Читать книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman - Страница 4
1
ОглавлениеArabel pak ’n laaste paar vuil koppies in die eersteklaskajuit weg, dan tel sy die mikrofoon op.
“Dames en here, ons nader Johannesburg-lughawe, waar die weer gunstig is, met ’n matige noordewind. Maak asseblief seker dat u sitplekgordels vas is. Namens kaptein Du Plessis en sy bemanning, dankie dat u met Jakaranda-lugdiens gevlieg het. Ons hoop om u in die nabye toekoms weer aan boord te verwelkom.” Sy herhaal die aankondiging in Engels en Duits, en gaan sit dan langs een van die ander lugwaardinne om haarself vas te gord.
“Dankie, Tess, dis altyd lekker om ’n vlug saam met jou te doen,” bedank sy haar kollega.
“Ek stem. Gaaf om te dink ons gaan nog drie maande saam vlieg. Ons twee sien mekaar te min. Altyd net haai of koebaai op Heathrow of Schiphol. Ek wens ons kon hierdie bemanning ook drie maande lank gehou het. Net toe ek Doep mooi na my hand geleer het, verander die vlugrooster.”
“Seker om vir die nuwe aanstellings voorsiening te maak.”
“Drie nuwe kapteins … iets om na uit te sien. Ek wonder hoe die ouens gaan wees? In die begin seker vreeslik korrek, en sal presies volgens die boek vlieg. Vir die geringste wolkie die gordelligte aansit en elke vyf minute die klokkie lui vir koffie, tee of Eno’s.”
“Coffee, tea or me,” spot Arabel.
“As hulle mooi is, kla ek nie. Dan gaan hou ek graag sy hand vas.”
“Alle mans is vir jou mooi.”
Tess lag. “Party net mooier as ander, veral dié wat ongetroud is. Ek hoop darem een uit die drie het blou oë. Ek is deesdae, soos Van Gogh, in my blou periode. Kobaltblou, Houtbaaiblou, kom-hierso-blou … Fluit net, en ek’s daar!”
“Van Gogh was nooit in ’n blou periode nie, dit was Picasso.”
“Wie ook al … Dis goed dat Jakaranda nuwe bloed inkry. Ek sien uit daarna om nuwe hunks te bearbei.”
“Oppas dat hulle vrouens nie daarvan hoor nie,” waarsku Arabel. Tess is altyd vol grappe en stories oor haar verowerings, daarop gemik om haarself as modern en wêreldwys voor te doen. Maar ’n mens weet nooit wanneer sy dalk ernstig is nie. Arabel is lief vir dié blonde maltrap en is bang dis nie net praatjies in die wind nie. Netnou stamp Tess haar kop en kry seer.
Tess is verontwaardig. “Vriendin, hoe ken jy my?”
“Té goed. Daarom sê ek: pasop vir die getroude ouens.”
“Ek pasop, Bella-bel. Ek hou van ’n lekker jol, soos enige normale meisie. Maar nie ten koste van ’n vrou en kinders nie. Dis taboe. Eerste waarna ek altyd kyk, is ’n ou se hande. Sy vingers. Selfs al lyk dit veilig, moet mens seker maak daar’s nie ’n wit kringetjie om sy ringvinger nie. Weet jy hoeveel ouens doen dit?”
“Doen wat?”
“Haal hulle trouring af en doen hulle voor as ’n loslappie.”
“Nee, ek weet nie, en ek sorg ook dat ek nie in ’n posisie kom om uit te vind nie.”
