Читать книгу Satyn Omnibus 7 - Ettie Bierman - Страница 12

9

Оглавление

“Knock-knock?” roep Tasha se stem. “Mind if I follow my nose?”

Carmia kan nie uitmaak wat Deneys se reaksie is nie. Hy stap beleefd nader toe Tasha ligvoets die patiotrappe opdraf. Soen die kersierooi mond wat sy na hom uithou.

Sy gee hom ’n waarderende kyk. “Wow! Jy lyk soos ’n body builder! Deliciously drukbaar …”

’n Stuk hout knetter en Deneys keer vinnig, voor die vonke spat. Tasha is baie duidelik tuis op Skamanga. Terwyl hy by die vuur besig is, strek sy oor en annekseer sy glas wyn. “Mag ek, sweetie? Jy gee nie om nie, nè?”

“Wag, ek kry vir jou ’n skoon glas,” keer hy.

“Ek verkies joune …”

Sy glimlag skalks op na hom en snuif waarderend die lug. “Ek kon jou shads van doer anderkant Zimbali af ruik. Die eerstes van die seisoen! Waar het jy hulle gekry?”

“Ou Harry omgekoop.”

“Met ’n bottel piesanglikeur?”

“Hoe het jy geweet?” spot hy saam.

Die opwinding van die braai verdamp terwyl Carmia die twee dophou. Deneys het blykbaar van haar vergeet. Hulle is ontspanne en gemaklik in mekaar se geselskap. Skamanga en Zimbali lê langs mekaar; hy en Tasha het saam grootgeword en ken mekaar al jare. Soos ’n broer en suster? wonder sy.

Deneys wys nie sy gevoelens nie; hy is vriendelik met almal en dis moeilik om sy kop te lees. Met Tasha is dit makliker. Sy is koketterig en flankeer openlik met hom. Carmia kan nie help om te wonder of hy haar vir die visbraai genooi het en of sy self opgedaag het nie.

Tasha draai weg om ’n sitplek te soek. Sy proe aan haar wyn en haar blik ontmoet Carmia s’n oor die rand van die glas. Sy lyk verbaas. “Haai, sorry! Jy sit in so ’n insipiede hopie doer eenkant, ek het jou nie opgelet nie. En Deneys waarsku my ook nie dat ons ’n gas het nie … Hoesit met jou, Corlia?”

“Carmia,” korrigeer sy.

Tasha trek haar skouers op. “Whatever … Is julle boek klaar?”

Asof dit ’n graadses-opstel is wat gou afgerammel word “Nee,” antwoord sy styf. “Ek moes die manuskrip van voor af deurgaan, want daar was baie tikfoute om reg te maak.”

Carmia weet dit was lelik van haar. Sy moes nie toegegee het aan die versoeking nie.

Deneys kyk op met ’n vreemde uitdrukking op sy gesig. Eers na Tasha en dan na haar … Kan hy die atmosfeer tussen hulle aanvoel? wonder sy. En aan wie se kant is hy?

Sy het verwag dat Tasha sal terugkap, haar ignoreer of verkies om met Deneys te gesels, maar die donkerkop beskou dit blykbaar as haar plig om die nuweling te laat tuis voel.

“Ry jy?” vra sy.

“Ongelukkig nie.”

“Hierdie deel van die Noordkus is die saddle and manure belt. Dié wat bang is vir perde, is omtrent social outcasts.”

“Ek is nie bang vir perde nie, ek het net nooit leer ry nie.”

“Shame … Jy moet oorkom laat ek jou help. Ons sal vir jou ’n mak ou poon uit die ouetehuis gee. Een sonder tande, wat nie kan byt nie,” giggel sy oor haar eie grap.

Carmia glimlag gedwonge. Op Zimbali gaan kuier? Nee dankie, dan eerder ’n sosiale uitgewekene.

Tasha kyk om haar rond. “That reminds me: waar’s Granny?”

Carmia sidder, dankbaar dat Margo nie hier is om die assosiasie aan te hoor nie.

“Sy is besig met haar gunstelingtydverdryf: telefoonkuiers,” verduidelik Deneys. “Noudat Carmia hier is, sal sy hopelik meer mobiel wees en persoonlik by haar vriendinne kan gaan tee drink.”

“Hoe nice,” stem Tasha saam.

Sy bekyk Carmia se voorkoms. “Ek sien jou hare hang sommer so anyhow. Jy moet sê as jy ’n goeie haarkapper soek. Jean-Pierre is fantasties. Hy is baie vol, maar hy sal jou vir ’n sny inpas as ek hom mooi vra. Sê net wanneer.”

