Читать книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman - Страница 14

11

Оглавление

Op pad terug hotel toe is albei stil, verdiep in hul eie gedagtes. Teen die tyd dat Arabel haar kajuitsak by ontvangs kry, het sy finaal besluit. Uit selfverdediging en om perspektief te kry, moet sy ’n paar dae wegkom. Henning het sy sê gesê en sy verstaan wat die situasie is. Om dit te ontleed en tot snuif te trap sal futiel wees. Hy sal waarskynlik bly wees om ook tyd vir homself te hê en sy eie dinkskrum te hou.

Henning loop saam tot by haar kamer, neem die sleutel en sluit die deur vir haar oop. Hy staan opsy, maar toe sy wil verbykom, druk hy sy hand teen die kosyn om die opening te blokkeer. Sy oë hou hare gevange en hy is so naby dat sy deur die materiaal van sy hemp die hitte van sy lyf kan voel deurslaan.

Arabel staar asof gehipnotiseer na hom. Sy probeer padgee, maar sy is vasgekeer met haar rug teen die kosyn en Henning reg voor haar. Sy mond sluit oor hare en hy soen haar soos die aand toe hulle galjoen op die strand gebraai en die wind hulle knus in die slaapsak in gedryf het. Stadig, ervare en met verpletterende effek.

“Mag ek inkom?” fluister hy met sy arms om haar en sy tong warm teen hare in ’n ontdekkingstog van haar mond.

Daar is niks wat sy méér begeer nie. Arabel se hart stoomroller, maar sy draai haar uit sy omhelsing los. “Nee,” antwoord sy skor. “Ek sien nie kans daarvoor nie …”

“Waarvoor nie?”

“Om deel van die eksperiment te wees nie, om vas te stel wat jou gevoelens vir my is.”

“Dis nie ’n eksperiment nie. Ek is ernstig oor jou.”

“En ook oor Kiki. Besluit eers watter een jy wil hê. En as dit ek is, sal ek my deur vir jou oopmaak.”

Sy oë is troebel en donker, soos in die tyd toe hy gereeld migraine gehad het. Hy laat haar gaan, steek sy hande in sy jeans se sakke en stap weg sonder ’n woord.

Arabel blaas haar asem uit, bietjie vir bietjie, en stoot die deur agter haar toe, dankbaar dat sy die regte keuse gemaak het en dat haar wilskrag sterk genoeg was. Sy wil nie drie dae omworstel met ’n skuldgevoel en die herinnering van sy warm lyf teen hare nie.

Voor sy wankel, bel sy die nommer wat tant Lily vir haar gegee het.

“Springbok Gastehuis!” antwoord ’n vrolike stem.

“Natasha de Villiers?” vra Arabel.

“Tasha, ja. Hoe kan ek help?”

“Weet nie of jy my sal onthou nie …” Arabel verduidelik van tant Lily, maar voor sy by die rede vir haar oproep kom, val Tasha haar in die rede: “Natuurlik weet ek wie jy is! Ek hoop jy kom kuier! Ons moet dringend Macau toe gaan en ek wil nie vir Skoonma alleen los nie. Bly solank jy wil, ons is leeg.”

“Dankie.”

Arabel gryp die sak, trek haar kamerdeur toe en haas haar na die hysbak. By ontvangs laat sy ’n boodskap dat sy Dinsdagmiddag terug sal wees, en toe Vince toevallig verbykom, herhaal sy die boodskap, om dubbel seker te maak.

Die tuk-tuk laai haar by die gastehuis se voordeur af, tussen twee stelle springbokhorings en ’n Suid-Afrikaanse vlag wat bokant aan ’n paal wapper.

Tasha draf die trappies af, ’n baba in ’n tjalie in haar arms, gevolg deur ’n au pair met hul bagasie. “Arabel, haai! Dankie tog jy’s hier! ’n Welkome engel uit die hemel. Die konsulgeneraal se dogter word een-en-twintig en dit sal aanstoot gee as ons nie die onthaal bywoon nie. Daar’s volop kos in die yskas. Ons is môre terug. Ek moet wikkel, ons is laat!” Met ’n wuif klim sy in Arabel se taxi en verdwyn uit sig.