“Dis hoekom ek bly is oor die nuwe aanstellings. Op gemiddeld sal al drie tog sekerlik nie oud en getroud wees nie. Ek hoor twee kom uit Zimbabwe. Die ander een uit Australië – glo ’n oud-Suid-Afrikaner wat ’n paar jaar vir Qantas gevlieg het. Hopelik ’n tipiese Crocodile Dundee, met sy hemp tot op sy naeltjie oopgeknoop. Arms wat ’n meisie kan vasvat, sodat sy dit dae later nog sal wéét en vóél …”
“Tess! Hou op nonsens praat,” keer Arabel, haar stem skerper as wat sy bedoel het, terwyl sy die skielike hol gevoel op haar maag ontken. Australië het duisende vlieëniers, maan sy haarself. Net so volop soos wallabies en bloekombome. Sy moenie paranoïes raak elke keer as Qantas ter sprake kom nie. Hy is al ses jaar weg en sal nie nou meer terugkom nie. Dalk het hy lankal bedank en sit in Moskou of Ysland. Soos sy het hy ook altyd wanderlust gehad vir ver plekke. “Vergeet hom. Aussies maak net moeilikheid. Kyk hoe gaan dit met ons rugby en krieket.”
“Rugby en krieket?” herhaal Tess. “Ek het nie eintlik dáái soort sports met die man in gedagte gehad nie.”
Arabel is nie geamuseer nie. “Jy het net een ding op jou brein!”
Tess kyk ondersoekend na haar. “Ek terg sommer … Kyk, ek weet een of ander simpel vent het jou destyds kwaad gemaak, sodat jy ’n gly gevang het in mans. Dis verstaanbaar. Ons het almal gesimpatiseer en ons tonge op al die regte plekke geklik. Maar magtag, Arabel, dit was jare gelede, lank voor jy lugwaardin geword het. Dis tyd dat jy die stukke optel en aangaan, anders gaan jy ’n ou suurpruim op die rak word.”
“Hy was nie simpel nie. En ek is nie kwaad of suur nie.”
“Wat is jy dan?”
Arabel aarsel. Sy weet self nie. “Net versigtig …”
“Waarvoor?”
“Om nie ’n tweede keer uit dieselfde bus te val nie.”
Dis die eerste keer dat Arabel effens oopmaak. “Hierdie … e … bus,” waag Tess dit. “Wat het hy gedoen om jou so versigtig te maak?”
“By die verkeerde halte gestop,” antwoord Arabel kortaf.
“Hoe bedoel jy?”
“Die terminus. Die einde van die pad.”
“Hoekom?”
“Want die wiele het afgeval en die battery was pap.”
“En jy wou nie afklim nie?”
“Nee. Maar ek moes … Hy het gerem, my uitgegooi en weggery.”
“Blessit drip!”
“Nee, hy was nie. Dit was my eie skuld …”
Arabel vee met ’n moeë hand oor haar oë en laat rus haar kop teen die kajuitwand. Dit was ’n lang deurnagvlug: Frankfurt – Windhoek – Johannesburg. En die Boeing 747 was vol. Vol klagtes en moeilike passasiers, huilende babatjies en veeleisende tieners.
Net so moeilik en veeleisend soos sy destyds … Sy was jonk, maar dis nie ’n verskoning vir selfsug nie. Natuurlik was Henning nie ’n engel nie. Hy kon ook maar goed dwars wees as hy wou. Boonop was hy oorwerk, gestres en self ook onder druk. Maar dis sý wat die meeste skuld vir die fiasko moet dra, weet Arabel. Sy moes minder behep met haarself gewees het en hom meer ondersteun het.
“Hoe rym dit?” vra Tess. “Hy smyt jou uit, maar hy is nie ’n drip nie en jy is nie kwaad vir hom nie?”
“Ek wás kwaad. Ek wou hom vermoor! Sy keel met ’n stomp mes afsny. Gelukkig was hy ver weg en kon ek hom nie bykom nie.”
“Het jy ’n foto van die skurk?” wil Tess weet.
“Iewers in ’n boks bo in ’n kas, seker al opgevreet deur die vismotte.”
