Читать книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman - Страница 6
3
ОглавлениеArabel kyk na die nota in haar hand.
3 uur 10 min. 890 km/h. 11 200 m.
Henning se handskrif. Netjies en akkuraat uiteengesit. In die ou dae sou die presiesheid op haar senuwees gewerk het. Maar sy het verander. Ouer geword. Volwasse geword en noukeurigheid leer waardeer. Die meeste kapteins rammel die inligting af, tussen gesprekke met die beheertoring deur. ’n Mens moet fyn luister en probeer onthou, of vir ’n herhaling vra. Bedagsaam van Henning, erken sy teësinnig. Of dalk was die moeite spesiaal vir Tess, omdat hy gedink het sy is verantwoordelik vir die aankondigings.
Arabel hou haar dom. “Is dit Jaco? Julle sal ’n mooi paartjie maak voor die kansel.”
Tess kyk haar aan asof sy van lotjie getik is. “Jaco? Is jy laf? Hy is so opwindend soos gister se weervoorspelling. Ek praat nie van hom nie, ek praat van Henning Reynecke! Ek het nooit kon droom Kangeroo Jacks lyk só nie … Absoluut die mooiste bekvelder wat ek al ooit gesien het!”
Dit begin Arabel irriteer. “Hy’s nie ’n Aussie nie. Hy kom van Stellenbosch af.”
“Putsonderwater, of waar ook al … Maak nie saak nie. Het jy sy oë gesien? Onthou jy wat ek van Picasso en my blou periode gesê het? Syne is ’n kruis tussen seegroen en hemelsblou, met sulke lang, syerige wimpers. Roetswart. Amper meisie-oë, as dit nie was vir daardie macho mond en sexy lyf nie.”
“Tess!” protesteer Arabel. “Die arme man kruip onder die tafel in as hy moet hoor wat jy van hom sê.”
“Ek weet ek oordryf en raak op hol oor elke ou wat ek ontmoet. Maar hierdie keer is anders, Bella-bel. Hierdie is die groot liefde van my lewe. Jy sê altyd my hart is soos ’n pak marshmallows – altyd plek vir nog een – maar as ek die dag régtig verlief raak, gaan dit soos tien ton bakstene wees wat my tref. Wel, dit hét … Twintig ton! Dit voel of ’n trein in my vasgejaag het.”
“Ons vorige vlug was dit kaptein Du Plessis. En voor hom daardie Luigi-ou met die donker oë vol geheime. Nou weer Henning Reynecke. Nie marshmallows nie – eerder liekeries-ôlsôrts.”
“Is jy jaloers? Kwaad omdat ek Henning eerste gesien het?”
Eerste gesien? Tess ken hom ’n uur en sý ken hom al meer as sewe jaar …
Arabel is kortaf. “Jy is nie meer ’n bakvissie wat kort-kort ’n nuwe crush op ’n kys het nie. Genade, Tessa, jy het die man twee keer gesien. Jy ken hom skaars. Hoe kan jy so op hol raak?”
“Ek weet dit net. Daar sal nooit weer iemand anders vir my wees nie.”
“Hoe weet jy?”
“My hart sê dit vir my.”
“Bog. Jou hart kan nie praat nie. Dis net ’n biologiese orgaan wat bloed pomp.”
“Ja, professor,” beaam Tess sedig. “Wag tot jy eendag van jou troontjie afval en tot oor jou ore verlief raak, dan praat ons weer.”
“Het jy laat blyk hoe jy oor hom voel?” vra Arabel versigtig.
“Gee kans … Daar’s elke keer te veel ander mense by. Ons moet alleen wees êrens, met kerse, vioolmusiek en die geur van jasmyn.”
“Jasmyn gee hom hooikoors.”
Die oomblik toe die woorde uit is, kan Arabel haar tong afbyt. Sy is so van koers af, sy dink nie wat sy sê nie en praat haar mond verby. Tess is nie heeltemal so ’n botterkop soos sy klink nie, maar hopelik het sy niks agtergekom nie.
Tess bekyk haar ondersoekend. “Is jy sommer net katterig, of weet jy meer as ons plebs?”
“Sommer net katterig,” verseker Arabel haar en draai weg om deur die venster te kyk. “Ons begin taxi. Ek beter my aankondiging maak.”
