Читать книгу Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman - Страница 8
5
ОглавлениеSkamanga-landgoed is omring deur golwende suikerrietheuwels en piesangplantasies. Die trosse hang swaar uitgeswel onderkant die krone van die bome, toegebind in plastieksakke as beskerming teen die blouape se plundertogte.
Deneys volg haar blik en trek verontskuldigend sy skouers op. “Dis uit ’n boerdery-oogpunt noodsaaklik. Ek is ’n voorstander van diereregte, daarom het ek ’n ekstra ry bome vir die ape aangeplant, want dis ons skuld dat die arme goed moet steel en plunder. Dis die mens wat stelselmatig hul habitat en voedselbron vernietig het.”
Sy knik. “Die prys van beskawing, wat kamma vooruitgang genoem word. Ek het ’n artikel daaroor vir die koerant gedoen, wat heelwat reaksie in die briewekolom uitgelok het. Almal was aan die ape se kant.”
“Goed so!”
Hy draai op ’n grondpad af wat tussen die suikerriet deur kronkel, teen ’n opdraande uit tot bo-op ’n bult. Dan deur ’n indrukwekkende ingang van wit pilare en ’n mosbegroeide rietdak, gevolg deur ’n laning Cocos plumosa-palms met bougainvilleas tussenin. Die herehuis lê om die volgende draai: ’n reuse-dubbelverdieping met uitgekerfde balkonne en pilare, alles in glinsterende wit, soos ’n roomyskoek. Die huis is omring deur grasperke, tuine en vrugteboorde, met aan die sykant ’n glimmende swembad die kleur van smarag.
Carmia trek haar asem in. “Dit lyk soos ’n poskaart!”
Deneys hou by die voordeur stil. “Welkom op Skamanga. Ek hoop jy sal lank en gelukkig hier woon.”
“Maar nie té lank nie?” troef sy hom. “Nie veel langer as die drie maande nie?”
Hy skud sy kop, glimlag net en laat hom nie uitlok nie.
Drie rifrughonde en ’n trop ganse storm op die bakkie af. Carmia bly sit.
“Die verwelkomingskomitee,” verduidelik Deneys.
“Vir die honde sien ek kans. Maar ek is bang vir ganse.”
“Toemaar, hulle blaas is erger as hulle byt,” terg hy.
“As jy al ’n keer in die waai van jou been ’n draaiknyp gevoel het, met ’n bloukol wat weke lank daar bly sit het, sal jy nie so dapper wees nie.”
“Sjoe-sjoe! Skoert!” Hy waai sy arms, gryp ’n plastieksak van die bakkie af en swaai dit dreigend in die rigting van die ganse, wat waggelend die aftog blaas.
“Veilig genoeg?” wil hy weet.
Carmia lag en klim uit. “Dankie.”
Sy streel die honde en groet hulle een vir een. “Zeus, Pluto en Uranus,” stel Deneys hulle voor.
Margo verskyn in die voordeur, in ’n linnerok met ’n snit wat net Dior kan wees. Carmia voel dadelik soos ’n sloerie in haar gekreukelde T-hemp.
Margo se groet is warm en verwelkomend. “Ek was soos ’n kind met Kersfees … En nou is jy eindelik hier!”
Sy draai na Deneys wat by die bakkie besig is. “Los, laat Josef aflaai, dan kom drink jy eers saam met ons tee, liefie.”
“Ek kan nie, ek moet dorp toe gaan en by die fabriek uitkom.”
“Los dit vir oom Kappie, dis sy werk,” keer Margo.
“Ek boer nie los-los nie,” antwoord Deneys effe ongeduldig. “Wat dink Ouma sal gebeur as ek die vliegtuig ook maar los dat hy self sy pad soek en teen ’n berg vasduiwel?”
Margo trek groot oë vir Carmia. “As hy só is, is dit maar beter om hóm ook te los. Kom ons tweetjies gaan drink eers tee en slag die yskastert wat Dorie spesiaal vir jou koms gebak het.”
Margo is duidelik uitgehonger vir geselskap en wil alles weet van die trek en Carmia se afskeid by SeeSter. Vreemd genoeg vind sy Arno se verskoning en doos sjokolade ’n mooi gebaar. “Dit wys hy het darem iewers ’n greintjie gewete.”
Carmia is skepties.
