Читать книгу Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman - Страница 14

11

Оглавление

Sonder die sandwalle en die viertrek wat krities op haar hakke ry, verloop die elf kilometer gladweg. Carmia kry ’n parkeerplek voor die spreekkamer, klim uit en help Margo tot binne. Gelukkig is daar net een ander pasiënt voor hulle en herken die ontvangsdame hul plaaslike selebriteit.

“Ek het ál haar boeke gelees. Party tot drie keer!” adem sy bewonderend. “Dokter sal nie lank wees nie. Dis net oom Venter wat vir ’n nuwe voorskrif gekom het, dan kan mevrou Vermeulen ingaan.”

Carmia vryf Margo se koue hande om die bloedsirkulasie aan te help. “Hoe voel jy?” verneem sy bekommerd.

Margo klink vaag. “Ek sien alles dubbel. Ek weet jy is Carmia, maar waar is ons?”

“By die dokter,” antwoord Carmia rustig. “Hy gaan jou ondersoek om uit te vind hoekom jy sukkel om te fokus en wat die hoofpyn veroorsaak.”

Margo stribbel nie teë nie. “Ou … dok?” prewel sy.

“Wie?”

“Oudok,” herhaal Margo met ’n sleeptong.

“Dokter Denkema,” verduidelik die ontvangsdame. “Almal noem hom Oudok, want hy is al ’n leeftyd op Ballito. Hy en oorlede meneer Vermeulen was goeie vriende. Hulle het saam gholf gespeel.”

Carmia is bly die dokter is nie ’n vreemdeling nie, anders sou Margo dalk nie so inskiklik gewees het nie. Sy wonder of dit hartmoeilikheid kan wees. Of stres? Verder as dit wil sy nie dink nie.

Die vaderlike dokter met die kortgeknipte grys hare laat haar aan haar pa dink. Dieselfde sagte oë en warm handdruk. Daar is ’n knop in haar keel en Carmia verlang skielik plaas toe, en na haar ma, wat altyd oplossings vind waar ander probleme sien.

Oudok laat die pasiënt op ’n bed in die ondersoekkamer lê. Hy neem Margo se bloeddruk, luister na haar hart en longe en skyn ’n liggie in die vergrote pupille.

Hy vra ’n paar vrae, wat Carmia beantwoord so goed sy kan. Sy probeer kalm bly en haar groeiende onrus beteuel.

“Wat is verkeerd, dokter?” vra sy toe hulle terug is by sy lessenaar, met Margo steeds langsaan in die ondersoekkamer.

Hy is rustig, maar ernstig. “Haar bloeddruk is gevaarlik hoog. Haar hartklop is onreëlmatig en daar is tekens van ’n serebrale insident. Wat die omvang was, kan ons nie sonder ’n breinskandering bepaal nie. Ek wil hê dat sy in hoësorg opgeneem word vir toetse.”

“Hospitaal?” vra Carmia verslae.

“So gou moontlik.”

“Waar? In Durban?”

“As julle dit sou verkies. Maar die privaat hospitaal op Ballito het die nodige fasiliteite. Dis nader vir julle, en ek reken dit sal die pasiënt die minste verontrief.”

“Ja, natuurlik. Ek het nie geweet hier is ’n hospitaal nie.”

Carmia neem haar handsak en staan op. “Kan ons eers gou huis toe gaan om slaapklere en goed te kry?”

Dokter Denkema skud sy kop. “Ek het ’n ambulans laat kom om haar direk hospitaal toe te neem. Jy kan later die nodige bring en die opnamevorms invul. Waar is haar kleinseun?”

“Ek weet nie. Kaapstad, dink ek. Is dit nodig om hom te laat kom?”

“Wanneer verwag julle hom terug?”

“Môre een of ander tyd.”

“Laat hom net weet, vir ingeval.”

Carmia huiwer. “Dokter, ek is dom … Wat is ’n serebrale insident?”

“’n Beroerte-aanval. Bloeding op die brein.”

Dit verklaar die hoofpyn. Die verwarring. Die swak koördinasie en spraak …

Carmia is in ’n dwaal terwyl sy terugry huis toe. Margo het nie geregistreer toe sy gegroet het nie en was gedisoriënteer. Sy moet haarself dwing om rasioneel te dink, te besluit wat Margo gaan nodig hê en wat sy moet pak. Vir haarself moet sy ook ’n paar goed in ’n sak gooi, want sy weet nie hoe lank sy by die hospitaal gaan wees nie.

