Читать книгу Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman - Страница 9

6

Оглавление

Dis omdat bakleierige ouens interessanter is as die goeie ouens, mymer Carmia terwyl sy haar bed oopmaak en tussen die lakens inkruip. Sy voel nog steeds sy mond teen hare; herroep die sensasie van sy hand daardie eerste dag toe Margo hulle aan mekaar voorgestel het. Sien in haar geheue die lyn van sy skouers, die fris, bruingebrande voorarms onder die opgerolde hempsmoue, sy oë wat telkens ’n ander skakering blou is …

Op laerskool was sy dolverlief op die buurseun; sy sou voor ’n bus ingeloop het as dit beteken het dat hy haar sal raaksien. Op hoërskool was daar die heldeverering vir hul Afrikaans-onderwyser, sodat sy haar in ’n koma in studeer het om hom te beïndruk. En by die technikon die bleeksiel-dramastudent saam met wie sy in die Sahara sou gaan bly het as hy haar sou vra. Maar nie een van hulle het naastenby soveel emosie in haar wakker gemaak soos Deneys Vermeulen nie. Vir hom sal sy van die dak af spring, of haar bloedgroep verander as hy sy vingers klap, haar kamersleutel gee en sê doen met my wat jy wil …

Dit moet liefde wees, al het hy hier buite op die balkon gesuggereer sy ken hom nie. Al het Vita gesê hy het haar ’n week lank migraine gegee …

Die volgende oggend is Carmia vroeg wakker. Al het Margo gesê sy moet laat slaap en uitrus, is sy te opgewonde. Sy staan op die balkon en kyk hoe die son oor die see opkom, adem die stilte in. Ná ’n vinnige stort trek sy een van haar nuwe broekpakke aan. Dan gaan soek sy na Margo se kantoor of werksplek of wat sy dit ook al noem.

“Eet eers,” nooi Dorie. “Mevrou begin eers negeuur werk.”

“Moenie moeite doen nie, net ’n skyf papaja is genoeg,” keer Carmia toe Dorie spek en eier wil maak.

Sy gaan sit met haar ontbyt op die stoep om te kyk of daar weer ’n walvis is. Die eerste dag van die res van haar lewe … Sy kan nie glo sy was gister hierdie tyd nog in daardie bedompige woonstel nie. En sy het aan Deneys gedink as ’n bedorwe rykmanseun wat nie ’n goeie eerste indruk op haar gemaak het nie.

Waar sou hy wees? Nog in Maputo, of op die lughawe, op pad Beira toe? Dis nog so lank tot Vrydag … Miskien as sy hom weer sien, besluit sy sy het te gou geoordeel en hy is nie regtig so waffers nie. Dié skielike verliefdheid is dalk sommer deel van die pakket: van haar opwindende nuwe werk, luukse omgewing en nuwe beeld.

Margo is vol ywer toe sy Carmia haar werksplek gaan wys –

’n ruim vertrek op die boonste verdieping, met ’n kompakte kombuisalkoof en ’n kleiner kantoor waar Carmia sal werk.

“Ek sal my lessenaar moet swaai,” merk Carmia op. “As ek nie met my rug na daardie hemelse uitsig sit nie, sal ek nie ’n enkele letter getik kry nie.”

Met elkeen ’n beker koffie in die hand, skets Margo kortliks vir Carmia die tema van die manuskrip waarmee sy besig is. Tien deelnemers – vyf mans, vyf vroue – ding mee in ’n Survivor-kompetisie in die Drakensberg. Elkeen wil die miljoenrand-prysgeld wen. Mettertyd word hulle een-een uitgeskakel, tot net vier oorbly: twee mans, twee vroue. Die heldin is aangetrokke tot albei: die een gaaf, die ander skoorsoekerig. Tydens ’n sneeustorm het die heldin verdwaal, van ’n rotslys afgeval en haar enkel gebreek. Die nare ou het haar gered en hulle skuil nou in ’n klipskeur, maar sy hunker na die ander ou.

