Читать книгу Satyn Omnibus 6 - Ettie Bierman - Страница 8

5

Оглавление

Henning kyk Arabel agterna, die uitdrukking op sy gesig ’n mengsel van ergernis en ongeduld, maar ook ’n tikkie humor. Hy waag dit egter nie om te laat blyk hoe geamuseer hy is nie, wel wetend wat haar reaksie sal wees. Toe sy aanhou loop, staan hy op en volg haar, hande in die broeksakke.

Arabel kyk oor haar skouer. “Is jy nie bang jy reën nat nie?”

“Ek is nie bang vir water nie.”

Nee, moet sy toegee, dit het hy in die verlede deeglik bewys. “Hoekom het jy dan nie gaan snorkel nie?”

“Omdat ek liewer na jou wou gaan soek.”

“Wat van Tess en Madeleen en die ander meisies?” Toe die woorde uit is, verwens sy haarself. Netnou dink hy sy gee om.

Hy haal haar in en kom loop langs haar. “Jy is mooier as almal van hulle saam.”

Arabel kyk onderlangs na hom. Sedig en vroom, maar met ’n vonkel in sy oë. Hy ken haar te goed en weet hoekom sy dit gevra het. Lank gelede sou sy gelag en erken het sy is jaloers – natuurlik, want sy het hom lief en hy is haar man en hy moenie saam met ander meisies gaan swem nie.

Maar nou is dit anders. Hulle is deur ’n baie seer egskeiding en kan nie net voortgaan waar hulle ses jaar gelede opgehou het nie. Die meeste egpare is bittere vyande ná hulle uitmekaar is, wrokkig en vol haat. Sy het gesweer sy wil hom nooit weer sien nie, en hy het ook daardie boek in sy lewe toegemaak, haar uit sy lewe gesny asof sy nooit bestaan het nie.

En nou is hy onverwags terug … Ewe vriendelik, asof niks gebeur het nie en hulle vriende is! Sy ken hom goed genoeg om te weet hy doen niks wat ongemotiveerd is nie. Hy het sy eie agenda, en sy wil nie deel wees daarvan nie.

Sy ignoreer hom en stryk aan, een oog op die dreigende wolke wat laag bokant hulle hang. Sy kyk nie voor haar nie en struikel oor ’n stuk dryfhout.

“Nie vir water, natreën of donderweer nie,” borduur hy voort. “Maar waarvoor ek wél bang is, is dat jy gaan seerkry met daardie verspotte skoene.”

“Sandale,” korrigeer sy. “Hulle is nie verspot nie, hulle is hoogmode.”

“As jy van daardie platforms afval, breek jy jou enkel. Of jou nek.” Hy hou sy hand uit. “Trek hulle uit. Gee, ek sal hulle dra.”

“Dis nie nodig dat jy my skoene dra nie,” protesteer sy.

“Sandale. Ek gee nie om nie. Ek het dit hoeveel keer in die verlede gedoen. Gee!”

Arabel onthou ook. By die strandmeer op Langebaan, op Saldanha, Kommetjie en Margate … Henning is altyd hoflik. Behalwe as hy kwaad is; as sy oë so ’n donker bottelgroen word, het sy geleer dis veiliger om uit sy pad te bly. Tot hy gereed was om haar te vergewe en op te maak. Dan was dit so hemels, sy was lus en baklei van voor af, net ter wille van die opmaak agterna …

Die sandale was ’n fout en dit sal ’n verligting wees om van die paar stelte af te klim. Arabel is bereid om hierdie ronde aan Henning af te staan. Nie net oor die simpel sandale nie, oor die reën ook. Maar dan bederf hy alles, soos op Clifton toe hy haar ’n dom bobbejaan genoem het.

“Ek wil nie vannag op die vliegtuig met ’n lugwaardin met ’n gebreekte enkel sit nie.”

Is dit al wat sy vir hom is – ’n lugwaardin met ’n enkel?

“Gaan blaas doppies!” Sy ploeter aan en val haar disnis oor die res van die stuk dryfhout wat onder die sand begrawe was.

