Читать книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman - Страница 12

9

Оглавление

Henning klop net toe Arabel die soveelste keer die telefoon neersit. Sy staan radeloos. As dit nie die elfde verdieping was nie, het sy by die venster uitgeklim. Sy wil nie oopmaak nie en sy is skielik nie seker of sy netnou wel die deur gesluit het nadat hy uit is nie. Hy is heeltemal in staat en loop sommer weer in.

“Ek is nog nie klaar nie!” roep sy. “Gaan solank, ek kom nou-nou …”

“Maak gou!” antwoord hy.

Sy kan nie deur die sleutelgat sien nie, maar met haar oor teen die deur gedruk, verbeel sy haar sy hoor voetstappe in die gang af verdwyn. Sy bly met ingehoue asem staan, maar dis doodstil buitekant. Hy is weg. Arabel is verlig toe sy haar sak en sleutels neem. Sy het haar selfoon en sal langs die pad weer probeer. Dis seker tant Lily se ander kinders wat bel om te hoor of sy veilig gearriveer het.

Sy maak die deur behoedsaam oop …

Henning sit op die vloer, in jeans en ’n swart oorhanghemp, met sy knieë opgetrek en sy rug teen die muur. Hy staan op terwyl hy waarderend na haar kyk.

“Jy het destyds ook ’n wit sonrok gehad. Dit pas jou.” Hy begin langs haar aanstap. By die hysbak kyk hy vraend na die sak. “Waarheen is jy op pad?”

“Strand toe,” improviseer sy. “Dis my swemklere en handdoek. Ek gaan altyd swem as ons in Hongkong is.” Sy is opnuut vies vir Henning. Sy haat leuens, maar hy dwing haar, want anders ontaard dit weer in ’n argument wat sy nie kan wen nie.

Hy lyk skepties. “Strand? Watter strand?”

Dom keuse. Hy sal die strande ken. “Kowloonstrand.”

Hy druk die knoppie vir die grondvlak. “Daar’s nie so ’n strand nie. Al waar mens kan swem, is Repulse en Causeway Bay, maar dis ver uit. Hoe gaan jy daar kom?”

“Met ’n taxi.”

“’n Taxi?” Hy bekyk haar op en af. “Al die pad dwarsoor die skiereiland? Jy, wat nie eens kán swem nie …?”

“Nou onthou ek hoekom ek jou gelos het!” roep Arabel uit. “Omdat jy jou altyd slim hou en maak of ek ’n moroon is. Hou op om jou neus in my sake te steek. Ek is nie meer ’n kind nie. Ek is ’n volwasse vrou wat kan doen wat ek wil. En ek wil nie saam met jou gaan eet nie!”

“Jy kan langs Jaco sit as jy wil,” bied hy hulpvaardig aan. “Sal dit help as ek ’n donkerbril opsit of ’n papiersak oor my kop trek?”

“Ek kan nie glo dat ek elf maande saam met jou uitgehou het nie. Kan nie dink hoekom ek ooit so simpel was om met jou te trou nie!”

Toe die woorde uit is, besef Arabel dit was lelik van haar. Hy het geterg en sy moes bloot gelag het. Wat is dit met haar en Henning dat hulle altyd die slegste in mekaar na vore bring? ’n Vriendin het eendag gesê dis eienaardig: apart is sy en Henning twee liewe, dierbare mense. Maar sit hulle bymekaar en jy het ’n chemiese reaksie wat ’n plek soek om te ontplof.

Dis nie net sy nie, dis Henning ook. Sy het al vergeet hoe kort van draad hy kan wees …

“Wedersyds!” roep hy uit. “Niemand kan sê ek het nie probeer nie … Ek was die minste; ek was geduldig, toegeeflik, verdraagsaam. Bereid om ou koeie in die sloot te los. Maar die vet weet, Arabel, jy het die gawe om ’n man se bloeddruk op te jaag. Hy wil kortkort sy hande om jou nek sit, maar driekwart van die tyd is dit om jou te verwurg.”

