Читать книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman - Страница 5

2

Оглавление

Arabel teken aan vir vlug JA 636 na Mauritius en Hongkong. Sy kry die weerverslag en passasiersinligting: 270, wat insluit ’n Chinese attaché in eersteklas, ’n hartlyer wat ekstra suurstof aangevra het, en ’n bofbalspan in toeristeklas. Nie te erg nie.

Ná sy haar noodhulptas aangevul het, sluit sy haar posbus oop om te kyk vir boodskappe. Daar is ’n brief of iets – ’n toegeplakte koevert met buite-op haar naam in ’n handskrif wat vaagweg bekend lyk. Peet Saaiman? Weer pizza of pasta? Sy druk die koevert in haar handsak en gaan soek koffie in die kafeteria, soos hulle gewoonte is met die aanvang van ’n lang vlug.

Tess is reeds daar en Martie Duvenhage, met wie Arabel goed klaarkom. Ook drie van die kelners en die eerste-offisier – ’n frisgeboude ou saam met wie sy al gevlieg het, maar sy kan nie sy van onthou nie. Jaco iemand … Aangenaam, maar bietjie voorbarig.

“Het jy tasse vol geld gebring?” vra Tess.

“Om te wat?”

“Te koop. Ek wil in Hongkong vir my ’n Chinese Cheongsam-rok laat maak van handgeweefde sy. Dis so sensueel teen ’n mens se kaal vel …”

“Bêre jou geld vir die kos,” sê die eerste-offisier. “Ek dooi oor haaivinne.”

“Haaivinne?” ril Tess. “Ek sal ook dooi, maar van gril!”

“Gee liewer jou geld vir die voëls,” sê Arabel. Nie een van die ander was al in Hongkong nie, en sy verduidelik: “Nie ver van ons hotel af nie is ’n steeg genaamd Bird Street, met rye en rye voëlhokkies – letterlik duisende – wat ’n Babelse gekwetter afgee en jou ore laat tuit. Jy betaal die eienaar van die hokkie ’n paar Hongkong-dollars, maak die deurtjie oop en laat die voëltjie vry. Dis pragtig as sy blink ogies so dankbaar vir jou kyk, hy sy vlerke klap en die lug in klief. Ek blaas altyd al my geld op die voëls en gaan honger slaap.”

“Beter as om jiggie haaivinne te koop,” stem Tess saam.

Die kelners bied aan om koffie te gaan kry. Toe Arabel haar suikerpilletjies uit haar handsak haal, sien sy weer die koevert. Dis nie te sê dit kom wel van Peet af nie, dis dalk iets belangriks, dink sy terwyl sy die flap oopskeur. Binne-in is ’n alfabetiese lys van Jakaranda se buitelandse vlieëniers. Arabel se keel is droog en sy neem ’n sluk koffie, ontsteld om te merk dat haar hand bewe.

“’n Brief van een van jou bewonderaars?” terg Martie.

Arabel hoor haar nie. Sien ook nie Peet se nota onderaan nie: Onthou die anderdag-afspraak vir die pastaplek. Haar oë soek teen die lys af. P … Q … R … En skok dan tot stilstand, terwyl haar hart met hamerslae teen haar ribbes klop.

Tot op die laaste het sy nog bly hoop, gedink sy is neuroties en soek spoke agter die bult. Maar daar staan dit, in groot vet letters: Reynecke, H.J.J. (kapt.)

Arabel se hand ruk – só erg dat die koppie val en warm koffie oor haar pers uniformromp stroom, oor die tafel en oor Jaco se broek en skoene. Tess pluk ’n verfrommelde snesie uit en Jaco sy sakdoek. Die skok oor Henning word genadiglik op die agtergrond geskuif terwyl Arabel draf om ’n lap by die toonbank te kry.