“’n Luiperd is te bloeddorstig, en hulle kom ook nie dikwels voor so hoog in die berge nie,” dink Margo hardop. “Hulle moet liewer in mekaar se arms beland as in sy kake, anders is daar nie meer ’n storie nie. As die helikopter hulle te gou kom red, loop ’n potensieel bruikbare situasie ook dood.”

Sy kou aan die agterkant van haar pen en kyk dan op na Carmia. “Jy is jonk en mooi en het seker al dosyne kêrels gehad. As jy besig was om die boek te lees, wat sou jy wou hê moet gebeur?”

“Dit moet aanhou sneeu,” antwoord Carmia sonder aarseling.

Margo lyk geïnteresseerd. “Hoekom? Dis alreeds ysig koud.”

“Presies! Het hulle vuurhoutjies en brandhout?”

“Nee, alles is nat.”

“Komberse?”

“Nee, niks.”

“Gaaf! Al raad is dan dat die ou haar styf teen hom moet vashou en sy liggaamshitte met haar deel. Dis lekker romanties en kan geleidelik tot allerhande gewaarwordinge tussen hulle twee lei.”

“Al pyn haar enkel en het hulle twee dae laas kos gehad?”

Carmia lag. “As dit ék was in die arms van so ’n spierpaleis, sou kos die laaste ding wees waaraan ek sou dink. Het hulle darem water?”

“Ja, gesmelte sneeu.”

“Perfek. Liefde en koue water.”

“En haar seer enkel?”

“Net ’n soentjie op die regte plek en die seer is weg.”

“En dan soen hy haar ernstiger, op allerhande ánder plekke?” terg Margo.

Carmia speel saam. “Driftig, vurig en hartstogtelik, van kop tot tone en weer al die pad boontoe.”

Margo kou weer aan haar pen en dink na. “Ek moet dalk die enkel net verstuit maak, dis minder seer. En dan kan vryf en masseer ook help, saam met die soenery. En hy kan haar geleidelik op allerhande ander plekke ook begin masseer …”

“Ja!” stem Carmia entoesiasties saam. “Dis waarvan lesers hou. Hulle wil ’n bietjie opgewarm raak, met hartkloppings en hormone wat loop.”

“Is dit nie te gewaagd nie?”

“Niks erger as wat mens deesdae op televisie sien nie.”

“Miskien moet ek hersien en die twee mans omruil, sodat sy liewer saam met die gawe ou in die klipskeur vasgekeer is.”

“Nee,” keer Carmia. “So ’n goody-goody ou sal te ordentlik wees om die situasie te benut. Doodgoed, maar ook goed dood. Los haar by die skoorsoeker. Laat hy haar verras deur ouliker te word, sorgsaam, sodat die heldin besef sy het haar misgis en hom vlak gekyk. Omstandighede uit sy verlede het hom gemaak soos hy is, omdat hy bang is om weer seer te kry. As dit ek was, het ek liewer op die laaste bladsy met die skurk getrou, wat dan heeltyd die eintlike held was.”

Margo kyk haar met groot oë aan. “Jy lyk self so ’n goody. Waar kom jy aan so ’n ryk verbeelding?”

Dis nie verbeelding nie, dis regtig, besef Carmia. Sy moet oppas; Margo is oplettend en sy het haarself dalk nou verraai. Sou Margo die karakters herken wat sy beskryf het?

“Dis my droom om self ook te skryf,” erken sy. “Ek het ’n kortverhaal wat die paal gehaal het, en nog ’n hand vol waaraan ek skuur en herkou.”

Margo is verras. “Ek moes dit geraai het. Dis wonderlik! Ons kan saam aan hierdie manuskrip werk. Ek doen die raamwerk en jy kleur dit in.”

“Ek is ’n totale groentjie. Sal jy my genoeg vertrou?” vra Carmia verbaas.

“Ek kan mos hoor jy het goeie idees, en ek sal op jou spoor lees en verander waar ek dink dis nodig. Lees die storie tot waar ek nou gevorder het, sodat jy weet wat tot dusver gebeur het. Gaan dan aan, vanaf die klipskeur, soos jy dit netnou beskryf het.”

