enigste God onder die gode wat uit niks iéts kan skep.

Elohim skep ook lewe en niemand kon Hom dit nog ooit nadoen nie:

In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.

– Johannes 1:4

Ons is bekend met die tasbare werklikheid rondom ons. Deur die Skrif en die getuienis van mense en selfs fiksie is ons ook bewus van ’n geesteswêreld wat nie met die blote oog sigbaar is nie, maar dit bestaan wel. Wanneer daar verwys word na alle dinge wat Elohim skep, verwys dit ook na die onsienlike:

Want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte – alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.

– Kolossense 1:16

Hoewel Yeshua (Jesus) sentraal staan in elk van hierdie laaste drie teksverwysings, is die volle Drie-eenheid as Skepper betrokke by alles wat geskep word. As Skepper is niks vir Hom onmoontlik nie:

Kyk, Ek is die HERE [YHWH], die God [Elohim] van alle vlees; sou enige ding vir My te wonderbaar wees?

– Jeremia 32:27

Soewereine God

Die soewereiniteit van Elohim verwys na Hom as oppermagtige Opperwese. Hy besluit en wat Hy besluit, gebeur. Hy doen aan niemand verslag nie en Hy raadpleeg niemand nie. Hy het met alles ’n plan en Hy kan selfs elke vloek in ’n seën verander (Deut 23:5).

Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God [El] is, en daar is geen ander nie; Ek is God [Elohim], en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen; wat ’n roofvoël roep uit die Ooste, die man van my raad uit ’n ver land; soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen.

– Jesaja 46:9-11

God-van-outoriteit

Elohim heers oor alle dinge, alle mense, alle magte. Hy het gespreek – en daar was lig. Hierdie Lig het outoriteit ontvang oor alles wat boos en duister is. Hy het gespreek en materie het Hom gehoorsaam om plante te vorm, en diere, visse, voëls en mense … Hy het gespreek en die land het geskei van water. Hy heers oor die see en die wind. Sy outoriteit het geheers oor die vuur sodat Daniël se vriende nie gebrand het nie.

Lucifer het gebuig voor die outoriteit van Elohim toe hy uit sy teenwoordigheid geban is. Dit is die outoriteit van Elohim wat siekes genees en mense uit die dood opwek. Ja, sy outoriteit hou stand oor lewe en oor dood. Die outoriteit van Elohim heers selfs oor swaartekrag. Profeteseuns het Elisa gevra om by die Jordaan saam met hulle te gaan balke kap. Terwyl een van die seuns kap, val die yster van sy geleende byl in die water. Elisa het ’n stok op die water gegooi waar die yster verdwyn het en dit het dadelik op die water gedryf. Lees die verhaal in 2 Konings 6:4-7.

Deur sy outoriteit skep Elohim, volgens die plan van sy soewereiniteit.

Voorbeelde uit die Skrif

Die Naam Elohim is die eerste Naam van God wat in die Woord genoem word. Trouens, hierdie Naam verskyn reeds in Genesis 1:1.

Hy is die eerste “persoon” wat in die Bybel vermeld word. Dit is asof hierdie vermelding die boodskap wil oordra dat hierdie Boek Elohim se boek is en dat hierdie Boek oor Hom gaan. Dit is baie betekenisvol dat daar in die laaste hoofstuk van die laaste boek van die Bybel die volgende geskryf staan:

Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.

– Openbaring 22:13

In hierdie Boek wat oor Hom gaan, ís Hy die begin en Hy ís die einde en tussen begin en einde, gaan die hele Boek oor Hom en Hom alleen.

Dit was Elohim wat met Noag en met Abraham en sy nageslag ’n verbond aangegaan het. Dit was Elohim wat die geweeklaag van die volk in Egipte gehoor het. Elohim het ’n pad met Moses en Josua, die rigters en koning Dawid en die profete gestap. Die meeste kere waar daar in ons Afrikaanse vertalings gebruik gemaak word van die woord “God”, verwys dit na Elohim. Daar is uitsonderings, maar dit is meesal Elohim.

In Genesis 5 is daar ’n verwysing na Elohim wat ’n mens laat sidder. Adam se stamboom word in hierdie hoofstuk aangeteken en die uiteensetting begin met die baie belangrike woorde:

Die dag toe God [Elohim] Adam geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God [Elohim].

– Genesis 5:1

Die mens is dus gemaak na die gelykenis of die beeld van Elohim. Die mens is gemaak met die potensiaal om soos Elohim te wees! Dink aan die ryk betekenis van die Naam Elohim en besef dat die potensiaal van die volheid van hierdie Naam in die mens ingebore is! Wanneer jy die betekenis van hierdie Naam snap, kan jy nie aan jouself dink as onvoldoende of ’n swakkeling nie. Bring liewer dit wat jy as swakheid in jouself beleef na Hom toe en vra dat Hy dit sal vervang met die volheid wat in Hom is.

Die hele verhaal en boodskap van die Woord is ’n ontplooiing van Elohim en sy skeppingswonder, sy soewereiniteit en sy outoriteit oor alle mense, alle tye en alles wat bestaan.

