Читать книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman - Страница 10

7

Оглавление

Waar hy dwars gedraai voor sy elektroniese paneelbord sit, kyk Phil Davies op toe Arabel die stuurkajuit instap. “Hi, bloeiseltjie! Jy lyk goed genoeg om ’n kiekie van te vat!”

Arabel lag. Phil is altyd goeie medisyne vir ’n vrou se moreel. Sy is vriende met sy dogter, wat pas klaar is met haar opleiding as lugwaardin. “Hoe gaan dit met Tracy?” vra sy. “Het sy al haar eerste vlug gedoen?”

“Sprinkaan-hop. Durbs – Oos-Londen – PE – Kaap, en dit baie geniet.”

Hul bevelvoerder sit met oorfone aan, blykbaar in gesprek met die beheertoring, en Arabel wil nie steur nie. Sy gesels nog ’n rukkie met Phil terwyl sy wag, en glimlag toe Jaco oor sy skouer vir haar knipoog.

“Wat doen jy môreoggend vir ontbyt?” vra hy.

“Ek eet.”

“Kan ek saam met jou eet?”

“Solank dit nie haaivinne is nie.”

“Knoffelslakke?”

Sy sidder. “Solank jy agterna jou tande borsel en wind-op van my af bly.”

Jaco wik en weeg. “Nee wat, dan eet ek liewer droë brood. Want jy is dit werd.”

Phil lag, maar hul kaptein stoot skielik sy oorfone weg. “Meneer De Wet,” sê hy kil, “wat was daardie koersaanpassing wat die beheertoring pas gegee het?”

Jaco skrik en gryp na sy kopstuk wat hy afgehaal het. “Is dit 31° noord-noordoos? Of 41° … Ek weet nie, ek het nie mooi geluister nie …”

Henning draai skuins om sy eerste-offisier op en af te kyk. “Sny asseblief die geflankeer met die lugwaardin uit en bepaal jou aandag by jou werk.”

Jaco se adamsappel beweeg op en af soos hy sluk. “Ja, kaptein. Jammer, kaptein.”

Drie sakke vol, kaptein, dink Arabel, maar waag dit nie hardop nie. Henning is onredelik. As hy vir háár kwaad is, is dit verkeerd om sy frustrasie op arme Jaco uit te haal. Jaco was net vriendelik, soos Phil. Hoekom het Phil nie ook raas gekry nie?

“Dit was my skuld,” tree sy vir Jaco in die bres. “Ek het gepraat toe ek nie moes nie.”

“Ja, jy het,” stem hul bevelvoerder saam. “Soos gewoonlik. Ek het begin dink ek sal weer die klokkie moet lui voor jy jou sal verwerdig om op te daag.”

Verwys hy na die Mauritius-sektor? Hy weet goed dis omdat sy hom wou vermy, soos nou ook, toe sy ’n konfrontasie wou uitstel. Anders as hý, wat klaarblyklik op die skoorsoek uit is.

“Die weer is onstabiel, begin asseblief onmiddellik na opstyging met aandete, juffrou Coetzee,” beveel hy kortaf.

“Ja, kaptein.”

“Vlugbesonderhede 8 uur 50 minute, 920 kilometer per uur, 10 700 meter,” rammel hy dit af.

Arabel vra nie ’n herhaling nie, sy bid net sy onthou reg.

“Ek weet dis julle beleid om tydens aankondigings getalle af te rond ter wille van vlotheid. Maar dis nie my styl nie, ek verkies akkuraatheid, en sal dit waardeer as jy daarby hou.”

Hy is die baas en hy kan seker doen wat hy wil … Arabel knik. “Ek neem kennis, kaptein.”

Sy oë flits, maar hy sê niks. Net voor hy die oorfone terugskuif, kyk hy oplaas om na Arabel. “Hou die mikrofoon nader aan jou mond en probeer om minder geaffekteerd te praat.”