“Jy sal gouer oor die episode kom as jy dit in ’n positiewe lig sien,” hou Margo vol. “Moenie toelaat dat die man aanhou om jou lewe te versuur nie. Wees positief: gaan haal die sjokolade dat ons dit kan opeet. Dan kom daar darem iéts goeds uit die gebeure.”
Haar argument maak sin, eerder as om Arno se soenoffer in ’n vullisblik te smyt. Carmia stap uit na waar die tuinier besig is om haar bagasie af te laai.
“Tjoklits?” herhaal hy. Hy krap kop en grawe dan die oop kantoorboks tussen die ander goed uit.
Carmia neem Margo se raad ter harte, skeur daar en dan die sjokolade oop en gee vir Josef ’n hand vol, wat sy gesig laat straal. Toe sy terug in die sitkamer is en Dorie met die teewaentjie gelaai met Royal Albert-porselein inkom, kry sy dieselfde bederf.
“In ruil vir ’n skyf van daardie droomtert,” vlei Carmia haar. “Daardie stuk met die meeste kersies op.”
Dorie hou daarvan om geprys te word en sy hou van gesels terwyl sy die tee skink. Toe Carmia uitvra oor die oorsprong van haar naam, skud sy haar kop. Dit kom nie van Dorothea af nie. Sy stam uit ’n familie van gróót mense. Reuse. Sewevoeters, wat ’n skaal trek dat hy kreun. Toe sy gebore is, het haar ma die baba van amper vyf kilogram net een kyk gegee en uitgeroep: “Gedoriewaar, ’n geslagte kalkoen!”
Van toe af is sy Gedorie, wat deur mevrou Margo verkort is na Dorie. “Ek’s gelukkig,” spot sy. “Ek kon Kalkoen gewees het.”
Deneys stap in toe Carmia en Margo elk met ’n tweede koppie tee sit. Dis duidelik wie Dorie se gunsteling is. Sy vergeet van die nuwe assistent en draai om hom – gaan maak vars tee en bedien hom met ’n dubbelporsie tert.
Hy kyk na die oopgemaakte sjokolade en frons, maar hy sê niks. Verduidelik ook nie waarom hy nog nie weg is dorp toe nie.
“Josef het jou bagasie ingedra. Sal ek jou gaan wys waar jou suite is?” bied hy aan.
Carmia sit haar koppie op die teewaentjie neer en staan op. “Dankie.”
“Wys haar ook hoe die gordyne en die lugreëling werk,” vra Margo. “Ek gaan nou ’n bietjie rus. Gebruik jou tyd met die uitpak, Carmia. Maak jou tuis, gaan swem as jy wil, of stap deur die tuin. Ons begin eers môre werk.”
Carmia het ’n slaapkamer en badkamer verwag, met hopelik genoeg kaste vir al haar goed wat sy nie in die woonstel kon agterlaat nie. Maar daar is ook ’n mooi sitkamer en ’n balkon wat oor die see uitkyk. Sy skuif die glasdeure oop en gaan staan buite met haar arms op die reling gestut, terwyl sy die sout lug inadem.
“Dis lieflik! Dit voel soos ’n vyfsterhotel, asof ek met vakansie is. Kyk! Daar’s ’n walvis wat blaas!”
Deneys geniet haar kinderlike entoesiasme. Hy kom staan langs haar, sy oë op ’n swaar gelaaide vissersboot wat uit die diepsee terugkom. “Ek sien die marlyn loop … Gaaf, ons kan dalk volgende naweek ’n visbraai hou.”
Carmia reageer nie, nie seker of sy genooi sal word nie. Dis dalk hy en Tasha, of ’n paar ander vriende. Ek moet onthou ek is net ’n werknemer, herinner sy haarself.
Die lugreëlaar werk soos dié by die koerant, maar die gordynskakelaar is vir haar nuut. Druk die knoppie een maal en die gordyne skuif oop, twee maal en hulle skuif toe. ’n Hollywood-luukse, soos Vita sou sê.
“Margo se geskenk aan haarself, vir haar sewentigste verjaarsdag. Die dekselse goed lol kort-kort, dan moet ek in die middel van die nag uit die bed klim en gaan help as my eksentrieke ouma skielik besluit sy wil die sterre sien.”