Arabel klim die trap op, klop en stap binne. “Hallo? Iemand tuis …?”

“Kindlief!” roep tant Lily vanuit die voorportaal, gehul in ’n waas van oliekolonie. Sy omhels Arabel en soen haar op albei wange. “Ek is só bly jy is hier. Kom ek gaan wys jou jou kamer, as jy wil hande was. Tasha het vir ons ’n ryskoek gekoop vir tee en ek het die fotoalbums reggesit vir vanaand, ná ete.”

Dis heerlik luuks om in die sitkamer met die stinkhoutmeubels agteroor te sit en bedien te word deur ’n Chinese meisie, net so fyn en mooi soos die Royal Albert-teekoppies. Tant Lily wys foto’s en babbel aanmekaar: oor haar drie maande oue naamgenoot, James se pos by die konsulaat en haar ander kleinkinders wat in ’n diaspora oor die wêreld versprei is. Engeland, Nieu-Seeland, Australië, Kanada … Samantha en Andy, Heidi, Peter en die tweeling … En nou Hongkong en Lilith Ann.

Arabel het nie agtergekom sy raak lomerig, die foto’s al vaer en die stem al sagter nie. Toe sy haar oë oopmaak, lê sy op die bank, ’n kussing onder haar kop, ’n kombers oor haar en die glimlaggende Lucy Lei voor haar, met haar hande gekelk om ’n kommetjie groentee.

“You better, you rested?”

Arabel kan nie glo die son skyn en dis oggend nie. Sy onthou hulle het ryskoek geëet, later bobotie en sagopoeding. Hulle het gekuier en gesels en nege fotoalbums deurgewerk. Vanaf Lilith Ann tot by Samantha Jane, die oudste kleindogter. Daarna weet sy niks … Nie dat sy omgekantel het nie, en of sy darem vir tant Lily nag gesê het nie. Sy was vlugvoos, soos gebeur wanneer jy oos vlieg deur die tydsones, want jy verloor ’n dag en jou lyf se klok raak deurmekaar.

Sy sit regop en proe aan die tee. Dis stomend en geurig.

“I wake you soft, I give time for soul to come back in body.”

Arabel ken dié mooi Chinese tradisie, beter as om met die skril geskel van ’n wekker jou dag te begin. Dalk is dit wat met haar verkeerd is: haar siel wat nog doer ver aan die Kaapse Weskus soekend rondswerf.

Sy was haar gesig en gaan soek na tant Lily.

Haar gasvrou is erger as haar kuiergas en lê nog opgekrul in haar verebed, hare in krullers, lyf toegewoel in ’n flennienagjurk en haar siel wie weet waar. Dalk in Havana saam met die “fraaie” James Bond.

Arabel is bly oor die verposing, want dit gee haar tyd om te bad en aan te trek.

Lucy Lei se ma, Anna Lei, is in die kombuis besig en maak ’n ouwêreldse kniebuiging toe sy Arabel sien. “You eat Chinese breakfast, Africa breakfast?”

Arabel gee nie om nie, sy sal eet wat tant Lily eet. Dit, vind sy teen elfuur uit, is tipies Suid-Afrikaans. Pap en tuisgemaakte boerewors, met mosbolletjies en groenvyekonfyt.

Tant Lily is apologeties. “Artritis en vroeg opstaan rym nie. Maar noudat hierdie ou vrou uiteindelik respektabel is, kom ons gaan sit buite op die balkon, dan vertel jy my hoe dit met jou en daardie fraaie kapteintjie gaan. Maar eers: hoe voel jou kop, poppie?”

“Buitekant goed; die sny was nie diep nie. Maar binnekant is hy baie deurmekaar,” erken Arabel.