Henning kom nader om haar op te help. “Het jy seergekry?”

Sy hand om haar elmboog stuur rillings teen haar ruggraat af. Dit laat ’n warm gloed deur haar ribbes en haar bors sprei, tot waar haar hart onstuimig begin klop. Sy kyk na hom en hul oë hou mekaar vas. Hulle staan roerloos. Woordeloos. Hy los nie haar arm nie en sy probeer ook nie wegrem nie.

Die donderweer rammel en dan maak die sluise oop. Arabel knyp haar oë toe terwyl die reën oor haar uitgiet. Dis te ver om terug te hardloop na die skuiling en vorentoe is net oop sand, met niks wat beskerming bied teen die gordyn water en tierende wind nie.

“Kom!” Henning pluk sy denimhemp uit en gooi dit oor haar. Hy mors nie asem op ’n argument waarin hulle weer verstrik gaan raak nie. Toe sy nie dadelik in beweging kom nie, gryp hy haar en trek haar soos ’n halfverdrinkte kuiken onder een van die visserskuite in wat bokant die hoogwatermerk op stutte uitgesleep lê. Hy lag terwyl hy op sy maag agterna kruip, tot teen haar.

Die hemp is nog warm van sy lyf se hitte. Dit ruik na speserye. Na hóm, daardie besondere manlike reuk eie aan hom … Hy het nog ’n T-hemp aan, wat sopnat oor sy rug klou. Sy hare is oor sy voorkop gepleister. Hy lyk nie soos ’n nougesette, streng makro-747-bevelvoerder nie, meer soos ’n sorgvrye jong seun met vakansie by die see. Sy arm druk teen haar skouer, maar Arabel skuif nie weg nie. Die skuit demp die klank van die druisende reën en skerm die wind af, sodat dit voel asof hulle in ’n kokon is. Net hulle twee, met die wêreld daar buite uitgesluit …

“Het jy soms op Qantas-vlugte in Suid-Afrika geland?” vra Arabel.

“Soms,” antwoord hy neutraal.

Dis vir haar nuus. Sy het aanvaar hy is ver weg, op sy helfte van die aardbol; êrens tussen Karatsji, Shanghai en Auckland.

“En jy het nooit gedink om my te bel nie?”

Sy is bly dat dit nie na ’n verwyt klink nie, eerder ’n belangstellende navraag. Maar langs haar kan sy voel hy verstyf. Hy laat rus sy ken op sy voorarms en kyk lank na die reën en die vlugtende meeue voor hy antwoord.

“Nee.”

Sy vra nie hoekom nie. Henning is terughoudend en dis beter om die onderwerp te verander. Daar is soveel ander dinge waaroor sy gewonder het en wat sy wil vra, vrae waarvoor sy onder ander omstandighede nie die vrymoedigheid sou gehad het nie.

“Dra jy deesdae kontaklense?”

“Nee.”

“Het die 5/6-visie reggekom?”

Dis gemakliker terrein en hy antwoord meer geredelik: “Ek het ’n tyd lank ’n leesbril gedra en nog las van hoofpyn gehad, maar ’n oogarts in Perth het ’n roetine voorgeskryf wat ek vier keer ’n dag moes volg. Dit het wonderlik gehelp, saam met senumedikasie en antidepressante. Anders sou ek nie Qantas se medies geslaag het nie.”

“Ek is bly, ek was bekommerd oor jou. Attie het my gesê jy vlieg vir Qantas. Hoekom het jy by hulle bedank?”

Arabel voel hoe hy sy skouers optrek en sy wonder of hy vies is oor die persoonlike vrae. Toe hy antwoord, is dit versigtig, asof hy eers moes nadink.

“Ek weet nie. Baie redes, en moeilik om een uit te sonder. Lus om aan te skuif, wanderlust uitgewoed, verveeld met dieselfde roetes, verlange na my land, moeg vir kangaroe-steaks. Ek weet nie. Net dat ek soos jou pa ook ’n distant drummer in my kop gehoor het, een wat gesê het dis tyd om huis toe te gaan.”