Hy kry haar aan die arm beet, in ’n greep wat blou kolle gaan laat, en stuur haar die restaurant binne na waar Jaco en Tess by ’n tafel sit en eet.

“Moenie my blameer nie,” sê hy bot en pluk vir Arabel ’n stoel langs Jaco uit. “Dis sý wat nie ’n horlosie het nie.”

Tess kyk met groot oë na Arabel en Jaco sê veiligheidshalwe niks, gee net die spyskaart aan en bestudeer taktvol die uitsig oorkant die straat.

Henning maak die spyskaart oop, kyk vlugtig teen die lys af en bestel dan spek en gebakte eiers vir twee, een se eiers sag, die ander s’n hard.

“Wie sê dis wat ek wou gehad het?”

Arabel byt op haar onderlip. Netnou verwyte en leuens … Nou weer ’n ondankbare klakous. Wanneer sal sy leer om haar mond te hou? Sy moes haar nie netnou opgeruk het nie. Henning se teregwysing was geregverdig, want sy moes vasgegord gewees het. En dit wás nalatig om nie haar kamerdeur te sluit nie. Sy moes dit waardeer het dat hy oor haar veiligheid besorg is. Hoekom het sy nie saam gelag oor die lekkende badprop en dankie gesê dat hy ’n jintelman was wat anderpad gekyk het sonder om ’n opmerking te maak nie?

Sy het hom kamma lief … Maar sy vlieg hom in om elke draai, selfs erger as toe hulle getroud was. Sy probeer verander, maar sy kan nie. Dis die uitwerking wat hy op haar het. Dis dié dat sy moet wegkom.

Henning sit die spyskaart voor haar neer en druk met sy vinger op elke gereg teen die lys af. “Dié klomp is almal peri-peri, dáárdie is soesji, die omelette is droog, skulpvis maak jou siek en die res is vol knoffel. Wil jy jou bestelling verander?”

Asof sý die een vol fiemies is … Arabel skud haar kop.

Tess wonder wat Arabel gedoen het om hul kaptein so om te krap. Hy is so ’n fantastiese ou, sy sal wát gee om hom te kry. Maar dit lyk of daar nog iets tussen hom en Arabel is, en as dit die geval is, moet sy daar uitbly.

“Mooi dag, nè?” merk sy neutraal op.

Die twee mans het ’n oordosis van die weer gehad en dis Arabel wat antwoord: “Lieflike sonskyn, lekker swemweer.”

“Nee, dit bêre ek vir Mauritius. Ek gaan die winkels invaar, vir my ’n cheongsam-rok laat maak en Chinese Willow Pattern-borde koop. Hulle sal mooi lyk op my buffet.”

Jaco kyk na Arabel. “Ek wil gaan kyk na daardie steeg met die voëltjies waarvan jy vertel het.”

“Bird Street?” vra Henning. “Dis ’n belewenis; laat ’n ou goed voel om daardie bamboes-tronkdeurtjies oop te maak en die arme goed te laat uitkom.”

Jaco is sinies. “Daar is seker duisende voëls en jy kan nie almal loskoop nie. Watse verskil maak dit as jy tien of twintig red?”

“Ja, ek weet,” antwoord Henning. “Maar dan het ek darem aan daardie tien of twintig ’n verskil gemaak.”

“Die mense wat hulle vang, moet ook leef,” sê Tess. “Dis hul enigste inkomste – die geld wat toeriste betaal om die hokkies oop te maak.”

Henning haal sy skouers op. “Dis die ander kant van die dollar, ja.”

Hy neem die borde by die kelner en gee Arabel s’n vir haar aan. In die ou dae sou hy met sy vurk getoets het of die eiers sag genoeg is na haar sin. Maar hy is aangesê om sy neus uit haar sake te hou, en dit geld seker vir sy vurk ook.

Hy kyk hoe Arabel tamatiesous oorgooi, dan sout en asyn. ’n Gewoonte waaroor hý altyd raas gekry het. Toe sy sien hy hou haar dop, lyk sy skuldig en sit dadelik die bottel neer.