“Dit sal hom leer, as sy neus weg is. Haal sy foto uit.” Tess keer toe Arabel protesteer. “Nee, dis nie wat jy dink nie. Nie om oor te treur of hom in jou dagboek te plak nie. Plak hom buite teen ’n boom op. Of slaat hom met spykers vas. Dan koop jy vir jou veerpyltjies. En dan gaan staan jy voor sy bakkies en gooi hom vol gate, tot hy voos en flenters van die boom afval. Dan tel jy die stukke op en spoel hulle in die toilet af. Jy sal verbaas wees hoeveel beter jy daarná sal voel.”
Goeie terapie, dink Arabel wrang en kyk deur die venster. Dit lyk soos Isando se fabrieke onder die bakboordvlerk. Sy wens kaptein Doep wil die enjins ooptrek sodat hulle gouer kan land. Tess bedoel dit goed, maar die getorring werk op haar senuwees.
“Dan kan jy aangaan met die res van jou lewe,” las Tess by.
“Ek leef darem nie soos ’n kluisenaar wat op ’n hopie sit en huil nie,” skerm Arabel.
“Nee, nie ’n kluisenaar nie. Eerder ’n non.”
“Anders as jy, is my hoofdoel in die lewe nie om ’n man te vang nie. Ek is gelukkig met my lewe soos dit is. Ek geniet my werk, ontmoet interessante mense, sien die wêreld gratis.”
“En huil snags in jou kussing …”
Die fabrieke maak plek vir ’n plat grys vlak wat onder die vlerk verbyskuif. Die romp van die 747-makrostraler vibreer toe die klappe uitskuif, gevolg deur ’n ligte stampgevoel toe die wiele die aanloopbaan raak. Die vier Pratt & Whitney-motore brul in trurat en die straler verminder spoed.
Arabel knip haar gordel los. “Los dit, Tess. Geraamtes in kaste is nie mooi goed nie.”
“Dit help as hulle lug kry, as die muf en vismotte saam met hulle uit die kas kruip.”
Nie dié geraamte nie, dink Arabel. Want hy is nie in die kas nie. Hy loop saam met haar, kyk vir haar in die spieël, lê langs haar as sy slaap en wag vir haar as sy wakker word. Nou nog soms, as die foon onverwags lui of ’n vreemde koevert in haar posbus lê, spring haar hart in haar keel. Want dálk, wie weet, net dalk …
Maar hy het nooit weer gebel, geskryf of van hom laat hoor nie. Nie eens met haar verjaarsdag nie. Die elf maande saam met haar was blykbaar só onaangenaam dat Henning nie daaraan herinner wou word nie. Hy het haar vergeet. Sy moet ook ophou onthou. Hy gaan nie terugkom nie.
Sy staan vinnig op. “Is jy nie haastig om by die huis te kom nie? Lig jou. Sit jou pet en jou glimlag op, en gaan groet jou passasiers.”
Tess klik haar tong terwyl sy haar lipstiffie en hoëhakskoene soek. Wat help dit mens is vriende as jy nie mekaar se laste kan help dra nie? Arabel moes ’n messelaar geword het, want sy is goed met mure bou – om haarself en tussen haar en ander mense. Mure sonder deure. Niemand kan naby haar kom nie. Sy is al jare so, sedert hulle saam op kursus was, saam hul eerste vlug gedoen het en vriende geword het.
Haar ouma Annie sê altyd ’n meisie is eers regtig mooi as sy nie weet sy is mooi nie. En dis Arabel uit en uit, dink Tess. As sy haar vriendin se bates gehad het, het sy met haar talente gewoeker en die wêreld verower. Maar die swartkop met haar soepel kurwes, satyngladde vel en heuningkleurige oë woon onder haar maatemmer agter haar muur, onbewus van die impak wat sy op mense het.
As hulle tydens vlugte op plekke oorbly, doen Arabel haar eie ding – lees, besoek museums of gaan loop langs die see. Altyd alleen. Tess weet dis seerkry wat haar in haar dop laat kruip het – dis daardie dom-onnosele drip se skuld. Netnou se uitvra was ’n begin. As daar ’n kans kom, sal sy weer probeer. Dis nie goed om seer op te krop nie.
