Читать книгу Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman - Страница 13

10

Оглавление

Laatmiddag, toe Margo gaan rus het, bel sy vir Vita.

Dis nie hul gewone tyd nie en haar suster is verbaas. “Wat’s verkeerd?”

“Alles!”

“Hoe klink jou stem so vreemd? Is jy siek?”

“Nee …” Carmia neem ’n sluk van die sterk, swart koffie waarmee sy haar deur die dag aan die gang gehou het. “Ous, nou moet jy mooi luister, nie grappe maak nie en my eerlik antwoord … Oukei?”

“Oukei. Wat het gebeur?”

Carmia vertel van die rusie met Deneys, sy beskuldigings en haar vrees dat sy oor drie dae nie meer ’n werk gaan hê wanneer hy terugkom van die Kaap af nie.

“Jy werk mos nie vir hom nie, jy werk vir Margo,” stel Vita haar gerus.

Carmia is nie oortuig nie. “Vertel dit vir hóm. Hy wil my hier weg hê; hy gaan my agt en veertig uur kennis gee.”

“Wat sê Margo?”

“Sy weet nog nie van al die drama nie. Sy is van gister af nie lekker nie – sy slaap sleg en het chronies hoofpyn. Ek is bekommerd, maar sy wil nie dat ek haar dokter toe neem nie. Sy sê hulle snuffel kwale uit wat sy nie het nie en wil haar in die hospitaal sit, waar sy nie wil wees nie. Ek wil nie my probleme op haar laai nie; hierdie ding is tussen my en Deneys. Ek wil hê jy moet my presies vertel wat destyds tussen julle twee gebeur het.”

Vita stotter en praat bont, maar Carmia gee nie skiet nie. “Het hy jóú afgesê, of jy vir hom?”

“Wel, dis eintlik ’n lang storie …”

“Ek het tyd om te luister.”

Vita kom met ’n lang aanloop. “Jy sê jy het self ook boots en all vir hom geval?”

“Ja, maar dis nie ter sprake nie. Ons praat nie nou oor my nie, ons praat oor jou.”

“Ek noem dit net, sodat jy kan begryp hoe ek destyds gevoel het. Ek was gek oor hom, mal verlief … Dís die uitwerking wat Deneys op meisies het. As hy aan boord was, het die waardinne baklei oor wie die stuurkajuit bedien. Ek ook … Deneys was my alles. My trouman. Ek het al besluit hoe my rok gaan lyk en dat ons Rio toe gaan vir ons wittebrood …”

“Ek onthou. En toe?” por Carmia haar aan. “Wat het gebeur?”

“Andy Hartwell het gebeur,” antwoord Vita eenvoudig. “Ek het nie daarna gesoek nie – Deneys was al wat ek in die lewe wou hê. Maar ’n mens se hart laat hom nie voorskryf nie. Dit was op ’n Perth-na-Brisbane-vlug, en toe die groot ou in die blokkieshemp en Stetson-cowboyhoed diep in my oë kyk en sê: ‘Howdy, girl!’, was ek verlore …”

Carmia raak ongeduldig. “Ek wil nie van Andy weet nie; ek ken die storie. Ek wil van jou en Deneys weet.”

“Deneys duld nie dat ’n meisie ander manspelle het nie, en hy het my soos ’n blompot behandel.”

“’n Blómpot?” herhaal Carmia. “Is dit goed of sleg?”

“Ander meisies sal seker gevlei voel, maar jy ken my. Ek wil my eie ding doen – nie in ’n glaskas gesit word omdat hy bang is ek breek nie. Andy is die teenoorgestelde. Ek kan doen wat ek wil: bietjie flirt met die klomp cowboys, op ’n brumby se rug klim, dingo’s jaag … Dis ekke – ’n tomboy, nie ’n blompot nie. Andy verstaan my, want ons is eenders. Die gevoel wat ek vir hom het, is opregte liefde. Rustig, soos ’n groot rivier se vloei. Nie net vol maalkolke en stroomversnellings soos ek met Deneys gehad het nie.”

“Het jy dit so aan Deneys verduidelik?”

