Читать книгу Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman - Страница 10

7

Оглавление

“Lyk my jy’t die skoot hoog deur, sussie,” terg Vita die aand toe sy bel om die jongste nuus te hoor.

“Dwarsdeur my hart,” erken Carmia.

“Ek het altyd geweet as jy die dag vir ’n man val, sal dit soos ’n emmer nat sement wees. Is hy nog so moeilik?”

“Glad nie.”

“Wag maar, dis nog vroeg. Jy sal hom leer ken … Laat maar weet as ek vir jou ’n simpatiekaartjie moet stuur.”

“Jy’s pessimisties.”

“Nee, realisties. Weet Deneys al ons is susters?”

“Nog nie,” erken Carmia.

“Jy beter bieg. As hy dit van iemand anders te hore kom, gaan hy ontplof. En dan gaan jy meer as net ’n valhelm nodig hê.”

“Jy is bevooroordeeld. Hy was nog nooit onredelik teenoor my nie.”

Vita lag. “Jy het die man se toere só opgejaag dat sy enjin oorverhit het. Het hy dit toe darem reggekry om in die swembad af te koel?”

“Ek weet nie, ek het hom nie weer gesien nie. Margo het met ete vir hom gewag, maar daar was blykbaar ’n probleem met een van die stropers.”

“Deneys werk hard – dit sal ek hom ter ere nagee. Dikwels ná ’n deurnagvlug is hy die hele volgende dag op die plaas besig, sonder slaap.”

“Dis die eerste positiewe ding wat jy van hom sê, behalwe dat hy sag op die oog is.”

Vita klik haar tong. Waarsku help duidelik nie. Niks is so blind soos ’n eerste liefde nie …

“Hoe vorder Margo se boek?” verander sy die onderwerp. “Het die heldin nie maagpyn gekry van die wortelknolle nie?”

“Nee, die held is ’n veldkenner. Hy sal haar nie giftige plante laat eet nie.”

“Is hulle nog daar in die grot waar hy haar warm gevry het?”

“Moenie so banaal wees nie!”

“Toe Deneys jóú warm gevry het, het jy nie gedink dis banaal nie.”

“Dit was anders …”

“Hoe ‘anders’? Vry is vry.”

“Is nie. Ek kan oordeel – ek is darem al ’n paar keer tevore gesoen. Daar was Giep Smit en Siegfried van der Westhuizen … Onthou jy vir Siegfried?”

“Ongelukkig, ja,” antwoord Vita droogweg. “Hy het jou sekerlik nie ‘gesoen’ nie – niks so platvloers nie. Seker net inniglik ‘gekus’, met sulke dun, anemiese lippe wat nog nooit Lip-Ice gesien het nie. Jy het altyd sulke weird nerd-kêrels gehad, almal gelyk of hulle ’n skeet het! Giep Smit was net so ’n koue vis. Ek glo selfs as hy met ’n meisie liefde maak, sal hy nie genoeg hitte genereer om sy bril te laat opstoom nie. Bleeksiele, almal van hulle. Dié dat jy so opgeklits is met Deneys. Hy’s kookwater, warmer as selfs daardie papierheld van jou. Het jy al vir jou ’n mooi kaal sonrok gekoop om hom mee in die versoeking te lei?”

“Ek en Margo gaan môre dorp toe, maar ek kort eerder werksklere.”

“Ou Santjie Sober … Haai, ek moet ophou klets! Hier kom Andy en sy honger army ingewals!”

Margo was haastig dorp toe, maar die volgende oggend wil sy eers notas maak van die Survivor-roete, sodat sy die storielyn kan hervat wanneer hulle van die winkels terugkom.

“Bring jy solank die motor, Carmia,” stel sy voor. “Die sleutels hang aan die rak by die garage se binnedeur.”

Ná ’n lang week voor die rekenaar sien Carmia uit na hul uitstappie. Vir die geleentheid het sy ’n wit romp en ’n lemmetjiegroen top van Vita aan, en sy dra haar hare vir ’n verandering los. Rondry is nie werk nie, dis meer soos vakansie, en sy was nog nooit op Ballito nie. Net gehoor dis ’n pragtige, skilderagtige dorpie.

