Читать книгу Ingrid Jonker: Versamelde gedigte - Ingrid Jonker - Страница 15
Van ’n skilder
ОглавлениеEk sien in die geverfde glas
jou helder oë deur die ure
Die beeld wat so geheilig was
gevange op my duister mure
Ek sien deur ruite in die late
nagte vuurpatrone oor die hange
Ek sien die rooi Picasso-strate
in ’n kleindorp van verlange …
My kaartespel vul duister aande
en teen plafonne rus my dowwe hoof
Soos diamante is jou hande
Jy het jou eens aan my beloof
Ek min die swart vlag van jou hare
en oë wat nóg warm nóg kil
deur sterre kyk – die kunstenare
verf nou nog daardie lippe stil
En venstertjies verlig en klein
is met die hemele skoon verward
want hulle spring en dans van pyn
Die vensters van my hart …
1955