Vita kug ongemaklik. “Dis waar die moeilikheid gekom het; ek het nie geweet hoe om hom te vertel nie. Ek was skaam en wou hom nie seermaak nie. Toe hou ek aan uitstel. Weke lank, ná ek al ’n keer op Toowoomba gaan kuier het. Ek het tien keer ’n brief begin waarin ek dit aan hom verduidelik het, en dit elf keer gedelete. Hom probeer bel, maar ons vlugte het nie oorvleuel nie en ek het hom elke keer gemis. Selfs eenkeer met ’n oornag-Durbanvlug laat die aand uitgery Skamanga toe, maar voor dooimansdeur gekom. Teen daardie tyd het die skinderstorie die hele lugdiens vol gelê, en op die ou end het Deneys dit by ander mense gehoor. Hy het deur die dak geklim. Ontplof. My uitgeskel en afgeskryf. Hy het my steeds nie vergewe nie, volgens Margo.”

“Nee. En nou dink hy ek is ook als wat sleg is, omdat ons susters is.”

“Ek is jammer. Ek het aangejaag en hom swak behandel. Agterna het ek Skamanga toe gebel en probeer verduidelik, maar hy het die foon neergesit. Ek het uiteindelik sover gekom om ’n lang e-pos te skryf om vergifnis te vra vir my gedrag, maar ek weet nie of hy dit ooit gekry of gelees het nie.”

“Hoekom het jy my laat glo dit was alles sy skuld omdat hy dwars en stroomop was?”

“Seker maar … om my gewete te sus, of om myself in ’n beter lig te stel. Dit was lelik van my en ek is baie jammer, Karrie. Maar dis te laat, nè?”

“Veels te laat, ja. Hy het vanoggend hier uitgestoom soos ’n lokomotief wat ’n berg soek om plat te ry. Ek dink ek moet solank my tasse uit die kas haal.”

“Daardie ou van die koerant het natuurlik die situasie vererger.”

“Ja. Deneys dink ek het stringe kêrels wat ek aan ’n lyntjie hou. Ek weet nie hoe om hom te hanteer nie.”

“Deneys is een uit ’n duisend – beter as wat ek hom geskets het. Maar hy is nie ’n absolute engel nie, sussie. Hy ís moeilik, dikwels onmoontlik. Die soort ou met wie jy mooi moet werk. As hy terugkom, wees geduldig. Vriendelik en lieftallig. Trek weer daardie nuwe sonrok aan, skink twee glasies wyn en nooi hom om dit saam met jou op die patio te kom drink, ensovoorts … ensovoorts … Jy is ’n vrou, jy sal weet wat om verder te doen.”

“Dis die probleem: ek weet nie! Ek was te lank ’n kloosterkoek en net met bleeksiele deurmekaar. Ek weet nie hoe om ’n normale pass by ’n man te maak nie.”

“Volg net jou natuurlike instinkte en jy kan nie verkeerd gaan nie.”

“My natuurlike instinkte sê vir my as ek dit waag om my wimpers vir hom te fladder, gaan hy flip. Of in sy kar klim en na Tasha Alexander toe ry.”

“Moenie hom toelaat nie. Keer hom.”

“Hoe?”

“Waar was jy die dag toe vroulike listigheid uitgedeel is, sussie?” spot Vita.

“Ek het agter die deur gestaan,” kla Carmia. “Ek weet nie hoe nie.”

“Het jy al ooit van skinny dipping gehoor?” waag Vita dit.

“Al daarvan gelees, maar ek weet nie presies wat dit is nie.”

“Dis kaal swem.”

Carmia is geskok. “Saam met ’n … ’n mán?”

“Natuurlik! Dit sal mos nie pret wees saam met jou má nie.”

“Het jy dit al gedoen?” vis Carmia nuuskierig uit.

Vita omseil die vraag. “Ons praat oor jou, nie oor my nie. Al wat ek kan sê, is: dit lewer die gewenste resultate. Probeer dit.”

Carmia is dankbaar haar suster is duisende kilometer ver sodat sy nie haar gesig kan sien nie. “Waar? By die swembad of die see?”

“Daar’s nie reëls nie. Drink die wyn en volg jou instinkte. Maar ek reken die see is beter. Dis meer privaat en laat meer ruimte vir improvisasie. Deneys is ’n sterk swemmer. Jy kan voorgee dat jy te diep ingegaan het en in die moeilikheid is, sodat hy jou kan red en mond-tot-mond-asemhaling toepas. So ’n situasie is ideaal. Jy kan maak of jy deurmekaar is, om sy nek vasklou en hom terugsoen … Van daar na die volgende fase is maklik, dit sal vanself kom.”

Carmia het steeds bedenkinge. “Hoe weet jy? Het jy dit al uitgetoets?”