Hy klink brommerig, maar nie regtig nie. Hy’s erg oor Margo, weet Carmia. ’n Mens kan dit sien aan die manier waarop hy haar behandel en haar in ag neem. Maar hy is een van daardie macho mans wat blykbaar dink om jou gevoelens te wys is ’n teken van swakheid. ’n Groot ou wat groot geraas maak, maar hy het ’n klein hartjie. ’n Ou vir wie ’n meisie gou lief kan raak, mits jy onthou om jou valhelm op te sit vir die donderweer en blitse.
Hulle hou die walvis nog ’n rukkie dop, dan draai hy dwars sodat hy haar in die gesig kan kyk, en leun met gevoude arms teen die reling. “Dit was ’n vinnige ommeswaai: die een oomblik wil jy Du Plessis dagvaar, die volgende oomblik is jy ewe ingenome met sy geskenk?”
Sy verstaan nie. “Wat bedoel jy?”
“Ek dink dis duidelik,” antwoord hy sinies.
“Die sjokolade?” raai sy. “Ek is g’n ingenome nie. Ek is nog net so kwaad, maar ek het geredeneer ek moet darem iéts uit die affêre kry. Dit sou ’n sonde wees om duur Switserse likeursjokolade in die asblik te gooi.”
“Jy moes die goed onoopgemaak teruggestuur het, sodat hy die boodskap hard en duidelik kon kry. Anders dink hy dis ’n groen lig om weer te probeer.”
“Hy sal dit nie waag nie.”
“Hoe weet jy?”
“Ek het hom gewaarsku: volgende keer lê ek ’n formele klag teen hom.”
“Jy moenie hom ’n opening vir ’n volgende keer gee nie. Daardie soort laat hulle nie afskrik nie. Veral as hy sy oog op ’n meisie het en dit lyk of sy besig is om speletjies te speel.”
Carmia is verbaas dat hy so aanhou karring. Wat maak dit aan hom saak as sy ’n slagoffer van seksuele uitbuiting was? Dit gebeur daagliks met duisende vrouens. Is dít wat Vita bedoel het toe sy gesê het dat hy inmengerig en dominerend is en haar ’n kopseer gegee het?
“Ek speel nie speletjies nie,” stry sy.
Hy haal sy skouers op, kom regop en loop deur toe.
Sy volg hom binnetoe en sleep een van haar tasse nader, maar begin nie dadelik uitpak nie.
Op pad uit bly hy staan met sy hand op die kosyn. “Nee, juis die teenoorgestelde. Jy is te liggelowig en naïef, Carmiatjie. Jy is ’n deksels verleidelike vroumens, maar jy besef dit klaarblyklik nie, anders sal jy mans nie so maklik vertrou nie.”
“Wie sê ek vertrou hulle?”
“Die hele situasie wys jy is onervare. Hier staan ek, ’n vreemde man, in jou slaapkamer, alleen in ’n kasarm van ’n huis …”
“Jy is nie ’n vreemdeling nie, en daar is ander mense ook in die huis.”
“Wat te ver is om te hoor as jy sou roep. Hoe goed ken jy my? Mans is nie van klip gemaak nie.”
Sy bloos. Wat suggereer hy? Of is hy bloot besig om haar raad te gee?
Hy kom na haar toe, steek sy hand uit en plaas sy vingers onder haar ken, sodat sy noodgedwonge na hom moet opkyk.
“Moenie ’n man toets nie, Carmia. Hy faal dalk …” Sy stem is grof van ’n onderliggende erns, terwyl sy diepblou oë deurdringend in hare kyk.
Sy sluk teen die skielike droogheid in haar keel. “Wat bedoel jy?”
“Ek dink jy weet …” Hy laat sy hand sak en trek met sy wysvinger ’n strepie oor haar wang. “Wees versigtiger, dom meisietjie. Anders gaan jy seerkry en een of ander tyd weer in ’n Du Plessis-insident beland.”
Op dié kriptiese noot stap hy uit.
Sy hoor sy voetstappe op die trap en skielik voel die kamer leeg, soos ’n woestynlandskap. ’n Paar minute later hoor sy ’n motorenjin dreun en sien ’n stofwolk toe die bakkie in die pad af verdwyn.
’n Moeilike, onvoorspelbare man … Dis miskien goed dat hy liewer sy vliegtuie gaan vlieg en ’n paar dae weg is, sodat sy in rus en vrede kan tuis raak. Sy trek weer die tas nader en begin werk met mening.
