Читать книгу Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman - Страница 11

8

Оглавление

Deneys is laat. Margo het al tee en roomkoek bestel toe hy instap en Carmia se hart soos ’n resiesperd op hol jaag.

“Seker weer te lank saam met Tasha gekuier en die horlosie vergeet,” brom Margo.

Deneys loop agterom hul stoele, buk af en gee elkeen ’n soen op die wang. Carmia s’n is talmend – ’n bietjie langer, ’n bietjie meer as net ’n groet.

“Om te sê jammer julle moes wag,” verduidelik hy en hou ’n plastieksak omhoog. “En dié is om te wys waarom ek laat is: elfies! Die eerstes van die seisoen!”

Margo klap haar hande. “Geluk! Waar het jy hulle gekry?”

“By ou Harry. My ’n arm en ’n been gekos, plus ’n belofte van ’n bottel piesanglikeur wanneer ek weer by die klub kom. Maar elfies is dit werd!”

Dit kon net sowel tiene of neges gewees het. Carmia het nie ’n benul waarvan hy praat nie, maar hulle opgewondenheid is aansteeklik.

“Sit jy hulle in die tuin of in ’n teepot?” vra sy.

Deneys en Margo kyk haar verstom aan.

“Elfies …? Is dit feetjies of goeie geeste?”

Toe hulle aanhou kyk asof sy met die maan gepla is, verduidelik Carmia: “’n Elfie is ’n natuurgees in menslike gedaante, soos die djin of genie wat in ’n teepot woon, dan vryf jy oor die teepot se boepensmaag en dan sweef hy by die tuit uit en gee jou ’n wens.”

Deneys bars uit van die lag. “Soos Aladdin se lamp? Interessant … Maar hierdie elfies, my liewe Einstein, is visse. ’n Lelike stekelvinvis met rugvinne, maar die sappigste, geurigste vleis. Hulle word beskerm, daarom mag elwe slegs gedurende die seisoen – wat vandag geopen het – gehengel word. Daarom dat dit so ’n kosbare vonds is. Vanaand hou ons ’n visbraai!”

Margo knipoog vir Carmia. “Ons gaan uithang: kerse, kandelare, damas, parfuum en doringdraad.”

Deneys kyk haar skeef aan. “Het Oumie-hulle êrens ’n paar doppe sjerrie gaan maak?”

Margo tik sy hand gerusstellend. “Moet jou nie oor ons bekommer nie, liefie. Doen jy net jou ding vanaand met die vuur en die visse. Ons sal vir die res sorg.”

Vir ’n man met twee beroepe het Deneys verbasend baie tyd. Carmia is verras dat hy ewe rustig, meer as ’n uur lank, saam met hulle sit en kuier. Maar sy moes geweet het dis te goed om te hou.

Toe hulle elkeen met ’n tweede skyf roomkoek sit, lui sy selfoon. Dis een van die voormanne, om te laat weet daar’s ’n brand in die boonste suikerriet. ’n Span brandslaners is aan die werk, maar die wind waai verkeerd en oom Kappie reken hy beter kom kyk.

Deneys sug en neem ’n laaste, haastige sluk. “Sal julle dames regkom, alleen op pad huis toe?”

“Nee, ons sal onderstebo in Afganistan eindig!” kla sy ouma vies.

Hy maak ’n hensopgebaar met sy hande. “Skies, jammer, sal nie weer nie.”

“Ons gaan eers kunsgalery toe, dan kruideniersware koop en nog ’n paar ander draaie ry.”

“Goed, sien julle vanaand. Bel as julle probleme het. ”

“Ja, kommerkous.”

“En ry versigtig. Oppas vir die sandwalle.” Dis vir Carmia bedoel.

“Ek sal,” belowe sy.

Laatmiddag, met leë beursies en ’n volgelaaide motor op pad huis toe, sit Carmia nie ’n wiel verkeerd nie, sonder die viertrek en sy baas wat krities in haar nek blaas. Die sportmotor hanteer soos ’n droom noudat sy aan die ratte gewoond is.

Sy laai Margo by die voordeur af, parkeer die motor netjies in die garage en hang die sleutels aan die rak in die gang. Haar gevoel van tevredenheid kry ’n knou toe sy met arms vol pakkies by die sitkamer instap. Op die marmerkoffietafel staan ’n ruiker rooi rose.

“’n Koerierman het dit gebring, al die pad van die blomwinkel op Ballito af,” lig Dorie haar in. “Meneer Deneys was nog hier, so hy het die man se papiere geteken.” Sy kyk nuuskierig na Carmia, maar is te goed gemanierd om uit te vra.

