Читать книгу Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman - Страница 7
4
Оглавление“Ek weet daar’s nie meubels nie, maar enige trek het altyd stapels bokse en losgoed,” sê meneer Jordaan. “Wil jy een van SeeSter se afleweringsvoertuie leen, Carmia?”
Sy skud haar kop. “My werkgewer het vir my vervoer gereël: ’n bakkie en ’n drywer wat kom help.”
“So, wanneer vertrek jy?”
“Vroeg môreoggend.”
Hy sit sy hand op haar skouer. “Jy het goeie werk gelewer, meisie. My deur staan altyd oop as jy probleme het en wil terugkom.”
“Dankie, meneer,” antwoord sy en probeer dankbaar klink.
Sy is by haar lessenaar besig om laaie leeg te maak toe sy ’n kug agter haar hoor. Dit klink bekend, en so ook die vae geur van tuna en suuruitjies. Carmia verstyf. Haar vingers klem om ’n pakkie merkpenne en sy vlieg om.
Arno du Plessis staan anderkant haar lessenaar. Op ’n veilige afstand, sodat dit nie nodig is om ’n vlieëplak of ’n blik insekdoder te gryp om haar mee te verdedig nie.
Hy kug weer, styf en ongemaklik. “Ek voel regtig soos ’n
luis …”
“Korrek!” snerp sy en pluk die volgende laai oop. “Gaan soek ’n hond om op te spring. Of lê op die vloer dat ek jou kan doodtrap.”
“Ek het die tekens verkeerd gelees.”
“Dis nuus! Ek het nie geweet jy kán lees nie,” antwoord sy sarkasties.
Hy skuifel rond, van die een voet na die ander. “Ek het nie besef jy is ’n plaasmeisie nie, outyds en konserwatief, wat nie die moderne stadslewe ken nie.”
“Is dit veronderstel om ’n belediging of ’n verskoning te wees?”
“’n Verskoning. Ek het sommer ’n bietjie gespeel, niks daarby bedoel nie … Van jy die eerste dag hier begin het, het ek gedink jy’s ’n oulike poppie. Ek wou jou beter leer ken. Maar jy was altyd so eenkant en afsydig, niemand kon vatplek aan jou kry nie.”
“Toe druk jy my in die hyser se hoek vas om ’n vatplek te soek?”
Arno word rooi. “Dis nie hoe ek dit bedoel het nie.”
“Ek gee nie om hóé jy dit bedoel het nie, ek hou nie van die eindresultaat nie. Jy is gelukkig dat ek nie ’n saak van seksuele teistering teen jou aanhangig gemaak het nie.”
“Ek weet; Lukas het ook so gesê. Jy het alle reg gehad, en ek vra om verskoning omdat ek so vrypostig was.”
“Het hy jou gestuur?” wil sy wantrouig weet.
“Nee. Ek wou lankal kom verskoning vra oor my gedrag, maar jy het my vermy en gemaak dat jy wegkom as jy my sien aankom.”
“Blameer jy my?”
“Glad nie, want jy het rede gehad. Ek is spyt dat jy bedank het. Ek hoop nie dis oor … oor wat tussen ons gebeur het nie?”
Sy sorteer ’n hand vol potlode: wat in die snippermandjie hoort en wat in die halfvol boks. Dan kyk sy Arno du Plessis vir die eerste keer vol in die gesig.
“Moenie jouself vlei nie. Só belangrik is jy nie – dat ek my joernalistieke loopbaan sal prysgee oor ’n dinges wat nie weet om sy hande tuis te hou nie. Kom ons sê jy was maar één van die ratte wat die wiel aan die draai gesit het. Miskien die finale rat.”
Hy tree vorentoe en haal ’n boks sjokolade agter sy rug uit, sit dit op haar lessenaar neer. “Gee dit weg of gooi dit in die asblik as jy dit nie wil hê nie. Ek wou net graag wys ek is jammer … Jy is steeds ’n oulike poppie en ek wil nie hê ons moet kwaaivriende uitmekaar gaan nie.”
’n Boks sjokolade en hy dink alles is vergewe? dink Carmia bitter. Verwaande ploert!
“Miskien as jy weer eendag in Durban kom, kan ons gaan koffie drink en die strydbyl begrawe?” stel hy voor.
Sy antwoord nie, kyk hom net aan en gaan dan voort met die pakkery. Hy draai om en loop druipstert uit.