Sonder Deneys Vermeulen wat haar ontstel en ontstig, word dit ’n rustige middag. Sy bêre die bokse met haar persoonlike besittings uit die woonstel bo in die ingeboude kaste, wat só ruim is dat haar klompie klere verdwaal lyk daarin. ’n Stapel handdoeke en beddegoed dien om effens op te vul.
Volgende is haar boeke, wat yl lyk in die boekrak, langs ’n pak tydskrifte wat Margo blykbaar vir haar gebruik reggesit het. Haar wekkerradio kom op die bedkassie. ’n Paar vrolike kussings van haar eie, saam met ’n potplant en ’n skildery, gee die suite ’n huislike atmosfeer.
Teen halfses is sy gevestig. Sy gaan stort en trek skoon aan. Dan klim sy met die wenteltrap af om na Margo te soek – half skuldig omdat sy dalk te veel tyd aan haar eie sake bestee het. Al begin hulle amptelik eers môre werk, het sy die indruk gekry sy is ook ’n soort geselskapsdame, aangesien Margo nie mobiel is nie en dikwels alleen tuis is.
Die huis is groot en sy weet nie waar die sitkamer of Margo se werksplek is nie. Toe sy stemme laer af in een van die gange hoor, volg sy die klank daarvan, tot by ’n oop deur.
“… alarm aan en sluit die deure,” hoor sy ’n oorbekende stem sê, wat sy gehoop het al halfpad op pad Maputo toe is. Sy huiwer in die gang, maar dis te laat vir omdraai. Deneys het haar gesien en wink haar nader.
“Carmia! Kom in,” nooi hy.
“Ek wil nie steur nie …”
“Jy steur nie, jy woon hier.”
Toe hy omdraai, merk sy hy dra uniform. Donkerpers, met die vier goue rangstrepe van ’n bevelvoerder op die moue. Sy hemp is kraakwit en sy pet sit half skuins, effe afgetrek oor die regteroog. Hy lyk soos die spreekwoordelike romantiese vlieënier in ’n advertensiebrosjure.
Haar hart struikel ’n paar slae. Geen man het die reg om só te lyk nie. Om ’n meisie se knieë in dié van ’n lappop te verander en woer-woer te speel met haar hormone …
“Kom sit, kindjie,” nooi Margo. “Deneys is op pad, hy het net gou kom groet en raas en preek.”
“Dis nodig, anders gaan Ouma se bloeddrukpille weer agterweë bly, die deure saans oopstaan en die alarmstelsel nie sy werk doen nie.”
Margo knipoog vir Carmia. “Ja, kaptein,” terg sy gemaak onderdanig. “Nee, kaptein, drie sakke vol, kaptein.”
Deneys se gesig versag. Hy sit sy hande op die benerige skouers, buk en soen haar op albei wange. “Ek is Vrydag terug. Pas julle op. Gee vir Carmia ’n lys van Ouma se medikasies, asook Oudok se noodnommer. As daar enige probleme is, bel oom Kappie of die bure. Die Alexanders sal weet hoe om my in die hande te kry.”
“Kermpot,” baklei sy ouma terug. “Ek is nog nie honderd jaar oud nie. Gaan, voor jy jou vlug verpas!”
“Ek kan hom nie verpas nie, ek vliég die ding.”
“Hou op hare kloof. Loop vlieg, en moenie my lietsjies vergeet nie. Mauritius s’n dié tyd van die jaar is baie soeter as ons s’n.”
“Ek sal onthou,” belowe hy en kom staan voor Carmia. Vir ’n wilde, onsinnige oomblik hoop sy sy kry ook ’n soen, al is dit broederlik neutraal op die wang. Maar hy steek sy hand uit.
“Ek hoop jy raak gou ingeburger. As jy sukkel, laat Dorie help of oom Kappie van Zyl, Skamanga se bestuurder. Kyk mooi na jouself, en na my eiewys ouma.”
Toe sy hand om hare sluit, trek hy haar onverwags nader en soen haar saggies, vol op die mond. Sy oë ontmoet hare en hou haar blik gevange. “Ek is jammer as ek vroeër vanmiddag oorboord gegaan het en te persoonlik was, maar dis omdat ek die twee vroumense in my lewe se welstand op die hart dra.” Hy vee met sy duim ’n paar verdwaalde hare van haar voorkop weg. “Sien julle Vrydag.”