As senior waardin is Arabel verantwoordelik vir die kroegvoorrade. Sy wag tot al tweehonderd en sestig passasiers afgeklim het en die grondpersoneel aan boord kom, dan oorhandig sy haar finansiële state. Daar was twee onvergeselde minderjariges in haar sorg. Sy vee die twee seuntjies se kuiwe plat, gee elkeen ’n soentjie, ’n sjokolade en ’n poskaart van die Boeing 747-makrostraler voor sy hulle aan die grondwaardin oorhandig, saam met ’n koevert wat hul persoonlike dokumente bevat.
“Williams, Peter en Andy. Ouers geskei. Ma in Frankfurt, pa in Sandton – hulle kom kuier vir hom vir die skoolvakansie. Geen allergieë, kwale of medikasies nie. Twee soet kinders. Ons het ludo en domino gespeel en ek het lief geword vir hulle. Wens hulle was myne …”
Arabel lag om die skielike heimwee in haar stem te verbloem. Dekselse Qantas en Tess wat gaan staan en spoke opjaag het. Spoke wat sy geglo het lankal besweer en begrawe is … Sy swaai haar handsak oor haar skouer, neem haar noodhulptas en klim die trap af.
Die eerste-offisier wag vir haar op die laaiblad. “Dêm noodlot! Net toe ek jou wou nooi om met die volgende vlug my tas te help uitpak, hoor ek dis te laat, ons roetes skei. Die skeepskatte gaan Hongkong toe en die drywers Maleisië toe.”
Peet Saaiman huiwer. Dis ’n ou grap, dié van help tas uitpak. Soos die uitsig vanuit jou kamer wat jy vir ’n meisie wil gaan wys. Hy het dit al voorheen probeer en elke keer met Arabel ’n bloutjie geloop. Maar daar bly iets omtrent haar wat hom fassineer; hom boei en bekoor. Dis nie net haar voorkoms nie, want as jy vir ’n lugredery werk, raak jy gewoond aan mooi meisies. Daar is van die lugwaardinne wat selfs mooier as Arabel Coetzee is. Dis iets anders, meer as net ’n lyf en ’n gesig wat hom aantrek. Dalk omdat sy so ’n duidelike boodskap uitstraal: Gaan weg. Los my uit. Ek is nie beskikbaar nie. Dit prikkel ’n man om uit te vind hoekom.
“Wat doen jy vanaand?” vra hy.
“Pak my eie tas uit en gaan vroeg slaap.” Arabel stap vinniger, maar hy rek sy treë en hou by.
“En môreaand, wanneer jy klaar uitgepak het?”
Arabel skud haar kop. “Jammer, Peet, ek is besig. Het ’n honderd en een dinge om in te haal.”
“Wil jy nie asseblief saam met my gaan eet nie? Niks spesiaals nie, sommer net ’n oulike pastaplekkie wat ek ontdek het.”
“Dankie,” glimlag sy vlugtig. “Dis gaaf en dierbaar, maar nee dankie. Kry vir jou ’n meisie wat jou kan waardeer. Trou met haar, hê haar lief, moenie dat die wiele afval of die battery pap word nie. Dis ’n goeie resep.”
“Resep waarvoor?”
“Jy sal weet as jy die regte meisie ontmoet.”
“Dalk het ek reeds,” skimp hy.
“Nee, jy het nie. Gaan soek verder.”
Arabel gee hom ’n glimlag wat sy knieë lam maak, maar voor hy ’n nuwe benadering kan bedink, glip sy weg na die aankomsaal.