Dorie is ’n voorslag. Sy weet presies watter slaapklere mevrou sou wou hê, watter toiletware, tas en leesgoed. Carmia weet nie of Margo hoegenaamd kan lees nie, maar sy laat Dorie begaan. Dié verseker haar sy sal die huishouding aan die gang hou, en oom Kappie sal meneer Deneys laat weet. Carmia moet haar oor niks hier bekommer nie.

By die hospitaal vul Carmia die opnamevorms in so goed sy kan. Sy oorhandig Margo se tas en praat met die saalsuster. Die dokters is steeds besig met toetse en dit sal ’n geruime tyd duur voor sy die pasiënt kan sien. Sy gaan sit op ’n bankie in die gang en eet die broodjie wat Dorie vir haar gemaak het – vir middagete bedoel, maar dis amper al skemer buitekant. Beroerte is ’n woord wat haar bang maak. Wat gaan gebeur as Margo nie herstel nie? As sy ’n invalide moet wees die res van haar lewe? Sy is so passievol, so borrelend en vol emosie, Carmia kan haar nie voorstel aan ’n bed gekluister nie.

Om nie te kan lees of praat nie, en dalk verlam te wees? Skryf was ’n integrale deel van haar bestaan. Dit sal ’n tragedie wees as haar loopbaan op hierdie manier beëindig word, as sy nie eens hierdie laaste boek waaraan sy so hard gewerk het, kan klaarmaak nie.

Die trane loop oor Carmia se wange. Sy vee hulle met haar kaal hande af, doen nie eens die moeite om ’n snesie te soek nie. Om die tyd om te kry, bel sy vir Dorie, haar ma en suster.

Haar ma is vol troos en bemoediging. “Wat van jou werk?” vra sy dan. “Sal jy aanbly, of sal hulle ’n verpleegster kry?”

“Ek weet nie; ek het nog nie eens daaraan gedink nie. Die belangrikste is dat Margo moet gesond word. Die dokters reken dit sal ’n paar dae duur om die omvang van die beroerte te bepaal.”

Vita is baie simpatiek. “Wil jy hê ek moet kom om jou by te staan?” bied sy aan. “Ek sal as jy my nodig het.”

“Nee,” keer Carmia dadelik. “Dit sal net spanning veroorsaak en die situasie vererger.”

“Deneys?”

“Ja.”

“Was hy baie ontsteld oor Margo se aanval?”

“Ek weet nie. Oom Kappie het met hom gepraat.”

“Het hy jou nog nie gebel nie?”

“Nee.”

“Hoekom nie? Hy moes tog al, hy is dan so erg oor sy ouma. Mens sou dink hy moes darem al van hom laat hoor het.”

“Goeie aarde, Vita, ons het ’n aaklige rusie gehad! Hy wil nie met my praat nie. Het jy vergeet?” vra Carmia geïrriteerd. Haar suster is dierbaar, maar sy kan soms ook uitputtend wees.

“Sorrie-sorrie … Ek is ’n ongevoelige bees. Maar ek is deel van jou probleme en wou net help.”

“Ek weet. Ekskuus dat ek jou kop afgebyt het, maar ek is gestres. Margo is op die oomblik my eerste prioriteit, nie Deneys met sy nukke en grille nie.”

“Jy’s reg. Vergeet hom,” stem Vita saam. “Alle sterkte! As Margo wakker word, sê ek stuur liefdegroete en beterskapwense. Bel jou môreoggend, sussie.”

Buite reën dit, met ’n suidewind wat die blare in die straat en in die parkeerterrein laat ronddwarrel. In die gange begin die personeel aandete bedien. Dit ruik na vis en hoender.

Carmia was haar hande en gesig en gaan sit weer op die bankie in die gang, oorkant intensiewesorg. Ná al die ure voel dit al of sy daar woon. Die hospitaal het ’n wagkamer, maar dis op die grondvlak en te ver weg. Vroeër het sy ’n ruk daar gesit, maar toe teruggekom, bang sy mis die neurochirurg. Dokter Fourie is jonger, haastiger en saakliker as Oudok. Nie ’n méns-mens nie, sodat sy sukkel om met hom te kommunikeer.

Haar ma het die kwessie van ’n verpleegster vir Margo geopper, en dis seker logies. Nóg meer rede om van my ontslae te raak, besef Carmia. Sy sit en tob oor haar toekoms – of sy hoed in die hand by SeeSter sal gaan aanklop en haar ou betrekking terugvra, en of sy dalk moet teruggaan Tsumeb toe.

Sy kyk op toe sy stemme om die hoek in die gang hoor opklink. Een is dokter Fourie s’n, en aan die manier waarop haar maag skielik op ’n knop trek, weet sy aan wie die ander stem behoort.