Sy oorweeg dit om te begin hoes en ’n ander waardin te vra om die aankondiging te doen, maar besluit daarteen. Haar joklysie is alreeds te lank en gaan in die toekoms nog langer word. Daar is soveel vlugaktiwiteit op Johannesburg-lughawe dat Henning belangriker dinge gaan hê om op te konsentreer as die lugwaardin se aankondigings. En soveel statiese elektrisiteit in die lug dat hy nie haar stem sal herken as hy miskien tóg tyd maak om te luister nie. Hy het in elk geval geen idee dat sy op die vliegtuig is nie. Sy is veilig, veral as sy die mikrofoon ver van haar mond af hou en haar stem kamoefleer – laer praat, vriendeliker en rustiger as wat hy haar onthou.
Sy haal diep asem, tel die mikrofoon op en druk die knoppie. “Goeienaand, dames en here. Namens kaptein Reynecke en sy bemanning: welkom aan boord Jakaranda-lugdiens, vlug JA 636 na Mauritius en Hongkong. Ons vliegtyd na Plaisance-lughawe sal ongeveer drie uur duur, teen ’n togsnelheid van negehonderd kilometer per uur en ’n hoogte van elfduisend meter. U word versoek om tydens opstyging alle elektroniese toerusting af te skakel. Maak asseblief u sitplekgordels vas en onthou dat rook verbode is. Ons wens u ’n aangename vlug toe. Dankie.”
Gelukkig is Duits nie op hierdie roete nodig nie, net Engels. Arabel maak rustig klaar, in ’n effe geaffekteerde stem. Sy sien nie kans vir nog ’n dosis smoorverliefde Tess nie en gaan sit langs Madeleen de Beer tydens opstyging.
“Haai, Maddie. Hoesit met jou? Ook sproete gebrand op Las Palmas?”
“Moenie praat nie … My rug en skouers lyk of ek oproes. Joune ook?”
“Net my neus.”
“Jy’s gelukkig, jy’s dadelik bruin. Nie soos ek wat eers pienk word, dan rooi en dan lyk asof ek waterpokkies het nie.”
Arabel gesels nog ’n rukkie oor velrome en sonbrandolies, voor sy haar gordel losmaak en opstaan. “Julle moet wikkel met die drankbediening. Daar’s dié tyd van die jaar dikwels donderweer naby Madagaskar en as die kaptein die gordelligte aansit, bars ons om aandete klaar te maak voor landing.”
Arabel en die senior kelner het die trollie uit in die gang, gelaai met glase, bottels, blikkies en ysemmers, en trek by ry nommer 3 toe ’n diensklokkie agter hulle in die kombuis pieng. Dion Botha kyk om na die ligpaneel. “Oranje lig wat flikker. Dis die stuurkajuit wat roep.”
“Seker vir koffie of tee. Sal jy gaan hoor wat hulle wil hê?” vra Arabel. “Ek sal hier aangaan.”
Dion klim die wenteltrap op na die boonste dek. Hy is binne vyf minute terug, met groot oë. “Ek was nie baie welkom nie. Dis jou bloed wat hulle soek!”
Arabel klem die ystang vas. “Hoekom?”
“Ek weet nie, blykbaar iets met jou aankondiging te doen.”
“Hoekom?”
Hy tel ’n handvol roepees en werk uit hoeveel rand en sent se kleingeld hy moet gee. “Hou op om te vra hoekom en gaan vind by die kaptein uit wat jy gesondig het.”
“Ek kán nie …”
“Jy móét. Ek sal alleen bedien, so nie kan Vince kom help. Julle het mos klaar die oonde gedraai, dus het hy nie veel ander werk nie.”
“Het hy … e …” Ter wille van die passasiers probeer Arabel haar robot-glimlag behou. “Het hy pertinent vir mý gevra? Spesifiek my naam genoem?”
Dion dink na. “Nee, nie wat ek onthou nie. Net gesê hy wil die waardin sien wat die aankondiging gemaak het.”
Dit klink beter, maar Arabel bly onrustig en wil nie kanse waag nie. Sy stap die gang af na die volgende stasie, waar Tess-hulle al by ry 11 trek met die drankbediening. “Tessie, wil jy ’n hele rol handgeweefde sy hê om jou trourok van te maak?”
