Читать книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman - Страница 11

8

Оглавление

In Hongkong, in die bemanningsbus op pad na die Edward Hotel, gaan sit Arabel heel agter by Vince, wat stil en skaam is en nie vrae vra nie. Iemand stuur ’n pet om vir bydraes en toe Henning inklim, staan sy bemanning op en klap spontaan vir hom hande. Hy is beskeie en beduie na sy eerste-offisier en ingenieur, dat hulle ’n ewe groot aandeel in die veilige landing op Kai Tak gehad het.

Jaco skud sy kop. “Al wat ék gedoen het, was om my oë toe te knyp. En Phil het darem help bid.” Hy strek om die magnumbottel sjampanje by die senior kelner te neem en aan hul bevelvoerder te oorhandig. “Om dankie te sê, kaptein, ook vir die navigasie deur die megastorm, en om u welkom te heet by Jakaranda-lugdiens.”

“Baie dankie.”

Arabel, wat hom goed ken, kan sien Henning is geraak. Nie heeltemal so hardgebak soos sy geglo het nie … Dalk ook soms êrens in die donker alleen op ’n trap gesit? wonder sy. Of is dit wensdenkery?

“En asseblief, ons is nou van diens af,” vervolg hy. “Ek hoor by Jakaranda is almal soos familie. Dis nie nodig om so formeel te wees nie. My naam is Henning, en ek sal bly wees as julle my so sal noem.”

“Welkom by ons!” Tess sit haar arms om sy nek en soen hom onder ’n gelag en gefluit vol op die mond. Martie volg haar voorbeeld, so ook Madeleen en al ses die ander waardinne, bietjie meer beskeie as die uitbundige Tess.

Vince pomp Arabel met sy elmboog. “Gaan. Jy moet …”

Almal kyk na haar en Arabel kan nie weier sonder om ’n bloukous te wees nie. Toe hulle by ’n rooi verkeerslig stilhou, stap sy in die paadjie af tot voor Henning. Sy strek haar op haar tone en soen hom skrams op die wang. “Jy het mooi gevlieg, soos altyd.”

Hy kyk na haar met ’n geamuseerde uitdrukking om sy mond. “Ek is seker jy kan beter doen as dít, Arabel.”

Voor sy besef wat hy beplan, gaan sy hande om haar skouers. Hy trek haar ferm nader en soen haar behoorlik, onder luide aanmoediging van die bemanning. “Inderdaad,” knik hy goedkeurend toe hy sy kop oplig, “mooier én vreugdevoller as dié van die opposisie!”

Arabel kyk onthuts op in sy gesig, haar goudbruin oë stormagtig. Henning waag baie. Hulle is nie nou op die vliegtuig waar sy heeltyd “ja, baas, nee, baas” moet sê nie. Baie dapper met sy bewonderende bemanning om hom … Hoe kon hy so seker gewees het sy voorbarigheid sal hom nie ’n oorveeg besorg nie?

Arabel sien hy wys na die pleister op haar voorkop, maar die enjin raas en die mense lawaai. Hy haal sy skouers op, tel die lywige magnumbottel op en begin die prop losmaak. Dion het papierglase uit die toeristeklas-kombuis saamgebring. Onder gelag kry hulle die sjampanje oop en skink drie-en-twintig glasies, plus een vir die busbestuurder. Tess help aangee en Jaco stel die heildronk in.

’n Bus van Cathay Pacific kom verby en hul donkerpers bus word nuuskierig aangestaar. Toe die jolige Suid-Afrikaners die sjampanjebottel wys en hul glasies lig, wuif die ander terug. Een maak die venster oop en skree: “Happy-happy!”

“Ching-ching!” eggo hulle.

Die Edward Hotel is ’n toonbeeld van Victoriaanse grasie en ouwêreldse elegansie. In die ontvangsportaal hang Constable-afdrukke teen Regency-muurpapier – ’n herinnering aan die Britse koloniale era. Een hele muur bestaan uit glas, wat ’n panoramiese uitsig bied oor Kowloon en die kleurvolle hawe wat selfs sesuur in die oggend wemel van sampans, platboomskuite wat enigiets vervoer van boumateriaal tot babadoeke en wallah-wallah-taxi’s, met moderne oorlogskepe wat bokant die krioelende miernes uittroon.

Tess se mond hang oop. “Wow!” is al wat sy kan uitkry.

Jaco staan met ’n brosjure wat hy by ontvangs gekry het en klink soos ’n wandelende ensiklopedie terwyl hy vir hulle die nege heuwels uitwys waarna die skiereiland vernoem is.