Sy vind die sleutel, gemerk Ouma se Wiele met sterk, ferm hoofletters. Waarskynlik Deneys se handskrif. Sy het hom nog nie vanoggend gesien nie, seker by die stroper besig. Of dalk slaap hy nog …

Margo se motor is ’n pragtige dingetjie. Silwer, met ’n harde dak. Die kieriehefboom is kort, die ratte na aan mekaar en die brandstofpedaal veertjielig. Carmia het nog nooit ’n sportmotor bestuur nie. Sy voel-voel en oefen ’n slag, maar krap die trurat met die uitry en verwens haar onhandigheid.

“Askies, dingie,” sê sy en tik die stuurwiel verskonend. “Die tannie is nog dom en aan trekkers en trokke gewoond.”

Deneys wag haar in toe sy by die stoeptrappies stilhou. Soos altyd wanneer sy hom onverwags sien, gee haar hart ’n wip en begin pomp die bloed teen ’n bruisende tempo deur haar are sodat haar hele lyf tintel. Hy lyk moeg en sy wens sy kon hom vashou en die tam lyne om sy mond wegstreel. Dis wonderlik om hom terug te hê, en sy het hom gisteraand gemis. Die huis was leeg terwyl hy weg was, en nóg leër toe hy teruggekom het, maar nie daar was nie.

“Môre!” groet hy. “Jy lyk soos ’n feetjie in die lente.” En bederf dan alles deur by te voeg: “Ek hoop nie jy het jou rybewys by dieselfde mense gekry wat jou leer tik het nie?”

Bedoel hy dit as ’n grap? Sy kyk vinnig na hom, maar kan nie uitmaak watter soort uitdrukking op sy gesig is nie. Is dít wat Vita bedoel het: dat hy buierig is?

“Ek sal agter julle aanry tot op die dorp,” bied hy aan.

Carmia swaai haar hare agteroor en lig haar ken. “Hoekom? Net omdat ek die rat een keer per ongeluk amper gekrap het? Omdat jy dink ek kan nie motor bestuur nie?”

“Omdat ek onderdele vir die stroper wil gaan kry,” antwoord hy rustig. “Omdat ek wil seker maak die twee vroue in my lewe is veilig. En omdat ek vir julle roomkoek en tee wil koop.”

Weer die twee vroue in sy lewe … Asof sy regtig vir hom belangrik is.

Miskien het sy haar te vinnig opgeruk en was dit sommer terg. Sy ontspan. “Dankie, dit sal lekker wees.”

Hy steek sy hand deur die oop ruit en onder haar hare in, vryf die syerigheid tussen sy vingers en streel met sy kneukels oor haar nek. “Ek hou van jou hare los. Dis vroulik, soos jy.”

Hy lyk skielik ernstig. “Ek’s bly jy is op Skamanga. Die hele tyd toe ek weg was, het ek daaraan gedink, en dat ek iets spesiaals het om na uit te sien wanneer ek terugkom.”

Sy bly woordeloos sit terwyl hy eers die ganse verwilder en dan vir haar die motordeur oopmaak. Hy bied sy hand aan en trek haar orent uit die lae sitplek. Sy oë flonker soos tanzanietstene as dit die skerp sonlig vang. “Dís die rede waarom ek van plat sportmotors hou: dit bied ’n man ’n genotvolle uitsig as ’n meisiekind met mooi bene uitklim.”

Die kort romp was ’n fout, besef Carmia. Sy moes by langbroeke gebly het. Sy is skielik terug by SeeSter, met Arno du Plessis wat haar grynslaggend beskou. Lyk sy soos ’n maklike poppie wat haar lyf adverteer?

Die dag is bederf en sy wil wegvlug na die bekende veiligheid van haar kantoortjie en die rekenaar. Sy is verlig toe Margo by die stoeptrappies afkom, sodat sy nie hoef te antwoord nie.

Margo lê haar hand liefkosend op die Kia se buffer. “Dit gaan ’n fees wees om weer te voel hoe sy ry! Deneys wil haar nie gebruik nie, net altyd die stowwerige bakkie of die viertrek. Het jy maklik met die ratte reggekom?”

