Читать книгу Verstevlei - Jaco Fouché - Страница 10

III

Оглавление

Nie ver van die restaurant waar ek en Pamela ontmoet het nie, loop ek vir Lucky raak. Hy is vernoem na die karakter Lucky Luciano in ’n televisiereeks. Die akteur Michael Nouri het die rol vertolk en Lucky lyk na hom, dus die naam. Andersins is Lucky kort en breed en hy dra sy hare lank agter.

Hy is ’n masjienoperateur by ’n plek naby die rivier. Soos ek besit hy nie ’n motor nie en stap oral heen. Hy skroom nie om enige tyd van die nag in die stad te kom nie, op soek na vermaak. Hy is al met ’n mes gesteek. Vra jy hom daaroor, trek hy sy mond skeef en sê dit gebeur mos maar. Hy doen hom taf voor.

Hy was ’n rukkie op universiteit, maar die dissipline het hom gek gemaak. Nie die dissipline om te swot nie, maar die universiteitsregulasies en veral die gesindheid van sy medestudente. Hy het glo een aand ’n meisie in sy koshuiskamer onthaal en sy het tot die volgende dag gebly, in doodse stilte sodat die ander koshuisgangers nie moet uitvind daar is ’n swart vrou in hulle vesting nie. Hy het haar in die middel van die nag weer uitgesmokkel.

Lucky nooi my oor vir drienks, maar dis nog nie eens nege-uur in die oggend nie. Hy werk skofte en sy ure is anders as die meeste mense s’n. Hy doen ook ’n bietjie beeldhouwerk. Ons staan in die straat en praat. Dit kom by my op, soos soms gebeur wanneer ek ’n vriend of kennis raakloop, dat hy dalk iemand is om te vermy. Maar as ’n mens eers so begin dink, sit jy binnekort sonder enige vriende hoegenaamd.

Ek gaan saam met hom huis toe, ’n woonstel naby die staatsgebou waar Pa en Ma gewerk het. Ons gaan sit in die sitkamer, wat nogal skoon is vir ’n man se plek. ’n Vrou kom by sy kamer uit. Dis ’n bruin vrou, groterig. Lucky sê sy het ’n graad en gee klas by die kollege, rekenaarstudie. Jy sien hom selde saam met ’n wit vrou.

Die vrou se naam is Charmaine. Sy kom sit by ons en drink saam koffie. Sy praat oor die rol van mans in vroue se lewe en sê: “Die eerlike vrou is die een wat die man in haar lewe vernietig.”

Dis waarom sy nie as eerlik beskou kan word nie, want sy is nog te afhanklik, sê sy. Maar sy sal daardie deurbraak nog maak.

Lucky sê: “As jy my eendag dood aantref, sal jy weet Charmaine het haar integriteit ontdek.”

“Mans is gevaarlike buffels wat getem moet word.” Charmaine kyk lank na my, en Lucky ook. Ek weet ek moet iets antwoord, maar wat?

Lucky sê: “Ek is gisteraand na die Masonic toe, waar ’n man my probeer opchat het.”

“Wat het jy gedoen?” vra ek.

“Wat moes ek doen? Sulke dinge pla my nie. Mense is eensaam en dan doen hulle vreemde goed.”

“Ek sou hom op sy plek gesit het,” sê Charmaine, “maar op ’n mooi manier. Was hy wit?”

“Ja.”

“Dan moet ’n mens net sterker as hy staan.”

“Kom ons gaan na die Masonic toe,” stel Lucky voor.

Ons stap uit in die straat en ek voel boheems in my vriende se geselskap. En nog meer so in die Masonic, wat ’n ouerige plek is met swart verf wat van die mure afskilfer. Daar is plakkate van onbekende mans en vroue, wit en swart. Ek neem aan hulle maak deel uit van die Suid-Afrikaanse musiektoneel.

Musiek speel inderdaad ook luid, maar een van die luidsprekers sis en iemand gee die houtkas ’n klap, waarop die luidspreker heeltemal doodgaan en die musiek sagter word. My metgeselle bestel brandewyn, ek tee, wat die kroegman nie wil maak nie, en toe koeldrank. Dis te vroeg vir kuier, en ek wil nie saam met hierdie mense dronk word nie. Jy weet nie waarin jy dalk kan beland nie.

“Wat is dit met jou?” vra Lucky. Hy geniet ooglopend sy brandewyn en Coke – sy oë moet nog net begin water.

“Netnou word ek in die verderf ingesleep en beland ons in allerhande situasies.”

