Читать книгу Verstevlei - Jaco Fouché - Страница 14

V

Оглавление

Pamela laat weet ’n tyd, en ek berei my voor op weggaan. Ons gaan met die bus af. Al wat dit eintlik beteken, is dat ek my woonstel se geiser moet afsit en my rekeninge vroeër moet betaal, want veel meer is daar nie wat my in Vereeniging hou nie – as ek inersie buite rekening laat.

Eintlik betaal ek my rekeninge ’n maand of wat vooruit. Miskien is daar ander dele van die Kaap om te ondersoek. Hoe lank is ek nie al hier nie, en hoe maklik kan ek my nie losmaak nie.

Ek loop vir Sanet raak, ’n vrou wat saam met my op laerskool was. Ons gesels oor destyds en oor haar kinders, sy wil weet wanneer trou ek, en dan gaan ons weer uitmekaar.

Ek stap langs die rivier en kyk na gesinne op die gras onder die bome.

Ek loop terug dorp toe, verby ’n fabriek waar dinge raas: ’n geklap, ’n gestamp, ’n dreuning. By die drankwinkel op die grondvloer van die woonstelblok koop ek ’n bottel sjerrie en gaan lê daarmee in my sitkamer onder die duvet, ’n storieboek oor ’n dapper wit man in Afrika in my ander hand.

Ek bel vir Pamela, maar sy antwoord nie.

Dae gaan verby. Ek lê en dink aan my lewe in die Transvaal. Onthou dan ’n skoolvriend wat verlig van Knysna af teruggekom en gesê het: “Swak is die Kaap. Dis beter in Transvaal.”

Later stap ek na Pamela se kamer. Sy huur in Huis Helderlig, naby die treinspoor. Dis ’n ou buurt met rooisteenhuise en kinders wat my agternastaar en kwaai honde.

By Huis Helderlig gaan ek by ’n veiligheidsdeur in en word na die intensiewe eenheid verwys. Die matrone, wat ek al van groet ken, vra of ek Pamela se naaste familie is. Iets laat my ja sê en ek volg haar na ’n vertrek onder in die gang.

Hier lê my vriendin Pamela op ’n bed en gaap na lug. By haar is ’n dokter en twee verpleegsters. Die vertrek ruik na ontlasting.

“Sê iets vir haar,” sê die matrone.

Maar wat is daar om te sê? Ek staan met ’n mond vol tande en kyk hoe sy sterf.

Die dokter druk my eenkant toe en wys na die deur. Buite in die gang gaan staan ek. Toe die matrone uitkom, hou sy Pamela se selfoon na my uit. Sy sê sy sal dit waardeer as ek Pamela se mense sal kontak.

In die straat begin ek bel. Dis almal AA-mense.

AA is spesiaal, weet ek uit Pamela se voorbeeld. Ek sien dit ook toe ek dae later langs die hoop grond met die blomkranse staan. Iemand het ’n plaket van plastiek aan die bopunt van die graf ingedruk en daarop staan: Ek is verantwoordelik.

Ek staan daar terwyl dit al krapperiger in my bors raak. Ek ween. Niks dramaties nie, net trane wat loop.

Verstevlei

Подняться наверх