“Ek is vreeslik jammer!” maak sy verskoning. “Ek weet nie wat gebeur het nie.” Sy hurk en druk die lap teen Jaco se skoene. Sy vryf oor sy broek tot omtrent by sy kuite, maar toe dit lyk of daar hoër op – bokant sy knie – nog ’n nat kol is, gee sy die lap vir hom. Sy probeer ’n grap daarvan maak om haar ongemak te verbloem. “Ek dink ek het alreeds genoeg drooggemaak …”

Haar wange is pienk en almal lag, maar Jaco geniet dit. Hy wys na ’n kol teen sy bobeen. “Vryf nog bietjie daarso …”

Arabel skud haar kop.

“Hoekom nie? Die koffie gaan ’n vlek maak.”

“Ek … e … ken jou nie goed genoeg nie,” hakkel sy verleë.

“Wat wil jy nog weet? Ek is nege-en-twintig en ongetroud, ek het ’n kar, ’n duvet en ’n braaier, ek hou van rugby en ek slaap sonder pajamas.”

Arabel laat haar nie uitlok nie en verander die onderwerp. “Het die koffie jou nie gebrand nie?”

“Gelukkig nie op plekke waar dit saak maak nie,” skerts hy en knipoog. “Mooi meisies soos jy hoort nie op die vloer by ’n man se voete nie. Kom, laat ek jou ophelp.”

Hy sit sy een hand onder haar elmboog en die ander een op haar heup en trek haar orent. Dis ’n gedoente met die nat vloer, los handbagasie wat rondstaan en ’n stoel wat in die pad is. Arabel se voet haak agter die poot en sy struikel vorentoe, onder groot gelag in Jaco se arms in.

“Tjips!” waarsku Martie. “Sjuut, ouens!”

Arabel ontstrengel haar uit Jaco se greep en staan ’n entjie weg om tot verhaal te kom en haar skewe pet op haar kop vas te druk.

“Goeienaand,” groet ’n stem skuins agter haar. Effens dieper, verder nog presies dieselfde as wat sy dit in haar gedagtes aanhou hoor … Arabel voel asof ’n vuis haar in die maag tref. Haar hart spring só woes in haar keel dat sy skaars kan asem kry. Sy wil omdraai, maar haar bene voel soos rubber en sy moet aan die stoel vashou om nie om te val nie.

“Steur ek?”

Almal skarrel om hom te verseker dis nie die geval nie. Nee, natuurlik nie, hulle sit sommer hier rond. Drink sommer koffie … Wil hy nie ook ’n koppie hê nie?

Hy wil nie, nee. Dankie. Hy wil sommer net groet en kennis maak …

Arabel is dankbaar sy staan met haar rug na hom gekeer. Gelukkig is Jaco se bonkige gestalte tussen hulle. Hy het haar waarskynlik nie gesien nie en sal nie oplet as sy vinnig wegglip nie.

“Henning Reynecke,” stel hy homself voor. “Een van die nuwe aanstellings.”

Jaco spring omtrent op aandag. “Middag, kaptein! Aangename kennis. Welkom by Jakaranda-lugdiens.”

“Dankie.”

Arabel kan aan sy stem hoor hy glimlag, daardie effe skewerige glimlag wat sy so goed onthou. Wat aan sy een mondhoek trek, sodat hy half weerloos lyk en jy hom teen jou wil vasdruk, daardie hartbrekende mooi mond van hom soen. Lank en diep, om dieselfde vuur wat jy binne-in jou voel groei ook in hom wakker te maak …

Moenie! keer sy haarself. Dis verby tussen julle. Hy het weggegaan, want hy wou jou nie hê nie …

Tess steek haar hand uit. “Middag, kaptein. Ek is Tessa van der Merwe. Sommer Tess vir my vriende. Welkom by ons. Ek wens jou toe: sagte landings en miles of smiles.” Haar stem klink kortasem, asof sy ’n marathon gehardloop het.

“Dankie, Tess. Bly om jou te ontmoet.”

Arabel sien uit die hoek van haar oog ’n stuk donkerpers uniformmou met vier goue rangstrepe op toe hy sy hand na Tess uitsteek. Dan stap hy regs om die tafel. “En vir jou ook, juffrou … e … M. Duvenhage. Marie? Marietjie?”

