Читать книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman - Страница 13

10

Оглавление

Op die kaai, by die boeg van ’n Amerikaanse torpedojaer, bly Henning staan en bekyk die bedrywighede van seekadette op die dek. “Ek was destyds mal verlief op jou, Bellie,” sê hy sonder om om te kyk. “Obsessief verslaaf aan jou.”

Sy wens hy wil haar nie Bellie noem nie, dis te intiem, terwyl sy objektief wil bly.

“Ná ons uitmekaar is, het ek nie gedink daar sal ooit weer iemand wees wat jou plek kon neem nie. Ek het vrouens vermy en soos ’n monnik geleef. Impalas gevlieg, Pipers, selfs ’n vooroorlogse Dakota en ’n Pilatus vir ’n valskermklub. Self ook valskerm gespring en ’n duikinstrukteurskursus by die Great Barrier Reef gedoen – alles kompensasie om my aan die gang te hou tot ek eindelik weer mens kon word.

“Oorkant die strandhuis wat ek gekoop het, het ’n sewejarige seuntjie gebly. Ek het vir Danny leer elwe vang en hy het my geleer om billy tea te maak en my pet agterstevoor te dra, soos ’n bofbalspeler. Hy het ’n hond gehad, Buster – sommer so ’n steekbaard wat ons gedeel het. Danny se ma was ’n fiksheidsinstruktrise op die plaaslike televisiekanaal – haar het ek eers lank daarna ontmoet, toe ek en Danny al dik tjomme was. Toe hy al ’n kite van die grond af kon kry en ek ‘Waltzing Mathilda’ kon sing.”

Henning kyk om na Arabel. “Bellie, is jy nog hier? Jy is so stil, ek dag jy het die pad gevat.”

Sy skud haar kop. “Nee, ek luister.”

Hy beweeg aan na ’n Amerikaanse vliegdekskip. “Kiki,” sê hy. “Haar naam is Kiki Wallace. Haar man was ’n alkoholis, wat haar aangerand het. Sy het hom jammer gekry, vir hom verskonings gesoek. Tot hy op ’n dag aan Danny geslaan het. Dit was die sneller en sy het die buffel te lyf gegaan. Hy het berserk geraak: die TV deur die venster gegooi, ’n bofbalkolf gegryp en die hele plek verwoes, vensters gebreek, kaste uitmekaar geslaan en gedreig om haar te vermoor. Danny het kopgehou en my kom roep. Ek het die ghwar opgefoeter en die polisie en ’n ambulans gebel. Kiki was sleg beseer en sy het harsingskudding opgedoen. In die tyd wat sy in die hospitaal was, het Danny by my gebly en ek het baie lief vir hom geraak.”

Een van die halfdosyn seuns wat hy altyd wou gehad het … Arabel sê niks, wag net op dit wat sy intuïtief weet nou gaan kom.

“Geleidelik vir sy ma ook,” gaan Henning voort. “Ek is saam met Kiki deur haar egskeiding, en toe sy haar werk verloor het omdat die sny aan haar gesig ’n lelike litteken gelaat het. Ons het mekaar se pyn verstaan en ook die letsels aan die binnekant geken. Haar huis was verwoes en sy was sonder ’n inkomste. Omdat ek ’n groot huis gehad het, was dit vanselfsprekend dat sy en Danny en Buster by my sou intrek. Dit was vir my ’n helingsproses om weer ’n vrou in my lewe te hê wat vir my sorg. Vir my omgee … Maar ons het nie ’n kamer gedeel nie.”

“Jy skuld my nie verskonings nie. Wettiglik is jy ’n vry man wat verhoudings kan hê met wie jy wil.”

“Wettiglik, ja. Op papier …” Hy kyk na haar en Arabel sien ’n trek in sy oë wat sy nie ken nie. “Ek dink hoekom ek tot Kiki aangetrokke geraak het, was oor haar oë. Sy is blond, maar haar oë is bruin met goue vlekkies in, soos joune. Ek het haar van jou vertel. Van die swartkop in die Kaap by wie my hart agtergebly het, maar wat my weggejaag het.”

“Is nie!” roep Arabel uit. “Ek het jou nie weggejaag nie.”

“Jy het gesê jy haat my en wil my nooit weer sien nie; ek moet in Ysland gaan bly en nooit terugkom nie.”