Margo is soos ’n opgewende veer. Dorie bring tee en skons, middagete en drie-uur-koffie, terwyl hulle strykdeur werk. Terwyl Carmia lees of stukke van die verhaal tik, maak Margo potloodnotas en beplan die volgende dag se situasies. Sy wys Carmia hoe die bandmasjien werk, hoe om te pouseer of uit te vee. Tussendeur vind sy tyd vir navorsing oor voëlsoorte, plantegroei en eetbare gewasse in die Drakensberg-omgewing.

Binne twee dae het hulle die heldin op die been, haar enkel met repe van die held se hemp verbind, besig om bessies en eetbare wortelknolle te soek. En op die derde dag is sy swymelend in sy arms …

Margo het die sneeustorm laat bedaar en die reddingshelikopter in die verkeerde gebied laat soek om die verliefdes meer tyd saam te gee. Carmia beskryf die verhouding tussen die twee: hoe die heldin geleidelik meer ontvanklik raak, terwyl die skurk in Meneer Sjarmant verander en haar teer vashou, haar soen en erotiese opwellings van sensualiteit in haar laat ontwaak. Carmia kom agter sy geniet dit, sy vind dit prikkelend en stimulerend.

Die volgende middag terwyl Margo rus, is Carmia besig om ’n stomende liefdesessie te redigeer toe voetstappe en ’n ligte klop aan die deur opklink.

“Dankie, Dorie. Sit maar neer, ek sal later kry,” sê sy afgetrokke sonder om op te kyk.

Sy frons toe daar in plaas van ’n skinkbord ’n pak lietsjies en ’n groot, roospienk skulp op haar lessenaar verskyn. Haar hart gee ’n hop. Sy swaai om en kyk vas in ’n paar persblou oë, die kleur van sy uniform.

“Wanneer het jy teruggekom?” roep sy verras uit.

Hy lyk geamuseerd. “Vyf minute gelede.” Hy gooi sy pet op ’n stoel neer en trek sy das los. “Groet jy my nie?”

“Middag,” groet sy, skielik skaam.

“Is dit al?” vra hy teleurgesteld.

Sy is nie seker wat hy bedoel nie. Dis een ding om vier dae lank oor hom te dagdroom, maar heeltemal ’n ander ding om onverwags met hom in lewende lywe gekonfronteer te word.

“Hallo,” herhaal sy verleë.

Hy neem haar hand in syne, draai dit om en druk sy mond teen haar palm. Hy soen die sagte kussing aan die onderpunt van haar duim en dan proe-proe nog ’n entjie aan tot by haar pols, terwyl sy oë haar met ’n takserende vonkeling dophou.

Haar nuwe, selfversekerde beeld spat aan skerwe. Carmia se verleentheid groei en sy probeer haar hand losmaak.

Sy een wenkbrou lig vraend. “Wat skort? Doen ek dit nie reg nie?”

“Wát nie reg nie?”

“Dít …” Hy vat haar pols stywer vas en trek haar orent. Sy arm skuif agterom haar rug en sy vingers speel met haar hare. Hy streel oor haar nek en keel tot by haar ken, dan lig hy haar gesig op na syne en buk nader om haar te soen. Sy lippe is sag, speels en tergend, asof hy eksperimenteer en die oomblik wil uitrek. Maar dan skielik verkrummel sy wilskrag en raak hy haastig, eisend … Albei sy arms gaan om haar lyf en ruk haar teen hom vas, terwyl sy mond ferm oor hare sluit.

Hy smaak na lietsjies en koffie. Ruik na amandels en die see. Dis waaroor sy vier dae lank gedroom het …

Carmia kan haarself nie keer nie. Sy oë wat diep in hare kyk, tot binne-in haar siel en haar vrouwees, is soos twee magnete wat haar meedoënloos nadertrek. Daar is geen weerstand in haar om teen die onafwendbare te stry nie. Haar lippe kelk oop en haar arms gaan om sy nek, en skielik het sy tuisgekom. Dís waar sy wil wees, by hom, nêrens anders nie. Die res van haar lewe …

Haar hoor en sien vergaan; al haar sintuie is net op Deneys ingestel. Dit duur ’n rukkie om tot die werklikheid terug te keer en te onthou waar sy is: in Margo se werkskamer – en sy kan enige oomblik hier instap. Dit sal nie goed lyk as sy hulle só moet sien nie …

Carmia skeur haar mond los en beur weg. Deneys laat haar gaan, maar kyk vraend na haar.