Hy sluk sy lag en vra sedig: “Wat wil jy drink? Daar is koffie en tee, melkskommels, vrugtesap, gaskoeldranke, gebottelde water … Wil jy die spyskaart sien en self kies?”

“Dis nie nodig nie, dankie, koffie sal reg wees.”

Jaco vertel hulle van Kam Tin, die ommuurde stad, en van Shatin se Middeleeuse kloosters wat ’n besoek werd is. Dalk kan hulle môre of so daarheen gaan. Hy wag dat Arabel klaar eet en toe sy haar koffiekoppie neersit, vra hy: “Lus om saam met my te gaan voëls vrykoop?”

“Sy kan nie, sy gaan swem,” antwoord Henning. Jaco lyk of hy wil saamgaan, maar sy kaptein keer.

“Daar’s nie haainette nie en die water is vol bloublasies.” Hy wys na Martie en Dion wat aangestap kom. “Daar’s twee goeie kandidate vir tronkvoëls.”

Phil Davies kom ook by en hulle almal vertrek in ’n groep middestad toe.

Henning skuif oor na Jaco se leë stoel langs Arabel. Hy hou sy hande verontskuldigend op, palms na haar gekeer asof hy ’n storm wil afweer. “Ek weet, ek weet … En ek stem saam: ek het weer oorgevat en jou lewe probeer reël – dit wat jou in die verlede rasend gemaak het. Hier’s nie ’n blompot nie, maar gooi my gerus met die soutpot as dit jou beter sal laat voel. Ek belowe ek sal nie koes nie, want ek het dit verdien.”

“Ja, jy het,” stem sy saam. “Haaie en bloublasies … Jy behoort jou te skaam!”

“Jy is reg. Ek het niks teen Jaco de Wet nie, hy is heel ordentlik en as jy later eendag so voel, kan jy saam met hom uitgaan, ek sal nie inmeng nie. Maar vir eers wil ek nie hê jou kop moet vol muisneste wees nie, sodat jy met ’n oop gemoed kan luister na wat ek sê.” Hy huiwer, dan kyk hy haar reguit aan. “Ons kan nie langer uitstel nie, en ek het gedink nou is ’n goeie kans. Jy weet self dis tyd dat ons praat, Bellie – jy en ek.”

’n Harde knop vorm onder haar ribbes. “Waaroor?”

“Nie oor die verlede nie, daaroor kan ons eendag rustig op ons tyd gesels wanneer ons albei kalmer is. Dis ook nodig, want ons het in daardie dae sleg gekommunikeer. Daar is ’n grys gebied en heelwat misverstande wat opgeklaar moet word. Maar dis vir later … Nou wil ek eers oor die toekoms praat: hoekom ek teruggekom het en vir Jakaranda-lugdiens kom vlieg het.”

Sy moes besef het die sameloop van omstandighede was té toevallig. Uit al die honderde Australiese vlieëniers juis hý wat oorgekom het … En Jakaranda toe, eerder as die veel groter, moderner SAL.

Arabel klem haar hande inmekaar. Eintlik het sy diep binne-in haar geweet hierdie oomblik en hierdie gesprek gaan kom. Dis waarom sy vir Berna gesê het sy sal dalk by Jakaranda moet bedank; dis waarom sy weggevlug en Henning vermy het. Sy het ’n voorgevoel gehad, vanaf daardie oomblik toe Tess vertel het een van die nuwe vlieëniers is ’n Suid-Afrikaner, toe daar op die bemanningslys gestaan het H.J.J. Reynecke (kapt.), en toe sy in die kafeteria sy stem agter haar gehoor het … Sy was voorbereid daarop, maar noudat die oomblik aangebreek het, is sy bang en kan sy net stom na hom staar.

“Ek weet dis ’n skok,” gee Henning toe. “Dalk moes ek jou vooraf van my planne laat weet het, vir jou geskryf het. Maar ek was bang ek kry ’n brander terug wat sê: ‘Bly waar jy is!’”