Tess is agterdogtig. “Die punt is: wat wil jý hê?”
“Ek sal in Hongkong vir jou ’n rol wit of roomkleurige sy koop, of enige kleur van jou keuse. Al wat ek in ruil vra, is dat jy moet sê jy het netnou se vertrekaankondiging gedoen.”
“Vir wie moet ek dit sê?”
“Vir die kaptein.”
“Is dit al? Wat is die vangplek?”
“Daar is nie ’n vangplek nie.”
Tess meng behendig ’n martini vir een van die Amerikaanse bofbalspelers. Geskud, nie geroer nie. “Hoekom is jou aankondiging ter sprake?”
“Ek weet nie. Die stuurkajuit het geroep en toe Dion gaan vra wat hulle wil hê, sê die kaptein hy soek die meisie wat die aankondiging gemaak het.”
“En jy is al weer te besig, jy het nie nou tyd nie?” raai Tess. “En ek moet ’n engel wees en gaan hoor wat die probleem is?”
“Dis reg.” Arabel sug verlig. “Dankie. Ek het geweet jy sal verstaan.”
“Nee, ek verstaan nie.” Tess meng nog ’n martini terwyl sy onderlangs sê: “Wat gaan met jou aan, Bell? Jy was in die kafeteria al vreemd, en van ons op die vliegtuig geklim het só weird mens kan met jou ploeg. Martie sê jy het maagpyn van iets wat jy geëet het … Strooi! Wat gaan aan?”
“Niks.”
“Jy kon nog nooit goed jok nie. My skouers is breed, as jy wil afpak.”
“Miskien later …” Arabel sug moedeloos. “Maar intussen: wees asseblief ’n engel, sal jy?”
“Net sê ek doen die aankondigings?”
“Ja. Hoor wat fout was; sê jy is jammer en wat dit ook al was, jy sal nooit weer nie. Dis nie so moeilik nie, is dit?”
“Nee.” Tess oorhandig die geldkas aan die kelner wat saam met haar werk en volg Arabel die gang op. Maar in plaas van met die wenteltrap op te klim na die stuurkajuit, keer sy Arabel in die kombuis voor. Haar gesig is sonder haar gewone ligsinnigheid, terwyl sy haar vriendin ondersoekend betrag.
“Jy probeer toesmeer, maar ek ken jou en ek kan sien jy is nie lekker nie.” Sy aarsel, dan sit sy haar hande op haar heupe en vra reguit: “Wat is dit met jou en kaptein Reynecke, Arabel? Ek het eers gedink dis iets tussen jou en Jaco, maar ek glo nie dis hy nie. Dis Henning Reynecke, nie waar nie?”
Arabel laat sak haar kop en druk haar vingertoppe teen haar slape, waar ’n spanningshoofpyn begin klop het. “My lewe is ’n gemors, Tess. Jy weet nie die helfte daarvan nie … Ek weet nie wat ek vorentoe gaan doen nie – of ek sal moet bedank of wat nie.”
“Bedank? Is dit só drasties?”
“Erger. Ek het vir jou en Martie en Berna en almal gejok. Ek is jammer.”
“Om vriende te wees, is om nooit te hoef sê jy is jammer nie.” Tess gee vir Arabel ’n snesie aan. “Wil jy afpak? Jy weet ek is hier vir jou.”
“Dankie. Ek sal later alles verduidelik … Maar gaan nou asseblief eers stuurkajuit toe en hoor wat Henning se probleem is, voor hy weer die klokkie lui. Hy is moeilik. Op die oog af gaaf en sjarmant, maar moenie dat dit jou bluf nie. Hy kan ’n aaklige boelie wees as hy lus het. As hy vra, moenie ’n woord van my sê nie. Sê jy ken my van geen kant af nie. Ek sal vir jou twéé rolle sy koop. Drie!”
“Dis nie nodig nie. Ek wil nie presente hê nie. Goed, ons praat later weer.”
Tess klim nadenkend die trap op, terwyl Arabel vir Vince gaan help – twee-en-dertig passasiers wat ’n viergangaandete kry, met ’n verskeidenheid slaaie, kaassoorte en beskuitjies.