“Jou hart ook,” raai tant Lily. “Jy is nie lekker nie, ek kan sien … Ons het baie tyd. Kom sit hier neffens my, kindjie, en vertel vir Ouma wat verkeerd is.”

Dis soos ’n kraan wat verstop was en waaruit die water nou skielik stroom. Arabel vertel van haar katastrofiese huwelik, oom Gerber en hoe sy Henning sommer net so gelos en weggery het. Hoe hy teruggekom het, maar nou ’n ander vrou liefhet en hoe sy weer van voor af oor hom gaan treur.

Tant Lily bring ’n boks snesies, maar beduie met ’n kwaai wysvinger voor Arabel se neus. “Dit beteken nie jy moet sit en huil oor daardie Kiki-vrou nie. Wil jy jou man terughê?”

“Hy is nie meer my man nie.”

“Het jy hom lief?”

“Ek weet nie. Dis waaroor ek deurmekaar is. Een dag wil ek hom hê, die ander dag nie. Ek bid hy moet my soen, maar as hy wil, wil ék nie. Ek verlang my dood, maar as ek by hom is, baklei ek met hom. Wat is dit met my, tant Lily? Is ek siek of is dit die stamp teen my kop?”

“Nee, poplap,” antwoord tant Lily met ’n glimlag.

“Jy is nie siek nie en dis nie die stamp teen jou kop nie.”

“Nou wat dan?”

“Dis die liefde wat dit aan jou doen. Jy is verlief, hartjie, tot oor jou ore verlief op daardie mooie eksman van jou. Voel hy dieselfde?”

Arabel vleg haar hande inmekaar en kyk radeloos op.

“Ek weet nie, tant Lily, en dis wat my nog meer verwar. Want hy weet self ook nie. Hy sê as hy sy hande om my nek sit, is hy nie seker of hy my wil omhels of verwurg nie. Ek is kinderagtig en maak hom kwaad. Al wat hy vir my voel, is die … e … lyf se soort dinge … tante weet mos wat ek bedoel?”

Tant Lily lag hardop. “Ek was darem ook jare lank getroud, met ’n man wat goed geweet het van daardie soort dinge. En ek kyk televisie; kyk nie net nie, maar sién ook. Dis ’n goeie begin – die heel beste pad na sy hart toe. Ou liefde roes nie, en as hy jou wil soen, staan stil en laat hom, sit jou arms om sy nek en soen hom terug. Dis mos lekker, nie waar nie? En as dit lekker is, sal hy nog wil hê en terugkom. Hy sal dié Kiki vergeet en weer met jou trou. Dis wat jy wil hê, is dit nie? Jy en hy wat saam die hele wêreld vol vlieg. Een lang wittebrood wat nie ophou nie …”

Arabel skrik. “Nee, dis glad nie wat ek wil hê nie. Ek wil nooit weer saam met hom op een vliegtuig wees nie. Tante het geen idee hoe aaklig hy is nie. Hy vind fout met als, en niks wat ek of die eersteoffisier doen, is reg nie. Nie een van die ander kapteins het oor my aankondigings gekla nie, maar hy sê ek gee verkeerde inligting en praat onnatuurlik. My romp is te kort, ek oortree regulasies en is altyd laat. Ek gaan hom binnekort weer met ’n ding gooi, ek weet dit!”

Tant Lily luister na die res van haar tirade, en toe Arabel klaar stoom afgeblaas het, sit sy rustig agteroor. “Jy is ’n mooie meisie en ek kan verstaan as hy gedink het jy verlei die ander offisier wat na die radio moes luister. Dis duidelik dat hy jaloers was, dis hoekom hy ook nie wil hê jy moet kort rompies dra nie. Jy ruk jou op oor niks. Sê liewer dankie dat hy so streng is, anders was ons almal nou haaikos.”

“Aan wie se kant is tant Lily?” verwyt Arabel.

Die fletsblou oë kreukel. “Aan jou kant, liefie, maar dis verkeerd dat jy hom hoog en droog by die hotel gelos het. Geen wonder hy word kwaad vir jou nie. Weet hy ooit waar jy is?”