Nog ’n paar kollegas kom groet; selfoonnommers en e-posadresse word uitgeruil. Nommers wat gaan rondlê en wegraak en nooit gebel sal word nie. Dis verbasend hoe min vriende sy gemaak het in die tyd dat sy by die koerant gewerk het, dink Carmia. Maar dis die stad; dis anders as die platteland waar mense vir mekaar omgee.
Elsa Truter, een van die skakelbordmeisies met wie Carmia goed oor die weg gekom het, gee vir haar ’n bottel lyfroom as afskeidsgeskenk. Elsa loop saam met haar tot by haar woonstel om boeke en lêers te help dra. Sy kyk in die sitkamer rond terwyl Carmia vir hulle koffie maak.
“’n Gesellige nessie wat jy hier het, maar dis natuurlik niks in vergelyking met die plek waarnatoe jy gaan nie. Ek het eendag ’n artikel oor Margo Vermeulen gelees. Een van haar boeke is verfilm en sy is glo skatryk. Sy bly seker in ’n paleis.”
“Ek weet nie, ek was nog nie daar nie. Maar dit is glo indrukwekkend.”
Carmia sit die skinkbord op ’n stapel bokse neer, al oop ruimte wat sy kan kry. “Ekskuus dat dit sommer kaal koffie is. Daar is nie ’n krieseltjie koek in die huis nie.”
“Dis te verstane. Pleks dat ek gebring het … Ek gaan jou baie mis, al die kere wat ons gaan fliek het of specials op uitverkopings gesoek het. Die ouens by die kantoor is so ’n spul suurknolle, jy’s omtrent al een met wie ek kon gesels. Gelukkig het Arno nog nooit teenoor my ’n pass gemaak nie, ek sou my doodgeskrik het. Maar ek is seker nie sy tipe nie. Waarskynlik te vet of te vaal.”
Carmia voel nog steeds sterk oor wat gebeur het. “Wees dankbaar, Elsa. As hy dit waag, moenie stilbly nie, anders kom hy elke keer daarmee weg. Moenie by meneer Jordaan gaan kla nie – hy sal jou probeer paai en verder niks doen nie. Gaan reguit na die redakteur toe en lê ’n formele klag. Eis ’n ondersoek. Jy sal vind van die ander vroue by die koerant het straks dieselfde paadjie geloop en sal saamstaan om jou te steun.”
Lank nadat Elsa weg is, bly Carmia nog aan Arno dink. Sy is bly hy het verskoning kom vra, want sy wil ook nie in vyandskap leef nie. Eintlik het sy hom reeds vergewe, want hy het haar onwetend ’n guns gedoen om vir haar nuwe deure te laat oopgaan. SeeSter was goeie ondervinding, maar dis nie waar sy die res van haar lewe wou vassit nie. Selfs sonder Arno du Plessis het dit tyd geword om aan te skuif.
Sy hang die kantgordyne op wat sy gister gewas het en skrop ’n laaste paar geitjiekolle van die mure af. Die woonstel is aan twee pensioenarisse verhuur en sy wil nie hê hulle moet dink sy het slordig geleef nie. Eintlik is sy perfek op skedule. Sy het die afgelope tien dae hard gewerk en al wat oorbly, is vanaand se skottelgoed en ’n hoop skoene wat oplaas plek moet kry. Hulle sal sommer in ’n swart vullissak moet saamgaan, want haar bokse is gedaan en haar tasse oorvol.
Halfelf gaan stort sy en klim in die bed. Môre is ’n lang dag, en sy weet nie hoe vroeg die drywer met die bakkie gaan opdaag nie. Margo het gesê sy is nie seker nie, Deneys sal dit reël.
Carmia kan die nag nie slaap nie. Haar senuwees knaag met allerhande voorbodes, en selfs met al die vensters oop is die woonstel bedompiger as gewoonlik.
Agtuur die oggend is sy op en aangetrek. Sy staan met ’n beker koffie buite op die balkon toe ’n bakkie soek-soek die straat opkom en voor die woonstelgebou parkeerplek soek. Dit het ’n Ballito-registrasienommer en daar is een manspersoon in.
Sy waag ’n kans en waai met haar arms bo van die balkon af, sodat hy kan sien hy is by die regte adres. ’n Bruingebrande arm draai die venster af en wuif terug. Die deur gaan oop en Deneys Vermeulen klim uit.
Carmia stik byna in haar koffie. Wat maak hý hier? Sy het aanvaar dit sal een van hulle voormanne of ’n plaaswerker wees.
Sy hardloop badkamer toe om te kyk hoe haar hare lyk, gryp ’n besem en vee holderstebolder die ingangsportaal uit. Of moes sy liewer die klomp vullissakke op een hoop gepak het, sodat dit netjieser lyk? Sy het nie tyd om te dink of iets daaraan te doen nie. Terwyl sy êrens ’n stoflap soek, klink voetstappe in die gang en ’n klop aan die deur op.