“Kowloon beteken ‘nege drake’ en Hongkong ‘geurige hawe’. Vanaand gaan ons eet op een van die drywende restaurante in Aberdeen – waar die fliek Suzie Wong verfilm is. Op die spyskaart is Peking Duck, en ’n medisinale drankie gemaak van ’n slang se galblaas.”

“Ugh!” gril Tess. “Herinner my om jou nooit te soen nie!”

“Asof jy ooit sal,” spot hy terug. “Lyk my ek moet eers vir die opposisie gaan werk en dan terugkom as ek op een slag deur tien mooi meisies gesoen wil word.”

Dit was vir sy kaptein bedoel, wat luiweg glimlag. Arabel neem haar kamersleutel en klim in die hysbak. Jaco is so besig, hy het blykbaar hul ontbytafspraak vergeet. Ook maar goed, want haar voorkop brand asof dit infeksie het. Sy sal die sny netnou bekyk.

Tess roep buite in die gang, maar dit klink of sy met Alice de Villiers praat, een van die nuwe meisies. Arabel hang haar uniform op en gooi haar bloes, sykouse en onderklere op ’n hoop om dit later uit te spoel. Nou wil sy eers ’n bottel seepskuim rojaal in die bad omkeer en in amper kokende water lê en ontspan.

Iemand klop net toe sy haar in die badwater uitstrek. “Dis oop!” roep sy teësinnig. Dis seker een van die ander waardinne en sy is nie lus vir kos óf mense nie.

Voetstappe weerklink, wat huiwer en dan vassteek.

“Ek is in die bad, ek gaan nie nou uitklim nie!” herhaal sy. “Kom in, kom praat hierso …”

“Is jy seker?” vra ’n manstem reg agter haar.

Arabel verstar van skok. Vlokke seepskuim spat in alle rigtings soos sy onder die borrels induik. Sy kyk verskrik om. Henning staan in die badkamerdeur met gevoude arms teen die kosyn aangeleun, sy een wenkbrou takserend gelig terwyl hy haar betrag.

Wat op aarde maak hý hier? Sy sak dieper onder die water in en gooi die waslap oor ’n stuk skouer wat bokant die skuim uitsteek.

“Daar wys meer as net jou kaal skouer,” merk hy geïnteresseerd op.

’n Blos stoot in haar gesig op. Sy krap handevol skuim oor alles wat bulte en punte het, selfs haar knieë en elmboë. “Is nie, jy jok!”

“Ja,” erken hy, “maar dit was die moeite werd.”

Hy lag sowaar vir haar … Sy mik ’n skeut water na hom, hopend sy uniform raak sopnat en gevlek. Maar hy het dit blykbaar verwag, want hy tree rats agteruit. Dis mis, val kort en bemors haar badkamervloer.

“Sien jy nou wat het jy gemaak … Kyk hoe lyk die plek!” roep Arabel kwaad uit. “Hoe kan jy sommer links en regs hier instap asof my kamer aan jou behoort?”

“Jy het gesê ek moet inkom en hierso kom praat.”

“Jy kon mos gedink het ek weet nie dis jy nie. Ek dag dis Tess of Alice. Loop! Jy kan nie hier staan terwyl ek in die bad is nie, Henning! Ek het nie klere aan nie.”

Hy is onverstoord. “Dis logies. Jy het soms mal dinge aangevang, maar ek kan nie onthou dat jy ooit met klere en al gebad het nie.”

“Dis nie snaaks nie. Wat maak jy hier? Jy het niks in my kamer verloor nie.”

“Dalk net my hart …”

“Wát?”

“Nee, niks. Ek het kom hoor waarvoor die pleister op jou voorkop is. Dion sê jou kop het die rand van die bagasierak getref – die sny het glo erg gebloei.”

“Nie te erg nie. Dit was net ’n ongeluk, niks ernstigs nie,” antwoord sy ontwykend.

“Mag ek daarna kyk?”

“Nee.”

“Ek het ’n vorige keer gesê jy is kinderagtig en jy was vir my woedend,” sê hy ongeduldig. “Moenie dat ons ’n herhaling daarvan maak nie, Arabel.”

“Jy kan nie na my voorkop kyk terwyl ek in die bad is nie,” herhaal sy koppig. “Jy weet mos jy kan nie. Jy moenie eens in die deur staan nie. Dis onbetaamlik!”

“Hou op om jou soos ’n histeriese tiener te gedra. Ons was getroud en ek het dikwels in die badkamer ingekom om te skeer of tande te borsel terwyl jy gebad het.”