“En pasop tog vir allerhande situasies. Netnou sien mense jou.” Dis sarkasties gesê.

“Jy weet ek het niks teen julle nie.”

Maar dit begin: die ongemaklike praatjies waarmee Lucky homself as alternatief verklaar, as verhewe bo, of dalk parallel met, die gemiddelde Afrikanerman, as iets anders as net ’n belastingbetaler.

“Ek het nou die aand rummy met ’n stripteaser gespeel,” sê hy.

“Ek het onlangs ’n ultimate fighter gedate,” sê Charmaine.

Dis absolute snert wat hulle met ernstige gesigte praat. Wil hulle vuis wys vir die burgerlike wêreld? Is hulle bitter klassekrygers? Is dit vir my spesifiek as verteenwoordiger van ’n sekere klas wat hulle probeer affronteer, of dalk inlyf?

“Die burgerlike wêreld is meestal reg oor boheme,” sê ek verdedigend.

“Watse goed?” vra Lucky.

“Boheme het nie werklik ’n ander opsie as om rondlopers en leeglêers te wees nie. Dis net dat hulle hul toestand ’n naam kan gee en kan regverdig met ’n reeks voorbeelde uit boeke.”

Lucky skud sy kop. “Het jy al weer ’n boek gelees?”

“Lees jy alles in ’n boek of slaan jy dele oor?” vra Charmaine vriendeliker.

Ek antwoord nie daarop nie. “Ek gaan moontlik Boland toe.”

“Wat gaan jy daar maak?” vra Lucky.

“Ek gaan ’n bietjie kuier.”

“Wie ken jy wat daar bly?”

“’n Vriendin van my wil hê ek moet saamgaan.”

“Michelle?”

“Nee. ’n Ander vriendin.”

“Wat het van Michelle geword?”

“Weggevoer op die lewenstroom.”

Dit laat Lucky lag. Dis asof hy vertonerig voor Charmaine raak. Boonop is hy ouer as ek, en ouer mense is geneig om jonger mense daaraan te herinner.

“Hulle sê in die Boland is die sononders sagter op die oog,” sê hy.

“Kaapse Boere is die arrogantste soort. Ten minste is hierdie klomp Vaalpense eerlik in hulle afkeer van my,” sê Charmaine.

Lucky sê: “Jy moet ophou dink wit mense hou nie van jou nie.”

“Jy moet ophou dink bruin mense hou van jou,” sê sy, seker vies oor die vermaning.

“Dis net nog mense wat daar woon,” sê ek.

“In huise met ou meubels en met ou idees oor hoe Afrikaans hulle is. Jy gaan daar ook ’n Familiebybel of twee aantref.”

Ek het eenmaal die fout gemaak om vir Lucky te vertel van my pa wat die Familiebybel in die eetkamer gehou het. Lucky het gesê die Bybel maak dit duidelik dat ons van die Kaap af kom. As ons ware Transvalers was, sou ons dit nie gehad het nie, want die Engelse sou dit in die Boereoorlog verbrand het.

“Jy gaan nie wil terugkom nie, en jy gaan ook nie daar inpas nie,” sê Lucky. “Jy stap buitestanderskap tegemoet. Netnou is jy ook ’n boheem, en dit omdat jy dink jy’s nie ’n Vaalpens nie.”

Ek sê niks, maar ek weet wat kom.

“Jy moet onthou wie jy is en jou plek ken,” gaan hy voort.

“En wie is ek?”

“’n Average Joe met niks ongewoons aan hom nie. Jy is net-net nie werkersklas nie.”

Sy uitspraak pla my, maar ek sê niks.

Lucky kyk op dak toe, lag dan in Charmaine se rigting. “Ons elkeen dink ons is spesiaal.”

“Is ons nie almal reg nie?” vra ek.

“Nee. Baie min mense is spesiaal – jy ook nie. Hoe oud is jy nou?”

“Oud genoeg,” sê ek. “Een-en-veertig.”

“Dis wat ek bedoel. Jy kon tot dusver nog nêrens in die lewe kom nie. Hoekom sal iets nou verander?”

“Ek het al baie dinge gedoen,” verweer ek my, maar ek kan sien die gesprek het reeds doodgeloop. Lucky verwens mense wat bo hul situasie wil uitstyg. Die blote idee dat iemand dit probeer, is vir hom verraad, dit dui op ’n onvergeeflike graad van snobisme.

Ek stem in ’n mate met hom saam. Uit ’n sekere oogpunt gesien is die vraag of ’n mens jouself moet ophef inderdaad beledigend.

Verstevlei

Подняться наверх