Blykbaar na Martie se naamplaatjie opgelet, besef Arabel. Slim van hom. Maar dit het sy geweet. Sy het hom destyds van baie dinge beskuldig. Dat hy neuroties pligsgetrou is, arrogant, stroomop … Maar nooit dat hy dom of onoplettend is nie.

“Dis reg, kaptein,” antwoord Martie. “Die M staan vir Martie. Aangename kennis.”

Terwyl hy die kelners groet, skuifel Arabel links om die tafel, in die teenoorgestelde rigting. Toe Tess vra of hy saamgaan Hongkong toe, koes sy ongemerk agter ’n pilaar in en glip weg – so vinnig en so ver weg as moontlik.

Dêmmit! Die voorbarige Jaco het haar in ’n ongemaklike situasie geplaas, en soos die duiwel dit wil hê, sal dit nou juis Henning wees wat op daardie presiese oomblik opdaag. Hy het altyd die gawe gehad om op die verkeerde tydstip by die huis aan te kom: as sy pas die rys verbrand het, of ’n gesigmasker ophet, of in die bad was. Nie dat die bad altyd so ’n slegte idee was nie … Sy moes dit miskien meer kere probeer het, met kerslig en roosblare, dan het haar huwelik dalk langer gehou.

Dis nie net sy stem nie … Selfs sy gewrig en hand het so pynlik bekend gelyk. Bruingebrand en sterk, met groot kneukels en naels so kortgeknip, dit lyk asof hy hulle kou. Silwerskoon en netjies. Hande wat ’n spyker kan inmoker, ’n wiel omruil en ’n stuurstang vashou. Maar ook weet hoe om ’n vrou vas te hou. Ferm en tegelyk teer; sag en koesterend, of eisend …

Eers in die kleedkamer kom Arabel tot bedaring, met haar voorkop teen die koel teëls gedruk en ’n vuis teen haar mond. In die spieël bokant die wasbak is haar oë donker en onstuimig; haar gesig só bleek dat sy vir die eerste keer die sproete oor haar neus oplet. ’n Hele ry. Seker al van meer as ’n week gelede, toe sy in Las Palmas langs die swembad gelê het.

Sy kan net hoop dat Henning haar nie herken het nie. Hy kon nie, maak sy haarself wys, want hy het net haar rug gesien, terwyl hy op die ander mense gekonsentreer het. Hy kan tog sekerlik nie onthou hoe haar rug of haar agterkop lyk nie. In daardie dae was haar hare lank en reguit. Maar vandat sy dit kortgeknip dra, krul dit en lyk donkerder, amper swart. Dis hoekom sy ligstrepies laat insit het. Sy lyk totaal anders as toe hy haar laas op die Weskus gesien het – onthuts en vol verwyte, kruppel en op pad uit met haar tasse. Die dag toe hy Boetie vir haar gegee het …

Sy was ’n nare, ondankbare feeks. Pleks dat hy haar die trekpas gegee het, eerder as die MG se sleutels. Sy het nie eens dankie gesê nie. Nie gevra hoe hy sonder ’n motor gaan regkom nie, net uitgestorm en die voordeur agter haar toegeklap.

Berna is reg. Sy moet haar kop in skaamte laat sak, want sy kan Henning nie in die oë kyk nie. Geen wonder hy het nie die egskeiding teëgestaan nie. Hy het die dokumente van haar prokureur af sonder teenspraak geteken en dadelik teruggestuur, sonder kommentaar. Nie eens ’n briefie daarby nie. Of darem net ’n nota nie … Spoedpos, asof hy so gou moontlik van haar ontslae wou wees.