Carmia maak haar mond oop om haar blaps te erken, maar Deneys spring haar voor. “So glad soos ’n koekie seep in die bad. Oumie se assistent is ’n dame van vele talente – nie net dekoratief nie, nog bekwaam ook.”

Margo neem hom ernstig op. “Ek het jou mos so gesê, maar jy het aanhou stry. Ek is bly jou oë het eindelik oopgegaan, Boetie. Aan die begin wou jy mos niks van haar weet nie.”

Deneys lyk effens verleë en verander die onderwerp. “Hoe lank gaan julle by die winkels besig wees?”

“Ek weet nie. So lank as wat dit twee vroue gaan neem om klere te koop, kruideniersware en tydskrifte …”

Hy rol sy oë hemelwaarts. “Tot anderjaar dus?”

Sy ouma glimlag liefies. “Of die jaar daarop.”

“Kry julle elfuur vir koek en tee by die Rendezvous?”

Margo lyk ingenome, maar verbaas. “O, is jy ook op pad dorp toe, liefie?”

“Bloot toevallig, ja.” Deneys maak galant die motordeur oop en help haar in. “Mooi ry, julle meisies!”

Carmia klim ook in. Sy trek stadig weg, versigtig om nie die honde en ganse raak te ry nie en veral om nie die ratte te mishandel nie. Deneys is reg agter hulle en hy sal weer baie te sê hê as sy droogmaak.

“Wat gaan Deneys op die dorp maak?” wil Margo weet.

Carmia rem op die draai en tussen die wit pilare deur. Liewer dat Deneys sê sy is oorversigtig as roekeloos, veral met sy ouma by haar in die motor.

“Onderdele vir die stroper kry,” antwoord sy.

Margo se wenkbroue trek op ’n plooi. “Oom Kappie is mos al vroeg weg Durban toe. Watse onderdele sal daar nou op Ballito wees?”

Carmia haal haar skouers op en konsentreer op die pad, oorbewus van die viertrek: breed en bonkig in haar truspieël. Die ergste sal wees as haar voet gly en sy per ongeluk die rem trap, sodat Deneys in haar vasry. Sy los als en vlug tussen die piesangbome in …

Dis ’n smal grondpad en lanklaas geskraap. Op ’n draai vang die linkervoorwiel ’n sandwal en gooi die ligte motor skeef oor die pad. Onder normale omstandighede sou Carmia geweet het om onmiddellik haar voet van die brandstofpedaal te lig en die stuurwiel in die teenoorgestelde rigting te draai, maar sy is senuweeagtig – sy pluk die wiel links en rem, sodat die arme Kia in ’n stofwolk dwars om die draai skuif.

“Oeps,” sê Margo. “Toemaar, dis niks, dit het met my ook al gebeur. Dis omdat die pad so droog is en oom Kappie-hulle dit lanklaas geskraap het.”

Die viertrek agter hulle is minder vergewensgesind. Sy ligte flikker waarskuwend.

“Ja, oukei, ek weet!” mompel Carmia en wuif verskonend met haar hand.

Dis nie goed genoeg nie. Die viertrek flikker weer en toe sy nie gou genoeg reageer nie, blaas Deneys die toeter en beduie sy moet stilhou.

“Bly net kalm, hartjie,” gee Margo raad. “Laat hy maar raas en skree as dit hom gelukkig maak. Moenie terugbaklei nie, dan waai dit gouer oor.”

Carmia hou stil, met die viertrek se buffer vas teen haar stert. Sy klim nie uit nie. Hoor ’n motordeur hard toeklap en sien hoe Deneys met lang treë na haar kant aangestryk kom. Sy pers haar lippe opmekaar. Dit was nie ’n halsmisdaad nie. Niks het gebeur nie, en dit kon enigeen oorkom …

Sy draai haar ruit af en wag vir die donder en blitse.

“Jy kyk te veel in jou truspieëltjie en te min op die pad,” sê Deneys.

Vita sê altyd jy laat nie ’n man met jou mors nie. En haar pa het Carmia in skaak geleer: as jy in ’n hoek gedruk is, is aanval jou beste verweer.