Terwyl sy by die vervoerband vir haar tas staan en wag, is Arabel kwaad vir haarself. Hoekom nou weer die “bus” oprakel? Peet sal nie eens weet wat sy bedoel nie. Sy het hard gewerk en baie trane gehuil om te kom waar sy is. Sy kan nie toelaat dat ’n onbekende Australiër haar swaarverdiende gemoedsrus vernietig nie. Tess het haar onnodig op hol gejaag. Dis nie te sê die nuwe ou is definitief ’n Aussie nie; hy is dalk ’n Nieu-Seelander. Dit sal te toevallig wees dat dit ná al die jare juis Henning Reynecke is wat vir Jakaranda-lugdiens kom vlieg.
By doeane help Peet met Arabel se bagasie. “As jy dalk nie van pasta hou nie, wat dan van pizza?”
Sê ja, por ’n stem in haar binneste. Gaan eet saam met hom. Hy is ’n oulike ou en hy steek al so lank voelers uit. Dis tyd dat sy die stukke aanmekaar plak en aangaan met haar lewe. Henning het dit seker lankal gedoen: weer iemand ontmoet, getrou en kinders gekry. Hy wou altyd ’n hele span hê – ’n halfdosyn seuns wat ’n bal rondskop, vir wie hy ’n boomhuis en vlieërs kan bou. ’n Hond vir elke seun en ’n dogtertjie vir háár, met linte en strikke en sjerrie-oë, soos nat rivierklippies. Soos haar ma. Sag en warm …
Moenie, keer Arabel haarself. Moenie onthou nie. Sy sien Peet na haar kyk en onthou hy het iets oor pizza gevra. “Ek is jammer,” antwoord sy. “Miskien anderdag – ’n ander aand?”
Peet skep moed. “Natuurlik! Enige tyd.”
Hy sleep ’n trollie nader en stoot hulle tasse deur die parkade tot by Arabel se motor – ’n Noagse rooi sportmotor wat Henning destyds by ’n platsak vriend gekoop en gerestoureer het.
“Wat ’n pragtige wa!” Peet fluit waarderend en beduie na sy nuwe Toyota aan die punt van die ry wat vir lugdienspersoneel gereserveer is. “Ek ruil jou enige tyd. Hoe lyk dit? Ek sal selfs my nuwe stel gholfstokke by die transaksie ingooi.”
Henning sal haar vermoor, en sy vriend Attie Strydom ook. Arabel skud haar kop, terwyl sy met haar sakdoek ’n vingermerk op die chroom afvryf. “Hy’s soos ’n familielid, soos ’n boetie – nie te koop of te ruil nie.”
“Hierdie MG is in ’n puik toestand. Wie het hom so pragtig gerestoureer?”
“My man …” Sy bly stil en korrigeer dan vinnig: “’n Man wat ek geken het.”
Toe sy by Jakaranda aansoek gedoen het, het sy op haar vorm gemeld dat sy geskei is. Maar toe sy aanvaar word en vir opleiding gekeur is, het sy nie die nodigheid gesien om haar privaat sake aan die groot klok te hang nie. ’n Huwelik wat minder as ’n jaar gehou het, is nie iets om op trots te wees nie.
Arabel besluit om die bul by die horings te pak voor haar moed haar begewe. Om te weet – al is dit slegte nuus – is beter as die onsekerheid.
“Peet, het jy dalk ’n naamlys van al die internasionale vlieëniers?”
“Nee. Maar ek kan een kry as jy dit soek.”
“Asseblief. Die nuwe kapteins het seker ’n oriënteringskursus gedoen. Het jy hulle nie by die nabootser of in die kafeteria raakgeloop nie?”
“Nie met ’n oog gesien nie.”
“Die storie loop dat een ’n Suid-Afrikaner is. Is dit so?”
“Ja. Baie welkom om ons werklas te verlig. Ons manne vlieg maksimum ure. As ’n virus of iets uitbreek, sit ons met ’n krisis en IATA op ons nekke.”
“Wanneer begin die nuwe ouens?”
“Een van hulle het reeds begin. Een van die Zims.”