’n Poging om vriendelik te wees of om ’n steek in te kry? wonder Carmia. Sy het nie lus om in ’n woordgeveg met die ander meisie betrokke te raak nie. Sy gaan help liewer in die kombuis. Skottelgoed was en uie skil sal meer pret wees as om derdemannetjie te speel.

Sy kry Margo in die ontbytkamer, rustig aan die lees. “O, hier’s jy! Ek dag jy praat op die foon?”

“Ek’s klaar. Jy sal nooit glo met wie nie!”

“Een van jou vriendinne?”

“Raai nog.”

“Nelson Mandela?”

“Nee, Vita. Ons het ’n bobbejaan uit ’n boom uit geklets, en sy het my genooi om te kom brumbies vang.”

“Brumbies vang? Is dít hoekom sy gebel het?”

“Nee, sy was nuuskierig om te hoor wie die miljoen gaan wen – Lucille of Amanda. Sy wou eintlik met jou praat, maar ek het jou nie geroep nie. Ek het gedink dis goed om julle tweetjies alleen te los. ’n Vuurtjie langs die see is altyd so romanties … Het Deneys iets oor jou sexy rok gesê?”

“Nee.”

“Hoekom nie?”

Carmia sug ergerlik. “Want ons tweetjies was toe drietjies.”

“Agge nee … Tasha?”

Carmia knik.

“Dêmmit!” Margo klap die boek toe en gooi hom eenkant. “Hoekom het Deneys haar genooi?”

“Seker omdat hy haar geselskap geniet. Hoekom anders?”

“Om jou jaloers te maak?”

“Jy het ’n ryk verbeelding en jy kyk te veel sepies, mevrou Vermeulen. Sal ek die voorgereg uitneem en die kerse aansteek?”

“Los die kerse,” keer Margo vies. “Ons wil dit nie méér romanties maak vir daardie koket nie. Sy is vir die langnaweek op Zimbali, maar gelukkig vlieg Deneys môre Kaap toe. Teen die tyd dat hy terugkom, is die dressage-kampioenskap hopelik al verby en Tasha terug op universiteit.”

Gaan hy môre Kaap toe? dink Carmia teleurgesteld. Hy het niks gesê nie – hy was te besig om oor die ruiker te baklei. Jaloers en besitlik, het hy homself genoem. ’n Positiewe teken? Sy weet nie. Miskien was hy sommer net moeilik. Sommer lus om sy gewig rond te gooi.

Die braai verloop stram. Beide die soufflé en die moeselienrok het platgeval. Selfs die elfies steek in Carmia se keel was. Margo het hoofpyn en maak verskoning om vroeg te gaan slaap. Tasha babbel voort oor Desert Queen se kanse in die kampioenskap en ’n balletuitvoering in Pietermaritzburg waarheen sy Deneys wil saamsleep.

“Dis Swanemeer, sweetheart! Jou gunsteling!” kla sy met ’n pruilmond.

Deneys skud sy kop. “Draai ’n ander ou se arm. Ek is nie Saterdagaand hier nie; ek sit in PE.”

“Jy is altyd weg as ek jou nodig het,” verwyt sy.

“Dis my werk. Nooi een van daardie kampus-hunks oor wie jy altyd so aangaan.”

“Ek wil nie ’n ander ou nooi nie. Jý is my hunk en ek wil jóú hê!”

“Jammer, girl, ek kan nie.”

“Jy kán, as jy regtig wil. Ruil met ’n ander kaptein vlugte uit. Jy het dit voorheen al gedoen, why not now?”

“My vliegure hierdie maand is laag. Ek kan nie uitruil nie.”

Sy vleg haar arms om sy nek en vly haar teen hom aan. “Wat as ek special mooi vra? En agterna vir jou ’n special beloning belowe?”

Carmia het genoeg gehad. Sy stapel die borde opmekaar en dra hulle kombuis toe. Die ander twee sal haar nie mis nie. Sy glo nie eens hulle het haar gemompelde verskoning gehoor nie.

Maar sy kon sien Tasha se geneul maak Deneys kriewelrig en sy is verbaas dat hy so lank geduldig gebly het. Dit moet liefde wees, want sý het hom nie as ’n lankmoedige man leer ken nie.

Die uitstappie Ballito toe en die kuier om die vuur het Margo vermoei. Toe Dorie haar oggendkoffie kamer toe neem, laat sy weet dat sy wil laat slaap.