“Omdat jy nie jou volgafstand hou nie en ek bang is jy ry in my vas,” beskuldig Carmia hom.

“Oe-hoe!” fluister Margo onderlangs.

Daar is ’n blou flits in Deneys se oë, maar Carmia ken hom nie goed genoeg om die gevaartekens te herken nie.

Hy beteuel homself met moeite. “’n Sportmotor het ’n direkte stuur. As jy aan hom ruk en pluk, gaan jy die kar omgooi.”

“Die sandwal het my eerste gegooi. Dit sal help as julle die pad meer gereeld skraap.”

“Hartjie …” Margo tik haar waarskuwend op die arm.

Deneys lyk uit die veld geslaan. “Dis nie só lanklaas geskraap nie. Dis omdat dit lanklaas gereën het.”

“Jy het my ontsenu,” hou sy vol.

Deneys wil verder stoom afblaas, maar die groen toppie wat sy dra, het ’n V-vormige halslyn en aan die onderpunt daarvan wys ’n twee sentimeter lange verleidelike gleufie. ’n Halwe sentimeter sou genoeg gewees het om hom van koers af te bring. Skielik is hy ook ontsenu.

Hy maak keel skoon en dwing sy oë tot bokant haar sleutelbene. “Onthou: dis ’n direkte kragstuur. En bly in die middel van die pad – daar’s minder sand.”

“Goed, ek sal onthou,” gee Carmia ook ’n bietjie toe.

Deneys tree terug. “Sien julle elfuur.” Hy draai om en loop na die viertrek.

Langs Carmia blaas Margo stadig haar asem uit. “Jy speel op die treinspoor, kind,” waarsku sy.

Carmia gee haar ’n sonnige glimlag. “Niemand kan stry nie: hierdie rondte is myne!”

“Deneys is nie gewoond om tweede te kom nie.”

Carmia se nuutgevonde selfvertroue is terug. “Ek ook nie. Nie meer nie.”

Die res van die pad is die viertrek net ’n respektabele stippel in haar truspieël, en toe hulle die dorp binnery, swiep Deneys met ’n kopknik en ’n kortaf wuif verby, koöperasie toe.

Carmia kyk verskonend na Margo. “Jy dink seker ek was lelik met jou kleinseun. Ek het dit nie so bedoel nie. Deneys is ’n oulike ou en ek hou van hom. Maar ek moet myself laat geld, anders gaan hy bo-oor my loop.”

“Ek stem saam,” antwoord Margo. “Die moderne vrou moet weet én wys sy is ’n man se gelyke, nie sy vloerlap nie.”

Carmia is verlig dat Margo dit so aanvaar. “Jou heldinne is ook nie die soort wat in ’n hoekie sit en huil nie – hulle is allesbehalwe die askies-dat-ek-leef-soort.”

“Ja, ek verkies ’n meisie met woema.”

“Maar sy moet ook nie ’n feeks wees nie. Al weet ek Deneys bedoel dit goed, kom hy te sterk oor. Dis dan dat my hare rys en my naels ’n bietjie uitkom.”

Margo is verras. Sy kyk met nuwe oë na haar assistent. Nie so ’n ja-en-amen-valetjie soos sy die eerste dag gedink het nie. Carmia Basson het vele fasette …

Deneys maak nie maklik oop nie, en sy verstaan nie aldag wat in sy kop aangaan nie, tog het sy agtergekom hy is nie onbewus van die nuwe toevoeging tot die huishouding nie. Inteendeel: daar is allerhande onderstrominge tussen die twee jong mense. Dit sal insiggewend wees om die kragmeting dop te hou. Haar kleinseun is gewoond daaraan om sy sin te kry, maar wie weet, hy gaan dalk meer as net ’n rondte teen hierdie blondekop verloor.

Margo beduie vir Carmia waar om te parkeer. Daarna gaan wys sy vir haar die groentemark en snuisterywinkeltjies, en laaste haar gunsteling: ’n antiekwinkel wat in porselein en geelkoper spesialiseer.