“Ek kan nie waarborge gee nie,” sê Vita geheimsinnig. “Maar ek wed jou ’n honderd Aussiedollars jy sal daardie kookwaterkaptein se enjin kan rev. Dit klink so lekker, ek wens dit was ek!”

Kan ek so iets waag? dink Carmia toe sy haar selfoon neersit.

Sy weet nie of sy die moed daarvoor het nie. Wat as Deneys nie wyn wil hê nie, of haar in die branders los om te verdrink?

Tog voel sy minder bedruk, hoewel niks nader aan ’n oplossing nie. Wat is die alternatief ? Deneys laat glo sy is ’n skelm en ’n bedrieër en hom sonder terugbaklei op ’n skinkbord vir Tasha Alexander gee?

Die volgende oggend is Margo vroeër op, maar sy kla van duiseligheid. Haar hande en voete is geswel en die litte pynliker as gewoonlik.

“Ek het die agterstallige hoofstuk ingehaal en ’n paar korreksies aangebring, soos jy gevra het,” gesels Carmia terwyl sy vir Margo graanvlokkies inskep en warm melk oorgooi. “Dus het ek min werk vandag. Sal ons nie op die dorp gaan roomkoek eet en daarna gou ’n draai by die dokter maak nie?”

“Ek het twee pynpille gedrink. Kom ons kyk hoe ek vanmiddag voel,” skerm Margo. “Die boek is nou in die pylvak, waar al die los drade vasgeknoop moet word. Ek is bang as daar nou ’n onderbreking kom, verloor ek konsentrasie.”

“Die boek is nie alles nie.” Carmia se stem is sag maar ferm. “Jou gesondheid is belangriker, Margo. Moenie jouself te hard dryf nie. Leer om soms ander prioriteite te hê en jou voet van die petrol af te haal.”

“Jy klink soos Deneys,” kla Margo. “Hy is altyd besig om my soos ’n invalide te behandel.”

“Omdat hy vir jou omgee,” verdedig Carmia hom. Hoekom, weet sy self nie. Deneys het haar nie nodig om vir hom in die bres te tree nie. Dis tyd dat hy leer om meer sensitief te wees en ander se gevoelens in ag te neem.

Margo kyk ondersoekend na haar. “Jy lyk self of jy sleg geslaap het, kind. Is daar iets verkeerd?”

“Ek is piekfyn,” maak Carmia dit af. “Dalk het ek gisteraand te laat gelê en lees.”

Margo druk haar vingerpunte teen haar slape. “Ek het gisteroggend stemme gehoor, maar nie geweet met wie Deneys praat nie. Was dit toe hy jou gaan groet het voor hy weg is?”

Carmia knik, terwyl sy sinies dink: Die deur se toeklap kan seker as ’n groet beskou word. ’n Baie finale vaarwel.

Daar is ’n branderigheid in haar keel. Hoekom het sy nie van die begin af oop kaarte gespeel en erken sy is Vita se suster nie? Hy sou meer vergewensgesind gewees het as sy eerlik was. Sy sou haar alles vir hom gegee het … Hom liefgehad het haar lewe lank. En nou is dit te laat. Hy glo sy is ’n leuenaar en ’n bedrieër, net so vals en wispelturig soos haar suster …

“Hy is môreaand terug. Dan kan ons gerus weer braai, om te vergoed vir laas keer se fiasko,” sê Margo.

“Ons sal sien …” antwoord Carmia ontwykend. Sy is môreaand dalk nie eens meer hier nie. Of sal Deneys by hul mondelinge kontrak hou en haar agt en veertig uur kennis gee?

As sy moeilik wil wees, kan sy daarop aandring dat die finale besluit by Margo berus. Margo het haar nodig, nie net wat betref die boek nie, maar ook as geselskap en iemand wat na haar omsien.

“Ek kon nie slaap gisteraand nie,” vertel Margo. “Toe het ek nog ’n stuk gedikteer – ons held aan ’n uithoukompetisie laat deelneem. Hom laat verloor en sy lelike kant gewys. Ek weet nie of hy moes wen nie. Ek het gesukkel en dis deurmekaar … Speel die band terug. Sê wat jy dink en voeg meer emosies by. Skryf by as hulle soos papierpoppe lyk …”

Carmia voel onrustig. Margo klink onsamehangend, en dis vreemd dat sy van haar beplanning afgewyk en die held ’n skurk gemaak het. Dit sal nie deug nie. Die heldin is verlief op hom en daar is te min bladsye oor om ’n nuwe held te skep wat sy plek kan inneem.