Arabel kan dit nie glo nie. Hoekom dít nou weer oprakel? Hy weet tog sekerlik sy wou haar stem kamoefleer. Of maak hy ’n grap? Een kyk na sy gesig laat haar besluit hy is wraggies ernstig. Waaroor is hy so op die oorlogspad? As dit oor die kamtige inperkingsbevel gaan, is hy kleinlik. Of steek daar meer agter? Opgekropte griewe as gevolg van die egskeiding?

Henning het ’n klompie kredietpunte in haar swart boekie. Dis die perfeksionis in hom wat hoë standaarde vereis waar hy in beheer is, besluit sy. Sy hou by haar goeie voornemens en baklei nie terug nie.

“Reg, ek sal onthou,” belowe sy.

In sy groenblou oë is ’n mengsel van iets amper soos ’n verskoning en … iets anders wat sy nie kan plaas nie. Arabel vertoef egter nie om uit te vind wat dit is nie. “Mag ek gaan?” vra sy.

Die vlugtige toegeeflikheid verdwyn. “Jy het nie my toestemming nodig nie.”

Dis nie hoe sy dit bedoel het nie. Sy kan verstaan as hy weer gedink het sy is sarkasties. Maar hoe moes sy weet hy wou nie iets byvoeg oor die weer nie? Dis dieselfde met die kaptein-sêery, wat hom heel duidelik irriteer, maar hoe sal dit klink as sy Henning op sy voornaam noem terwyl hulle aan diens is? Niemand weet van hul vorige verbintenis nie, net Tess, en sy het belowe om niks te sê nie.

Hy het haar tog “juffrou Coetzee” genoem en sy het nie ’n oog geknip nie, maar hy vlieg háár in. Die wêreld sou ’n makliker plek gewees het sonder mans, besluit Arabel. Behalwe as jy ’n pap wiel moet omruil. Of ’n klavier wil skuif.

Sy gee pad uit die stuurkajuit. Onder in die gang tel sy tot by vyf voor sy die mikrofoon optel. “Goeienaand, dames en here. Namens kaptein Reynecke en sy bemanning: welkom aan boord Jakaranda-lugdiens, vlug JA 636 na Hongkong. Ons vliegtyd tot op Kai Tak-lughawe sal 8 uur 50 minute duur, teen ’n togsnelheid van 920 kilometer per uur en ’n hoogte van 10 700 m. Skakel asseblief alle elektroniese toerusting af, maak u sitplekgordel vas en onthou dat rook verbode is. Ons wens u ’n aangename vlug toe. Dankie.”

Die oomblik toe die gordelligte uitdoof, spring Dion, Vince en Arabel aan die werk. Een pak die trollie, een bedien, een versamel vuil skottelgoed. Eersteklas is meesal manspassasiers, middeljarig in eenderse pakke klere, en Arabel het geleer om na hul dasse op te let sodat sy kan onthou wie drink wat en hul glase korrek opvul. Vanaand is dit: die pienkerige das rooiwyn, breë sportiewe strepe bier, blommetjiesdas Chardonnay, bleek das vodka en daslose polonek whiskey. Dit werk, behalwe die diva en die Amerikaner wat saam met elke gereg ’n nuwe Suid-Afrikaanse wyn wil proe.

Halfpad deur die koffiebediening kom die storm. Soos Arabel verwag het, laat Henning onmiddellik die gordelligte waarskuwend flikker. Dion sleep die trollie kombuis toe en hulle pak blitsvinnig af, trek die oonde se veiligheidsknippe vas en pak swaar goed op die vloer. Henning se stem kom oor die lug, so onverwags dat Arabel ruk soos sy skrik. Dit klink of hy reg agter haar staan.

“Dames en here, goeienaand. Kaptein Henning Reynecke wat praat. My verskoning vir die sinkplaatpad waaroor ons ry. Ons het ’n klompie slaggate getref, wat normaal is dié tyd van die jaar en niks is om u oor te bekommer nie. Vir u eie veiligheid versoek ek egter dat u almal u sitplekgordels sal vasmaak en swaar handbagasie van die oorhoofse rakke verwyder. Dankie.”