Anderkant die aardbol, waar jy uitgespoel het … Sou dit haar antwoord gewees het? Sy weet nie. Sy het so seergekry, sy is bang om weer lief te kry.

“Waar het jy my adres gekry?”

“Dave se adres was boaan ’n brief wat hy tydens die egskeiding vir my geskryf het. Ek het geweet jy woon by hulle en dat hy sou sorg dat ’n brief by jou uitkom.”

“Dave en Berna was aan jou kant tydens die egskeiding. Hulle het my geblameer vir alles wat gebeur het.”

Henning sê nie ja of nee nie; kyk net oor die straat na die stroom motors, bromponies en die driewieltaxi’s met die gestreepte seildakkies. Tuk-tuks, word hulle genoem, na aanleiding van die stotterklank van die enjin, amper soos ’n grassnyer met ’n vuil vonkprop.

Arabel kyk na Henning se profiel, wat skielik vir haar soos dié van ’n vreemdeling lyk. Hy is reg: hulle het destyds swak gekommunikeer en mekaar nie goed genoeg geken nie. Maar ken sy hom nóú? Die strand by Curepipe voel ’n leeftyd gelede, asof dit twee ander mense daar onder die skuit was. Hierdie is ook nie dieselfde Henning wat netnou in haar kamer ’n amper sensuele boodskap na haar uitgestuur het nie. Sy wens sy kan aan hom raak, sommer net sy hand vashou, maar sy het nie die vrymoedigheid nie. Hy is skielik anders: eenkant en geslote.

“Dit was vir my ’n moeilike keuse,” erken Henning. “’n Ingrypende besluit gewees om te bedank en terug te kom Suid-Afrika toe. ’n Besluit waaroor ek lank besin het en wat makliker sou gewees het as dit net ek was. Maar daar is ander mense ook by betrokke, mense vir wie ek verantwoordelik is en van wie ek jou moet vertel.” Hy betaal die rekening en staan op. “Kom ons stap, terwyl ons praat. Ek het gevind ’n ou dink beter op jou voete.”

Dit sou makliker gewees het as hy haar aan die arm geneem het, soos dit sy gewoonte was. Maar hy doen dit nie. Hy hou ’n afstand tussen hulle – fisiek sowel as figuurlik. “Waarheen sal ons gaan?”

Ander mense vir wie hy verantwoordelik is – bedoel hy ’n vrou en kinders? Die knop onder haar ribbes word ’n vuis wat om haar hart knel. “Net waar jy wil, dit maak nie saak nie. Iewers stil …” Haar stem is hees, asof sy verkoue het.

Henning neem die pers kajuitsak by haar. “Ek glo nie jy was op pad strand toe nie. Maar wat ook al hierin is, jy wil dit seker nie heelpad saampiekel nie. Sal ek die sak by ontvangs ingee, dan kan jy dit kry as ons terugkom?”

Nee, dink Arabel paniekbevange, hy kan nie. As dinge netnou dalk vir haar te veel word, wil sy wegvlug na die gastehuis toe …

“Of het jy iets daaruit nodig?” vra hy. “Ek sal die sak vir jou dra, ek gee nie om nie.”

Sy is verspot … neuroties. Natuurlik moet dinge tot ’n punt kom tussen haar en Henning. Hulle het baie bagasie en onafgehandelde sake. Daar is nog amper ’n week oor wat hulle saamgegooi is en noodwendig sal moet saamwerk. En ná hierdie vlug nog drie maande wat hulle gedurig in mekaar se geselskap sal wees, voor die vlugrooster roteer. Hoe gouer hulle die lug suiwer en tot ’n vergelyk kom, hoe beter vir hulle albei.

“Toemaar, ek sal dit gaan ingee,” antwoord Arabel.

Toe sy terugkom, wag hy by die hotel se ingang, hande in die broeksakke, terwyl hy ’n toonlose deuntjie fluit. “Ek het gedink ons stap hawe se kant toe, dis stiller daar.”

Satyn Omnibus 6

Подняться наверх