Carmia verwelkom die ekstra werkstyd. Margo het ’n nuwe hoofstuk gedikteer wat sy wil tik. Sy skakel die rekenaar en die bandmasjien aan, en sit en werk met oorfone oor haar kop toe Deneys met lang treë instap, pet onder die arm. Hy kom staan voor haar lessenaar, sy mond in ’n onverbiddelike lyn saamgepers.

Carmia se vingers is skielik lomp op die toetse. Sy haal met ’n hol voorgevoel die oorfone af. Iets het gebeur … Iets wat niks goeds vir haar voorspel nie. Weer ’n geskenk van Arno af, of het hy gebel? Dalk selfs opgedaag? Sy het ’n idee dis erger.

“Môre. Is jy op pad lughawe toe?” Sy probeer normaal klink, sodat hy nie moet dink sy is geïntimideer nie.

Op ’n manier is sy selfs bly om hom in uniform te sien, want dit beteken Tasha het hom nie omgepraat om vlugte te ruil nie. Dan betig sy haarself. Hier is probleme, en al waaraan sy dink, is ’n oorwinning oor ’n oppervlakkige studentjie.

Deneys se oë is troebelgrys, die kleur van cumulonimbuswolke midde-in ’n tornado. “Jy onthou ek was destyds teen jou aanstelling gekant, nie waar nie?” vra hy sag.

Carmia word nie deur die sagte stemtoon gebluf nie. Hierdie man is baie, baie kwaad.

“Omdat jy gedink het ’n assistent sal Margo se werklas verdubbel,” antwoord sy. “Ek onthou, ja. Ook dat jy later erken het jy was verkeerd.”

“Ek moes my instink vertrou het en my nie deur jou slimstories laat bluf het nie. Jy is onder valse voorwendsels hier!”

’n Band klem om Carmia se keel en haar stem is skor. “Valse voorwendsels?”

“As ek geweet het wie en wat jy is, sou ek nie eens ingewillig het om jou by die Dolfyn in Durban te ontmoet nie. Jy was oneerlik en het my bedrieg!”

“Waarvan praat jy?” frons sy verward.

“Van jou verskuilde identiteit,” lig hy haar kil in.

Dit laat haar steeds in die duister. “Ek was honderd persent eerlik oor my agtergrond en opleiding. Wat bedoel jy?”

“Jou naam. Meer spesifiek: jou ván.”

Dis asof ’n ystervuis om haar hart klem. Sy het geweet hierdie oomblik gaan kom, gewag daarvoor … Selfs ’n paar sinne ter verduideliking voorberei, maar in haar paniek is alles vergete. Haar verstand staan stil en haar tong sit aan haar droë verhemelte vas.

“Basson? Dis ’n taamlik algemene van. Kyk maar in die foonboek hoeveel Bassons daar is.”

Hy maak haar opmerking minagtend af. “Wat de joos het dit met die saak te doen? Hoekom het jy nie vir my gesê jy’s Vita se suster nie?”

“Jy het nie gevra nie. Dit het nooit ter sprake gekom nie.”

“Daardie heel eerste dag al het ek gedink jy lyk bekend, maar ek kon nie plaas aan wie jy my herinner nie.”

Dis te verstane dat hy nie dadelik die familietrek herken het nie, dink Carmia. Vita is langer, met ’n voller figuur, en haar hare is donkerder.

“Nou, egter, weet ek wie dit was.” Hy snuif vol veragting. “Iemand wat ek wil vergeet, en dit reggekry het – tot jy opgedaag het om my te herinner hoe stiksiende ek was. En dan het ek jóú van naïwiteit beskuldig … Jý wat ’n meester in slinksheid is!”

Carmia het nie verskonings nie; sy weet nie hoe om haar optrede te regverdig nie. Sy kyk nie na hom nie, sit net met onsiende oë na die sleutelbord en staar. Gaan hy haar aansê om haar tasse te pak? Sy wens Margo was hier om vir haar in die bres te tree, maar aan die ander kant wil sy ook nie stres op die ouer vrou laai nie.

“Vita het van haar suster gepraat: Karretjies of Karrie of iets. Maar ek het nie geweet dit kom van Carmia af nie. Julle het seker lekker gespot met die arme sot wat hom ’n tweede keer laat flous het?”

Carmia skud miserabel haar kop.

Deneys kan nie haar gesig sien nie, net die gordyn hare wat heen en weer swaai, en vertolk dit verkeerd.

