Читать книгу Verstevlei - Jaco Fouché - Страница 16

VI

Оглавление

Die woonstel raak te klein, maar waarheen moet ek gaan? In die biblioteek lees ek liefdesverhale en probeer die assistent se oog vang, in die hoop om met ’n vrou te gesels, maar sy ignoreer my. Wanneer ek by die park verbyloop, sien ek kinders speel.

Lucky nooi my om te kom kuier. Toe ek daar kom, tree hy snaaks op, want daar is ’n vrou in die geselskap. Sy is wit.

Lucky, sjarmant behalwe wanneer hy hom vererg, is nie net ’n masjienoperateur nie, maar ook ’n beeldhouer. Hy vergelyk homself met Rodin, maar ek vermoed dis omdat Rodin se beelde ook nie te veel na hulle modelle lyk nie. Tog praat hy graag oor die man en ander kunstenaars, en ek moet gereeld hoor dat Rodin ’n wilde liefdeslewe gehad het.

Ek sê nooit veel oor ’n liefdeslewe nie, hou eerder Michelle voor, wat die ergste wind van my moet wegkeer. Omdat ek nie veel sê nie, gryp Lucky die geleentheid aan om meerderwaardig op te tree, hy doen hom voor as meer gesout, meer ervare. Ek voel sleg vir sy part, want dit gaan nie baie goed nie. Hy is nie meer jonk nie en sal ten spyte van sy ambisie seker nooit werklik iets bereik nie. Maar wie is ek om te praat?

Die vrou in die geselskap is ’n nuwe vriendin, en dit terwyl hy en Charmaine saamwoon. Haar naam is Noenie en sy behoort tot die AGS-kerk en praat van die Here terwyl sy sigarette rook. Sy sê dinge soos: “Almal is damaged” en “Die bank laat ’n mens toe om soms ’n paaiement te mis.”

Ek is seker dat Lucky by my wil spog met sy vriendin, wat my nie juis beïndruk nie, al bly ek vriendelik. Hy praat soms van minnaresse, maar noem nie name nie en dan maak ek dit af as blote praatjies.

Noenie gesels oor haar kinders. Sy werk by die inbelsentrum van ’n versekeringsmaatskappy. Sy praat oor die druk en vertel hoe sy soms ondersteuningsgroepe bel. Sy erken sy doen dit wanneer sy gedrink het en voel dan beter oor haar lewe, want die een aan die ander kant bid gewoonlik saam met haar. Ek sal nog eendag sien, sê sy vir my, dat die lewe met kinders swaar is. Ek kan my nie indink dat sy iemand se minnares is nie.

Ons eet roosterbrood met ham en drink koffie. Lucky vertel my van ’n nuwe beeld waaraan hy werk. Hy gaan wys my in die garage onder die woonstel. Ek is nie seker wat dit is nie. Dit kan ’n boom met ’n dik stam en digte blaredak wees, of iets van onbepaalde seksuele aard. Hoe meer ek laasgenoemde vermoed, hoe minder sien ek die boom, maar ek vra nie. Lucky het al ’n beeld van my gemaak wat ek glad nie herken het nie en ek raai hy dink nou min van my oordeel oor sy werk.

Ek lewer dus glad nie kommentaar nie en dit irriteer hom seker, want later begin hy aanmerkings maak oor hoe ’n mens dom mense bevriend. Verbeel ek my dit net, of is hy wel ’n bietjie op die oorlogspad?

Noenie praat lustig saam, maar moontlik reageer ek nie met genoeg geesdrif nie, want sy vra my met so ’n lui, skoorsoekerige, listige stemtoon: “Is jy dalk gay?”

Dis pure moedswilligheid en ek vermoed sy kom agter ek is nie lus om met haar te praat nie.

“Soos Casanova,” is al wat ek kan dink om te sê.

“Wat het van die Boland geword?” vra Lucky.

“Dink nog daaroor.”

“Die Kapenaars is nie jou mense nie, dit help nou maar nie. Jy sal gaan en jy sal terugkom.”

“Dis hoekom ’n mens dit ’n kuier noem. Soos ek by jou ook kuier. Dis nie ’n permanente reëling nie.” Ek wil nie vertel dat Pamela dood is nie. Lucky sal net iets sinies kwytraak.

Ek loop.

Verstevlei

Подняться наверх