As dokter Fourie alleen was, het sy opgespring en gaan vra watse nuus daar is. Maar met Deneys by het sy nie die vrymoedigheid nie. Sy is ’n buitestander, nie familie nie, net ’n werknemer – tydelik en onwelkom, wie se dienste binnekort beëindig sal word. Hy sal dalk nie eens die nodigheid insien om haar op die hoogte van sy ouma se toestand te hou nie.

Die stemme kom nader en sy kou senuweeagtig aan haar duimnael. Hier en daar kan sy ’n woord uitmaak: monitors … A-ritme …

Dan kom hulle opeens om die hoek: dokter Philip Fourie met ’n dik lêer in die hand en ’n stetoskoop om sy nek, en Deneys in lewende lywe. Groter as wat sy hom gevisualiseer het, in ’n uniformbroek en gekreukelde hemp. Hy lyk moeg en sy hare is deurmekaar, asof hy kort-kort sy vingers daardeur trek.

Hy kyk op, reguit na haar. Sy weet hy het haar gesien, maar hy groet nie en wend geen poging aan om haar by die gesprek in te sluit nie.

Toe hulle in die lang gang af verdwyn, gaan soek Carmia die saalsuster. Al wie sy kan vind, is een van die verpleegsters – ’n rabbedoe met kort rooi hare wat soos ystervarkpenne orent gejel is.

“Was daai wraggies homself ?” vra sy kortasem.

“Homself ?” herhaal Carmia onbegrypend.

“Dié kaptein Deneys Vermeulen van Skamanga-landgoed? Ek het al ’n lorrievol van hom gehoor, maar die man nog nie met ’n oog gesien nie. Wow, wat ’n prentjie! Nog skatryk daarby … G’n wonder hy’s die vangs van die distrik nie!”

Onder ander omstandighede sou Carmia gelag en saamgestem het. Maar sy is hartseer oor Margo en seergemaak omdat Deneys nie eens die moeite gedoen het om haar darem net te groet nie. ’n Paar dae gelede het hy gesê hy sal graag die een wil wees wat haar annekseer, nou maak hy of sy nie bestaan nie.

Die rooikop beskou Carmia nuuskierig. “Is jy sy meisie? Sê net die woord as jy hom nie meer wil hê nie, dat ek hom kan gryp. Vir daai dish sal ek my virginity gee, my áls gee en –”

Sy bly vervaard stil en loer grootoog oor Carmia se skouer, albei hande verskrik oor haar mond gedruk. “Oeps! Sommer ’n grappie. Ek’t nie bedoel …” Sy probeer nie verder toesmeer nie en verdwyn haastig na die veiligheid van die naaste linnekamer.

Carmia bly doodstil staan, haar blik op die oorkantste muur gevestig. Sy hoef nie om te kyk nie; sy kan die geur van sy naskeermiddel ruik.

Deneys verskyn in haar gesigsveld. Sy mondhoeke roer in ’n beduidenis van ’n glimlag, maar toe hy na haar kyk, versomber sy gesig.

“Ek het jou vroeër gesoek. Gedink jy’s huis toe,” merk hy stroef op.

Seker die tyd toe sy gaan hande was het … Sy kan haarself gelukkig ag dat hy darem met haar praat en haar nie weer ignoreer nie.

“Ek sal nie weggaan voor ek met jou ouma gepraat het nie,” sê sy saaklik.

“Sy is onder verdowing, onbewus van wat om haar aangaan.”

“Ek wil haar nietemin sien, al weet sy nie ek is by haar bed nie.”

“Soos jy wil.” Dit klink asof hy belangstelling verloor.

“Ek wil,” herhaal sy ferm en draai weg in die rigting van die venster.

Deneys kyk gefrustreerd na haar. “Ek kan nie met jou rug praat nie!” roep hy ergerlik uit.

Nou loop dan! dink sy stug. Wie sê ek wil met jóú praat? Net sodat jy weer kan verwyt en teen my uitvaar …

Hy brom iets en loop in ’n halfsirkel om haar, sodat hy voor haar te staan kom.

“Philip Fourie het my die X-straalfoto’s van die skandering gewys. Dit toon ’n kol aan die linkerbreinlob. As dit ’n halfsentimeter hoër was, het dit ’n verlies aan motoriese breinimpulse veroorsaak, wat verlamming sou meegebring het.”

Carmia vergeet haar kleinlikheid. Sy trek haar asem in terwyl sy teen die trane veg. Dit sou ’n lewende dood gewees het. Arme Margo … Sy wou môreaand braai, nou lê sy hulpeloos aan monitors gekoppel.

“Wat is die skade soos haar toestand nou is?”