Margo steur haar nie aan goeie maniere nie. “En dié? Ek dag jy’t gesê jy het nie ’n kêrel nie?” vra sy reguit.

“Ek het nie,” sê Carmia en bekyk die kaartjie. “Dit kom van daardie ghwar by die koerant. Arno du Plessis.”

“Wat wil hý hê?”

“Dat ek en hy moet oor begin, op ’n skoon bladsy.”

Margo is op die oorlogspad. “En gaan jy?”

“Natuurlik nie. Ek wil die voorbarige skepsel nooit weer in my lewe sien nie. As ek geweet het hoe, sou ek die ruiker teruggestuur het.”

Margo slaak ’n sug. “Dankie tog. Ek dag my belegging gaan bankrot speel nog voor dit dividende kon oplewer.”

Carmia besef nou eers waarop sy sinspeel. Margo is hopeloos optimisties, dink sy. Daar is meer mense se gevoelens betrokke as net hare en haar verliefde assistent s’n …

Sou Margo haar diepste hartsgeheim geraai het? Sê nou dit syfer deur na haar kleinseun en hy lag vir die ou plaasmeisietjie wat nie die verskil ken tussen ’n speelse flirtasie en dieper gevoelens nie?

Sy voel weer die warmte van sy bors wat teen haar skouer druk toe hy oor haar stoel geleun het om haar op die wang te soen. Ruik weer die amandelgeur van sy naskeermiddel … Hoe harder sy probeer om dit te vergeet, hoe meer bly die herinnering in haar gedagtes maal. Om dit te ontken of te onderdruk help nie. Sy kan net sowel eerlik met haarself wees: Deneys Vermeulen het diep spore in haar lewe kom trap.

Sy was nie daarop voorbereid nie, en sy weet nie hoe om haar weerspannige hart te beteuel nie. Daar kan tog nie vir haar ’n toekoms by hom wees nie. Hy hét ’n meisie en is nie ernstig met haar, Carmia, nie.

Sy wou wegkom van haar vaal bestaan en ’n stimulerende werk hê, sonder komplikasies. Maar hy is ’n verwikkeling wat haar haar gemoedsrus én haar werk kan kos. As sy gelukkig is, is dit sommer sentimentele verliefdheid wat sal oorwaai. Dalk as sy môreoggend wakker word, is haar hart weer haar eie en kry sy lag vir haarself – vir haar verspotte bakvissie-beheptheid met ’n gevaarlik aantreklike man.

Maar sy weet dis wensdenkery. Sy wens sy kon by Vita kers opsteek oor hoe om mans te hanteer, maar haar suster sal nie simpatiek wees nie. Sy sal verwyt dat sy Carmia gewaarsku het om wye draaie om kaptein Casanova te loop, anders gaan sy haar vingers verbrand en haar kop baie seer stamp. Erger as om net ’n migraine te hê.

Vir wye draaie is dit egter te laat. Dis nie sentiment of oppervlakkige beheptheid wat sy ervaar nie. Sy moet die waarheid erken: Deneys Vermeulen het sak en pak in haar hart ingetrek en haar hele wese oorgeneem. Haar denke, haar drome, haar hele self. Hoe kan sy so oorweldigend intens voel oor ’n man wat basies ’n vreemdeling is? Asof hy een of ander uitstraling het wat ’n kortsluiting in haar brein veroorsaak …

Dis bloot ’n fisiologiese ding, soek sy ’n ander verklaring. ’n Breinimpuls of chemiese uitwerking wat sal uitbrand, sodra sy langer op Skamanga is en aan hom gewoond geraak het. Sodra haar bloeddruk genormaliseer en sy teenwoordigheid nie meer so ’n verwoestende impak op haar het nie.

Sy sien Margo kyk vraend na haar en skrik terug na die werklikheid. Sy onthou die ouer vrou het ’n vraag gevra. “Ekskuus? My gedagtes was myle ver …”

“Dit kon ek sien.” Margo se stem is speels. “Saam met wie?”

Maar Carmia wil nie sê nie. “Sommer lawwe skoolmeisiedagdrome. Wat het jy gevra?”

“Of jy solank wil gaan bad en optooi, voor Deneys kom? Dorie het ’n nuwe kombuishulp en hulle gaan vir ons avokado Ritz as voorgereg maak, kaassoufflé en vrugteslaai as nagereg. Ek het ’n damastafeldoek, kerse en ons beste wynglase uitgehaal. Ons het mos belowe ons sal uithang om Deneys en sy elfies te beïndruk.”

