Читать книгу Verstevlei - Jaco Fouché - Страница 9
2
ОглавлениеIn die aand sit ek en agt ander mense in die televisiekamer. Die helfte is wit, die ander bruin of swart. Daar is sewe vroue en net een ander man. Die voertaal is Afrikaans. Die nuus is aan, maar niemand stel belang nie en die klank is sag gedraai sodat jy net-net kan hoor hoe mense weens rampe, ongelukke, moorde en toevallighede sterf. Ek kan die woord Oblique op die skerm sien. Wanneer die sepies wys, is die kykers redelik stil, maar werklike gebeure interesseer nie die inwoners van Huis Genade nie. Ek teken nie beswaar aan nie. Werklike gebeure interesseer my deesdae net so min. Die lewe het iets geword om agter die rug te kry met so min as moontlik distraksies.
Tog dink ek aan die suster se versoek, of opdrag. Ek moet eintlik weggaan. Ná ’n ruk kwyn enige mens weg wat te lank op een plek was. Dis seker waarom ek dink daar bly niks interessants vir my oor nie. Maar wat sal ek doen? Waarheen sal ek gaan? Terwyl ek voor die televisie sit, besluit ek om my oop te stel vir moontlikhede. Ek sal ontvanklik wees vir leiding.
Die man skuins voor my sê: “Ek verlang darem na my werksdae. Toebroodjies voor die shop terwyl die grinders grind. My baas was ’n stoeier. Hulle het Saterdagaande in die Masonic gaan baklei.”
’n Vrou op die rusbank sê: “My hoof het later net aan sy aftrede gedink.”
“Die Masonic was spesiaal. As jy een jaar lank elke dag daar gedrink het, het hulle jou ingelyf. Dan moes jy onder die vloer ingaan en uit ’n skedel drink.”
“As strontpraat ’n haartjie was, het jy soos ’n gorilla gelyk.”
“Jy weet niks van die Masonic nie. Ons het ’n spesiale groet gehad.”
“Wanneer kom Michelle terug?”
“Weet nie. Sy’s nie lekker nie.”
“Sy het die ondersteuning van haar mense nodig.”
“Sy’s nuts.”
“Jou silly little fool, jy’s net so nuts. Wat dink jy maak jy in Huis Genade?”
“Renier.”
Ek kyk op. Die man het na my oorgeskuif; die vroue praat nog, nou oor breiwerk en bobotie en iets oor pasgebore babas wat ’n mens vir ’n paar dae nie moet was nie.
“Renier, wat maak jy hier?” vra die man.
“Ek wag op beter dae.”
“Is dit waar dat jy …”
“Wat?”
“Dat jy … jy weet … dat jy niks makeer nie.”
Ek kyk na die man. Sy naam is Abel. Hy praat sag en bewerig en hy kou sy wange. Eers wil ek hom afjak, maar hy is so ’n sagte teiken dat ek my skaam vir die impuls.
“Ek het geen benul nie,” sê ek geduldig.
“Jy’s hier oor Michelle, nè?”
“Sy is my suster.”
“Jy het geld, nè?”
“Watse geld?”
“Hulle sê jy betaal vir Michelle ook.”
“En?”
“Ek dink maar net jy kan mos beter doen op ’n ander plek. Jy lyk of jy kan werk. Ek kan jou help,” fluister hy.
“Wat kan jy vir my doen?”
“Koop my kamera, man. Jy weet mos, daardie digitale kamera wat ek het. Ek sal jou die guns doen.”
“Maar dis jou kamera.”
“Die ding is net ’n bekommernis. Ek is bang iemand steel hom.”
Die deur gaan oop en ’n vrou kom in, Karen. Sy is rietskraal en bleek en sy frons. Sy is deesdae weer in ’n maniese fase.
“Het julle met die suster gepraat oor die Bybelstudie?” vra sy.
“Nee.”
“Sy meen ons is besig met dwaalleer.” Sy kyk na my. “Wat is die Pok Rus?”
“Dis die Pok Restitium.”
“Wat is dit?”
“Dis die tydige herinstel van die pessimisme. Die Wêreldraad van Kerke verplig Bybelstudiegroepe om vir ses maande op te hou glo. Dis ’n soort staking – Cosatu het druk op hulle geplaas. Dink daaraan as ’n katartiese projek.”
“Jy kan so-o-o eenvoudig wees,” sê Karen.
“Hy raak so as Michelle nie hier is nie,” sê een van die ander vroue.
Dis iets wat sy net sal waag wanneer sy die ondersteuning van die Bybelgroepie het. Ek moet die gier onderdruk om moedswillig op haar skoot te gaan sit.
Abel sê: “In die Masonic het niemand ooit gestaak nie. Liefdesdiens staak nie. Jy moet werk kry, Renier.”
Ek vererg my. “Wat de hel is fout met julle? Kan julle my nie net gelukwens met my verjaardag nie?”
Ek spring op en loop by die deur uit. Agter my kom die stemme aan:
“Oe, hy kan moeilik wees.”
“Hy drink nie sy medikasie nie.”
“Hy bid ook nie.”
“Hy praat darem maklik in tale.”
“Dis wat hy self sê. Ek dink hy bedoel hy praat maklik stront.”
“Gorillamannetjie.”
“Wil iemand nie my kamera koop nie?”