Sy herken haar woorde van daardie laaste Vrydagaand aan die einde van die maand, toe sy oortyd moes werk …

“Ek het rede gehad.”

“Om my koueplek toe te stuur?”

“Om emosioneel uit te bars …”

Oom Gerber van die apteek was suinig en skynheilig, met ’n oog vir jong meisies. Die onsmaaklike grappe en insinuasies kon sy hanteer. Sy het maar links gehou, haar oorjas tot bo toegeknoop en gesorg dat hy haar nie alleen in die stoorkamer kry nie. Maar daardie aand het hy haar gevra om laat te werk – die maandeinde se voorraadopname te doen. Sy kon nie weier nie, sy het die werk en geld nodig gehad. Sy het by die verste rak, by toiletware begin: die tandepastas en sjampoes getel, elke koekie seep, elke bottel badolie, haarsproei, opknapper en deodorant.

Oom Gerber was ontevrede met die parfuum op die boonste rak: die ry was slordig. Hy het haar gestuur om die trapleer te gaan haal en bygestaan terwyl sy opklim, kwansuis om die leer vas te hou. Op die tweede sport het sy hand “per ongeluk” aan haar kuit geraak toe hy kastig sy greep op die leer vervat het. By die derde sport was sy warm, sweterige hand teen haar bobeen en onder haar romp in, sy vet vingers grypend en voelend. Sy het voorgegee sy skrik, haar balans verloor en van die leer afgeval. Haar enkel het seergekry en sy was vol blou kolle, maar dit was ’n goedkoop prys om te betaal om van die grypende vingers te ontsnap.

Sy het kruppel-kruppel in die donker aangesukkel huis toe, baie jammer vir haarself. Sy het te veel sepies gekyk en ’n prentjie gesien van Henning wat haar in sy arms opraap, haar trane wegsoen en haar ’n nuwe lewe van kaviaar en rose belowe. Maar hy het by sy boeke gesit, haar nie hoor inkom nie en nie eens opgekyk nie.

Die woonstel was warm en sy het sweterig gevoel. Vuil en besoedel. Maar daar was nie tyd om te bad nie. Dit was amper nege-uur en daar was niks om te eet nie. Sy het ’n pot rys aan die kook gesit en ’n pakkie gevriesde maalvleis uitgehaal. Terwyl sy gesukkel het om dit ontdooi te kry, het die rys oor die hele stoof oorgekook, wat sy eers moes skoonmaak. Die pot vir die maalvleis was vuil van die vorige aand. Dit moes ook eers uitgekrap en geskuur word en die Sunlight Liquid was op. Sy het by die wasbak gestaan, haar gesig in ’n vadoek gedruk en kliphard gehuil, hopend Henning hoor en kom troos haar.

Maar sy eksamen die volgende oggend was klaarblyklik belangriker as sy vrou se welstand. Die eerste wat hy van haar bestaan onthou het, was toe sy aandete in gedrang was. Hy het by die kombuis ingestorm en die kastrol weggetrek.

“Iets brand!”

Nie eens ’n groet nie, ’n hallo of ’n soen nie. Arabel het die vadoek in die wasbak gegooi. “Kook jý dit dan as jy dit beter kan doen!”

“Dan gaan skryf jý my eksamen!”

Die hele plek het na rook geruik en hy het vensters oopgemaak, die gemors in die vullisblik uitgekrap en begin soek na brood en iets om daarop te smeer.

In daardie tyd het sy kamer toe gestorm en haar tasse gepak. Sy het gehoop Henning sal skrik en haar keer. Vra hoekom sy laat was, wat gebeur het en hoekom sy huil.

Hy was in die kombuis met sy rug na haar toe, besig om brood te sny. Hy het nie haar trane en seer enkel opgelet nie. En sy nie die donker kringe van ’n migraine-aanval onder sy oë nie.

“Ek loop!” het sy uitgeroep.

“Waarheen?”

“So ver weg van hierdie hool as wat ek kan! Ek haat jou en ek wil jou nooit weer sien nie. Gaan bly in Ysland en moet nooit terugkom nie!”

“Arabel, waarheen gaan jy?” het hy herhaal, asof hy nie verstaan het nie.

“Ek is ernstig. Ek kan hierdie lewe nie meer vat nie! Ek gaan na Berna toe.”

Hy het sy palms teen sy voorkop gedruk. “Gauteng toe? Hoe gaan jy daar kom?”