“Dalk het die brand versprei en kom hy eers laat terug,” skerm Carmia.

“Dan sou hy al gebel het. Een van die voormanne het netnou salf en pleisters kom vra, so die werkers is terug en die brand onder beheer. Deneys sal betyds wees.”

“Dit lyk my die wind steek op. As ons buite gaan braai, moet ons dalk warm aantrek …”

Margo draai haar kop skeef en frons. “Wat is dit met jou, kindjie? Spring jou emosies wipplank? Wil jy liewer daardie Du Plessis-kêrel hê, dié dat jy so retireer?”

“Nooit!” roep Carmia geskok uit. “Hoe kan jy so iets dink?”

“Of het jy koue voete gekry en skaam geraak vir Deneys?”

Sy kry haar antwoord toe Carmia skielik druk besig raak met die wegpak van die kruideniersware en haar nie in die oë kan kyk nie.

Margo se oë raak sag. “Jy hou van hom, nè?”

Carmia sit die eiers in die yskas en knik haar kop op en af.

“Meer as net ‘hou van’, nè?” hou Margo vol.

Carmia bloos en soek ’n plek vir die meel en die suiker.

“Dis nie ’n skande nie. ’n Vrou se hart loop mos haar eie koers, en die liefde is nie soos ’n rok wat jy kan omruil as dit jou nie pas nie. Hy gee vir jou ook om, kind. Ek ken my eie bloed en ek lees die tekens. Ek weet Deneys was gekant teen jou aanstelling en hy het vandag geraas oor die ratte, die sandwal en ek weet nie wat als nog nie – dit waarvoor hy verskoning gevra het voor hy Mauritius toe is. Maar moet jou nie daaraan steur nie. Dis net stof opskop en ’n klomp lawaai om homself te beskerm. Dis ’n ego-ding daardie. ’n Front wat hy voorhou, soos mans maak wanneer hulle versigtig is. Hy was mal oor Vita en toe sy hom gelos het, het hy baie seergekry. Hy sukkel om dit te verwerk; sukkel om vroumense weer te vertrou en sy gevoelens te wys. Dis omdat die arme kind nie ’n ma gehad het nie … Gee hom kans, Carmia. Hy is dit werd. Dis nie omdat hy my kleinseun is dat ek blind en partydig is nie. Ek kán objektief oordeel. Hy is ’n fynbesnaarde, sensitiewe man, wat sy vrou eendag op die hande sal dra en soos ’n koningin sal behandel. Verduur maar die rammelings, dit sal oorwaai. Na die donderweer kom die reën, soos ’n welkome lentebui na ’n lang, droë winter.”

“Wat van Tasha?” vra Carmia met haar hande om die bottel mayonnaise geklem.

Margo kou peinsend aan haar onderlip. “Ek weet nie. En ek is versigtig om nie my neus in sy persoonlike sake te steek nie, want dit sal hom steeks maak. Maar ek kan nie glo dat daardie klein heks regtig Deneys se smaak is nie. Sy is ’n modepop na wie enige man twee keer sal kyk, maar ek raai die verhouding is eensydig – merendeels van haar kant af, met Deneys wat te ordentlik is om haar gevoelens seer te maak. Miskien is hulle vriendskap net platonies. Ons wag maar en gee hom tyd om sy kop skoon te kry. Doen jy intussen net jou deel: dra jou hare gereeld los soos vandag; dra kort rompies om jou lieflike bene te wys en vleiende halse om die res te doen. Die Vermeulen-mans het nog altyd ’n oog vir ’n mooi vrou gehad en my kleinseun is beslis geen uitsondering nie. Ek ken hom en ek let op hoe hy na jou kyk. Het hy darem al ’n bietjie toenadering gesoek? Jy weet mos … e … wat ek bedoel?”

Carmia pluk die naaste kasdeur oop en druk die bottel mayonnaise op die eerste die beste plek in, sommer tussen die borde en melkbekers. Dorie of iemand moet dit maar môre op die regte plek wegsit.

“Nee,” jok sy. “Natuurlik nie! Ons ken mekaar skaars. Hy was heeltyd weg en ons het mekaar skaars gesien.”