’n Klomp redes, op die oog af almal aanvaarbaar. Maar nie een wat régtig genoeg sê nie, dink Arabel. Hy maak toe, asof daar meer aan verbonde was en hy haar nie die volle waarheid wil vertel nie.

“Ek het jou pa gebel, maar ek glo nie hy het mooi geweet wie ek is nie. Hy het my Hendrik genoem. En ek glo nie hy het onthou om jou my boodskap te gee nie. Of het hy?”

Arabel trek haar asem afwagtend in. “Nee, hy het nie. Watse boodskap?”

“Groete. Ek het gevra hy moet vir jou groete sê.” Sy onthou hoekom sy hom destyds met die blompot wou gooi. As daar nou een naby was, het sy beter gemik.

“Hoe gaan dit met Berna en Dave?” vra hy.

“Goed. Die seuns word groot. Erik is op hoërskool en Derek in graad sewe, en albei is mal oor rugby.”

“Ek sal hulle graag wil sien. Jou suster-hulle ook.” Sy wonder hoekom hy haar pa gebel het, maar nie vir Berna of Dave nie. Miskien omdat hy weet sy woon by hulle. Seker bang gewees sy antwoord die foon of maak die deur oop as hy gaan inloer. Asof sy aan ’n aansteeklike siekte ly of in sy arms gaan spring en hom smeek om haar terug te vat.

Arabel se stem is ’n paar grade koeler. “Jy hoef nie. My suster is nie meer familie van jou nie en jy het nie ’n plig teenoor haar en jou eks-swaer nie.”

“Dis nie plig nie. Noudat ek terug is, sal ek hulle graag opsoek. Ek het goed met my skoonfamilie oor die weg gekom.”

“Beter as met my.”

Hy lag, maar reageer nie.

“En jou ma?” vra Arabel. “Hoe gaan dit met Mabett?”

“Aan die gang soos altyd. Sy is in ’n ouetehuis op Stellenbosch.”

“Ek weet. Ek het met haar kontak gehou.”

Hy knik. “Sy het my gesê. Sy is nog steeds lief vir jou.”

Liewer as wat haar seun vir my is, voeg Arabel in haar gedagtes by. Dis die hartseer daarvan … Ma Bettie het destyds gereeld kom kuier, haar geleer stryk en hoe om haar bedorwe seun se fiemies te omseil. Kamoefleer die broccoli met gerasperde kaas en gooi mayonnaise by die spinasie …

Maar ná die skeisaak was dit asof hulle katvoet om mekaar geloop het, omdat hulle verdeelde lojaliteite gehad het en bang was om kant te kies. Die tragedie van ’n egskeiding … vriende en familie is ongemaklik met die situasie. Die maklikste is om die probleem te vermy; liewer te sms as te bel, liewer ’n e-pos as ’n kuier.

’n Geskeide vrou is persona non grata. Almal is bang jy is uitgehonger en vry hulle mans af. Die gevolg is dat jy alleen tuis sit, ten beste dalk vir tee genooi word as die mans by die werk is, of vir ’n kombuistee of ooievaarspartytjie. Jy leer gou om te sê jammer, jy’s vreeslik besig – jy moet jou selfoon laai, ’n virus-check op jou rekenaar doen of jou potplante natgooi. Ná ’n ruk raak hul gewetes afgestomp en droog selfs die sms’e op.

“Ek en Attie het ook nog kontak,” sê Henning. “Hy sê jy het Boetie gehou. Ek dag jy het hom lankal op die skrootwerf gegooi.”

“’n Mens gooi nie ’n MG weg nie.”

“Het hy jou nie baie kopsere gegee nie?”

“Nie meer as jy nie,” antwoord Arabel reguit. Besef hy hoe verlore sy was en hoe die verlange in haar binneste geknaag het? Dit was makliker vir hom: hy het ’n nuwe lewe in ’n nuwe omgewing begin, terwyl sy alleen agtergebly het tussen die herinneringe, die skerwe en die eggo’s. Party van die CD’s en foto’s kon sy nie na kyk nie en lê nou nog in ’n boks bo in ’n kas.