“Ek sal sommer nou die band gaan terugspeel. Siende dat jy intussen nie kan voortgaan nie, kan jy gerus op die stoep ontspan met ’n paar van die tydskrifte wat ons laas gekoop het.”

Carmia dra die borde kombuis toe en maak vir Margo vars koffie.

“Hoe lyk sy vir jou, Dorie?” wil sy weet. “Moet ons nie by ’n dokter uitkom nie?”

Dorie aarsel. “Mevrou se kleur is sleg, en ek hou nie van die geswelde voete nie. Maar jy ken haar ook al … As sy aanhou sy wil nie dokter toe nie en jy aanhou jy wil haar vat, maak jy haar sieker. Kom ons wag tot môre, wanneer meneer Deneys terug is.”

“Ek is bang hy raas omdat ek nie beter gesorg het nie.”

“Meneer Deneys is nie so nie. Hy’s soos Zeus: blaf jou ore doof, maar byt nie. Hy ken mos darem ook sy ouma, en hy’s net so ’n hardekop as hy ’n ding nie wil doen nie.”

Carmia voel meer gerus. Sy het vroeër vanoggend ook oom Kappie se raad gevra en hy het met Dorie saamgestem: sy moenie Margo ontstig en haar bloeddruk dalk verder opjaag nie. Sy moet wag tot Deneys kom.

Wat meer kan ek doen? vra sy haarself af. Maar net wag, en sorg dat die boek klaarkom. Margo sal ontspan sodra die manuskrip by haar uitgewer is.

Die werkskamer is in wanorde, asof Margo haar goed gesoek het. Carmia pak reg, stapel al die los bladsye opmekaar en bêre die naslaanboeke. Dan gaan sit sy agter haar lessenaar en skuif die oorfone oor haar kop.

Sy speel die band twee keer terug, terwyl sy agteroor sit en aandagtig luister. Dit wat sy hoor, maak haar al meer besorg. Die verloop van die verhaal is onoortuigend en nie in Margo Vermeulen se normale vlot styl nie. Sy herhaal haarself kort-kort en die uithoukompetisie is vaag. Netnou aan tafel was dit nie opmerklik nie, maar op die band kan Carmia duidelik hoor dat Margo se tong sleep.

Sy mors nie tyd nie, draf die trap af en gryp in die verbygaan haar handsak, selfoon en die motorsleutel. “Dorie!” roep sy kombuis toe. “Ek gaan nie kanse waag nie. Mevrou is nie gesond nie, ek vat haar dokter toe!”

Dorie hardloop agterna. Hulle vind Margo op die stoep, sluimerend in die hangstoel, die tydskrifte onoopgemaak op die vloer langs haar. Haar voorkop voel warm en twee rooi kolle brand op haar wange, asof sy koorsig is.

“Moet oom Kappie nie saamgaan nie?” stel Dorie bekommerd voor.

“Hy kan nie die plaas net so los nie. Dis beter as ek alleen ry. Moenie bekommerd wees nie, ek ken die pad en sal nie ’n ongeluk maak nie.”

“Gelukkig het meneer Deneys die pad laat skraap.”

“Het hy?” Seker vóór gister se rusie, dink Carmia. Bedagsaam van hom …

Oom Kappie help Margo in die motor nadat Carmia by die voordeurtrappe stilgehou het.

“Weet jy waar dokter Denkema se spreekkamer is, nooi?” vra hy besorg.

“Deneys het die adres vir my neergeskryf. Hibiskusstraat, oorkant die koöperasie.”

“Ry versigtig. Bel my as jy probleme het.”

“Ek sal. Dankie, oom.”

Margo se oë sukkel om te fokus. “My kop draai … Voel of ek sweef,” mompel sy.

“Wanneer laas het jy jou bloeddruk laat toets?”

“Weet nie …”

“Of vir ’n algemene ondersoek gegaan?”

Margo verstaan nie en Carmia dring nie verder aan nie. Sy voer brandstof en lig haar voet versigtig van die koppelaar af, sodat die lewendige sportmotor nie uit sy spore wegspring nie. Margo se sitplekgordel is stewig vas, maar sy wil nie dat sy dalk haar kop stamp of skrik nie.

Satyn Omnibus 7

Подняться наверх