Carmia staan soos ’n soutpilaar lank nadat hy uit is, haar vingers teen haar lippe gedruk, waar sy sy mond nog teen hare kan voel. Sy kan nie onthou of sy hom gegroet het nie. Al waarvan sy bewus was, was sy mond – warm en effens klam. En sy duim wat oor haar voorkop streel. Saggies, en tog het dit gevoel asof dit ’n vuurstreep oor haar vel trek …
Asof van ver af hoor sy Margo se stem: “Sjerrie of ’n glasie wyn voor ete?”
Iets sterks, dink sy. Sommer ’n groot glas vol om haar onstuimige senuwees tot bedaring te bring. “Rooiwyn, asseblief, Margo.”
Dorie het ’n bredie van skaapskenkels gemaak, en sousbone op rys. Braai-ertappels, tamatie- en avokadoslaai. Alles haar gunstelinge, maar Carmia proe dit skaars. Sy wil haarself met ’n speld steek om seker te maak sy droom nie. Want dit kan nie wees nie, dis nie haar geaardheid nie … Sy is nie so halsoorkop en emosioneel soos ’n tiener nie; dis eerder Vita se styl.
En tog, dit voel of sy sweef. Wat gaan met haar aan? Haar hart het nog nie een oomblik teruggesak na sy normale plek nie. Sy het netnou skaars die rooiwyn geproe, en nou smaak die bredie soos semels.
Is dít hoe dit voel om verlief te wees? As jy agterna wil hardloop, jou arms om sy nek gooi en hom vra om jou asseblief weer te soen. Om te voel die wêreld het ophou draai omdat jy hom vier dae lank nie gaan sien nie.
Stop! Kom by! raas sy met haarself. Al wat hy gedoen het, was tot siens sê en jou soengroet, dieselfde as met sy ouma. Hy was net vriendelik en het niks daarby bedoel nie. Moenie op loop gaan soos ’n stootskraper sonder brieke nie.
Geen wonder hy het gesê jy is ’n liggelowige, onervare ou meisietjie nie. Hy was reg. Goeiste, jy ken die man skaars! Hoe op aarde kan jy verlief wees op ’n man wat jy nog net drie keer in jou lewe gesien het? En die eerste keer nie eens van gehou het nie. Dis onsinnig!
“Is iets fout met die kos?” vra Dorie. “Was my hand te swaar met die sout?”
Carmia wurg nog ’n paar monde vol in. “Die kos is tops,” antwoord sy, verbaas dat haar stem so normaal klink, asof niks gebeur het nie. “Dis sommer ek wat sit en dagdroom.”
Dorie kyk vraend na Margo. “Sal ek die koffie hiernatoe bring, mevrou, of sitkamer toe vat?”
“Die sitkamer,” antwoord Margo.
“Die klein sitkamer?”
“Die grote, wat jy altyd sê net vir die predikant is. Ek wil my nuwe assistent beïndruk,” skerts Margo.
“Ek ís – meer as beïndruk!” roep Carmia uit toe sy in die reusagtige vertrek instap. Sy kyk om haar na die Lodewyk XIV-stoele van brokaat en stinkhout, die vleuelklavier, die Persiese matte en skilderye.
Sy loop nader na een en trek haar asem in. “Dis ’n oorspronklike Pierneef! En ’n W.H. Coetzer … En is daardie een ’n Irma Stern?”
Margo knik. “Erfstukke van my oorlede man. Jacques was ’n versamelaar – ’n makelaar wat geglo het in kunswerke as ’n belegging. Hy het altyd gesê die plaas is ons sekuriteit, maar daar kan droogtes kom en die suikerprys kan val, dan is die kunswerke eendag ons pensioen. Skamanga sit kos op die tafel, en Pierneef verskaf voedsel aan ons siele.”
Carmia stap drink-drink met haar koffiekoppie deur die vertrek. Sy streel oor ’n Hennie Potgieter-beeld en kyk na ’n uitstalling van Waterford-kristalkraffies. Dan gaan staan sy by die klavier. “Speel jy, Margo?”