Hulle is besig met die salmvoorgereg toe Tess terugkom, die ene glimlaggies. “Alles is opgeklaar. Dis oor die drie uur tien minute wat jy drie uur gemaak het, die 890 kilometer wat negehonderd geword het, ensovoorts. Ek het verduidelik dis Jakaranda se beleid om getalle af te rond en Henning het dit so aanvaar. Hy is nie moeilik nie, hy het net nie geweet nie, want ons reëls is anders as dié waaraan hy gewoond was. Hy het baie mooi verskoning gevra vir die misverstand en my vir sjampanje en ’n visbraai genooi vanaand op Mauritius, om sy eerste vlug by Jakaranda te vier.”
Hoe romanties, dink Arabel. Hy het nooit vir háár sjampanje gekoop nie. Daar was nooit geld of tyd nie. Afgesien van die flirtasie met Tess het hy nie verander nie. Steeds die puntenerige perfeksionis wat haar ’n pyn gegee het. Negehonderd en tien is negehonderd en tien, op die kop. Tot op die laaste millimeter. Sy kan maar haar horlosie stel: die wiele sal presies negentien minute oor nege op Plaisance grond raak. Sy ervaar skielik dieselfde gevoel van ontoereikendheid as vroeër. Dieselfde gevoel van minderwaardigheid en kloustrofobie, toe sy tot elke prys wou uitkom. Padgee. Wegvlug …
“Het hy oor my gevra?” vra sy.
“Nee.”
Dit beteken niks. Henning het seker ’n bemanningslys, of hy kan vir Jaco vra. Dis te sê as hy genoeg belangstel om sy eks se nooiensvan te onthou.
“Jy is welkom om saam met ons ’n glasie te klink,” bied Tess aan.
“Nee, dankie,” antwoord Arabel koel. “Ek wil nie derdemannetjie speel nie.” Sy weet sy is kleinlik, maar kan haarself nie keer nie. Te veel het gebeur en sy is oorspanne, met die hoofpyn wat al erger word.
Die boordingenieur het vooraf gewaarsku as die wolke soos geil blomkoolkoppe lyk, kan vlug 636 donderweer verwag. Hulle het nie tyd gemors met die etebediening en dokumentasie nie. ’n Halfuur voor landing is hulle werk klaar, die kombuis opgeruim en Arabel besig om in die BBP-sitkamer met die Chinese attaché te gesels. Hy vertel haar van die Chu Chiang-rivier, wat “pêrel” beteken, toe die stuurkajuit se deur oopgaan.
Dis hulle bevelvoerder. In volle uniform, met sy pet so effe skuins oor die linkerwenkbrou afgetrek, net soos op Langebaan. Behalwe dat die uniform donkerpers is pleks van die destydse grysblou. Hy is groter – langer, en sy skouers breër as wat Arabel hom onthou. Hartstogtelik aantreklik, met nog steeds die vermoë om haar hart te laat sweef, doer ver oor die reënboog. Sy mompel ’n vinnige verskoning en vlug by die toilet in voor Henning haar sien.
Binne bly sy roerloos teen die dun paneeldeur staan en verbeel haar sy kan sy naskeermiddel ruik.
’n Effe soet speserygeur … Sy kruis haar arms voor haar bors, skielik bang hy hoor haar asemhaling en wilde hartkloppings.
Hy en meneer Hong Lee praat Engels. Sy kan nie uitmaak waaroor nie, maar sy kan wel Henning se Australiese aksent hoor. “Strine”, noem hulle dit, want dis hoe hulle “Australian” uitspreek. Tot dusver was hy gerusstellend bekend, amper soos vroeër. Maar die nuwe aksent het ’n vreemde uitwerking op haar. Dit bring met ’n skok die besef terug dat sy en Henning uitmekaar is, dat hy ’n vreemdeling geword het wat lank reeds nie meer aan haar behoort nie. Hy kan flankeer met wie hy wil. As hy by ’n meisie wil aanlê en vir haar sjampanje koop, het dit niks met haar, Arabel, te doen nie.
Miskien moet sy Henning se voorbeeld volg en minder terugkrabbel na die verlede, dink sy. Miskien vir haar ook ’n kêrel aanskaf, al is dit net om haar eks te wys sy is nie oor hom verleë nie.