Na afloop van die skeisaak het sy hom laat weet dat sy haar nooiensvan teruggeneem het – ter wille van administrasie en om verwarring te voorkom. Maar ook uit ordentlikheid omdat sy gereken het sy is dit aan hom verskuldig om te meld dat sy nie meer sy naam dra nie; nie meer Arabel Reynecke is nie. Henning het nie die moeite gedoen om te antwoord nie. Dit was duidelik hy wou haar uit sy lewe sny en vergeet. ’n Ander lugmagbasis soos Hoedspruit of Waterkloof was nie ver genoeg nie. Hy het uit die Suid-Afrikaanse Lugmag bedank en is Australië toe – aan die ander kant van die aardbol. Met net ’n posbusnommer …

Henning het seker gedink sy is nog in die Kaap, by haar ouers of ’n nuwe man, en dat dit ná ses jaar in ballingskap veilig is om terug te kom. As hy geweet het sy is in Kempton en ’n lugwaardin by Jakaranda, sou hy ver weggebly het.

Wat gaan sy doen as hulle ’n week lank op dieselfde vliegtuig is? wonder Arabel radeloos. Sy kan nie sewe dae lank wegkruip nie. Of ’n donkerbril dra of ’n serp om haar kop nie. Dis te laat om te sê sy het oorpyn, sy kan nie vlieg nie. Kan sy op die roltrap val en voorgee sy het haar enkel verstuit?

Martie kom in terwyl Arabel haar kuif onder die kraan druk en vorentoe kam, laag oor haar oë. Die kamoeflering laat haar anders lyk, maar nie anders genoeg nie.

“Ook maar goed dit was nie tee nie,” sê Martie. Arabel staar haar verward aan. “Tee vlek erger as koffie,” verduidelik Martie. “Sukkel jy om jou romp skoon te kry? Jy het so lank weggebly, Tess het my gestuur om te kom kyk of jy hulp nodig het.”

“Ek kom reg, dankie.”

Arabel is trots daarop dat haar stem normaal klink. Soos ’n eend op ’n dam: bokant die water swem hy heel rustig, maar onder die water trap en roei daardie twee pote soos besetenes. Totdat hulle die dam onder die eend uitruk … Soos nou met haar gebeur het.

Martie is nie geflous nie. “Wat makeer? Jy lyk soos iemand wat ’n spook gesien het.”

Arabel se vingers klem die wasbak vas. “Miskien hét ek …”

“Hoe bedoel jy? Voel jy nie lekker nie?”

“Seker iets wat ek geëet het …”

“Moet ek vir jou iets vir naarheid bring?”

Asof pille sal help. As dit maar so maklik was … Arabel skud haar kop. “Gaan hy saam Hongkong toe?”

“Wie?”

“Die kaptein.”

“Kaptein Reynecke? Ja. Wat ’n fees van ’n man. Vriendelik, bedagsaam en nog mooi daarby. Hy gaan ’n droom wees om mee saam te werk.”

’n Droom? ’n Nagmerrie, ja …

Sy moes daarop bedag gewees het, besef Arabel. Hongkong is ’n gewilde oornagstop Australië toe en ’n roete wat Henning goed sal ken. Dis logies dat Jakaranda hom op die roete sal gebruik. As sy haar kop gebruik het, kon sy met ’n ander waardin vlugte geruil het. Sy sou selfs op die binneland gewerk het – die “melktrein” kuslangs, of die Durban-“klimtol”, wat niemand wil doen nie.

“Bedagsaam?” herhaal Arabel. “Ek stem nie saam nie. Ek het gedink hy gooi sy gewig rond. Kom daar aan asof hy vreeslik belangrik is en verwag dat ons alles net so moet los vir die hengse voorreg om hom te ontmoet.”

Martie kyk haar skuins aan. “Ons het dan net rondgesit. En hy ís belangrik. Liewe land, hy is immers ons bevelvoerder, of jy nou van hom hou of nie.”

“Nié,” herhaal Arabel. “Hou nié van hom nie.”

“Maar jy kan nie stry nie: hy is nogal iets om oor huis toe te skryf.”

“Ek sal nie ink of papier op hóm mors nie.”

“Jy moet jou breinselle laat tel. Hoekom nie?”

“Nie my smaak nie. Te oorweldigend. Ek hou nie van die kastige lang, donker en aantreklike tipe wat dink hy is die kat se snor en jy moet aan sy voete swymel as hy hom verwerdig om te glimlag nie.”