Sy gee haar T-hemp ’n afwaartse pluk en gaan maak oop.
“Môre!” groet hy met ’n hartbrekende glimlag. “Is ek te vroeg?”
“Môre. Glad nie. Ek is al van sesuur af aan die gang.”
“So ’n trekkery bly maar ’n groot storie, al is ’n mens hóé georganiseerd.” Hy kyk na die sakke, bokse en tasse wat die sitkamer vol staan. “Is dit al?”
Sy kyk verleë na hom om te sien of hy sarkasties is. “Dis ’n bérg goed …”
“Nee wat,” stel hy haar gerus. “Ek het al tien keer erger gesien. Is daar breekware waarmee ek versigtig moet wees?”
“Net een boks vol.”
Sy beduie na die boks en skaam haar oor die amateuragtige wynglasie wat sy met ’n merkerpen op die sykant geteken het. As sy geweet het dis hy self wat kom, het sy behoorlike plakkers gekry.
’n Kyk na haar gesig laat Deneys lag. “Ontspan! Ek is nie altyd so ’n monster soos wat ek gewoonlik is nie.”
’n Skewerige glimlag trek aan haar mondhoeke, maar sy weet nie wat om te antwoord nie. Dit ontken? Of spot hy? Al haar nuutgevonde selfvertroue is weg en sy is terug in Soutpan se laerskoolkoshuis.
Deneys lees die onsekerheid op haar gesig. In ’n kniebroek en tekkies en met haar hare in ’n poniestert vasgebind, lyk sy jonger as tydens die onderhoud. Vir die eerste keer let hy die strooisel sproete op, soos ’n skooldogter, en die donker kringe onder haar oë, asof sy sleg geslaap het. Goue oë, het hy met hul eerste ontmoeting gedink. Amber, soos tieroogstene. Hy wil met sy vinger ’n los haarsliert agter haar oor indruk, soos hy met ’n jonger sussie sou doen, maar dit sal haar net verder ontsenu.
“Ek was laas keer moeg en haastig,” verduidelik hy. “En skepties … My ouma is oor die sewentig en haar gestel is baie broos. Dis nie net die artritis nie – sy het verlede winter sleg brongitis gehad. Sy kan nie meer die lang werksure volhou soos in haar jong dae nie – die tempo van vyfuur soggens tot agtuur saans, dwarsdeur die week en naweke ook, asof sy ’n obsessie het en iets haar jaag. Ek wou haar teen haarself beskerm en in ’n glaskas sit. Maar ek het nagedink, en ek het agterna besef dit was ’n fout. Sy wil nie gepamperlang word nie, dit laat haar oud voel.”
Carmia glimlag effens. “Margo sal miserabel wees as sy ophou skryf; sy sal wegkwyn. Ná so ’n vol en skeppende lewe is sy nog nie gereed om ’n stoepsitter te wees nie.”
Deneys knik. “Ek het dit nie toe besef nie: dat ek haar wil ontneem van dit wat haar vreugde gee, asook ’n doel in die lewe. Sonder die stimulus van ’n nuwe manuskrip en die opwinding van publiseer, sal haar lewe leeg wees. Dis ’n seën dat jy beskikbaar is om met die tikwerk te help. Dit sal die las verlig. Sy sal die pas kan verslap en leer om te ontspan.”
“Ek hoop so,” stem Carmia saam.
“Jy sal ook vir haar geselskap wees. Ek hoor jy is ook lief vir lees en fliek en die teater.”
Hoekom het ek gedink hy is ’n dominerende boelie? wonder Carmia. Het ek my deur Vita laat beïnvloed, of was ek gestres oor Arno en die nuwe werk?
Deneys Vermeulen is glad nie moeilik nie. Om die waarheid te sê, hy is aangenaam. En baie hulpvaardig om in sy bedrywige skedule tyd te maak en die hele ent pad te ry om met haar trek te kom help.
Dis asof hy haar gedagtes kan lees. “Ek hoop nie jy glo aan eerste indrukke nie? Dit was mý skuld dat ons kennismaking in die gom vasgesit het. Ek het jou onwelkom laat voel, terwyl jy gekom het asof jy gestuur is.”
Asof jy gestuur is …
Ek ís, dink Carmia. Vita het beter geweet as hulle al drie; geweet sy en Margo het mekaar nodig. En vir Deneys sal dit die ideale oplossing wees: ’n assistent wat die werk halveer en ’n oog oor sy ouma hou.