Arabel sluit Boetie se deur oop en skuif agter die stuurwiel in. “Hoe oud skat jy is hierdie Australiese Boertjie?” vra sy luiters.
“Dit hang af … Internasionale rederye het allerhande reëls en regulasies oor opleiding, vorige ondervinding, ensovoorts. Qantas veral is streng. As hy op 747-makro’s is, sou ek raai so middel-dertigs. Hoekom vra jy?”
Arabel staar voor haar uit. “Sommer …” Haar stem klink geforseerd. “Dis nie belangrik nie.”
“Moet ek die lys in jou posbus gooi?” vra Peet. Arabel kan nie onthou of sy ja of nee geantwoord het nie. Sy wuif ’n soentjie en trap die petrolpedaal. Boetie is oud maar nog lank nie koud nie, en hy het vyf dae ruskans gehad. Hy vuur op al sy silinders, spring uit sy spore weg en wys hakskene vir Peet se Toyota.
Arabel gooi haar pet langs haar op die passasiersitplek en laat die wind deur haar hare waai. Hopelik sal dit ook die spinnerakke en spoke wegwaai …
Dit sal seker nie help as sy haarself wysmaak dat Peet ook verkeerd gehoor het nie, of hoe?
Sy is nie lus om reguit huis toe te gaan nie. As sy alleen gebly het, was dit makliker. Maar haar suster ken haar te goed – Berna sal sien iets is verkeerd.
Sy was mal oor Henning. Haar man, Dave, ook. Die twee swaers was soos broers. En toe is sý die vark in die verhaal …
Dave, as prokureur, was meer diplomaties, maar haar ousus het haar openlik vir die egskeiding geblameer. “Sussie, kon jy nie maar die minste gewees het nie? Wat was so erg daaraan om ’n langnaweek in Margate prys te gee? As Henning in ’n lugskou moes vlieg, kon hy mos nie die res van die span in die steek laat nie. Dis goeie geld wat hy verdien het, en julle wás toe mos later Natal toe. ’n Hele week. Waaroor so vreeslik tekere gaan?”
“Dit was nie net die Margate-naweek nie,” het Arabel haarself verdedig. “Henning was nooit tuis nie. En as hy was, was hy moeg, of hy het geslaap, of heelaand geswot. Ons het soos twee kluisenaars geleef, aand ná aand in daardie aaklige woonstel vasgekluister. Ek het later gevoel as ek nog een minuut sit en TV kyk, gaan ek teen die mure uitklim. As ek nie daardie blompot deur die skerm gegooi het nie, was dit teen Henning se kop.”
“Ek sal my skaam as ek jy is. Jy was van kleins af bederf omdat jy die jongste is. Pa en Ma moes jou van die begin af kortgevat het. Henning ook. Jy het nie ’n lieflike man soos hy verdien nie.”
Arabel het saamgestem, maar toe was dit te laat. Henning was klaar weg. Sak en pak. Iewers in Australië, sonder taal of tyding, met net ’n posbusnommer.
“Natuurlik was hy moeg, hy het sy vingers deurgewerk om jou te bederf en al die rekeninge betaal te hou,” het Berna dit ingevryf. “Dis te verstane dat hy saans gestudeer het, hy moes sy instrukteurseksamen skryf. As jy gefrustreerd was, hoekom het jy nie ook geswot nie? Dis darem iets nuttigs en iets wat julle saam kon doen.”
“Ek het opgeskop om te gaan werk en te help geld verdien. Dink jy dit was vir my lekker om heeldag agter ’n kasregister te staan? Van agt tot ses, dag ná dag … Ou oom Gerber was ’n aaklige, vatterige ou man. Dit was deel van die stres.”
“Jy sou beter gevaar het as jy jou onderwysdiploma klaargemaak het en gaan skoolhou het.”
“Waarvan sou ons intussen geleef het?”
“Jy en Henning was so verlief, julle sou van koue water geleef het.”