“Duimgooi!”

“Jy kan nie. Dis gevaarlik.”

“Die apteek is gevaarliker. Maar jy weet nie eens nie en jy gee nie om nie. Ek is net goed vir die kombuis en die slaapkamer. Verder ignoreer jy my en behandel my soos ’n sloerie.”

Sy het haar tasse gevat en uitgestap. Henning het haar probeer kalmeer. “Jy kan nie Kempton toe gaan nie, dis ’n duisend kilometer ver. Dis malligheid. As jy voel jy moet wegkom, gaan slaap by jou ma-hulle. Ek sal jou soontoe neem.”

Kan nie wag om van haar ontslae te wees nie, het sy gedink en haar seer agter aggressie verberg. “Ek is nie lam nie, ek sal self regkom.”

“Goeie idee.” Hy het die sportmotor se sleutels na haar uitgehou. “Ry self.”

“Met jou MG?”

“Jy het ’n rybewys en jy bestuur goed. As dit jou gelukkig sal maak, ry met hom. Vat hom vir jou en kom terug wanneer jy gereed is.”

Sy kon hom nie op daardie tydstip van oom Gerber vertel nie. Hy sou homself geblameer het omdat hy gefaal het, nie vir sy vrou kon sorg nie en haar aan sulke vernederings blootgestel het. Hy sou buite homself gewees het en oom Gerber gaan konfronteer het, nie verder geswot het nie en nie gaan eksamen skryf het nie. Alles waarvoor hy so hard gewerk het, oorboord gegooi het.

Sy kan nie onthou of sy dankie gesê het nie. Net ingeklim en gery …

Arabel kyk na die Amerikaanse vliegdekskip wat soos ’n Tafelberg bokant die sampans en veerbote uittroon. “Ysland?” herhaal sy. “Ek het in daardie stadium nie eens geweet waar Ysland is nie. ’n Mens sê soms dinge wat jy nie bedoel nie en waaroor jy later spyt is.”

Henning kyk om. “Jy het darem geweet waar Kemptonpark is.”

Sy laat haar kop sak. “Ek moes jou gebel het, maar ek was so ontsteld, ek het my selfoon vergeet.”

“Ek weet. Dit het op die tafel bly lê, saam met jou sonbril. Ek het aanvaar jy is na jou ouers toe en sou die volgende dag terugkom. As jy opgedaag het, sou ek jou met ope arms verwelkom het en al die skuld op my geneem het. Maar jy was weg en ek het nie geweet waar jy is nie. Jou ma ook nie, of enige van jou vriendinne wat ek gebel het nie. Eerste wat ek weer van jou gehoor het, was Berna wat laat weet het jy is veilig en gaan ’n onbepaalde tyd daar bly.”

“Toe ek ’n nuwe foon gekry het, het ek gebel. Ek wou terugkom en dinge uitpraat, maar jy was toe reeds op pad oorsee.”

“Ek het drie dae later by die lugmag bedank en moes vinnig ander werk soek.” Hy kyk nuuskierig na haar. “Het jy die hele ent pad deurgery, sonder kos, ’n kaart en jou sonbril?”

“Iewers het ek toebroodjies gekoop; ek kan nie onthou waar nie. Die sonbril was die minste van my probleme. Ek het verdwaal en in ’n aaklige motel vol luise geslaap. Maar ek het versigtig gery en nie jou motor gestamp nie. Jy kry hom in een stuk terug.”

Henning skud sy kop. “Hou die MG. Ek het hom in liefde vir jou gegee. Wat sal ek in elk geval met hom maak? Ek het ’n viertrek en ’n duinebesie.”

“Hierso?”

“Nee, in Perth.”

Daar is ’n sinkende gevoel in Arabel se binneste. Beteken dit hy gaan terug Perth toe?

“Sal die batterye nie pap word nie?”

“Nee, Kiki ry met hulle.”

“Wil sy nie dalk vir Boetie ook hê nie?”

Henning laat hom nie uitlok nie. Hy glimlag net en skud sy kop. “Kom ons gaan soek iets om te drink.”

Oorkant die hawe is ’n gesellige kroeg. Henning wag tot die kroegman hul bestelling bring en proe aan sy bier. “Ek het ook voorlopig die strandhuis gehou.”