“Ek skryf te veel vrystories, dié dat my verbeelding die pad vat.” Margo strek verby haar, haal die mayonnaise uit en bêre dit in die regte kas. Sy lag ’n skuldige laggie. “Vergewe tog maar ’n bemoeisieke ou vrou se inmenging. Jy is vir my soos die dogter wat ek altyd begeer het, maar nooit mee geseën was nie. Jy en my kleinseun is twee mense vir wie ek lief is, wat ek glo vir mekaar bestem is en wat ek gelukkig wil sien …”

Sy lê ’n skewe artritisvinger oor Carmia se mond toe dié wil protesteer.

“Nee, moenie antwoord nie, kindjie. Gaan bad jy, ek sal hier klaarmaak. Gebruik jou tyd. Gooi van daardie laventelbadsout in wat op die vensterbank staan, ontspan en trek dan aan wat jy wil. Kam jou hare soos jý daarvan hou en kom uit patio toe wanneer dit jou pas. Vergeet alles wat ek gesê het.”

Vergeet alles … Makliker gesê as gedoen.

Carmia het opgespring en deur die badkamervenster geloer toe sy die dieselbakkie hoor dreun – net betyds om seker te maak dis Deneys wat gekom het. Tien minute later het sy hom in die swembad sien induik. Seker moeg en warm, vol rook en roet. Hoe kan Margo sê sy moet afskakel en ontspan? Met so ’n bruising in haar are en ’n hart wat baldadig bloed pomp?

Wat gaan sy aantrek? ’n Broekpak en haar hare kuis vasbind?

Sy kyk deur haar klerekas, woerts die hangers heen en weer op soek na iets wat geskik is vir ’n braai. Maar sy weet dis futiel; dis sommer net om haarself te troos. Daar’s geen keuse nie en sy het lankal klaar besluit …

Margo het dit vir haar as ’n geskenk gekoop – ’n “belegging”, het sy dit genoem. Dit was ’n mooi gebaar en as sy dit nie vanaand dra nie, sal Margo seergemaak voel, vertel sy haarself toe sy die ragfyn sonrok oor haar kop trek.

Sy hoef nie in die spieël te kyk nie; die sensuele sensasie van die syerige moeselien teen haar vel sê vir haar sy lyk pure vrou. Sag en vroulik en verleidelik … Haar skouers is bruin gebrand, wat mooi afsteek teen die geel. Sy weet sy lyk goed. Haar vel tintel en haar oë lyk groot en blink. Maar sy wil dit nie oordoen nie – dra net lipstiffie en genoeg poeieronderlaag om die sproete oor haar neus te verbloem. Deneys gaan waarskynlik so besig wees met die braai dat hy nie eens sal oplet hoe sy lyk nie.

Sy stap kombuis toe en help Dorie eers om broodrolletjies te smeer. Toe dra sy dit saam met die borde uit patio toe.

Deneys staan by die vuur, besig om nog hout op te pak. Hy het blykbaar nie die moeite gedoen om ’n handdoek saam te neem swembad toe of af te droog nie, en het sommer net ’n T-hemp oor sy nat lyf aangetrek. Dit klou aan sy rug en skouers en ets sy lyf af asof hy niks aanhet nie. Carmia sluk droog en dwing haar blik weg.

Hy draai om en kom nader om die skinkbord by haar te neem. Sy oë flikker oor haar sonder dat hy iets sê, voor hy sy rug draai en hom weer by die vuur besig hou.

“Ek sien die Kia is nog in een stuk, dus neem ek aan julle het veilig teruggery,” merk hy stroef op.

“Check jy my op?”

“My ouma se veiligheid is my eerste prioriteit. En as haar motor minus ’n koplig of ’n buffer is, is dit mý verantwoordelikheid om dit te laat regmaak.”

Iets is verkeerd, besef Carmia. Dis nie dieselfde vrolike Deneys van vanoggend nie. Iets het gebeur om hom om te krap.

“Het die brand groot skade veroorsaak?” vra sy versigtig.

“Nie te erg nie.”

“Het van jou werkers seergekry?”

“Nee.”

“Wat dan?”

Hy frons. “Wat bedoel jy?”

“Het ons te lank op die dorp vertoef, sodat dit Margo vermoei het? Neem jy my daaroor kwalik?”

“Dink jy ek is só kleinlik?”

Hy plak ’n stomp in die middel van die vuur, sodat die vonke in alle rigtings spat. “Ek het voorheen gesê ek glo nie jy is heeltemal so onskuldig soos jy jou voordoen nie, en dit lyk my ek was reg.”

Haar hart sink soos ’n klip na die krop van haar maag. “Ek doen my as niks voor nie. Jy het my CV gelees. Dis eerlik en sonder verdoeselings.”