Alles gehad en alles verloor. Deur haar vingers laat glip, dink Arabel verwese. Sy was te jonk om te waardeer wat sy het, om die verhouding te koester …
Dave het haar gewaarsku. “Bellie, jy is nog pure kind. ’n Huwelik is nie vir sissies nie. Dit kos harde werk, swaarkry en opofferings. Geniet jou vryheid en studentelewe, word eers ryper en kry lewenservaring, dan sal jy eendag ’n beter vrou vir jou man wees.”
Berna wou ook hê dat hulle wag. “Ek stem saam dat Henning Reynecke ’n vangs is. As ek tien jaar jonger was, het ek sélf vir hom geval,” het sy met ’n lag erken, dalk om haar hardekopsussie te paai. “Hy’s vreeslik sexy en sal enige meisie klokke laat hoor. Selfs ’n ou getroude vrou soos ek … Maar hy sal nie verdwyn nie, sussie. Raak verloof as julle wil, maar moenie halsoorkop trou nie. Leer mekaar eers beter ken. En gaan intussen met ander kêrels uit, sodat jy kan vergelyk en seker wees Henning is die regte man vir jou.”
“Ek ís seker,” het Arabel volgehou. “Daar sal nooit vir my ’n ander man wees nie. As ek met ander kêrels uitgaan, sal dit voel ek verneuk hom. Ek gaan met Henning trou al sneeu dit in Kaapstad. As julle my probeer keer, gaan ek net eenvoudig my tasse pak, deur die koshuisvenster klim en by hom intrek.”
“Waar gaan julle bly? Sy kwartiere by die lugmagbasis is baie beknop.”
“Dit maak nie saak nie. Saam met hom sal ek in ’n tentjie in Adderleystraat gelukkig wees.”
Haar ma het ook probeer, maar weens haar swak gesondheid het sy nie meer dieselfde gesag gehad nie. “Luister na Bernadette, Arabella, sy is die oudste, sy weet die beste,” het sy gemaan.
Pa was al een aan haar kant, al was dit vaag en verstrooid. “Los die kind,” het hy gepaai. “As sy en hierdie Hendrik-man hulle tent in die straat wil opslaan, los hulle. Ons het toeka ook mos jonk getrou, my soetlief, en kyk hoeveel goue jare het ons tweetjies deurlewe. En toe kry jy nog die fraaie ou hanslammetjie by …”
Pa het haar altyd sy “hanslam” genoem, tot haar ma se verleentheid.
“Láátlammetjie!” het sy hom telkens betig. “En dis Henning, nie Hendrik nie.”
Dit het nie gehelp nie, want haar pa is half doof. Hulle is in ’n aftree-oord in Parow, en sy kon nie by hulle gaan bly ná die egskeiding nie. Veral toe sy aanvaar is as lugwaardin, was Berna en Dave se groot huis met die tuinwoonstel in Kemptonpark die ideale oplossing.
Sy sal haar ma vanaand bel, neem Arabel haar voor. Op ’n Kaap-vlug loer sy gereeld by hulle in. Maar noudat sy senior waardin geword het, doen sy minder binnelandse vlugte. Sy kan gerus haar vrypas gebruik en ’n paar dae gaan kuier – vir hulle beskuit bak, kaste netjies orden, haar ma se hare sny en saam met haar pa gaan visvang.
Arabel het ook skuldgevoelens teenoor haar ousus. In die week wat sy vry is, help sy in die kombuis en met die twee seuns se huiswerk. Sy snoei die struike by die voordeur en skiet Berna vir Swanemeer by die Staatsteater, met ná die tyd ’n biefstuk en ’n lekker bottel rooiwyn.
“’n Ete in ’n regte restaurant!” sug Berna behaaglik toe hulle gaan sit. “Waaraan het ek dié bederf te danke?”
“Sommer maar,” antwoord Arabel. “Om dankie te sê. Jy was vir my ’n tweede ma en – al het dit nie altyd so gelyk nie – ek waardeer wat jy en Dave vir my doen.”
