Читать книгу Ingrid Jonker: Versamelde gedigte - Ingrid Jonker - Страница 17
ОглавлениеDie winter is ’n krom ou vrou
wat op die sypad ween.
Wa-la, sy dra ’n koue rok
van vuil-grys crêpe-de-chine
Ek mik verby die rooi robots
koes teen die winkelvenster,
ek loop my telkens blindelings vas
in ’n ballingskap van mense.
Ek haat die liggies van die stad
wat uit die duister groei
en in die strate oopgevlek
soos groot wit blomme bloei.
My ouma was ’n krom ou vrou,
ons huis was sink en kluite,
en voor die wintervensters was
koerantpapier vir ruite.
Jou liefde was ’n werklikheid
soos melk en bloed en warm grond,
nou druk hul telkens as ek skree
’n fopspeen in my mond.
Die suiwerheid van klapperwit
varkblomme langs die waterspruit
brei in ’n roes van modder op
teerstrate monsteragtig uit.
Die Huisgenoot, 17 Desember 1956