“Wat makeer? Is my tegniek verkeerd? Moes ek jou met my passie verswelg het, jou vasgegryp en in ’n grot ingedra het om my manlike hartstog te bewys?”

Sy retireer so ver moontlik van hom af weg. “Hoe lank het jy daar gestaan en oor my skouer geloer terwyl ek besig was om te tik?” vra sy verontwaardig.

Hy is vol lag, maar hou hom onskuldig. “Dit was per ongeluk. Ek wou nie op jou spioeneer nie. Ek het geklop en gesien jy’s besig en toe saggies ingekom, want ek wou julle elk met ’n present verras. Maar toe merk ek my ouma is nie hier nie, en toe sien ek toevallig die stukkie op die rekenaar waarmee jy besig was.”

“Dit was nie ’n ‘stukkie’ of ‘per ongeluk’ nie! Niemand sien ‘toevallig’ ’n halwe bladsy bestaande uit twee lang paragrawe nie,” beskuldig sy hom.

“Jy kan nie stry dat daardie twee paragrawe witwarm is nie! Brandend en polsend. Toe ek eers begin lees, kon ek nie ophou nie. Ek het jou al gewaarsku ’n man is ’n man, en ek is nie een met sneeuvlokkies in my are nie. Al my silinders was opgevuur en ek wou jou hê.”

Carmia staan nog ’n tree tru, agter haar lessenaar in. “Dis net ’n storie …” Selfs in haar eie ore klink sy hees en onoortuigend.

Deneys sien dit in haar oë. “Is dit? Is jy seker?” vra hy sag.

“Natuurlik! Dis fiksie – papierkarakters. Dis deel van my werk. Ek help jou ouma met die manuskrip.”

Hy lyk skepties. Dieselfde vonkeling blink in sy oë toe hy haar nadenkend beskou. “Ek wonder mos nou: is jy heeltemal so onskuldig soos jy lyk, koerantmeisietjie?”

Sy verstyf en haar wange vlam. “Wat insinueer jy?”

Hy hou sy hande verontskuldigend uit, palms na voor gedraai. “Ek insinueer niks. Ek sê reguit: jy is ’n begeerlike entjie vroumens en dis tyd dat iemand jou annekseer. Ek hoop daardie iemand sal ék wees.”

Carmia is kwaad vir haarself omdat sy haar oorgegee het aan sy omhelsing. Sy moes nie so ontvanklik gewees het nie, moes besef het hy terg en dis net ’n speletjie. Hoekom sal hy, feitlik daagliks omring deur selfversekerde, gesofistikeerde lugwaardinne, in ’n ou valetjie soos sy belangstel?

Sy probeer ’n stukkie van haar trots en selfrespek red. “Dankie vir die kompliment, maar ek is nie beskikbaar nie.”

“Hoekom nie? Het jy ’n vaste ou?”

“Nee, maar …” Sy byt op haar onderlip. Nou lyk dit weer asof sy adverteer dat sy enkellopend en gewillig is, uitgehonger vir mansgeselskap en ’n bietjie romanse.

“Maar wat?” dring hy aan toe sy stilbly. “Is daar iemand?”

Sy swaai haar tikstoel terug na die rekenaar. “Ek het dit mos duidelik gemaak: ek is nie beskikbaar nie. En ek is besig. Ek het werk om te doen.”

“Waar’s my ouma?”

Carmia lees die laaste sin oor en begin tik, sommer deurmekaar en vol foute, net om besig te lyk. “Sy rus,” antwoord sy oor haar skouer. “Volgens jou instruksies.”

“Dis goed om te sien jy hou woord. Ek het vir haar lietsjies gebring. En vir jou ’n skulp.”

“O, is dit vir my? Dankie. Dis pragtig!”

“Soos jy,” voeg hy vroom by.

“Moenie weer begin nie,” waarsku sy.

