Читать книгу Ingrid Jonker: Versamelde gedigte - Ingrid Jonker - Страница 16
ОглавлениеRoep die rooidag môrekoffie
en ek roep: gee lig, o God!
Pleit hul in die agt-uur biduur:
Laat u Naam geheilig word,
blaf ek teen hul woorde eensaam,
Laat hul eers my trane stort.
Lag hul oor die oggendure
Bring die tee, resepteboek!
Sit ek afgeskei en duister:
Laat hul dors soos myne soek
van die kerke tot hotelle
in die straat om elke hoek.
Loop hul hand aan hand en smalend
Ons-is-aan-mekaar-verbind –
Ek en jy of ek en almal
kan dan nooit voltooiing vind,
en die waan van warm nagte
lê ontnugter op die wind.
Roep ek koffie, praat oor godheid
deel resepte oral uit,
sit ek selfs my hand in joue
staan ek voor ’n koue ruit
met my duister en my honger
altyd van jul afgesluit.
Die Huisgenoot, 17 Desember 1956