“Dit was lank gelede. En die ander mense weet dit nie. Ek skaam my dood as iemand sou instap en jou hier kry.”

“Verwag jy iemand?”

“Natuurlik nie.”

“Jaco dalk?”

Sy kyk hom verstom aan. “Is jy laf? Wat insinueer jy?”

“Hoekom was die deur dan oop?”

“Ek sê mos: ek het gedink dis Tess of Alice.”

“Jy kan nie in ’n vreemde hotel met ’n oop deur sit en bad nie. Dis gevaarlik. Sê nou dit was iemand anders as ek wat hier ingestap het?”

“Dan sou ek hande geklap het.”

“Ek is ernstig. Wat as dit ’n wildvreemde man was?”

“Henning,” sê sy moedeloos, “asseblief, gaan baklei met iemand anders. Ek is moeg, my badwater word koud en die sny aan my voorkop brand. Moenie rang gooi nie, ek het nie die krag daarvoor nie.”

“Dit was ’n lang vlug, ek weet. Maar die bemanning se veiligheid is my verantwoordelikheid. Ek word daarvoor betaal, en ek moet insidente soos jou besering in my vlugverslag aanteken. In Aussieland moes alle vlieëniers ’n noodhulpkursus deurloop. Ek weet wat ek doen, en ek belowe jou ek het nie bybedoelings nie.” Hy buk oor die bad se rand. “Laat ek net kyk of die sny diep is en of steke straks nodig is.”

“En as dit is, sal jy dit sommer gou met naald en gare toewerk?”

“Nee, ek sal jou na ’n dokter neem.”

Die pleister het nat geword en hy trek dit versigtig af. Sy vingers wat die wond ondersoek, is ferm en onpersoonlik. Dis seer, maar Arabel lê roerloos. Haar grootste kommer is nie infeksie of inflammasie, steke of ’n litteken nie, maar die bad se prop wat blykbaar lek, want die water in die bad is besig om geleidelik al minder te word. Sy steek versigtig ’n voet uit en voel met haar tone na die krane aan die onderpunt van die bad. Die een wat sy oopgedraai kry, is die koue kraan. Die stroom water is ysig en laat skielik byna al die borrels verdwyn. Sy gryp naarstig na die waslap en kruis haar arms voor haar bors.

“Wat wil jy doen?” vra Henning. “Soek jy warm water?” Hy draai die koue kraan toe en die warm water oop.

Hierdie keer gryp die stroom die waslap, onder luide protes van Arabel.

“Wat makeer?” vra hy.

“Gee vir my ’n handdoek aan!” kners sy tussen haar tande deur.

“Ekskuus.” Hy haal die handdoek van die reling af en hou dit na haar uit sonder om na haar te kyk. “Steke is nie nodig nie, maar die wond is ontsteek. Is jou noodhulptas byderhand?”

Sy beduie na haar kamer.

Henning kon altyd ’n krisis goed hanteer. Hy vra nie vrae nie en verdwyn by die deur uit. Voor hy na die badkamer terugkeer, maak hy keel skoon.

“Arabel …? Het jy die handdoek om? Mag ek inkom?”

Sy het blitsig uitgeklim en staan op die badmat, toegedraai in twee groot handdoeke. “Dis nóú bietjie laat om te vra.”

Hoekom ewe skielik kamma bedagsaam wees? wonder sy agterdogtig en kyk na hom, betyds om spore van ’n lag om sy mond te sien. Sy vermoed wat hom amuseer en waarom hy netnou so versigtig was om nie in haar rigting te kyk toe hy die handdoek aangegee het nie. Sy word pienkrooi. Die beste sal wees om voor te gee niks het gebeur nie.

In sy hande hou hy watte, ontsmetmiddel, salf en pleister. Hy tik op die bad se rand. “Kom sit hier naby die venster, waar die lig goed is.”

Die Dettol brand dat haar oë traan, maar Arabel hou uit. Henning is behendig: hy ontsmet die wond, smeer antiseptiese salf aan, trek die vel weerskante van die sny teenmekaar en plak ’n vars pleister op – stewiger en doeltreffender as die skewe stuk wat sy gebruik het.

“Doen julle meisies nie tydens opleiding ’n noodhulpkursus nie?” vra hy terwyl hy werk.

“Ja, ons doen.”

“Ek merk jy het nie die wond skoongemaak nie.”

“Daar was nie tyd nie, ek was te besig.”

“Hoekom was jy nie vasgegord nie?”