Buite lyk dit soos ’n vuurwerkvertoning, met weerlig wat onophoudelik deur die cumuluswolke flits. Die straler se ligte knipper ’n paar keer toe die weerlig die afleiers tref. Deur die venster lyk dit asof die vlerke só hewig vibreer dat hulle enige oomblik kan losskeur en in die dieptes ondertoe tuimel.

Arabel is gewoond aan tropiese storms, maar dié een lyk asof dit aan ’n sikloon of ’n tornado gekoppel is. Die onlangse tsunami lê vlak in haar geheue … Berna vra altyd of sy nie bang is nie, veral in die nag as dit stil is en almal slaap en daar net donker see doer ver onder hulle is … Sy haal maar telkens haar skouers op en antwoord ligweg dat as ’n ou se tyd daar is, is jou tyd daar. Niks wat jy daaraan kan doen nie. Een van die seuns het op ’n keer so na sy ma en sy tannie geluister en met groot oë gevra: “Okay, maar wat as die dude langs jou se tyd daar is en nog nie joune nie?”

Daardie dag het sy en Berna daaroor gelag, maar op hierdie oomblik is dit nie meer vir Arabel snaaks nie. Die 747 tref ’n lugleegte en sy hoor hoe ’n blik deodorant in die toilet van die rak afval en heen en weer oor die vloer rol, kletterend tussen die deur en die kajuitwand. Sy kom agter haar keel is toegetrek en haar hande klam. Asseblief, Henning, vra sy woordeloos, hou kop. Ek is jammer as ek jou ontstel het. Vergeet van wat ook al jou kwel en hou jou positiewe bymekaar. Jy hou oor die driehonderd mense se lewens in daardie twee mooi hande van jou …

Tant Lily druk haar klokkie, roep en kyk beangs om. Arabel beduie sy kom. Sy hou aan die rugleunings weerskante van die paadjie vas en slinger die gang op. Maar toe sy by tant Lily se sitplek kom, sak die vloer skielik onder haar voete weg. Sy skerm in ’n refleksbeweging vir haar gesig, maar dis te laat. Haar voorkop tref die rand van die bagasierak. Daar is ’n dowwe slag wat haar sterretjies laat sien en sy voel warm nattigheid teen haar slaap afloop.

“Kindlief!” skree tant Lily.

Arabel hou haar hand teen haar voorkop. Met haar ander hand soek sy na die armleuning, val in die oop sitplek langsaan neer en pluk die gordel om haar vas. Sy trek haar asem bietjie vir bietjie in en byt op haar onderlip.

Die artritishande met die pers naellak en knoetsringe soek papierhanddoeke en snesies. “Dis my skuld. Ek was bang … Maar ek moes nie geroep het nie. Jy kon dood verongeluk het!”

“Dit lyk erger as wat dit is …” Arabel druk die handdoeke teen haar bloeiende voorkop en kyk om haar rond. Die ander passasiers lyk kalm, een sit selfs en koerant lees, en Bleekdas teug rustig aan sy vierde vodka. “Toemaar,” paai sy. “Die ergste is verby. Ons sal nie val nie.”

Tant Lily bly angstig. “Hoe weet jy?”

Arabel kry dit reg om gerusstellend te glimlag. “Want die beste vlieënier op aarde hou daardie stuurstang vas.”

Tant Lily loer wantrouig deur die venster, asof sy verwag om ’n engel of die duiwel op die vlerk te sien sit. “Wie’s dit?”

“Ons kaptein.”

“Daai fraai enetjie met die baie strepe op sy moue, wat soos George Clooney lyk? Pure bogkind. Bietjie lig in die broek. Het hy darem ’n ordentlike vlieglisensie?”