Daar was ’n hemp, groen-en-wit gestreep, wat Henning die dag tevore nog aangehad het en in die wasgoedmandjie vergeet het. Snags as sy nie kon slaap nie, het sy die hemp in ’n bondel teen haar vasgehou, haar gesig daarteen gedruk, oor die materiaal gevryf en daaraan geruik. Só gehuil dat sy by die agterdeur uitgevlug het en buite in die donker op die trap gaan sit het. Een nag sommer ’n bottel slaappille wou drink; sover gegaan om die eerste handvol af te sluk en toe vir haarself geskrik – haar vinger in haar keel gedruk en die res in die toilet afgespoel …

Het hy ook soms alleen in die donker op ’n trap gesit? As hy het, hoekom het hy nie net die foon opgetel nie? Net gevra of sy regkom nie? Sy sou op haar knieë gepleit het hy moet terugkom. Die dag van hul huweliksherdenking het sy oortyd gewerk omdat sy bang was om alleen te wees. En omdat sy die geld nodig gehad het. Henning het oplaas al die rekeninge betaal en onderhoud aangebied, wat sy te trots was om te aanvaar. Maar sy was onprakties en het nie besef hoe duur die lewe is nie.

“Ek is jammer,” sê hy.

Sy kyk hom stil aan. Waaroor? Omdat hy ooit met haar getrou het? Of omdat hy nie al vroeër geloop het nie?

“Oor die kopsere.” Hy vee ’n nat haarstring van haar voorkop af. Hy aarsel; dit lyk of hy iets anders wou sê, maar van plan verander. “Noudat ek terug is, sal ek na Boetie omsien.”

Sy draai haar kop weg. “Jy hoef nie. Ek het ’n goeie werktuigkundige.”

“Ek verstaan die MG se nukke en grille.” Sy oë is onleesbaar toe hy sy vinger onder haar ken sit, haar kop terugdraai en die res van haar nat hare uit haar oë vee. “Soos ek destyds jou nukke en grille ook beter moes verstaan het.”

Dié erkenning vang Arabel onkant. Is dit sy manier om ’n verskoning aan te bied? Te min, te laat, dink sy. Henning het stringe vorige nooiens gehad, terwyl dit haar eerste ernstige verhouding was. Hy moes van beter geweet het as om haar adolessente uitbarstings ernstig op te neem. Hy moes gebly het en die huwelik probeer red het. Tensy hy ook besef het hulle het te gou getrou, voordat hy gereed was vir die verantwoordelikhede van ’n vrou en huishouding. Die egskeiding was dalk vir hom ’n gerieflike uitkoms, dié dat hy nie gekibbel of die skeisaak betwis het nie.

Arabel is bly dis skemerdonker onder die skuit, sodat hy nie die seer in haar oë kan sien nie. “Jy het gesê ek is histeries. Paranoïes.”

“Neuroties,” korrigeer hy.

“Dis dieselfde ding!”

“Dit is nie. Neuroties is minder erg.”

“Wie gee om? Ons is nie nou besig met ’n taalles nie.”

“Ék gee om. En dit was ook nie histéries nie. As ek reg onthou, het ek een keer, toe jy my baie verkeerd opgevryf het, gesê jy is kinderagtig.”

“Asof jý so danig volwasse was!”

“Arabel,” sug hy. “Asseblief, kan ons nie net vir hierdie een gesprek vir mekaar ’n olyftakkie gee nie, sonder om te kyk wie die ronde kan wen?”

Sy byt haar onderlip. Ses jaar ouer, maar niks uit die verlede geleer nie.

Henning se stem is laag, sodat sy mooi moet luister. “Ek het nie gebel nie omdat ek verwag het jy gaan die foon neerplak.” Hy gooi klippies oor die branderskuim hier naby hulle – plat, sodat hulle wipwip-wip in die water verdwyn. Hy kon altyd sulke dinge doen en sy, wat nie broers het nie, was gefassineer daardeur.