Arabel neem ’n sluk wyn. In dié geval is dit medisinaal – haar keel is toegetrek. “Beteken dit jy is net tydelik terug in Suid-Afrika?”

Hy bly ’n oomblik stil. “Dit hang af …”

Sy sal nie vra waarvan nie, neem Arabel haar voor. Hy kan tien Kiki’s en twaalf Fifi’s hê wat vir hom wag, sy sal nie ’n oog knip nie. Sy wil nie weet nie. Sy gee nie om nie. Sy is nie jaloers nie en sy sal nie uitvra nie.

“Hang af van wat?” vra sy en verwens haar swakheid.

As hy vir haar gelag het, as daar net ’n halwe vonkel in sy oë was omdat hy weet wat in haar gedagtes omgaan, het sy haar wyn neergesit en geloop.

Maar Henning is ernstig, weer met daardie weemoedige uitdrukking op sy gesig.

“Van jou en my. Ons storie is nie klaar net omdat jy ’n stel skeibriewe op my bedien het nie. Ek het steeds ’n gevoel vir jou, Bellie. Of dit sentiment, gewoonte of slegs fisieke aantrekkingskrag is, weet ek nie. Dis hoekom ek alles tot stilstand gebring en teruggekom het, vir Jakaranda kom vlieg het en gevra het vir die Hongkong-vlug. Omdat ek jou wou sien en die week gebruik om jou opnuut te leer ken … en vas te stel wat die trekpleister is wat veroorsaak dat ek nie sover kan kom om Kiki te vra om te trou nie.”

Arabel sit versteen. Hy is reguit, soos sy hom ken. Maar dit was ’n mondvol en sy weet nie hoe om te reageer nie.

“Gevrá vir die Hongkong-vlug? Het jy vooraf geweet ek is daarop?” vra sy.

“Natuurlik. My fokus was aangetas, nie my sig nie. Ek kan nie net lugwaardinne se mates en bates lees nie, maar ook hulle vlugroosters.”

Arabel is verbaas dat hy grappe kan maak. Dis meer as wat sý kan doen. Sy moes geweet het hy sal nie tyd mors en dinge aan die noodlot oorlaat nie. Dis waarom hy haar sommer dadelik op Johannesburg-lughawe te sien wou kry.

“Moenie lyk asof ek jou op die treinspoor vasgebind het nie, Arabel. Ek is nie besig om jou en Kiki teen mekaar op te weeg en ultimatums te stel nie. Ons twee was voorheen oorhaastig; ons moenie weer dieselfde fout maak nie. Kiki stel nie eise aan my nie. Sý was die een wat gesê het ek moet eers van my bagasie ontslae raak voor ons aan trou kan dink. Dit was haar voorstel dat ek Suid-Afrika toe kom en jou uit my gestel kry.”

“Sy klink selfversekerd.”

“Nee. Sy is baie onseker van haarself. Amper neuroties afhanklik en bang vir die pyn van ’n huwelik wat weer kan misluk.”

“Ons klink nogal eenders.”

“Jy en sy? Hoegenaamd nie.”

“In watter opsig?”

Henning sit sy glas neer. “Dis moeilikheid soek, Bellie, om jou en haar te vergelyk – en ’n slaggat waarin ek nie gaan trap nie. Ek is lief vir jou en lief vir haar en lojaal aan julle albei, daarom kan ek julle nie oor en weer met mekaar bespreek nie.”

Arabel weet hy is reg, tog voel sy afgehaal, asof hy haar uitsluit.

“Ek gaan jou nie van nuuts af die hof maak nie,” terg hy om die atmosfeer te verlig. “Dit het laas nie gewerk nie en ek is nou te oud daarvoor. Of dring jy aan op blomme en sjokolade en komplimente en gepaardgaande hulpmiddels wanneer ’n ou na ’n nooi vry?”

Sy bly koel. “Asseblief nie. Spaar my die vatterigheid en sweterige handpalms.”

Hy is verontwaardig. “Is dit hoe ek was?”

“Alle mans is vatterig – vat ’n kans as hulle dit kry.”

“Ek was nie. Toe ek jou uit die see gevis het, huis toe geneem het en vir jou pajamas aangetrek het, was ons alleen. Jou ma het lank daarna eers by die huis gekom. Ek kon ’n kans gevat het, maar ek het nie.”

“Hoekom nie? Was ek te lelik?”