“Moenie worry nie, tante, watch net …” belowe Arabel. “Hy kon nog altyd ’n haas uit ’n hoed toor as dit nodig is. Ek ken hom al jare. En hy’s g’n ’n bogkind nie, hy’s drie-en-dertig. Hy gaan ons uit hierdie storm uit vlieg en môreoggend die 747 so sag soos ’n veertjie op Kai Tak se aanloopbaan neersit.”

“O ja?”

“O ja!” herhaal Arabel met vertroue. “Hy kan nie ’n eier bak om sy lewe te red nie en kan nie sy skoenrieme in netjiese strikkies knoop nie, maar hy kan ’n volgelaaide makrostraler van 500 000 kilogram op ’n tiekie neersit.”

Die diva in die ry voor hulle kyk om. “Goed om dít te hoor,” glimlag sy.

Arabel bloos. As sy op haar senuwees is, praat sy altyd te veel, en sy het seker Henning se deugde té entoesiasties besing. Maar op hierdie oomblik, êrens tussen die duiwel en die diepblou see, weet sy onwrikbaar dit wat sy lankal vermoed, probeer ontken en tevergeefs van weggeskram het: Henning Reynecke het van haar geskei, anderkant die aardbol gaan woon, haar vergeet en hy’t waarskynlik ’n ander vrou, maar sy het hom nog net so lief soos daardie eerste dag toe hy haar uit die see gevis het en gesê het sy is stiksiende.

Hy was reg: sy was blind om ’n diamant vir ’n klip aan te sien … Arabel vee oor haar gesig in ’n smeersel van bloed en trane. Spyt kom te laat, en dit help nie om nou te huil nie. Sy het hom weggegooi toe sy hom in haar arms moes vasgehou het. Sy het hom nie waardeer nie, nooit gesê hoe verskriklik lief sy hom het en hoe wonderlik hy is nie.

Die trane loop onkeerbaar. Tant Lily gee snesies aan en probeer haar paai. “Pyn die sny aan jou kop, poplap? Toemaar … Die blitse is oor. Kyk!” ’n Krom vinger beduie deur die venster. “Dis nie meer Guy Fawkes daar buite nie. Jy was reg: jou fraai kapteintjie het ons uit die storm uit gevlieg.”

In plaas van troos, laat dit Arabel harder huil. Sy skaam haar voor die ander passasiers. Sy wat veronderstel is om die lugwaardin te wees – kalm en professioneel … Laat hulle maar dink dis die stamp teen haar kop. Sy kruip weg as iemand moet weet waaroor dié tranedal eintlik is.

“Sien jy, die liggies is dood?” wys tant Lily.

Arabel kyk op. Tant Lily is reg: die gordelligte is afgeskakel.

Dion kom in die paadjie verby met ’n vullissak. “Daar het soveel bottels gebreek, die toilette ruik soos ’n apteek en die sitkamer soos ’n drankwinkel.” Terug na normaal … Arabel staan op en soen haar buurvrou se wang.

“Vir wat?” vra tant Lily.

“Omdat tante my oë laat oopgaan het,” antwoord sy met ’n waterige glimlag.

In die kleedkamer tel sy die blik deodorant op en bekyk haarself in die spieël. Dit lyk asof sy in ’n oorlog was. Sy was haar gesig en plak ’n pleister op die sny. Dan trek sy ’n skoon bloes aan en gaan druk ’n skyf in die DVD-speler.

’n Bleekgeskrikte Tess loer in. “Hengse storm! Hierdie roete gee my die horries.”

“Nie al die storms is so erg soos dié een nie.” Arabel gooi gebreekte glase in die vullishouer en maak vir hulle koffie.

Tess maak haar tuis op die wasbak. “Ek sien julle het vir Liza Whittaker in die eersteklas. Gooi sy kort-kort ’n vloermoer, soos ’n prima donna?”

“Nee wat, stil en stemmig. Kla oor niks, solank haar wynglas vol bly.”

“Gee vir haar die mikrofoon en vra sy moet ‘Nessun Dorma’ vir ons sing. Ek is seker sy sal nie omgee nie.”