“Ontken jy dat jy my bedrieg het?”

Sy hou haar hande in ’n hulpelose, pleitende gebaar uit. “Dit was nie met opset nie.”

“Wat dan? Per ongeluk? Hoe belieg en bedrieg jy iemand ‘per ongeluk’?” wil hy sarkasties weet. “Ek kan begryp as dit Vita was, maar ek het gedink jy besit ’n tikkie meer integriteit. Maar lyk my julle Bassons is eenders. Vat uit ’n man wat julle kan en gooi hom dan eenkant soos ’n leeggesuigde lemoen. En ek het saamgewerk … Dit vir jou maklik gemaak deur vir jou verleidelike maniertjies te val. Jy het geweet iets is besig om tussen ons te ontwikkel, maar dit was nie vir jou belangrik nie.”

Dan was sy nie al een wat daarvan bewus was nie – hy kon ook aanvoel daar is ’n vonk tussen hulle. Sy woorde skroei deur haar, soos ’n fisieke pyn wat haar laat inmekaarkrimp.

“Dit wás,” erken sy, haar stem hees van ingehoue trane.

Deneys loop soos ’n stoomroller oor haar. “Kastig nie ‘beskikbaar’ nie – dit was die woord wat jy gebruik het toe ek gesê het dat ek jou graag beter wil leer ken. Hoekom? Te veel ander kêrels? Du Plessis en nog hoeveel ander? Maar terselfdertyd nie onwillig vir ’n flirtasie nie, dit het ek deeglik agtergekom.”

Sy weet waarna hy verwys. Toe haar mond onder syne oopgegaan het en sy hom uitnodigend teruggesoen het … Haar wange brand en sy wens sy kon die herinnering uit haar geheue wis.

“Net soos jou suster – lok ’n man uit en verlei hom. Laat hom dink hy is die enigste man in haar lewe en dan op ’n dag, nul uit die noorde, hoor hy nee, hy staan heel agter in die tou en sy het ’n beter proposisie gehaak. Meer geld, beter minnaar of wat ook al … Jy en sy is eenders: ydel en agterbaks.”

“Ek weet ek moes jou gesê het –” probeer sy verweer, maar hy gee haar nie kans om klaar te praat nie.

“Hoekom hét jy nie?” val hy haar beskuldigend in die rede.

Carmia antwoord eerlik: “Omdat ek nie die werk sou gekry het as jy geweet het wie ek is nie.”

“Korrek! Ek sou gesorg het dat jy nie ’n voet naby Skamanga sit nie. Net jammer dis nou te laat. Dis jammer Tasha het my nie vroeër gewaarsku nie, dan was jy nie nou ingeburger en ewe tuis hier nie, asof jy onmisbaar is.”

Tasha … registreer Carmia. Sy onthou die nadenkende uitdrukking op die meisie se gesig toe Margo hulle voorgestel het. Sy moes geweet het Tasha sal nie gras onder haar voete laat groei om die situasie uit te buit nie. Die vroumens het haar visier op Deneys en sy sal nie toelaat dat ’n ander meisie hom inpalm nie.

Deneys sluit sy oë ’n oomblik en vryf met sy hand oor sy voorkop asof hy hoofpyn het. “En my ouma … Weet sy wie jy is?”

Carmia is met haar rug teen die muur. As sy dit ontken, is dit weer ’n leuen wat hy later teen haar kop kan gooi. En as sy erken Margo weet, betrek sy haar werkgewer by die komplot. Sy skuld dit aan Margo om haar te beskerm.

“Ek is agter met my werk,” sê Carmia met ’n kalmte wat sy van êrens opdiep. “Jy het nou jou sê gesê, en ek kan verstaan dat jy my kwalik neem. Jy het alle reg daartoe. Ek het gesê ek is jammer en probeer verduidelik wat die situasie was. Maar nou moet ek dringend hierdie hoofstuk klaarkry. Ons private vete sal moet wag tot later. Dit word laat … Moet jy nie ook gaan vlieg nie?”

Deneys kyk ergerlik op sy horlosie. “Ja, in my maai in gaan vlieg!”

Hy stap weg en klap die deur byna uit sy skarniere uit agter hom toe.

Carmia hoor dit skaars. Hoor ook nie toe die viertrek se deur klap en die gruis in alle rigtings spat soos hy wegtrek nie. Sy laat haar kop in haar hande sak terwyl hygende snikke haar skouers laat ruk.

Satyn Omnibus 7

Подняться наверх