Читать книгу Verstevlei - Jaco Fouché - Страница 5
ОглавлениеIn die begin was daar niks nie. Of ten minste, daar was baie min – net ’n bries en ’n kraai wat tande gewissel het, en die kraai het gehoes en ’n melktand het uitgekom en is in die bries weggewaai. En die tand het my heelal geword.
Vroeër drome was daar ook, veral van moord en water. Ek sou saam met my ouers in die motor ry en ons sou oor ’n brug oor ’n vol rivier ry, en dan glip die motor van die brug af en ons is onder water. Dan het ek my asem opgehou en opgehou tot ek nie meer kon nie. En dan het ek ontdek ek kan onder die water asemhaal en ek het so veilig en gekoester gevoel terwyl ek opkyk na die oppervlak bo my.
Ander kere het ons met ’n pad langs gery, al nader aan ’n groot dam of die see, en dan het die water oor die pad begin loop en ons kon nie omdraai nie.
Party nagte het ek uit ’n aardige droom wakker geword: ons huis is aangeval en mans het ons in die sitkamer aangehou. Hulle was op die punt om ons dood te skiet. Ek het my solank dood gehou in die hoop om die werklike dood vry te spring, maar ek het altyd wakker geword voor ek kon uitvind of my plan werk.
Ek het ook gedroom ek val van ’n krans of gebou af, en dan word ek wakker net voor ek die grond tref. By die kleuterskool waar ek bedags was, het ons vir mekaar gesê as jy droom jy gaan dood, gaan jy regtig dood.
Die lewe was onseker. Ons het getrek, nie ver nie, net van Bronkhorstspruit af Vereeniging toe, maar in Vereeniging was die lorrie met ons meubels nie by die nuwe huis nie. Toe maak Ma vir ons beddens met komberse en klere in die sitkamer, en ons het viennas en tjips geëet, ek en Pa en Ma en my suster oor wie ek hartseer voel.
Drie Riviere, Vereeniging: dit was ons nuwe adres. Ek onthou nie meer waar ons in Bronkhorstspruit gewoon het nie, net dat dit op die hoek van twee strate was. Eendag het ’n vrou met drie bene in die straat verbygekom, dit het ek vir lank gesweer, maar Ma het gesê dis onmoontlik.
Wat ook op Bronkhorstspruit gebeur het, is dat ek my suster met ’n klip teen die kop gegooi het. Dit het gebloei en Ma moes van haar hare wegsny om die seerplek te dokter. Ek het in die vuilgoeddrom gaan wegkruip, bang vir Pa, en bang vir my eie woede wat maak dat ek sulke dinge doen. Pa het my daar gekry en net gesê ek moet inkom huis toe. Ek het nie pak gekry nie.
Die huis in Drie Riviere het ’n okkerneutboom agter die motorhuis gehad. Ek het die okkerneute met ’n gesukkel gepluk en met ’n stukkie baksteen oopgeslaan. Die neute was in wit dons gehul, skimmel wat gegroei het in elke vrug wat ek oopgemaak het. ’n Mens moes dit seker nie geëet het nie, maar ek het. Ek onthou nog die smaak; dit was houterig.
Langs die okkerneutboom was ’n komposgat wat Pa gegrawe het. Wanneer hy gras gesny het, het ek en my suster in die warm, soet gras gespeel. Tot Pa kom sê het ons moet pasop vir slange.
Pa was ’n beheerbeampte in ’n staatsdepartement. Ek onthou die gebou waar hy gewerk het: rye mense in donker gange voor kantore met houtmeubels en liggroen blindings voor die vensters. Terwyl die stemme van amptenare uit die kantore dryf, kyk die wagtende mense na my en praat soms met my. Ek, die verskrikte maar nuuskierige wit kind wat nie die swartmense se taal verstaan nie.