Maar sy sê niks. Vita is ’n taboe-onderwerp by Deneys Vermeulen. Sy moet liewer nie haar suster se naam opper nie, want dit sal opnuut die atmosfeer tussen hulle vertroebel. Hy kan maklik omswaai en besluit om iemand anders aan te stel. Tikstertjies wat kan spel, is ’n tiekie ’n bos. Wat maak sy dan? Kruip hoed in die hand terug SeeSter toe? Nie in ’n duisend jaar nie! Dan liewer vloere skrop of bunny chows verkoop.
Deneys vryf tevrede sy hande teen mekaar. “Goed, met al die bekentenisse uit die weg en die lug gesuiwer, kan ons aangaan met die proses om jou op Skamanga te kry. Ek los die breekware tot laaste, sodat dit heel bo-op gelaai kan word. Waar begin ek? By die ander bokse?”
“Jy kan nie alles alleen dra nie. Dis mý pakkerasie, ek sal my deel doen.” Sy buk en tel ’n tas op.
Hy keer haar. “Dis te swaar vir jou.”
Sy neem ’n draradio in haar ander hand en begin aanstap voordeur toe. “Nee wat. As jy vyftien jaar in koshuise was, weet jy van tas dra. Deesdae laat dit my voel ek gaan met vakansie.”
Hy gryp die naaste boks en haal Carmia by die trap in. “Goed dan, maar net hierdie een tog af ondertoe, daarna hou jy by die bakkie vakansie. Staan net daar en lyk mooi en keer dat skelms jou goed wegdra, terwyl ek die res bring.”
Dit kos vyf togte op en af om alles gelaai te kry. En dan ’n laaste klim boontoe om die sleutels by die gebou se opsigter af te gee.
Toe hy vir oulaas kyk of die vrag stewig vas is, merk Deneys die doos sjokolade met die rooi lint om wat bo in die kantoorboks lê sodat dit nie sal verdruk nie. Sy wenkbroue lig vraend. “’n Afskeidsgeskenk van ’n geheime bewonderaar?”
“Gehéime?” Carmia gee ’n snorklag. “Ek wens dit was.”
“Vlees-en-bloed-kêrel?” raai hy weer.
“Allesbehalwe!” Sy wil die verlede begrawe en vertel baie kortliks van Arno du Plessis.
“Die skurk! Vervlakste drel!” bars hy uit, hewiger as wat sy verwag het. “Die affêre beter nie agter jou aankom plaas toe waar ek hom kan beetkry nie.”
“Hy sal nie,” stel Carmia hom gerus. “Hy het klaar van my vergeet. Ek is seker hy’s al besig om op sy volgende slagoffer te fokus.”
“Sulke mans moet onderstebo opgehang word!” Hy maak vir haar die deur oop, klim in en klap die deur hard agter hom toe.
Terwyl hulle ry, oorhandig hy ’n plastieksak met ’n botteltjie lemoensap, ’n broodrol, ’n bakkie jogurt en ’n appel aan haar. “Ek raai jy het vanoggend nog niks geëet nie. Omdat ek nie geweet het wat jy vir ontbyt verkies nie, het ek probeer om ’n wye spyskaart te dek.”
“Jy’s reg,” bieg Carmia.
Sy val entoesiasties weg. Halfpad tussen ’n sluk jogurt en ’n hap appel deur kyk sy skamerig op. “Dankie … Ook vir jou moeite met my pakkerasie.”
Hy skakel die flikkerlig aan en draai op die Noordkus-snelweg af. “Dis nie moeite nie; dis my afdag. Ek vlieg eers vanaand.”
“Waarheen?”
“Maputo – Beira – Mauritius, en weer al die pad terug.”
Dit klink eksoties. Seker van sy ouma wat hy sy wanderlust na ver plekke geërf het, dink Carmia.
Margo het vertel hoe sy altyd gehoop het die kind ontwikkel ’n sterk genoeg liefde vir sy erfgrond sodat hy eendag voltyds wil boer. Hoewel hy van jongs af ’n affiniteit vir die plaas het, het sy kop egter wolke toe gestaan, met ’n passie vir vliegtuie. Eers in die lugmag Griffons en helikopters gevlieg en toe geskuif Jakaranda toe, waar hy nou – op nege-en-twintig – die jongste Airbus-bevelvoerder van die redery is.