“Jou CV het niks gemeld van ’n oormaat vrypostige kêrels nie.”

“Kêrels?” eggo sy onbegrypend.

“Om meer spesifiek te wees: een – wat met sy opdringerigheid ’n oorlas van homself maak.”

Arno? So, dís waaroor dit gaan … Deneys het ’n mond vol te sê gehad oor die doos sjokolade, en nou het hier boonop ’n ruiker ook opgedaag. Rooi rose, van alle dinge!

Carmia hou haar gesig ernstig. As sy vir hom lag, gaan hy sy top blaas. “Dorie het genoem dat jy die koerier se afleweringsnota moes teken. Ek is vreeslik jammer vir al die moeite,” antwoord sy sedig.

Deneys kyk agterdogtig na haar, nie seker of sy spot nie. “Ek dag jy kan die skurk nie voor jou oë verdra nie. Jy wou hom hof toe neem. Hoekom laat jy toe dat hy vir jou blomme stuur?”

“Die blomme het uit die bloute gearriveer, en dis jý wat ontvangs erken het. As dit ek was, het ek die aflewering na die afsender teruggestuur.”

“Sou jy?” vra hy skepties.

“Vanselfsprekend,” verseker sy hom.

“Die volgende stap gaan wees dat die vent hier opdaag om te kom kuier.”

“Bog! Ek sal in elk geval nie die deur oopmaak as dit wel gebeur nie.”

Sy trek haar neus op ’n plooi en skud geïrriteerd haar kop. “Ek het nog nooit gesien dat iemand so ’n bohaai opskop oor nonsens nie. As dit jou gelukkig sal maak, sal ek die dekselse goed op die komposhoop gooi!”

Hy vroetel met die braaitang en krap die stomp hout uit, wat dreig om sy vuur te smoor. Tog wil hy as man ’n laaste skoot inkry om sy ego te red. “Dis wat jy van die begin af moes gedoen het: die donnerse goed weggesmyt het!”

“En jy, kaptein Vermeulen, moes van die begin af minder nuuskierig gewees het,” troef sy hom. “Maak jy ’n gewoonte daarvan om ander mense se kaartjies en briewe te lees?”

“Die kaartjie was oop en bloot, nie in ’n toegeplakte koevert nie.”

Haar wenkbroue lig. “En jy reken dit was ’n oop uitnodiging om gelees te word?”

“Nee …”

Daar is ’n wisseling van emosies op Deneys se gesig. Eers viesigheid, gevolg deur ’n mengsel van koppigheid en verleentheid. Hy probeer sy waardigheid behou, maar sy sin vir humor wen en hy lag verleë. “Goed, nou weet jy: ek is jaloers en besitlik. Ek wil nie hê jy moet ander kêrels hê nie. As Du Plessis hier aangesuiker kom, sit ek die honde en die ganse op hom!”

Vita sê altyd ’n meisie vergewe ’n mooi man enigiets. Carmia kom agter haar suster is reg. Dit was grootmoedig om te erken hy was verkeerd. Maar só maklik laat sy hom nie loskom nie.

“Arno du Plessis was nie my kêrel nie en sal ook nooit wees nie. Hy is nie my tipe nie.”

Deneys se oë is meteens ernstig toe hulle deurdringend in hare kyk. “En wat is jou tipe?”

Jý, wil sy antwoord. Presies soos jy is, koppigheid en al. Ek gee nie om as jy jaloers en skoorsoekerig is nie, want dit wys jy gee vir my om. En dis al wat saak maak.

“Ek hou van ’n man wat sagmoedig en geduldig is, toegeeflik en vreedsaam.” Haar stem terg, maar haar oë daag hom om te snap waarop sy sinspeel.

Hy lyk of botter nie in sy mond sal smelt nie. “Soos ek?” vra hy met ’n sjarmante glimlag.

Geen man het die reg om só te lyk nie, dink sy vir die soveelste keer. Weet hy wat daardie mond van hom aan haar hormoontelling doen? Sy wil haar arms om daardie nat lyf van hom slaan en haarself vir hom aanbied. Onvoorwaardelik …

“Carmia?” vra hy sag toe sy haar wimpers neerslaan en skielik haar vingernaels met intense konsentrasie bestudeer.

Sy word ’n antwoord gespaar toe die ganse opeens ’n kabaal opskop. ’n Dreuning klink op, gevolg deur ’n voertuig wat op die gruis stilhou.

Satyn Omnibus 7

Подняться наверх