Die swart krulle skud heen en weer.

“Het jy nie vir hom gesê jy kom hierheen nie?”

Arabel lig haar ken. “Dit het niks met hom te maak waar ek in my vrye tyd is nie.”

“Jy is obstinaat, poppie. Dis verkeerd.”

“Hy is erger. Daag uit die bloute op, vra nie of ék dalk ook ’n kêrel het nie, aanvaar as vanselfsprekend ek sit ses jaar vir hom en wag.”

“Hy was ordentlik om self vir jou te kom sê daar’s ’n ander vrou, eerder as dat jy dit later eendag by vreemdes hoor. Die minste wat jy kan doen, is om hom ook te konsidereer. Hy is verantwoordelik vir jou en as jy sommerso verdwyn, gaan hy mos bekommerd wees.”

“Ek het ’n boodskap by ontvangs én by een van die kelners gelaat.”

“Dis nie genoeg nie. Jy moes hom self gesê het en darem ’n foonnommer gegee het. Wat as ’n krisis opduik of hy kry nie die boodskap nie? Jy was dom, kind. Ek het ’n spesmaas hier kom moeilikheid.”

Arabel het al van gisteraand af dieselfde spesmaas, maar was te trots om dit te erken. Sy wil nie agter Henning aan bel nie, netnou dink hy sy is verleë oor hom en wil haar kleim afsteek.

Tant Lily het egter saam met die wysheid van die grysheid ook aansienlike mensekennis opgedoen. “Moenie hardekoejawel speel nie,” maan sy. “Bel hom, anders gaan hy jou bitter kwalik neem.”

Miskien is dit die regte ding om te doen. Maar toe Arabel haar selfoon optel, lui die deurklokkie en kom sê Lucy Lei van gaste wat slaapplek vra. Tant Lily keer, want Tasha is nie hier om te sorg nie.

“Hoekom kan ons twee nie vir hulle sorg nie?” sê Arabel. “Dit kan nie te moeilik wees nie, en dit gee my iets nuttigs om te doen.”

Tant Lily maak haar oë groot. “As jy kans sien … Tasha sal bly wees.”

Dis twee Suid-Afrikaanse mans verbonde aan ’n visfabriek. Hulle het van die Boere-gastehuis gehoor en soek slaapplek en ontbyt vir twee dae. Arabel vertel van die besienswaardighede en gee vir hulle brosjures, terwyl sy tussendeur die tariewelys soek en die register invul. Dan begelei sy die gaste na hul kamers, waar Lucy Lei wag met ryskoekies en groentee.

“Dit was nie so moeilik nie,” spog Arabel terug by tant Lily. “Hulle is heel aangenaam. Ek ken Hongkong en ek sal hulle mooi beduie wat om te kyk, te doen, te koop en te eet.”

“Is daar ooit lakens op die beddens?” vra tant Lily bekommerd.

Arabel druk ’n gerusstellende soentjie op haar wang. “Lakens, kussings, komberse, kimono’s agter die deur … Ek het handdoeke in die badkamers gesit.”

“Jy’s ’n voorslag.”

Wag tot sy moet koskook, geld spaar, ’n vakansie opoffer en begrip hê vir ander mense … Dan faal hierdie voorslag jammerlik, dink Arabel hartseer. Sy was horribaal. Sy verdien dat Henning Kiki Wallace bo haar kies.

“Tasha het gebel,” vertel tant Lily. “Die verjaarsdagviering hou langer aan en hulle bly tot môre.”

Slegte nuus, besef Arabel. Sy is bang dat sy gister te impulsief was en het gedink om veiligheidshalwe vanaand terug te gaan hotel toe, voor Henning weer soos ’n betonlorrie op haar afkom. Nou kan sy nie. Sy het hierdie ding begin en kan tant Lily nie alleen laat met die gaste nie.

Henning het dalk nie eens agtergekom sy is weg nie, troos sy haarself. En hy sal beslis nie eensaam wees nie. Tess sal maar te gretig wees om hom geselskap te hou.