Sy koop twee kandelare vir die eetkamertafel. “Lastig hier by die see, waar koper so maklik aanslaan, maar dink hoe mooi gaan hulle lyk met rooi kerse in! Daar oorkant is Suzanne’s, waar ek nou die dag die mooiste mooi sjaal gekoop het – so ’n Meksikaanse affêre.”

“Ek onthou: dramatiese pers, oranje en rooi. Jy het dit met ons onderhoud gedra. ”

“Kom ons gaan soek vir jou ook een.”

Margo kan met sjaals en serpe toor. Sy wys Carmia hoe om hulle te knoop, te bind, te drapeer en te gebruik as ’n hoed, ’n mus, ’n sprei oor ’n bank of selfs ’n gordyn.

“Daar’s my volgende boek,” spot sy. “As ek moeg raak vir reis en romanses.”

Carmia lag. “Margo Vermeulen: Die Nutsvrou!”

“En nou, oor wat giggle julle?” vra ’n vreemde stem met ’n Engelse aksent.

Carmia kyk om. Die stem behoort aan ’n smeulende donkerkopmeisie in ’n ontwerpersrybroek en stewels. Sy is heel duidelik deel van Ballito se eksklusiewe rykmanskliek.

Margo se gesig versober. “Hallo, Tasha.”

“Hi! Hoe gaan dit, aunt M?”

“Goed, en met jou?”

“Okay. Ek het afgevlieg vir ’n paar dae, vir die dressage-kampioenskappe. Daddy wil hê ek moet vir Desert Queen ry, sy’s bietjie frisky van te min oefening. En jy? Wat doen jy op die dorp, aunt M?”

“Ons het kom inkopies doen.”

“Ons?” Tot dusver het Tasha Margo se metgesel geïgnoreer, maar nou kyk sy nuuskierig na Carmia.

“Tasha Alexander, Carmia Basson,” stel Margo hulle aan mekaar voor. Sy wag ’n oomblik voor sy byvoeg: “My nuwe persoonlike assistent.”

Carmia is seker daar was leedvermaak in die laaste stukkie inligting. Afgesien van haar opmerking oor Tasha se taalvermoë, was Margo neutraal oor die meisie. Nou skemer daar egter ’n ondertoon van vyandigheid deur. Hoekom? wonder sy.

“Corlia Basson?” Tasha se oë vernou en sy beskou Carmia soos ’n lastige insek wat onder die hak van haar elegante rystewel hoort.

“Carmia,” korrigeer Margo.

“Whatever … Familie van Vita Basson?”

Margo huiwer en dis Carmia wat antwoord: “My suster.”

Tasha kyk haar vreemd aan. Dit lyk of sy iets wil sê, maar dan van plan verander. Sy ignoreer Carmia en draai na Margo.

“Ek het nie geweet jy het ’n PA nie, aunt M. Wat sê Deneys daarvan?”

Margo se gesig is stroef. “Deneys het niks te sê nie. Ek is nog nie so seniel dat ek nie my eie besluite kan neem nie.”

“Hy wil net hê Granny moet relax, dis al.”

“Ek sal ontspan die dag as ek honderd is.”

“En dis nog báie ver,” gooi Carmia haar stuiwer in.

Tasha kyk teen haar neus af na haar. “Wat is jy: ’n tikster?”

Carmia hou nie van die meisie nie en wil nie met haar in ’n gesprek betrokke raak nie. Sy knik kortaf.

“Sy skryf ook,” las Margo by.

’n Neerhalende glimlag speel om Tasha se kersierooi lippe. “Wat? Briewe?”

“Koerantberigte, kortverhale, dele van my boek …”

“Hoe nice,” maak Tasha dit ligweg af en kyk op haar horlosie. “Ek sal graag nog wil chat, maar ek moet waai. Ek het ’n afspraak en ek is laat.”

Margo wag tot Tasha heupswaaiend by die deur uit is, dan trek sy ’n suur gesig. “Nou weet ons hoekom Deneys vanmôre so dringend op die dorp wou wees. En ook met wie Tasha se afspraak is.”

