Читать книгу Verstevlei - Jaco Fouché - Страница 6
I
ОглавлениеEk ontmoet Pamela vir ontbyt in ’n braairestaurant. Ons voer ons vriendskap nie in eleganter plekke nie.
Pamela is ’n bejaarde vrou wat na sigaretrook en motballetjies ruik en vir almal kans sien. Nader jy haar, skreef sy haar oë agter haar bril en wuif vrolik terwyl sy iets sê, of roep as jy nog nie naby genoeg is nie.
“Hello, Renier!”
Sy kom met ’n ligte waggel nader, ’n swaai van die een been wat deur ’n dik skoensool verleng word. Sy dra ’n uitgewaste moulose rok met ’n blompatroon, en haar handsak is onder haar boarm vasgeklem. Haar gesig is breër as wat dit lank is.
“Jy’s al weer vroeg,” sê sy toe sy kom sit.
Die kelnerin is gou by. Ons bestel koffie.
“En jy tel gewig op. Een van die dae gaan die meisies nie meer lank na jou kyk nie.”
“Dankie vir die waarskuwing. Maar ek is in my veertigs, dit sal seker gebeur.”
“Hoe gaan dit met Michelle?”
“Goed. Ek het haar lanklaas gesien.”
“Jy moet rigting kry,” sê Pamela vriendelik. “Die tyd staan nie stil nie.”
Daarop reageer ek nie. Ek gebruik net die naam Michelle wanneer ek voel my heteroseksualiteit word bevraagteken.
Ons drink ons koffie, eet broodjies met kaas en aarbeikonfyt. Die kelnerin doen van tyd tot tyd by ons aan en ons stuur haar sagkens weg.
Pamela is uit die Boland. Sy het my een aand in ’n soortgelyke restaurant haar verhaal vertel. Sy het grootgeword in ’n huis met ’n slaweklok in die tuin, en daar was eekhorings in die ou akkerbome. Dit was op die dorp, maar hulle het gereeld op ’n plaas gaan kuier, Verstevlei. Ek onthou die naam, want dit wek ’n mooi prentjie.
Ek sit en luister hoe sy praat met ’n stem wat aan ’n aktrise s’n herinner, so dra dit wanneer sy ernstig raak. ’n Mens gee nie om om in haar geselskap te sit nie. Haar aksent is ’n bietjie Engels en ek raak weer lief vir haar, sy wat dertig jaar ouer is as ek.
Ek is ook bevriend, of praat ten minste, met mense wat sou neersien op hierdie vrou, oor die reuk van sigarette en motballetjies, oor die taaierige hare, oor haar algemene onaansienlikheid. Ek sou sekerlik self min van haar gedink het as ek meer gereeld in daardie mense se geselskap was en hulle menings vir my belangriker was. Maar ek is nie meer so nie.
My skooldae het my op niks meer voorberei as die gedagte dat ek altyd lojaal teenoor my skoolvriende moet bly nie, en dat ek sekere soorte mense moet vermy. Dekades later verstaan ek egter die wêreld beter, meen ek. Die wêreld, my wêreld, elkeen van ons se wêreld, is nie ’n hoofroete nie, maar ’n systasie soos die een waar Pa die nag op die trein na Klerksdorp gewag het. Vandat ek losgekom het van die bande met my skoolvriende, besef ek dis nie waar dat ons só by ons medemens moet inskakel dat ons elke liewe idee en vooroordeel moet deel nie.
Pa werk ná skool in die Kaap, ek dink drie jaar lank. Hy vang vis en swem en speel rugby. Hy is jonk. Hy het vriende met dik arms en een wat ’n dominee is. Die dominee is bekend onder die ander rugbyspelers omdat hy eendag ’n speler van ’n besoekende span van sy voete af geklap het. Dis ’n spesiale ding vir ’n dominee om te doen en die storie is lank daarna nog oorvertel.
Toe word Pa verplaas en moet hy met die trein Transvaal toe gaan. Hy reis eers na ’n klein stasie, ek dink per bus, of miskien laai iemand hom daar af, waar die trein hom drie-uur die nag moet kry. Intussen sit hy op sy bagasie voor die kaartjieskantoor en dit raak donker en hy kry koud en loop later op en af op die perron. In daardie nag kom iemand na hom toe, ’n bruin man wat met hom oor die einde van die wêreld begin gesels. Die man sê dit sal uit die water kom en die vorm van ’n slang aanneem, ’n slang met ’n juweel voor sy kop. En die slang sal begin rol en die wêreld in hom oprol en dit sal goed wees, want dan kan die wêreld verteer word en weer uit die slang se uitwerpsels gebore word. Dit onthou Pa, en ook dat hy die volgende dag in die Transvaal van die trein afgeklim het en dit was winter en die wêreld so vaal, hy het amper omgedraai en die volgende trein terug Kaap toe gehaal. Maar hy het daar gebly en hy het begin werk, my ma ontmoet en met haar getrou. Ek is daar gebore.
Pamela weet dit; ek het haar al baie van my lewe vertel. Sy weet van my voorskoolse dae, my laerskooldae, my hoërskooldae, my dansery, my alles. Of feitlik alles.
“Ek wil hê jy moet saam met my kom,” sê Pamela. “Vir ’n week.”
Ek is traag, nie oor haar nie, maar oor die guns. Ek wil niemand meer tegemoetkom nie. Dis een ding om in ’n restaurant te kuier, dis ’n ander ding om jou aan iemand te verbind, al is dit net vir ’n paar dae.
“Waarheen?” vra ek.
“Wellington.”
“Wat is daar?”
“Dis waar ek vandaan is.”
“Maar wat is nog daar vir jou?”
“Verstevlei.”
“Die plaas waarvan jy altyd praat? Wat is daar?”
“Mense wat ek ken.”
“Ken hulle jóú nog?”
“Dis mense saam met wie ek grootgeword het, ’n neef van my.”
“Ken ’n mens familie nie net só lank nie?”
“My neef is die laaste tyd siek. Hulle is Andrais’s – Andrais soos Marais. ’n Hugenootvan wat nou met my neef uitsterf, want hy het net twee dogters. Ek wil gaan kyk hoe dit met hom gaan. En ek wil sien hoe dit deesdae op die plaas lyk, ek het kleintyd daar gespeel.”
“Maar ’n mens hoef mos nie lojaal te bly aan die dinge van jou kindertyd nie?”
“Ek onthou die gloed op die werf wanneer die son sak. Dit was so ’n goue kleur teen die akkerbome en die lemoenboord. En ’n mens kon met die paadjie langs die lemoenboord af tot by Soetvlei sien.”
“Soetvlei? Wat ’n naam.”
“Dis spesiale wêreld.”
“Wanneer wil jy gaan?”
“So gou moontlik.”
“Ek sal daaroor dink, Pamela.”