“Hoe weet jy hoe hy lyk as jy heeltyd jou rug op hom gedraai het?” vra Martie nuuskierig. “Het jy oë in jou agterkop?”

Arabel is ’n oomblik van stryk en verander vinnig die onderwerp. “Jy en Tess is ewe erg. Dink die son skyn uit al wat broek dra. Is daar nie iets nuttigers om julle mee besig te hou nie?”

“Nie wat ek van weet nie,” grinnik Martie. Sy steur haar nie aan die suur kyk wat sy van Arabel kry nie. Een of ander liefdesteleurstelling, nou loop sy draaie om mans. En die aantreklike nuwe kaptein is blykbaar nie ’n uitsondering nie. Tess sal bly wees, want dis minder kompetisie vir haar. Sy het dadelik haar wimpers vir hom gefladder en haar kleim afgesteek.

Arabel wag tot die laaste minuut voor sy aan boord gaan, totdat sy seker is die vlieëniers is veilig in die stuurkajuit. Sy kontroleer die kroegvoorraad en kleinkas; maak seker dat die BBP-sitkamer op die boonste dek netjies en die toilette volledig toegerus is. Toe die passasiers opdaag, wys sy sitplekke aan, deel koerante uit en bedien vrugtesap. Maar sy doen alles werktuiglik, soos ’n robot wat geprogrammeer is.

Dis nie ’n geval van net die volgende sewe dae moet oorleef nie. Haar toekoms by Jakaranda-lugdiens is ter sprake. Dis hoekom sy Berna probeer voorberei het dat sy moontlik kan bedank. ’n 747-makrostraler is te klein vir haar en Henning. Soos die eenslaapkamerwoonstel in Langebaanweg. Hulle het gedurig baklei. Oor alles gestry, gewoonlik tot hy die rusie kortgeknip het deur haar om te dop en te soen … Dan het sy met alles saamgestem en hom alles vergewe. Hy was ’n wonderlike minnaar. Romanties, sensitief en passievol. Maar hulle kon nie hulle hele lewe lank net op ’n wolk van hartstog en lyflike genot bly sweef nie.

Daar was te veel buitefaktore wat spanning veroorsaak het. Henning het Impalas gevlieg, as lid van die Rooi Arende, die prestige-vliegspan, toe daar skielik tydens ’n roetinemediese toets bevind is dat hy 5/6-visie het. Hy kon perfek lees, selfs die fynskrif; TV kyk, rekenaarwerk doen – alles sonder ’n bril of kontaklense. Maar op die nabootser, op kunsmatige nagvlug, was sy visie 5/6 en dit het hom gediskwalifiseer vir die Arende. Dit was ’n skok, en vanselfsprekend was Henning gestres.

Maar dit was nie háár wêreld nie en sy het nie werklik begrip gehad nie. Sy was heimlik bly omdat hy tydelik gegrond was en oorgeplaas is na die vliegskool se instrukteursafdeling. As instrukteur sou hy van agt tot vyf kantoorwerk doen en naweke tuis wees. Mahogany pilots, oftewel lessenaar-vlieëniers. Sy was bly, maar hy was gefrustreerd en uit sy plek. Hy het hom onttrek en haar vermy; gevoel hy is ’n mislukking en sy vliegloopbaan is verby. Dit het ’n negatiewe uitwerking op hul daaglikse omgang en hul huwelik gehad.

Sy het gedink afleiding sal help; as hulle meer uitkom, gaan fliek of uiteet of vakansie hou … Maar sonder die ekstra inkomste uit lugskouvertonings was daar nie geld nie, nie eens genoeg vir hul daaglikse uitgawes nie. Sy het haar studie opgeskop en gaan werk soek. Sy was jonk, sonder ervaring of kwalifikasies, en al werk wat sy kon kry, was by ’n apteek. ’n Sesdagwerkweek en bitter lang ure.