Sy maak die donkerkopmeisie se geaffekteerde stem na: “Hoe naais. Sorrie as ek naastie is. Maar mý nekhare rys as sy my ‘Aunt M’ en ‘Granny’ noem. Tasha voel vere vir my – sy’s net agter Deneys aan. Sy het Skamanga se drumpel deurgetrap onder die voorwendsel dat sy kastig met my tikwerk wil help. Deneys het my omgepraat om haar ’n kans te gee, maar sy het afgeskeep en geknoei. Wat hy in haar sien, weet nugter. En hy klap soos ’n oester toe as ek hom daaroor pols. Maar die dag as hy met Tasha Alexander trou, pak ek my goed.”

“Trou?” herhaal Carmia met ’n skielike beklemming in haar binneste. “Is daar dan sprake van trou?”

Margo maak ’n afwerende gebaar met haar hand. “Vergeet van Tasha. Moenie dat sy ons dag bederf nie. Kom ons koop vir ons iets eksoties om ons mee op te beur. Duur Franse parfuum of goue sigeuneroorringe.”

Carmia het meer lus vir ’n bottel water, om die nare smaak uit haar mond te spoel. Sy het gewonder of Deneys moontlik nog iets vir Vita voel, maar klaarblyklik nie as hy ’n ding aan die gang het met Tasha nie. Of is hy die soort man wat ’n rits meisies het? Een op elke lughawe, een by die huis, een op die buurplaas en op die vliegtuig nog die string lugwaardinne ook?

Margo koop Versace-parfuum, en Carmia laat haar ompraat om ’n sonrok te gaan aanpas. Geel moeselien, die kleur van volryp sonneblomme, met spaghetti-skouerbandjies en ’n halslyn wat eerder by Vita sal pas.

“Dis nie te laag nie,” verseker Margo haar toe Carmia protesteer. “Wat help dit jy het bates as niemand dit sien nie?”

Carmia bekyk haar beeld in die spieël skepties. “Ek voel … káál!”

“Net omdat jy dit nie gewoond is nie. Hierdie is ’n subtiele Suzanne-skepping. Baie vroulik … Maak net-net genoeg toe en wys net-net genoeg. Soos ’n rol doringdraad: dit beskerm die eienaar, maar belemmer nie die uitsig nie.”

Sy kyk om toe die verkoopsdame vraend om die gordyn loer. “Ja, ons neem die rok.”

“Nee, ek glo nie …” skud Carmia haar kop.

“Die rok is absoluut vir jou gemaak! Jy sal jou kêrel uitboul en vir ’n ses slaan!”

“Ek het nie ’n kêrel nie.”

“Hoog tyd om iets daaromtrent te doen,” merk Margo op. “Met dié rok sal jy twintig aansoekers kry om uit te kies. Dít sal Deneys op sy neus laat kyk … Sit die rok op my rekening,” beveel Margo die verkoopsdame.

Sy luister na geen teëstribbeling nie. Dis om dankie te sê vir Carmia se slawearbeid die afgelope week en haar aandeel in die boek se goeie vordering.

“Dis my werk,” protesteer Carmia, “waarvoor jy my ’n fortuin betaal! Jy hoef nie nog boonop vir my geskenke te koop nie.”

Margo is adamant. “As jy nie ’n present van my wil aanvaar nie, aanvaar dit dan van die heldin af, om dankie te sê vir die miljoen rand wat sy in Survivor gaan wen.”

“Wie sê Lucille gaan wen? Wat van Amanda, wat net so ’n sterk kans het?”

“Amanda verdien dit nie; sy’s aansitterig en sy konkel agteraf. Soos jy-weet-wie … Trek vanaand jou nuwe rok aan, sodat Deneys kan sien hoeveel mooier jy as daardie klein merrie is!”

Carmia streel waarderend oor die sysagte materiaal en druk dit teen haar wang. “Dis ’n droomrok …”

“Jy weet dit nog nie, maar vir my is dit ’n belegging,” sê Margo duister, maar meer wil sy nie verduidelik nie.

Sy koop vir haarself ’n skeloranje sonhoed en laat toe dat Carmia die pakkies dra terwyl hulle aanstap na Rendezvous, die gewilde kuierplek by die skibootklub. Dis volgepak met vakansiegangers wat vanaf ’n houtdek uitkyk oor die seilbote en die krysende meeue.

Satyn Omnibus 7

Подняться наверх