Читать книгу Verstevlei - Jaco Fouché - Страница 7

1

Оглавление

Die nagte, met hul vae ligvlekke langs die gordyn, met hul skadufigure teen die meubels, bring onbetroubare herinneringe. Van stadskappe met geboue opmekaar, toringblokke, huise met erwe en honde, katte wat met tuinmure langs loop, muise en budjies wat deur prisoniers in hokke aangehou word.

Paaie kerf in heuwels in en stort motors in parkeerterreine van winkelsentrums uit waar avokado’s op uitverkoping is. Die water van die Vaalrivier sleep tydsaam en swaar aan boomstompe en maal om vasmeerplekke waar bote aan hulle toue trek. Fabrieke werk dag en nag met vae dreuning en bolle rook wat bo die vlamme in die hoogoonde uitbiggel, en ’n masjien kap heelnag eentonig op dieselfde metaalnoot, sodat skofwerkers huis toe gaan en ween oor die stilte daar.

Ek onthou vriende wat in my jeug vir ’n wyle die plek van familie ingeneem het, en familie wat later weer vriende geword het. Ons kuier tradisioneel, bewus van ons plek in die vertrappingsorde. Die lug bewe in die mikrohel tussen die kole en die vleis op die rooster, en iemand glimlag vir iemand oor iemand anders wat iets lomp doen, op daardie manier wat ons mense het. Swaers klop skaam mans op die skouer. Koketterige susters probeer hulle voor hulle broers inhou. Skoolvriende emigreer na Kanada, Nieu-Seeland, Australië, en in die maande voor hulle vertrek, kan hulle oor niks anders praat as hoe goor Suid-Afrika geword het nie.

Ek onthou ’n briefie wat my ma in my sak ontdek het toe ek in standerd twee was. Op die stukkie papier staan: “Ek vra die kys.” Ek wou dit vir Sanet gee, en het nooit nie.

Snags kom soetsuur drome. Van reise met busse en treine, van verblyf in inrigtings. Iemand klap my en dae lank beplan ek my weerwraak, net om te ontdek die persoon het geval en sy arm ernstig seergemaak. In die droom was dit ék wat verantwoordelik was en ek skaam my vir my mag.

Ek probeer in ’n tronk slaap terwyl skoolvriende verbyloop en in my rigting kyk, maar sonder dat hulle naderkom, of wil naderkom. Ek is bevlek met die smet van werkloosheid, van rigtingloosheid. Wat sal ek word? ’n Skrywer? Moontlik. ’n Skilder? Dalk. ’n Danser? Dit wás ek, en dit was goed. Ek hunker soms na die beloftes van my matriekjaar met ’n felheid wat my siek laat voel. My vyfjaarplan … My tienjaarplan … Al my planne is verminder tot een kritieke tog, wat die hele lewe is. Die lewe is ’n wanordelike vaart met ’n rivier langs waarvan die oewers so hoog is dat jy nie die landskap kan sien nie.

Wie kan die landskap sien? Net vlieërs en dromers. En die vlieërs val hulle dood en die dromers word opgesluit.

Droom. Reis van indruk tot indruk, soos van een muurprent na ’n volgende. Onderskrifte vir my bestaan lyk só: ’n Lewe ná Vereeniging. Waar is jou ouers? Hoe lank nog, Groot Pampoen?

In die oggend, laterig, klop iemand aan my kamerdeur. Ek kyk op. ’n Almanak hang agter die deur, met ’n datum omkring. Ek is vandag 43. Dis waarskynlik iemand wat my wil gelukwens.

“Meneer Proot, dis halftien.”

“Ja …”

“Meneer Proot, dis ongesond om so baie te slaap.”

“Ek het veertien uur ’n dag nodig.”

“Meneer Proot!”

“GOED!”

Ek sit regop. Die kamer is in vaagheid gehul. Agter die gordyne gloei daglig, kan ek aan weerskante sien waar die lig in die hoeke weerkaats. My mond smaak na middelklas. My stokperdjie is tandsteen bou. Ek moet ’n manier vind om geld in te bring. My heil is ek, of ek het geen heil nie.

Sy klop weer.

Ek vloek sag, maar nie sag genoeg nie.

“Meneer Proot, ek laat nie so met my praat nie!”

“Skuus, suster.”

Ek het wel geskrik. My heil is nie werklik ek nie – dis Huis Genade. Huis Genade is 570 vierkante meter kamers, gang, badkamer, kombuis en sitkamer op ’n erf met ’n groentetuin aan die suidekant wat laat vaar is, ’n digte heining oos en wes, en die straat waarop my venster uitkyk aan die noordekant. Mense sit in die tuin, inwoners met hulle kalm liggaamshouding, selfs bedees. Sommige is besonder bedees. Ons gebruik verskillende medikasie, wat verskillende gevolge het. Michelle maak die grappie dat dit belangrik is om goed gedous te wees, want dan kry ’n mens komplimente oor jou persoonlikheid terwyl jy dromerig glimlag en geluidjies maak met die spoeg in jou mond.

Ek wens sy was hier om die woord te versprei dat ek verjaar.

In die gang kyk ’n vrou na my toe ek verbyloop. Die inwoners is wantrouig oor my wanneer Michelle nie hier is nie. Ek het net my onderbroek aan, maar die handdoek hang laag tussen die bondel klere voor my maag en bedek in elk geval die ergste.

“Meneer Proot!” roep die suster ergerlik waar sy in die deur na die kombuis staan. “Genoeg is genoeg.”

Sy is kort maar groot. Sy dra ’n bril op ’n vierkantige gesig en haar hare is stekelrig.

“Skuus, suster, skuus, suster.”

