Читать книгу Ingrid Jonker: Versamelde gedigte - Ingrid Jonker - Страница 11
Die plakkaat
ОглавлениеMy lewe is meteens ’n leë straat,
’n straat waar ou koerante, nuusberigte, waai –
flou buislig-skynsel oor ’n vuil plakkaat –
my lewe is meteens ’n leë straat.
Verlate staan ek voor een winkel stil,
’n dooie pop herinner my aan jou,
jou glimlag en jou bors; om jou ontwil
staan ek eerbiedig voor een venster stil.
Uiteindelik in die middel van die straat –
daar is geen sterre en geen maan, dit is verby,
die wind vaar in die ou koerante, die verflenterde plakkaat,
verlate staan ek in die middel van die straat.
En teen geslote deure gaan ek sit
van huise waar daar eenmaal vriende was –
ek wis nie dat ek nog kon ween en bid;
teen die geslote deure gaan ek sit.
My lewe is maar net ’n leë straat,
’n straat waar ou koerante, nuusberigte, waai –
flou buislig-skynsel oor ’n droewige plakkaat;
my lewe is maar net ’n leë straat.
Die Huisgenoot, 12 Maart 1954