“Sy sal aanvanklik disleksies wees, met swak spierkoördinasie. Haar sig en spraak is aangetas, maar met terapie is daar ’n goeie kans dat dit gaandeweg sal verbeter.”

Klein genades by die ongeluk … Carmia is bewoë en knyp haar oë toe. Dankie, Heer, fluister sy in haar hart. Dankie vir u barmhartigheid wanneer u kinders se nood die grootste is.

Teen sy sin versag die stroewe lyne om Deneys se mond. Hy sien die traanstrepe oor haar wange en moet hom keer om haar nie vertroostend teen hom vas te hou nie. Margo het hom vertel dat Carmia platsak was, en hy kan verstaan dat sy nie by die koerant kon aanbly nie. Miskien daarom dat sy oor haar identiteit geswyg het – omdat sy desperaat was vir die werk. Sy ouma dink die wêreld van haar …

Sy gesig verhard egter toe hy onthou dat Margo net so geheg aan die ousus was. Sy het Vita vertrou en haar mensekennis het haar sleg in die steek gelaat. Wie sê sy ouma trap nie in dieselfde strik met die jonger suster nie? Soos hý op die punt was om te doen, voor hy tot besinning gekom het.

“Jy was heeldag by die hospitaal. Het jy al iets geëet?” Sy stem is meer kortaf as wat hy bedoel het.

Carmia vee met haar hande die trane weg en knik.

“Wát?”

Sy is vaag. “Ek kan nie onthou nie. Brood …”

Deneys is ongeduldig. “As jy van die honger omkap, sit ons met nog ’n pasiënt opgesaal. Jy beter saamkom kafeteria toe, dat jy iets in jou maag kan kry.”

Plig, besef Carmia. Nie omdat hy saam met haar wíl gaan eet nie, omdat dit lastig sal wees as sy omkap.

Sy bly staan toe hy aanstap. “Ek is nie honger nie.”

Hy steek ergerlik vas. “Dis ’n medisinale noodsaaklikheid, nie ’n romantiese ete vir twee by kerslig nie.”

En ek moet spring net omdat jy jou vingers klap? “Reg, ek sal ’n rol watte bestel, saam met ’n bottel Dettol,” antwoord sy parmantig.

Sy skrik toe Deneys se hand om haar boarm sluit. Hy stuur haar met die trap af en pluk die kafeteria se deur oop. Hy raadpleeg haar nie toe hy by die toonbank koffie en toebroodjies bestel nie. By ’n tafeltjie trek hy vir haar ’n stoel uit, wag tot sy sit en stoot die skinkbord tot voor haar.

Die kos gaan dik word in haar mond en sy sal nie kan sluk nie. Carmia vryf met haar gewrig oor haar oë. Sy wens sy kan hom van Vita se brief vertel, van die telefoonoproepe en die laataandrit Skamanga toe. Maar nou is nie ’n goeie tyd om met Deneys te praat nie – nie terwyl hy so omgekrap is nie.

Sy voel ’n veerligte aanraking teen haar wang. Deneys se hand wat ’n los stuk hare uit haar oë vee … Sy kyk vinnig op na hom en dan weer af na haar bord.

“Dankie vir wat jy vir my ouma gedoen het,” sê hy.

Carmia neem ’n sluk koffie. “Ek moes al die tekens gelees het toe sy oor hoofpyn en tamheid gekla het.”

“Hoofpyn en tamheid dui nie noodwendig op serebrale bloeding nie. Jy het reg gedoen deur eie diskresie te gebruik en haar na Oudok te neem.”

“Het oom Kappie jou gebel? Hy was nie seker waar jy is nie.”

“Ek was in Port Elizabeth op die kusroete, maar ek kon reël om die direkte Durbanvlug oor te neem. Waar my bagasie is, weet nugter. Ek sou graag ’n vars hemp wou hê.”

Hy stoot sy leë koppie weg en staan op. “Ek gaan by Philip hoor of jy haar ’n paar minute kan sien. Daarna moet ons op die plaas kom. Die brand het weer opgevlam.”

Nóg slegte nuus … Sy het nie gedink dit kan brand terwyl dit reën nie, maar dis seker die sterk wind wat die vonke aangejaag het.

Is sy veronderstel om hier te wag, agterna te stap of hom by intensiewesorg te ontmoet? Dis ’n groot en bedrywige hospitaal; sy is bang hulle loop mekaar mis. Deneys is haastig huis toe en sal nie ingenome daarmee wees as sy hom ophou nie.

Dan maar hier wag, dis die veiligste, besluit sy.

Satyn Omnibus 7

Подняться наверх