Ná ’n ruk raak sy moeg gesit op die toiletbak se deksel. Volgens die klank van die motore en te oordeel na die drukking teen haar oortromme het hulle begin daal. Sy moet die kleedkamers opruim en die kroeg sluit. Maar sy kan nie uitkom terwyl Henning in die sitkamer rondluier nie. Sy druk weer haar oor teen die deur. Die stemme is steeds hoorbaar. Sy kan nie verstaan hoekom Henning nie in die stuurkajuit is nie. Hy sal tog sekerlik nie die daling aan Jaco oorlaat nie. Wag hy vir haar? Is dit toevallig, of is hy besig met ’n speletjie om haar te toets?
Arabel vererg haar. Verbrands kinderagtig! Geen wonder sy het hom toentertyd gelos nie. Sy het al vergeet hoe koppig hy kan wees. As sy die dag ooit weer trou, gaan sy nie voor ’n lyf en ’n warm, sexy mond swig nie. Die man moet liewer so lelik soos die nag wees, dan weet sy immers hy het ’n mooi innerlike.
Sy tel tot by vyftig, dan maak sy die deur op ’n skrefie oop en loer uit. Henning is weg en meneer Hong Lee sit rustig en lees. Sy sluip op haar tone agter hom verby en af met die trap, na die veiligheid van die onderste vlak.
Wat ook al die kompetisie was: hierdie ronde het sý gewen.
Toe sy gaan sit vir die landing, kom sit Madeleen langs haar.
“Phil se rekenaar voorspel swaar reën môremiddag,” merk Madeleen op. “Maar die oggend gaan sonskyn wees. Lus om strand toe te gaan en nog ’n paar sproete te brand?”
“Klink lekker. Ek weet nie hoe loop my program nie. Ek sal jou bel, vroeg môreoggend.”
Madeleen weet Arabel doen gewoonlik haar eie ding. Sy wil graag hê dat hulle vriende moet wees, maar sy wil haar nie opdring nie. “Als reg. Sien jou as ek jou sien.”
Van Plaisance-lughawe na die Malagache Hotel is ’n halfuur se ry met die bus vir die bemanning, al langs die kus met sy koraalriwwe, tussen die suikerrietlande deur. Dis ’n vrolike rit wat Arabel gewoonlik geniet. Vanaand verduidelik sy egter aan die busbestuurder dat sy haastig is: vriende van haar het onverwags opgedaag en wag by die hotel. Sy sal sommer ’n taxi neem, dis vinniger as die bus.
Vinnig genoeg dat sy al haar tas en sleutel sou kon kry en veilig in haar kamer is teen die tyd dat die res van die bemanning daar aankom … Arabel ontleed nie haar irrasionele optrede nie, want sy het nie antwoorde op die woelende vrae in haar gemoed nie.
Is sy bang vir Henning, daarom dat sy weghardloop? Of bang vir haarself? Gaan sy môre heeldag in haar kamer wegkruip en môrenag die helfte van die vlug op die toiletdeksel deurbring?
Sou sy saamgegaan het as hy haar ook vir sjampanje genooi het? vra sy haarself af. Dalk net so ’n rukkie gesels het, heel beskaaf, oor dit en dat, sonder om ’n groot storie daarvan te maak? Dit sou miskien die ys gebreek het en hul verhouding vorentoe vergemaklik het. Een of ander tyd sal haar kop by haar hart moet oorneem sodat sy kan ophou weghardloop, gaan stilstaan en hom in die gesig kyk.
Die kans is goed dat hy weet sy is op die vlug. Hy is nie onnosel nie, en as bevelvoerder is dit sy werk om te weet wat op die vliegtuig aangaan. Al is hy haar eks, is hy nogtans haar bevelvoerder en, streng gesproke, haar baas. Sy moet hom seker darem net groet. Nie om die hals val nie, minstens net beleef wees en vra hoe dit gaan.
Dis môre se probleem, besluit sy terwyl sy in die rammelkas-taxi met die seildakkie klim. Vanaand wil sy in ’n warm bad lê met baie badskuim, haar oë toemaak en die wêreld om haar uitsluit. Dan in die bed kruip en soos ’n volstruis die kombers oor haar kop trek.