“Jy weet hoeveel jy vir ons saak maak, sussie. Ek is ’n regte ou moederhen wat soms te hard kloek en raas, maar dit goed bedoel. Die seuns is soos twee rubberballe – niks kry hulle onder nie. Maar ek is bekommerd oor jou.”
“Dis onnodig. Ek is piekfyn.”
“Is jy?” Berna kyk haar ondersoekend aan. “Jy was hierdie week so in jouself gekeer, amper weer soos vroeër. Wat makeer?”
“Dis die hitte,” skerm Arabel. “Ek en jou rose is ewe verlep.”
“Gaan Hongkong darem koeler wees?”
“Nee, dis tropies, met hoë humiditeit. Ons bly soontoe en terug darem elke keer ’n dag op Mauritius oor.”
“Dan kan jy bietjie swem en ontspan. Hoe lank gaan jy weg wees?”
“’n Week. Ek’s volgende Vrydag terug.”
“Raak jy nie soms moeg om uit ’n tas te leef nie?” vra Berna onverwags.
Arabel is lank stil, terwyl haar oë peinsend na die oorkantste muur van die restaurant staar. “Miskien geepad ek op ’n dag sommer skielik by Jakaranda. Wie weet – miskien sommer binnekort.”
Iets in haar stem laat Berna skerp opkyk. “Hoekom? Genoeg van die wêreld gesien? Lus om liewer weer te gaan skoolhou?”
“Nee. Die ruk wat ek probeer het, het my genees. Ek is ’n vrot onnie, te ongeduldig en opvlieënd.”
“Hoekom dan al die moeite gedoen om ná die egskeiding jou diploma klaar te maak?”
Arabel gooi tamatiesous oor haar tjips, dan sout en asyn – ’n gewoonte met hartseer assosiasies, wat sy probeer afleer. “Vier redes. Om swaer Dave gelukkig te maak. Om Henning te wys ek is nie so ’n mislukking soos hy dink nie. Om my selfbeeld op te bou. En om ’n trapklip te hê wat vir my deure oopmaak. Lugdiens sou my nie aanvaar het sonder naskoolse kwalifikasies nie.”
Berna weet watter rede nommer een was, en dit stem haar onrustig. As die kind tog net weer iemand sal ontmoet … Wat skort met Jakaranda se manne dat daar nie een is wat haar hart vir ’n ses slaan soos Henning Reynecke toentertyd nie?
“Weet hy?” vra sy. “Het jy ooit vir Henning gesê jy het jou diploma gekry?”
Die hortjies wat Berna so goed ken, sak oor haar suster se goudbruin oë. “Jy weet hy het alle kontak verbreek.”
“Is hy nog in Perth?”
“Ek weet nie en ek wil ook nie weet nie. Hy kan in Siberië klippe kap vir al wat ek omgee. Ek moes na julle geluister het en nie met hom getrou het nie – net ’n lekker affair gehad het, sonder om werklik betrokke te raak. Dan het ek nou minder seer en meer selfvertroue gehad.”
“Is jy steeds kwaad vir hom?”
Arabel se oë is troebel. “Asseblief, kom ons praat oor iets interessanter. Hoe smaak jou steak? Nie te rou nie?”
Berna se stem versag. “Daar is iets soos vergewe en vergeet, sussie.”
“En jou tjips? Nie te olierig nie?”
Berna sug en praat oor Swanemeer en Odette en die prins, en die seuns se rugby-oefening wat vir hulle belangriker as die naderende eksamen is. Op ’n manier sal dit goed wees as Bellie bedank sodat sy ’n oog oor haar kleinsus kan hou. Sy is te maer en is die afgelope tyd lusteloos. Sou daar iets by Jakaranda gebeur het om haar te ontstel, of het sy uiteindelik van die wanderlust in haar gestel ontslae geraak?