Hy kom sit voor haar op die punt van die lessenaar. “My van is Vermeulen, nie Du Plessis nie,” sê hy sag. “Jy hoef nie soos ’n krimpvark te wees en skanse teen my te bou nie. Ek het nie bybedoelings nie. Ek hou van jou, Carmia. Ek sal jou graag beter wil leer ken as jy my sal toelaat.”

’n Amper outydse bekentenis. Hy klink so eerlik en opreg dat sy nie vir hom kwaad kan bly nie.

Sy tel die skulp op, vryf met haar vinger oor die salmpienk binneste en hou dit dan soos die gehoorbuis van ’n telefoon teen haar oor. “Ek kan die branders en golwe hoor suis …”

“Dis nie die skulp nie, dis die regte see daar buite. Dis hoogwater.”

Sy lag uitbundig. “Jy’s reg! Ek het vergeet waar ek is. Kom dié knewel van Mauritius af ?”

“Daar gekoop, maar dit kom oorspronklik van die Comore-eilande. Ek hoop dié ou sal by die Natalse Suidkus kan aanpas.”

“Ek sal hom laat tuis voel: met hom praat en hom die eerste paar aande lekker snoesig by my in die bed laat slaap.”

“Gelukkige drommel,” brom Deneys. “Wat moet ek doen vir dieselfde voorreg?”

“Jouself in ’n skulp verander,” spot sy.

“Dit sal die moeite werd wees …” Hy leun nader, tel haar hand op en soen haar vingers een vir een. Hy byt saggies aan die laaste een en blaas sy asem in ’n gepynigde sug uit. “Sjoe, vroumens, weet jy wat jy aan my doen?”

Hy gee haar hand terug en wip van die lessenaar af. “Ek beter gaan afkoel, voor ek weer raas kry. Lus om saam met my te kom swem?”

Daar’s niks wat sy liewer sal wil doen nie. Die versoeking is groot, maar Carmia skud haar kop. “Ek het te veel werk.”

“Hoe laat tjaila jy?”

“Eers op die laaste bladsy, wanneer die laaste punt getik is.”

“Moenie dat Margo die sweep klap nie. As sy aan ’n boek werk, raak sy obsessief en fanaties – ten koste van alles. Dis waarom ek wou hê sy moet aftree en rustiger lewe. Is jy seker ek kan jou nie met die koel lafenis van die swembad verlei nie?”

“Doodseker,” herhaal sy ferm.

Hy tel sy pet op, neem die pak lietsjies en stap deur toe. “Ek sal hulle solank in die yskas sit. Lekker werk.”

Toe bly staan hy met sy hand op die kosyn en kyk om. “Waar het jy leer tik?”

Sy frons. “Op skool. En by die technikon. Hoekom?”

“Omdat jy jou geld moet gaan terugvra, want hulle het jou sleg geleer. Jy maak vreeslik baie tikfoute.” Toe dit lyk of sy nie verstaan nie, wys hy met sy vinger na die rekenaarskerm. “Kyk byvoorbeeld na daardie laaste klompie reëls wat jy pas getik het.”

Sy kyk en dan snap sy: dis die stuk toe sy sommer blindweg laat waai het, om besig te lyk … Sy merk met verontwaardiging die grinnik op sy gesig.

“Ag, man, vlieg maan toe!”

“Kan nie, die Airbus se brandstoftenk is nie groot genoeg nie.”

Deneys se reflekse is goed. Hy is net betyds om vir die uitveër te koes wat Carmia na hom gooi. Hy buk en tel dit op, kom nader en plaas dit versigtig op ’n hoekie van die lessenaar. Dan blaas hy ’n soentjie vir haar en verdwyn voor hy ’n woordeboek of ’n potplant teen die kop kry.

Met haar vingers op die sleutelbord kyk Carmia sy breë rug agterna. Vita was reg: Deneys Vermeulen is onbetaamlik aantreklik. En hy weet hoe om ’n meisie behoorlik te soen. Hy doen allerhande dinge aan haar … Maar migraine is beslis nie een van hulle nie.

Satyn Omnibus 7

Подняться наверх