Ek stort in louwarm water, maar dis ’n somersdag en dit maak nie saak nie. Langs die stort skyn lig deur die halfdeursigtige glas. Ek trek aan (denimbroek en ’n bont hemp wat ek volhou ’n Afrika-hemp is, maar Michelle sê dis eerder ’n Hawaii-hemp) en wonder of ek moet skeer. Die suster kla as ek twee dae oorslaan en wys my op die huisreëls, wat bepaal dat ’n mens tussen sewe soggens en tien saans betaamlik moet wees en gereed om besoekers te ontvang en die naam van die tehuis hoog te hou.

Ek smeer dus my gesig seep en haal die lemmetjie uit om dit oor my vel te trek. My ken los ek, soos ek nou al ’n week lank maak. Dis tyd vir ’n baardjie, soos die mode deesdae van so een uit 24 mans vereis. ’n Mens ontkom nie aan die mode nie. Elke kledingstuk wat jy dra, elke nerfaf skoen, elke stukkie baard of ongeknipte haar op jou kop sê iets oor jou.

“Meneer Proot!” praat die suster anderkant die badkamerdeur.

“Ja?”

“Ek wil jou nou dadelik sien.”

“Ek is besig om te …” Ek is sterk in die versoeking om ’n banale liggaamsfunksie te noem, maar my geïndoktrineerde ordentlikheid verplig my om te sê: “… skeer.”

Ek maak klaar en stap met handdoek, skeergoed en seep gang toe. Die suster staan daar, kort maar solied soos ’n Bybel. Haar arms is dik en pofferig en haar regterhand is in haar sy gedruk. Haar linkerhand hou ’n manuskripboek vas. Ek kan Renier Proot op die buiteblad lees.

“Dis my eiendom daardie,” sê ek.

“Kom kantoor toe.”

Inwoners loer by hulle kamers en die sitkamer uit terwyl ons met die lang gang langs stap. In die kantoor maak sy die deur agter my toe. Teen die mure is rakke met potplante en boeke. Ek kan een oor noodhulp uitmaak voor die suster my aandag opeis.

“Ek het al voorheen hieroor gepraat.”

“Dis myne.”

“Wat is dit?”

“Dis myne! Dis wat dit is.”

“Dis selfmoordnotas.”

“Dis skeppende skryfwerk.”

Sy lees: “ ‘Stilte in die huis ondraaglik. Dink aan lemmetjies en bier. Sny myself toe ek negentien was en proe aan die bloed.’ En hierdie: ‘Is daar lewe ná Vereeniging? Sal iemand Proot by ’n poort ontvang en welkom heet?’”

“Dis ’n woordspeling – poort en Proot. Dis ’n digterlike gier.” Dit sê ek floutjies. Ek voel baie verleë.

“Dis nie al nie. ‘Ek onthou negentien. Sit in ’n weermagkamp en smag na die burgerlike lewe. Ek onthou twintig. Ek klaar uit en werp my in die burgerlike lewe en verlang terug na die weermag. Sit nou in ’n tehuis wat my na enige ander plek op aarde laat verlang.’ Is jy nie gelukkig hier nie?”

“Ek is nêrens gelukkig nie. Ek is hoogstens soms gemaklik.”

“Hoe kan jy dit sê? Ons leer julle van die genade en dat die genade groot is. Jy, meneer Proot, wil jou net nie onderwerp aan die Here se almag nie.”

“Ek doen dit gereeld. Ek gaan in ’n beswyming op my kamervloer en praat in tale.” Ek begin: “Erbland vlyf syrg …” Maar dis ’n flou poging, moontlik omdat ek nie op die vloer inmekaar sak nie.

“Daai kan jy maar los, dit beïndruk my nie. Van vanaand af doen jy Bybelstudie saam met Karen-hulle.”

“Ek durf nie, suster.”

“Jy durf.”

“Hulle glo in die Pok Restitium, suster.”

“Die wát?”

“Suster moet hulle vra. Dinge is nie lekker daar nie. Ek kan sweer hulle het een aand ’n watergees opgeroep. Die plas het die volgende oggend op die vloer gelê.”

Sy is ’n bietjie van stryk gebring, maar gaan voort: “Wat beoog jy met jou verblyf hier? Jy’s nie juis siek nie, jy’s net eksentriek.”

“Ek wil net veilig wees.”

“Wanneer kom Michelle terug?”

“Oor twee weke.”

“Dis hoekom jy so omgeëllie is. Michelle sal sin in jou kop inpraat. Hoekom gaan jy nie ook ’n bietjie soontoe nie?”

“Sy bly by familie.”

“En?”

“Ek is bang vir familie.”

“Dis die mense wat die belangrikste in ons lewens is. Ek mis nooit ’n familiebyeenkoms nie. Nooit.”

“Hulle het my geken toe ek ’n kind met potensiaal was. Mense het gepraat oor my moontlikhede. Wat moet hulle vandag oor my sê? Ek sien nie kans vir al die aanmerkings nie.”

“Familie is die dierbaarste vriende wat jy ooit sal hê.”

“Die dierbaarste vriende wat jy nie kan afsê nie.”

Die suster se liggaamshouding verander meteens. Haar groot, ronde self leun vooroor en dis asof sy moed verloor het, maar in werklikheid buk sy net oor die lessenaar om iets neer te skryf. Ek kyk deur die venster na die toegegroeide groentetuin. Hier was lanklaas ’n inwoner wat geesdriftig oor tuinmaak is.

“Hier.” Sy hou ’n vel papier uit.

“Wat is dit?” Ek lees: Permissie om te vertrek vir twee weke. Get. Irma Kloppers (RN).

“Dis ’n pas. Gaan iewers heen en gun my siel rus.”

“Maar waarheen?”

“Enige plek. Jy het die verandering net so nodig soos ek.”

Verstevlei

Подняться наверх