Elohim in kombinasie met ander Name

Elohim word ook in kombinasie met die Naam YHWH gebruik. Met die gebruik van hierdie kombinasie word verdere uitdrukking gegee aan die betekenis van albei hierdie Name. YHWH beteken “EK IS” of “die Een wat onafhanklik bestaan”. In Engels word dit vertaal met “the self-existing One”.

YHWH Elohim verwys dus na die drie-enige Skepper wat onafhanklik bestaan, terwyl Hy van niemand hulp of ondersteuning nodig het nie. Daar is ook geen verwagting dat Hy aan enigeen moet antwoord nie.

En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die HERE [YHWH] God [Elohim] is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.

– 1 Konings 18:21

Erken dat die HERE [YHWH] God [Elohim] is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide.

– Psalm 100:3

Elohim word ook gebruik in kombinasie met Adonai:

En ek het my aangesig tot die Here [Adonai] God [Elohim] gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy.

– Daniël 9:3

Wat beteken hierdie Naam vir my in my alledaagse lewe?

Wat belangrik is om te besef, is dat hierdie selfde Elohim wat al die dinge gedoen het waarvan ons in die Woord lees, vandag nog sy skepping in stand hou. Elke dag word nuwe lewe geskep, babas word gebore, diere plant voort – die natuur gee lewe op verskillende maniere.

Elohim skep elke dag nuut in ons elkeen se gedagtes. Of jy nou gereedmaak vir ’n raadsvergadering en of jy ’n ingenieur is wat iets wil ontwerp of ’n mamma wat haar kinders wil reghelp, Elohim wil in jou nuut skep ten opsigte van wat ook al jou behoefte op hierdie dag is. Vra Hom. Hy sal jou gedagtes lei. Hy kan sy planne in jou ontplooi, nuwe planne waaraan jy nie op jou eie sou kon dink nie.

En steek jy soms vas en weet jy nie herwaarts of derwaarts nie? Ek het op raad afgekom vir hierdie vassteek!

Liberty S Savard het ’n boek geskryf met die titel Shattering your Strongholds. In hierdie boek verwys sy na Matteus 18:18 waar daar geskryf staan dat alles wat ons op die aarde bind, in die hemel gebind sal wees en alles wat ons op aarde ontbind, in die hemel ontbonde sal wees. Savard skryf dan dat sy lank op Elohim gewag het om aan haar te openbaar wat hierdie Skrif in ’n positiewe sin beteken. Almal het dit nog altyd gebruik om aan te dui dat negatiewe dinge op aarde gebind kan word. Sy het besef dat daar tog ook ’n positiewe “bind” moes wees. Op ’n dag het sy die beeld ontvang van ’n kind wat met ’n doek op ’n mamma se rug vasgeknoop is. Sy het veral die voetjies so langs die mamma se sye sien uitsteek en dadelik besef: Ons kan ons in gebed vasknoop, vasbind aan die almagtige Elohim.

Op grond van hierdie beeld wat Liberty Savard ontvang het, beveel sy in haar boek aan dat ons sal bid dat ons en ons geliefdes en enigeen vir wie ons intree, vasgebind sal word aan Elohim se gedagtes, Elohim se waarheid en Elohim se wil.

Wanneer alles om jou of in jou na chaos voel, bid asseblief hierdie gebed:

Vader, in die Naam van Jesus bind ek my nou vas aan u gedagtes. Gee my u gedagtes. Ek bind my aan u waarheid.Openbaar aan my die volheid van u waarheid. Vader, openbaar aan my u wil in hierdie saak. Amen.

Wag dan op Hom om Hom aan jou te openbaar. Hy sal. Wag tot Goddelike orde jou chaos opklaar. Begin beweeg met die gedagtes wat by jou opkom. Onthou dat God dit steeds deur jou wil doen. Hy wil deur jou skep.

Die soewereiniteit van Elohim heers oor ons elkeen se lewe. Ons het elke dag die keuse om te doen soos ons dink goed en reg is, of ons kan kies om ons dag voor Elohim te bring en te vra dat Hy ons sal lei. Hy wat alles weet, sal ons lewe rig volgens sy planne vir ons, sy gedagtes, sy waarheid en sy wil. Raadpleeg Hom voordat jy keuses maak en onthou om te wag tot jy weet dat Hy geantwoord het.

’n Mens voel dikwels dat jy die totaal verkeerde keuses gemaak het en daarom heeltemal buite God se wil beweeg het. Onthou dan dat Hy in Deuteronomium 23:5 belowe dat Hy selfs ’n vloek in ’n seën kan verander. Rus in Hom; vertrou Hom daarvoor dat Hy die besonderhede ken van elke dag van jou lewe – ook van elke dag wat nog moet kom. Onthou wat Dawid geskryf het:

En in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

– Psalm 139:16

Loof Elohim aan die begin van elke nuwe dag. Loof Hom omdat Hy reeds jou dag ken, omdat Hy in beheer is van alles wat op jou wag op hierdie dag en omdat Hy op enige gegewe oomblik op ’n Goddelike wyse kan ingryp in jou dag. Wees ingestel daarop om sy inspraak te ontvang sodat jy nie steeds op eie stoom voortleef nie.