Hier kom dit, dink sy. Dominerende manlike chauvinis, die rol waarin hy so goed is. Sy oorweeg haar opsies en besluit aanval is die beste verweer.

“Dit was vóór jy die gordelligte aangesit het.”

Hy buk af om haar in die gesig te kyk. “Hoe nou?”

Swak opsie. Arabel retireer. “Dalk wás die ligte aan, ek het nie opgelet nie.”

“Dan kort jy ’n bril. Hulle het non-stop geflikker, lank voor die tyd, toe die storm nog net ’n groen kol op die radarskerm was. Het jy ook nie gehoor toe ek die aankondiging gemaak het om te vra dat julle álmal vasgord nie?”

“Ja, goed!” erken sy vies. “Ek was nie vas nie. Ek het ’n liewe ou dame wat bang was, gaan help. Is dit so ’n groot sonde? Rapporteer my in jou blessit verslag, dank my af, enigiets wat jou gelukkig sal maak. Ek is nie van jou afhanklik nie. Ek het kwalifikasies en ondervinding. Ek kan gaan skoolhou, pille en brille verkoop, vir SAL werk, wat ook al. Ek sal nie van honger doodgaan nie.”

Hy draai rustig die bottel Dettol toe, skroef die proppie op die buisie salf en gooi die watte in die snippermandjie. “Veiligheidsreëls geld nie slegs vir passasiers nie, maar ook vir bemanningslede. Vandag was jy gelukkig. ’n Volgende keer breek jy dalk jou nek. Geen bang of senuweeagtige passasier is jou lewe werd nie. Verstaan jy dit?”

Sy knik. “Ek is jammer.”

Hy vryf met sy kneukels oor haar wang. “Ek ook, as ek te kras was. Dit was nie my bedoeling om fout te soek nie, dis net dat jou veiligheid vir my belangrik is.”

“Dankie.”

“Vryf jou droog en trek aan, dan gaan koop ek vir jou ontbyt.”

“Ek het Jaco belowe ek sal saam met hom gaan.”

“Ek weet. Maar ek het gesê hy hoef nie moeite te doen nie, ek sal jou bring.”

“En Tess?”

“Jaco sal haar bring.”

“Jáco? Maar sy het jóú genooi …”

“Tessie sal oorleef.”

Hy loop deur toe. Op pad uit knipoog hy vir haar en blaas ’n soentjie. “Tien minute?”

Arabel bly sit nadat die deur agter hom toegeklik het. “Henning Reynecke, waarmee is jy besig?” vra sy hardop. “Wat tussen ons was, is verby. Dit was soos dood; ek het in duisend stukke gebreek en dit het jare geduur om weer heel te word. Ek kan nie bekostig om ’n tweede keer betrokke te raak nie. Ek weet nie wat jy wil hê nie – ’n flirtasie of ’n affair – maar ek is nie sterk genoeg daarvoor nie. Ek sal ondergaan, reddeloos op ’n klip gaan sit en nie die moed hê om weer op te staan nie.”

Sy besef sy moet wegkom; uit selfverdediging afstand kry tussen haar en Henning. Dinge het te vinnig verloop sedert hulle uit Johannesburg weg is. Sy voel in ’n hoek gedryf en het alleentyd nodig om tot verhaal te kom.

Arabel kyk op haar horlosie. Sy het tien minute … Sy gooi ’n sonrok oor haar kop en ’n paar los goed in haar kajuitsak. Dan soek sy die visitekaartjie wat tant Lily vir haar gegee het, die besonderhede van haar skoondogter se gastehuis. Toe hulle op die lughawe gegroet het, het tant Lily haar oor en oor genooi om te kom kuier en die skoondogter het dit beaam, want sy is bedags besig en bang haar skoonma is eensaam. Die huis is ruim, met ses dubbelkamers. Dis buite seisoen en daar is volop slaapplek as Arabel wil oorbly.

Sy wil, dink Arabel. Dis ’n wonderlike wegkomkans om haar kop skoon te kry. Met Henning in die nabyheid is sy bossies. Soos in die verlede toe haar kop uitgehaak het sodat sy nie logies kon dink nie.

Sy skakel die nommer ’n paar keer, maar dit bly aanhoudend beset. Sy gooi slaapklere en ’n trui in die sak. Soek haar maskara en probeer weer. Deksels! Kan sy ’n kans waag en sommer net daar opdaag? Nee, dit sal onbeleef wees, want sy ken die mense nie goed genoeg nie. Laat sy maar weer probeer …

Satyn Omnibus 6

Подняться наверх