Tasha het vir hulle ’n stapel DVD’s reggesit, al die ou romantiese flieks waarvan haar skoonma hou. Arabel maak vir tant Lily rooibostee en druk Clark Gable en Vivien Leigh in die masjien. Net toe sy dink daar’s nou bietjie rus en vrede en sy kan Henning bel, loer een van die vismanne apologeties om die sitkamerdeur. Brent of Mike – sy kan nie onthou wie’s wie nie.

“Ons was by die drywende hawe en opelugvismark, en as ek nog een sluk pienk of pers tee inkry, of warm ryswyn, gaan my niere ontplof. Asseblief, het julle nie ’n behoorlike bottel Boerewyn nie?”

Arabel lag. “Sekerlik. Eintlik is ek self ook ’n gas, maar ek gaan vind gou uit wat beskikbaar is.”

Die twee Kapenaars is hier vir sake en nie vir besienswaardighede nie. Hulle is seervoet geloop, het vir hul vrouens Mikimoto-pêrels as ’n aandenking gekoop en daarmee hul plig afgehandel. Nou wil hulle ontspan met ’n koue wittetjie in die hand.

Tant Lily is op haar stukke met al die geselskap. “Bring vir hulle van die wors en gekerfde biltong, poppie,” stel sy voor toe Clark Gable deur ’n sokkie-sokkie-CD vervang is.

Arabel speel noodgedwonge gasvrou. Sy bring eetgoed en bordjies, kuier saam en sorg dat almal genoeg wyn het. ’n Gemoedelike, vrolike atmosfeer heers, só jolig dat hulle nie die deurklokkie hoor lui nie.

Lucy Lei kom ontsteld in. “Man wait, man cross!” Arabel verstyf, met ’n nare voorgevoel op haar maag. Die spesmaas waarna tant Lily verwys het …

Brent gooi sy arm om haar middel en sokkie-sokkie ’n paar passies. “Nooi hom in en sê hy moet saam kom paartie!” doen hy luidrugtig aan die hand.

Arabel weet nie of Lucy verstaan het en of Henning gehoor het nie, maar die volgende oomblik staan hy in die sitkamer, sy gesig soos ’n blok ys. Mike druk ’n glas in sy hand en Arabel sidder: hy hou nie van wyn nie.

Brent beduie met sy wysvinger na Henning en kyk vraend na Arabel. “Wie’s die ysberg, poppie?”

Tant Lily hou haar positiewe bymekaar. “Dis haar man,” kondig sy aan.

Arabel stik en selfs Henning lyk van stryk af. Maar die aankondiging het die gewenste uitwerking. Brent los Arabel en Mike sit sy glas versigtig op die koffietafel neer. Die gletser lyk nie in ’n partytjieluim nie en hy wil nie moeilikheid hê nie. Hoe moes hulle weet die swartkoppie is getroud?

Een van hulle draai die musiek sagter. “Nog wyn, iemand?” bied Arabel aan om die skielike stilte te vul.

“Ek dink almal hier het genoeg te drink gehad,” antwoord Henning.

“Jy kan nie namens almal praat nie,” keer sy.

“Nee, jou man is reg,” stem Mike saam. “Dis al laat, ons moet gaan.”

Tipies Henning, dink Arabel. Hy moes by ’n stasie gewerk het waar hy heeldag treine kan rangeer. Sy kyk na tant Lily, wat haar skouers ophaal. Sy het haar deel gedoen, nou is dit Arabel se kwelling …

“Dis nog vroeg, bly gerus nog ’n rukkie,” nooi Arabel. “Julle is baie welkom.”

Hulle wil nie. Een maak die vuil asbakkies leeg en die ander een soek sy baadjie.

“Gaaf gewees om jou te ontmoet, meneer Coetzee.” Mike wink met sy kop na sy vriend. Hulle groet en mik deur toe.

Satyn Omnibus 6

Подняться наверх