Tussenin boer hy deeltyds, met die hulp van ’n bestuurder en twee voormanne. En sy ouma wat raad gee … Raad en insette waarna hy glo geduldig en belangstellend luister, daarna haar ’n liefdevolle soen gee en dan sy eie kop volg. Net soos sy pa, net so eiewys en hardkoppig. Maar met ’n ingebore, ouwêreldse sjarme wat selfs ’n ou vrou soos sy week maak, sodat hy haar om sy pinkie draai.
Net soos ’n wildvreemde meisie ook, wat hom slegs twee keer in haar lewe gesien het, mymer Carmia. Die eerste keer ’n skramse tien minute, terwyl sy meer op haar toekomstige werkgewer gekonsentreer het as op dié se kleinseun. Maar hy het ’n magnetisme waarteen sy tevergeefs stry. Hy het nie mooi gemaak met haar suster nie, en hy was nie eens vriendelik die middag by die Vlieënde Dolfyn nie, tog voel sy onweerstaanbaar aangetrokke tot Deneys Vermeulen. Net soos sy ouma is sy ook heeltyd besig om vir hom verskonings te soek en op sy goeie punte te konsentreer. Ondanks al die waarskuwingsliggies en haar gesonde verstand is sy besig om voor sy sjarme en magnetisme te swig …
Sy sit agteroor en teug aan die lemoensap terwyl sy oor die see uitkyk. Die water is turkooisblou, met geen van die wasige humiditeit wat gewoonlik dié tyd van die jaar voorkom nie. Die kleur van Deneys Vermeulen se oë in die helder sonlig … Sy probeer om nie na die mooi lyn van sy skouers en profiel te kyk nie. ’n Vragskip doer ver op die horison is veiliger.
Die man doen allerhande vreemde dinge aan haar. Nie net aan haar kop nie, aan haar lyf ook – aan ’n warm kolletjie op die krop van haar maag wat begin kriewel en heerlike woelinge deur die res van haar liggaam stuur. Sy kan nie help om sy bruingebrande arms op te let nie. Sterk, manlike arms in ’n dun katoenhemp, die moue opgerol en die boonste helfte van die hempsknope oop, soos die Natallers in die somer aantrek. Arms wat ’n vrou kan vashou sodat sy wéét sy word vasgehou …
Onderkant sy sleutelbeen steek donker borshare uit. Sy wonder wat sy reaksie sal wees as sy sou oorleun en nog ’n knoop van sy hemp losmaak. As sy haar vingers deur daardie krullerige, tempterende borshare sou vleg …
Hy het van die wind gepraat wat suid draai en hopelik reën sal bring, maar Carmia kom skielik agter dat hy in die middel van ’n sin stilgebly het.
“E … ja, dalk reën,” antwoord sy vaag.
Sy dwing haar blik weg van daardie verleidelike half oopgeknoopte hemp. Haar oë lig skuldig tot hulle syne ontmoet. Sy kop is vraend na haar kant toe gedraai en hy hou haar dop met ’n vreemde uitdrukking op sy gesig.
“En …?” Hy lig sy wenkbroue vir haar terwyl ’n lui glimlag om sy mondhoeke speel.
Sy weet wat hy bedoel. Hy het gesien sy bekyk hom en wil weet wat die uitslag van haar ondersoek was. Sy is skielik oordrewe geïnteresseerd in die botteltjie lemoensap. Sy skaam haar dood as hy moet weet watter onsinnige gedagtes deur haar kop geflits het. Hy sal hardop lag as hy moet weet van haar onderdrukte drange en begeertes. Arme, naïewe ou plaasmeisietjie, seker nie mans gewoond nie, sal hy dink …
Sy sit regop en stoot haar ken uit. Die kyk wat sy hom gee, is net so enigmaties en onleesbaar soos syne. “En miskien sneeu dit ook,” antwoord sy liefies.
Sy glimlag verbreed. “As jy so sê, hoekom nie?” terg hy. “So ’n bietjie sneeu is dalk nodig …”
Hy weet sy vind hom aantreklik, besef Carmia. Stomend sensueel en begeerlik …
“Om af te koel?” daag sy hom uit. “Wie kry warm? Nie ek nie … Ek is koel aangetrek en daar is ’n lekker bries.”
Sy maak of sy nie hoor toe hy sy kop agteroor gooi en vir haar lag nie.
Die res van die pad kyk sy vir die see, die sandduine en die swiepende meeue wat jag maak op ’n skool sardiens. Sy draai die venster oop, net vir die vreugde daarvan om seelug te ruik sonder dieseldampe. ’n Gekrys van voëls te hoor sonder toeters. Die wind deur haar hare te voel, en hoe dit die spinnerakke in haar gemoed wegwaai.