“Nee, maar jou kaptein sal. Hy sal elke veiligheidsreël in die blou boek teen jou kop gooi.”

“Jy maak of hy ’n monster is.” Tess teug dankbaar aan die koffie. “Hoe lank gelede was julle verhouding?”

Arabel verstyf. “Eeue gelede,” skerm sy.

“Iets soos ses jaar?”

Dit help nie om dit te ontken nie. Arabel kyk anderpad en knik.

“Is hy die bus? Die wiel wat afgeval het?”

“Ek moes jou nooit daardie simpel storie vertel het nie.”

“Het jy toe sy foto teen ’n boom vasgespyker en vol gate gegooi?”

“Ja,” jok Arabel.

“Het dit jou beter laat voel?”

“Strate beter. Hy is uit my gestel en ek is permanent genees van hom.”

“Dis goed die sweer is oopgemaak, nou sal dit gesond word.”

“Ja.” Arabel dwing ’n vrolike klank in haar stem. “Dis nogal ’n verligting. Ek het te lank aan die verlede vasgeklou.”

“Snaaks hoe ’n sameloop van omstandighede as ’n katalisator dien om ’n ou uit ’n groef te kry. As jy Henning nie weer raakgeloop het nie, het jy nou nog morbied agter jou muur weggekruip.”

“Was ek só erg?”

“Jy was soos Rip van Winkel – vas aan die slaap terwyl die lewe by jou verbygaan. Ek is bly jy het wakker geword en besef daar ís lewe ná die busterminus.”

Watse lewe? dink Arabel. Sy het wakker geword en agtergekom haar lewe is leeg, want die een mens wat vir haar bo alles saak maak, is nie meer hare nie. Wat doen sy nou? Klim terug oor die muur en slaap nóg honderd jaar?

Tess skep vir hulle kos in. “As jy seker is Henning Reynecke is uit jou gestel, sal ek hom graag erf. Dis meer as net voorkoms. Hy is ook binne-in ’n warm ou, iemand wat nie homself eerste stel nie – wat gee eerder as om te neem. Ek weet jy dink ek is ligsinnig. Maar ek sien kwaliteite in hom wat jy dalk misgekyk het.”

Die sampioenhoender proe na saagsels en Arabel sit haar bord neer. “Jy kan sommer nou al begin oefen … Wil jy vir jou geliefde en sy kollegas aandete neem?”

Tess laat haar nie twee maal nooi nie. “Graag!”

Brad Pitt se aantrekkingskrag het nie lank gehou nie. Nog voor Achilles die stad Troje binneval, is tant Lily in droomland. Arabel gooi ’n kombers oor haar en Liza Whittaker, wat snoesig teen die Amerikaner se skouer slaap, en skink vir Bleekdas nog ’n vodka. Sy laaste, hopelik, anders gaan hy môre die moeder van alle kopsere hê.

Sy doof die dakligte uit, maak vir haar nog koffie en gaan sit in die bemanningskompartement. Die waardinne roteer en dis haar rusperiode van eenuur tot drie-uur, maar Arabel weet sy sal nie slaap nie. Daar is te veel om oor te dink, te veel herinneringe en prentjies uit die verlede.

Henning in sy troupak en valletjieshemp, toe sy wou breek van trots om te besef hy is van nou af haar mán. In sy grysblou lugmaguniform in die kajuit van ’n Impala. Die aand by die strandmeer toe hulle galjoen gebraai het en die Suidoos opgekom het en hulle knus teen mekaar in ’n slaapsak langs die melkhoutvuur opgekrul het. Soos hy die laaste keer gelyk het in die MG se truspieëltjie. En in sy nat T-hemp onder die visserskuit by Curepipe …

Haar hart krimp inmekaar en ’n strofe uit ’n gedig van Elisabeth Eybers wat hulle in matriek behandel het, maal deur haar gedagtes:

Hoe kan ek hierdie hete hart betig,

Dat hy jou voortaan minder lief moet hê …

Satyn Omnibus 6

Подняться наверх