“Nie meer nie – nie met dié artritishande nie. Ek kan nie eens meer tik nie! Jacques was die musikale een. En my seun … Dit lyk of die Vermeulen-familie se musikale talent in die manlike gene lê. Deneys is ook baie talentvol. Maar die arme kind is te besig, hy kry nie tyd nie.”
Sy proe aan haar koffie en roer dit ’n slag, dan kyk sy ondersoekend na Carmia. “Ek het nie bedoel om af te luister nie … Maar ek kon nie help om te hoor wat hy vroeër vir jou gesê het nie. Wat het hy gedoen waarvoor dit nodig was om verskoning te vra?”
Carmia se emosies is nog in ’n warboel en sy wil nie daaroor praat nie. “Niks belangriks nie,” ontken sy. “Dis sommer ek wat te liggeraak was.”
Margo kyk na haar afgewende gesig en is nie tevrede nie. “Hy het nie susters nie, en sy ma is vroeg dood. Al vroulike invloed was ek, uit ’n veel ouer geslag en te verdiep in my eie hartseer en my skryfwerk om te weet hoe om ’n tienerseun te hanteer. Hy was maar op homself aangewese. Miskien daarom dat hy met verhoudings sukkel en nie altyd weet hoe om meisies te hanteer nie. Al bedoel hy dit goed, kom hy soms kras oor en kan jy dalk dink dat hy jou te na gekom het.”
Margo ken hom beter as ek, besef Carmia. Hy hét dit goed bedoel. Hy het gesê hy is besorg oor haar welstand; hy gee vir haar om, want sy is een van die twee vroumense in sy lewe. Sy behoort gevlei te voel en moes haar nie gewip het nie.
Hy was in elk geval reg oor die sjokolade: sy moes die vervlakste goed in die eerste plek nie aanvaar het nie, dan was daar nie ’n probleem nie. En dit kan inderdaad gebeur dat Arno du Plessis dit as ’n opening beskou om weer te probeer. Sy ego is so groot dat hy dit nie kan verwerk as ’n meisie nie vir sy attensies val nie.
Sy draai na Margo. “Vertel my van Deneys se ouers?”
Die ouer vrou sug. Sy vertel hoe ’n ontsettende skok die motorongeluk was waarin albei gesterf het. Dis amper twintig jaar gelede, maar dit voel soos gister … Sy was verpletter. Al wat sy wou doen, was haar kamerdeur sluit en nooit weer uitkom nie. Vriende en bure het dit goed bedoel, maar elke besoek, elke oproep en medelydende gebaar het die wonde opnuut oopgekrap en haar aan haar verpletterende verlies herinner.
Al wat gehelp het, was om haar hart en siel in ’n nuwe boek te verdiep – in fiktiewe karakters wat geleef en gelag en haar weggevoer het na ’n wêreld sonder seerkry. Dit het gehelp, maar ten koste van Deneys, wat net so diep getreur het as sy.
“Ek sal altyd voel ek het hom gefaal,” sug sy vol weemoed. “Ons is nou baie na aan mekaar, maar ek moes destyds minder egosentries gewees het en meer uitgereik het.”
Sy soek ’n sakdoek in haar mou en druk haar oë droog. Dan kyk sy op haar horlosie. “Genoeg oor myself … Dis bedtyd! Vandag was drukkend warm, en veral jy was heeldag op jou voete. Slaap môre laat as jy wil. Ek sal my intussen konstruktief besig hou. Daar is ’n lys korreksies wat ek op die band wil aanbring, en dan moet ek my held en heldin uit ’n klipskeur bo in die Drakensberg red. Dit sneeu en die temperatuur is minus 5 °C. Hulle is al sedert eergister daar vasgekeer en die heldin het boonop haar enkel gebreek. Hulle is sonder kos en dis so koud, ek is bang sy kry longontsteking.”
Carmia, wat van jongs af ’n swakte vir liefdesverhale het, wil meer weet, maar Margo weet self nog nie wat volgende gaan gebeur nie: of die man en meisie in mekaar se arms sal beland, of ’n luiperd hulle aanval, en of ’n helikopter hulle sal red nie.
Sy beplan nie die intrige ver vooruit nie, vertel sy. Dit neem die spontaneïteit en die lekker van die skryf weg. Soms neem haar karakters self oor en verbaas haar met wat hulle aanvang. Dit het selfs al gebeur dat die meisie op die laaste bladsy met die nare, bakleierige ou trou en nie met die goeie ou nie.