“Jy was die mooiste meisie wat ek nog gesien het. Ek het net geweet dis my toekomstige vrou en die ma van my kinders. Ek wou niks doen wat ons verhouding kon kelder nie.”

Soos sy ook gevoel het …

“Die betowering is steeds daar. Dit het my soos ’n tienpondhamer tussen die oë getref toe ek jou daar in die kafeteria weer sien. Ek was gefrustreerd toe jy my so vermy het. Ek kon dit nie hanteer nie en dis hoekom my emosies op die strand handuit geruk het.”

Hy maak nat kringetjies met sy glas op die toonbank. Dan kyk hy op, skielik verleë. “En amper weer, netnou in jou badkamer, tussen die borrels. Weet jy wat jy aan my gedoen het, vroumens? Ek kon dit nie waag om enigsins in jou rigting te kyk nie, want ek het geweet wat die gevolge sou wees. Dis waarom ek bang is om aan jou te raak, waarom ek liewer my hande in my broeksakke steek en ’n veilige afstand tussen ons hou: omdat ek myself nie vertrou nie.”

Arabel beny Henning se eerlikheid, want sy is anders en maak nie so maklik oop nie. Weet hy sy is jaloers en wil daardie Kiki-blondine se oë uitkrap? Sal hy gevlei voel of haar afskryf, op die eerste vliegtuig klim en teruggaan Perth toe?

“As ek netnou daar in die badkamer aan jou … e … geraak het,” sê hy, “sou jy toe ook gesê het ek is vatterig?”

“Ja, ek sou.”

“En ses jaar gelede, as ek my skeermes of tandeborsel neergesit het om aan jou te raak?”

“Nee, natuurlik nie. Jy was mos my man.”

“Het dit my die reg gegee om vatterig te wees?”

Die gesprek raak netelig en Arabel sluk senuweeagtig. “Ja, seker …”

“So, al uitweg sal wees om weer met jou te trou.”

“Wie sê ek wil weer met jou trou?” kap sy teë. “Jy maak asof ek ’n ryp pruim is wat sit en wag om gepluk te word. Daar is baie ander mans. As ek kamma so desperaat is, kon ek lankal met enigeen van hulle getrou het.”

Henning se skertsende houding verander in erns. “Ek weet. Dis waarvoor ek bang was.” Hy tel haar hand op en druk sy mond teen haar palm. “Drink jou wyn. Dan gaan ons met die funikulêr op tot bo-op Victoria-piek. Van daar het mens ’n wye uitsig oor Kowloon, wat nogal help om ’n ou se eie visie ook te verbreed. Of ons kan ’n veerboot haal en op die dek sit en luister hoe die water teen die boeg klots. Dis rustig en kalmerend. Ek weet, ek het albei beproef in die dae toe ek op ’n laagtepunt was en meer vrae as antwoorde gehad het.”

Sy trap alleen in die donker? wonder Arabel. Die bestaan van die ander vrou en haar seuntjie het haar geskud. Sy vertrou nie haar eie emosies nie. Sy’s bang as Henning weer aan haar raak, gaan sy uitrafel – haar arms om hom gooi en hom smeek om te bly, van Kiki te vergeet en haar nog ’n kans te gee.

“Miskien het ons albei alleentyd nodig om ons gedagtes te orden,” stel sy voor. “Ek dink dit sal beter wees as ons teruggaan hotel toe.”

“Miskien, ja,” stem hy in. “Vanaand gaan ons glo by Suzie Wong eet. Ek het gehoor Jaco nooi jou. Jy moet maar self besluit wie jy verkies – hy of ek.”

Asof daar ’n keuse is …

Maar sy gaan nie saam nie, besluit Arabel. Dit sal ongemaklik wees met sy en Henning wat oorbewus van mekaar is en spanning tussen hulle wat almal kan aanvoel. Sy is skaam vir Tess, wetend sy leef ’n leuen omdat sy niks gerep het van haar en Henning se egskeiding nie. Arme Tess weet nie eens dat sy hoegenaamd getroud was nie, wat nog te sê met hulle kaptein vir wie sy so ’n heldeverering het. En sy voel sleg oor Jaco. Hy het haar eerste genooi, maar sy weet Henning sal weer oorneem en hom sleg gedra. Dis beter dat sy haar skaars maak, dat sy afstand kry tussen haar en hom.

Satyn Omnibus 6

Подняться наверх