Hoe om te bid oor die Naam Elohim

Oorweeg die kwaliteite van hierdie magtige drie-enige God biddend. Kry ’n notaboek om dinge in neer te skryf wanneer jy stil raak in Elohim se teenwoordigheid. Maak jou eie lys van wat sy skepping alles behels. Loof Hom dan in gebed vir sy skepping.

Bid vir ’n bewustheid om sy skeppingswonder deur die dag heen raak te sien, selfs in die klein nuanses van ’n kind se voorkoms en die vlug van ’n voël. Kyk op en sien die lewe om jou raak en loof Elohim. Sê vir Hom dankie, gee aan Hom erkenning en vertel Hom sommer net wat jy beleef.

Dink ook biddend oor die wete dat elke dag van jou lewe aan Hom bekend was reeds voordat jy gebore is. Bid vir die begeerte om met jou volle menswees waarlik binne sy wil vir jou te lewe. Vra Hom wat daar is wat jy heimlik vir jou eie besluite eenkant wil hou – Hy sal dit aan jou openbaar as daar so iets is. Raak dan ontslae daarvan.

Oefen om te onthou dat, vandat jou dag begin en deur alles heen wat jy in die dag beleef, die outoriteit van Elohim groter is as enigiets wat jy gedurende die dag kan beleef. Daar is dae dat die verkeer in Pretoria totaal gek is. As ’n mens na die ontsaglike verkeersopeenhopings kyk, besef jy hoeveel mense hulle dag met irritasie en selfs aggressie begin. Bid op so ’n dag dat die outoriteit van Elohim orde sal bring in die chaos en in individue sodat mense nie sy vrede sal verloor in die verkeer nie.

Nou moet ek eers noem van die dag toe ons dogter haar rug gebreek het. Daar was kompressiefrakture in drie werwels. Toe die dokter dit vir my sê, het ek eenkant toe weggeloop, soos ’n hond ’n bos gaan soek om onder te lê. My gewaarwording was dat ek in ’n bodemlose gat af val. Ek moes net iets vind om aan vas te gryp. Lofprysing.

Kort tevore het ek in ’n radioprogram gepraat met mense wat getuig het hoe lofprysing hulle uit ’n gat gehaal het nadat hulle slegte nuus ontvang het.

Maar op daardie oomblik was daar net mooi niks waaraan ek kon dink waarvoor ek Elohim kon prys nie.

Wanhopig het ek my oë toegemaak en in my gedagtes net gedink aan die straat daar buite … En toe kom dit! Ek het sy Naam groot gemaak vir die feit dat die son elke liewe môre vanself opkom. Hy doen dit net. Weer en weer kom die son op en dis wonderbaar. En toe loof ek Hom dat die jakarandas vanself weet wanneer om te blom en dat voëls vanself weet hoe om hulle neste te maak …

Hierdie eenvoudige lofprysing het aan my die krag gegee om op te staan en my dogter te gaan bystaan en om te hanteer wat ek daardie dag moes hanteer. En elke dag daarna was ek sterker in die situasie, want Elohim was ook in die situasie. ’n Maand nadat sy haar rug gebreek het, het sy met stut en al weer geswem. Swem was haar sterkste sport op skool. Nog later het ook sy getuig van Elohim se aanraking in haar lewe en in haar rug.

Vra dat Elohim in jou die begeerte sal wakker maak om elke dag van Hom bewus te wees in alles wat jy doen. Loof Hom. Aanbid Hom vir wie Hy is.

Laat ons eerlik wees, mense weet nie vanself wat dit beteken om Elohim werklik te aanbid nie. As dit vir jou waar is, sê dit hardop vir Hom en vra dat Hy jou leer. Neem dan die Skrif wat in hierdie gedeelte genoem word en lees dit, dink daaroor en begin deur Elohim aan te spreek soos jy iemand sou aanspreek wat by jou is. Loof Hom vir die waarheid van die Skrif voor jou. Dink oor Elohim. Spreek in jou eie woorde dankbaarheid uit oor wie Hy is. Moenie altyd dieselfde frases gebruik nie, maar soek nuwe woorde en nuwe voorbeelde uit die Skrif.

Dit is hoe aanbidding begin. Hy Self sal dit vir jou verder neem.

Did you not know? Have you not heard? The Everlasting Elohim, YHWH, the creator of the ends of the earth, neither faints nor is weary. His understanding is unsearchable.

– Isaiah 40:28 (The Scriptures)

Almagtige, ewige Elohim! U skeppingswerk hou nooit op nie – elke nuwe dagbreek herinner my daaraan. U heers oor u ganse skepping. Ek aanbid U as die almagtige, alwetende Skepper. U begrip ís bo menslike verstand. Dankie dat U nooit moeg of mat raak nie. Dankie dat U ook oor my waak. U is onbeskryflik groot. Ek eer U. Amen.

Laat u Naam geheilig word

Подняться наверх