“Ek het baie aan jou gedink en dan ’n brief begin, partykeer ’n hele skerm vol geskryf, maar in plaas van send die delete-knoppie gedruk en die rekenaar afgesit. Attie het vertel dit gaan goed met jou. Jy het die egskeiding verwerk, weer begin swot, jou diploma ge-cum en gaan skoolhou. Ek wou jou nie ontwrig en indring waar ek onwelkom is nie. Jý was die een wat wou skei, nie ek nie. Jy het gesê dis finaal, jy wil my nooit weer sien nie. Niks wat ek gesê of gedoen het, kon jou van plan laat verander nie. Hoe meer ek verduidelik het, hoe harder het jy gehuil. Só erg, ek was bang jy word siek en voer jou dreigement uit om van ’n toring af te spring. Ek het nie ’n keuse gehad nie. Vredesonthalwe moes ek jou besluit respekteer en jou laat gaan.”

Arabel wens sy het ook ’n uitlaatklep gehad van klippe gooi. Grotes. Rotse. Teen haar eie kop.

“Ek was in so ’n toestand, ek kan nie alles onthou nie. Watter toring?”

“Ek weet nie.”

“Die kerktoring was te ver en jy sou my soontoe moes neem, en die watertoring so laag, ek sou hoogstens my enkel verstuit het. Het ek nie gespesifiseer nie?”

“Nee.”

“Hoekom het jy nie gevra nie?”

“Ek was te bang. Jy was baie kwaad vir my.”

Arabel wou haar woorde lig hou, maar Henning is ernstig. Sy onthou hoe gestres hy in daardie stadium was, bleek en moeg en gedurig met hoofpyn. Hy het sy werk verloor, sy visie was in sy maai, hy kon nie op sy instrukteurshandboeke fokus nie en sy vrou wou hom verlaat. Geen wonder Berna het gesê sy is aaklig en sy skaam haar vir haar selfsugtige suster nie.

“Pleks dat jy my ’n opstopper en ’n paar klappe gegee het.”

Hy skud sy kop. “Al het dit hoe woes gegaan, sou ek nooit my hande vir jou gelig het nie. Jy weet dit.”

Sy draai op haar sy sodat sy Henning se gesig kan sien. “Of my gesoen het,” spot sy, “dan was ons nou nog getroud, met tien kinders en twintig honde.”

Hy lag nie. Maar sy oë word sag. Hy reik na haar en rol haar om, styf teen hom vas, met sy mond in die holte van haar sleutelbeen. “Ek moes, ja – gebly het en dinge probeer regmaak het.”

“Jy moes …” Arabel wil meer sê, maar sy arms sluit om haar en hy soen haar. Eers veersag. Vraend, soekend en voel-voel, asof hy onseker is oor haar reaksie. Dan, toe haar lippe geleidelik onder syne oopgaan en hy haar warm lyf teen syne voel reageer, maak teerheid plek vir ’n sterker emosie en word sy mond hard en dwingend, honger en eisend teen hare.

Dis hoe sy geweet het dit sal wees. Wild en wonderlik … ’n Tinteling bruis deur haar are, iets tussen vonkelwyn en ’n borrelbad. Dit word ’n waterval wat oor haar spoel. ’n Krieweling vorm in ’n kol agter haar naeltjie en haar hande gly onder sy T-hemp in, vryf oor sy klam rug en skouers, dan om na sy ribbes en plat maag bokant sy styfpassende jeans.

Sy asem jaag in sy keel en met ’n kreun skuif Henning oor haar. Hy fluister haar naam oor en oor, in haar hare, in haar nek en teen haar keel, terwyl sy bobene haar vaspen en sy hande liefkosend oor haar lyf beweeg.

Arabel weet sy moet kophou, protesteer, losruk … Maar dis salig om in sy arms te wees en sy laat haar meesleur deur sy drif en die ekstase wat sy bekende aanraking in haar wek. Haar sinne duisel en sy soen hom terug met al die verlange en opgekropte hunkering van ses eensame jare, met al die vuur en hartstog wat hy van die heel eerste dag af in haar kon wakker maak.