Saans was sy gedreineer. Permanent moeg en prikkelbaar, en sy’t haar man afgeskeep. Sy kon nie kook nie. Die kos was elke aand ’n mislukking – óf ’n pappery, óf gebrand. Sy het ’n peperduur resepteboek gekoop, maar niks daaruit geleer nie. Henning het probeer help, maar hy het min tyd gehad en nagte deur geswot. Dit het hom geïrriteer dat sy nie kon huishou nie en so onprakties was. Hy het die volkleur-resepteboek deurgeblaai en neergesmyt. Hoe de joos kon sy steurgarnale en brinjal-pastei aanpak as sy nie eens ’n basiese eier kan bak nie?

Die koffie-fiasko in die kafeteria was maar net die begin, dink Arabel. Haar kop gaan uithaak en sy gaan weer dom goed aanvang. Die oonde te warm stel en die aandetes verbrand, of vir die hartlyer koolsuurgas gee pleks van suurstof. Net toe sy begin dink sy is oor die egskeiding en dalk moet sy uit haar dop kruip en arme Peet ’n slag bel.

Hoekom het Henning Reynecke nie vervlaks tussen die kangaroes en bloekombome gebly nie? Haar lewe was goed georden, en nou het hy alles van voor af kom omkrap. Sy wil nie weer by Henning betrokke raak nie. Die gevoel wat sy eens op ’n tyd vir hom gehad het, het saam met die blink resepteboek in die asblik beland. Al wat van die vuur oorgebly het, is ’n ashoop vol seer herinneringe en negatiewe assosiasies.

Sy haat hom omdat sy hom so liefgehad het, probeer sy haar emosies ontleed en die maalkolk van teenstrydighede in haar binneste regverdig. Rym dit, of is sy mal?

Arabel sorteer die DVD’s en help die kelners in die kombuis. Sy hou aan uitstel en ander peuterwerkies doen, totdat Tess naderhand na haar kom soek.

“Hoekom doen jy nie jou vertrekaankondiging nie? Het jy vergeet, of moet die arme passasiers maar self uitwerk hoe hoog en vinnig en lank hulle na Mauritius gaan vlieg?”

Arabel hou haar skielik besig met ys uithaal. “Ek het nie nou tyd nie. Wees ’n engel en gaan kry asseblief gou die data in die stuurkajuit.”

Tess laat haar nie twee maal nooi nie en Arabel voel sommer kwaad – vir haarself, vir Henning én vir Tess, wat eers parfuum aansit voor sy die trap op trippel stuurkajuit toe. Wat de joos gee sy om as Tess hom wil beïndruk? Sy kan Henning op ’n skinkbord present kry. Sy sal gou genoeg haar fout agterkom as hy in een van sy macho-buie is.

Tess bly lank weg. En toe sy uiteindelik van die boonste dek af terugkom, is dit met blink oë en bloesende wange. “Bella-bel?” vra sy, in dieselfde uitasemstem van vroeër. “Hoor jy die klokke?”

“Klokke?” Arabel frons. “Watse klokke?”

“Kerkklokke en orrelklanke, sjampanjeproppe en klinkende glasies.”

“Gaan jy iemand se strooimeisie wees?”

Tess is gegrief. “Ek gaan die brúid wees, vriendin!”

“Veels geluk! Mag daar nog vele meer wees en kinders by dosyne, almal soos tant Koek se hoenderhaan. Het jy die vlugdata gekry?”

“Ja.” Tess oorhandig ’n nota met ’n ry syfers daarop geskryf. “Jy vra nie wie die bruidegom gaan wees nie?”

Arabel wil nie weet nie. “Jy het nie nou tyd om te trou nie,” skerm sy. “Julle moet ’n drankbediening doen, dan aandete en dan koffie. Miskien sal daar later, tydens die fliek, ’n kans wees …”

“Toemaar, spot maar,” verwyt Tess. “Ons is nie almal so abnormaal soos jy, met ysblokkies in ons are nie. Party van ons is van vlees en warm bloed gemaak. Hoor wat ek vir jou sê: Ek het vandag my droom-man ontmoet. My trou-man!”

Satyn Omnibus 6

Подняться наверх