Sy vingers voel onder die hemp en skuif die skouerbandjie van haar top af. Dis die gevoel daarvan, meer as die passie van Henning se hande teen haar kaal vel, wat Arabel met ’n skok na haar sinne terugruk. Dis asof ’n sirene in haar ore loei en waarskuwingsliggies agter haar ooglede flikker om haar tot besinning te bring.

“Nee, moenie!” roep sy uit en beur weg. “Henning, hou op! Jy kan nie, ons is nie meer getroud nie … Vat weg jou hand!” Toe hy nie dadelik reageer nie, stoot sy hom met geweld eenkant toe.

“Bellie?” fluister hy skor. “Ons –”

“Nee, Henning!” herhaal sy skerp. “Daar is nie meer ’n ons nie. Dis oor en verby, en wat ons doen, is verkeerd!”

Sy oë is donker en troebel. “Wie sê dis verkeerd?”

“Natuurlik is dit, ons is geskei. Staan op! Die reën is verby. Ons moet by die hotel kom. Ons vlieg vanaand en ek moet gaan klaarmaak.”

Hy soen haar op die voorkop, dan oorkruis op elke wang. ’n Eksperimentele wysvinger lig die soom van haar rooi toppie op en hy buig sy kop om met sy lippe die gleufie vel tussen die top en die wit kuitbroek te soek.

“Klaarmaak? Ek sal graag wil klaarmaak wat ons begin het …” beaam hy en steek hoopvol ’n arm uit om haar weer nader te trek.

“Henning!” sê sy ferm en wriemel onder hom uit. “Jy is nie nou by die huis nie. Kom by! Jy vlieg vanaand. Jy is die kaptein, jy kan nie laat wees nie.”

Kaptein Reynecke is min gepla en rol om op sy rug. Hy grinnik lui, trek sy knieë op en rek hom uit. “Hoe laat is dit? Gaan jy nie vir my koffie en beskuit in die bed bring nie?”

“Hou op grappe maak.” Arabel kruip onder die skuit uit. “As jy nie opstaan nie, gaan ek jou net hier los en loop!”

“Waarheen loop?”

“China toe. Alaska of Papoea toe!”

“Was jy al in Papoea?” vra hy belangstellend. “Dis net bokant Australië en waar daardie blink bloupers skulpe vandaan kom. Ek sal jou eendag soontoe neem. Hulle maak die heerlikste calamari met ’n peri-peri-sous. Of hou jy deesdae meer van kreef?” Arabel ignoreer hom. Sy trek sy hemp uit, vou dit netjies op en sit dit op sy bors neer. Dan begin sy doelgerig aanstap, om uit selfverdediging so ver moontlik van hom weg te kom. Hy doen dit opsetlik, weet sy. Hy maak haar kwaad sodat hy agterna vir haar kan lag. Haar kan soen en opmaak …

Sy tel ’n stuk bamboes tussen die opdrifsels op en smyt dit die see in. “Dêmmit, Henning!” kners sy tussen haar tande deur. “Ek is nie meer ’n naïewe en onverantwoordelike tiener nie. Moenie dit aan my doen nie! Vir jou was dit net ’n speletjie om te kyk hoe ek sal reageer. ’n Uitdaging om uit te vind of ek nog iets vir jou voel. Is jy nou tevrede jy het nie jou aantrekkingskrag verloor nie? Jy kan net aan my raak en ek swig opnuut voor jou …”

Sy is dankbaar dat hy nie agter haar aankom nie. Sy is skaam vir haarself omdat sy so min selfbeheersing gehad het. Skaam om hom in die oë te kyk. Sy loop al vinniger, verby die skeepswrak en palmbome, tot die hotel in sig is. Ná die reënbui is die patio weer vol sambrele, vakansiegangers en kelners wat drankies bedien.

Dis goed en wel vir hóm. Hy is seker hoogs in sy skik. Maar wat van haar? Haar trots en selfrespek? Sy het gesê sy haat hom en wil hom nooit weer sien nie. Maar kan ’n mens iemand een oomblik haat en die volgende oomblik soos was in sy hande wees?

Satyn Omnibus 6

Подняться наверх