Читать книгу Verstevlei - Jaco Fouché - Страница 11
3
ОглавлениеSlaap. Dit maak ’n mens ryk. Drome skenk jou ’n lewe soos wakker wees nooit sal kan nie.
Natuurlik is dit waar dat drome teer op die wakker wees, en dat die werklikheid die boustof van ’n goeie droom is. Maar dit doen fiksie en sepies en rolprente ook, terwyl niks naby drome kom nie. Ek droom van mag oor bome en klippe. Ek droom dat ek by ’n afgrond afstort en niks oorkom nie. Ek droom dat ek manskappe aanvoer in ’n sege oor die mensdom.
Soms droom ek goor dinge. Ek droom mense jaag my. Elke mens wat my al ooit bedreig het, is in die droom. Hulle jaag my om die huis in Vereeniging waar ek grootgeword het, tot teen ’n heining. Daar bind hulle my met doringdraad vas en braai dan vleis en drink bier om hulle sege te vier.
Ek droom ek is in ’n huis sonder vloere, maar met groot watertenks. Ek kan net-net met die lysie om die tenks langs loop. In die tenks swem groot haaie. Of iets begin my byt, kake wat liggaamloos maar die ene tande om my lê. Of ek is in die tronk. Dis altyd my eerste dag en ek voel weerloos en blootgestel en ek verwag die ergste.
Ek word wakker en sit regop. Dis donker in die kamer, behalwe die lig wat weerskante van die gordyne deurskyn en die hoeke verlig. In die straat ry ’n motor verby. Iets raas wat ek soms hoor: ’n stampgeluid in die dak. Dit moet een van die warmwatersilinders wees, iets wat uitsit, rusteloos om gebruik te word.
Ek gaan sit by die lessenaar en die stoel se rugleuning druk koel teen my kaal vel. Die lampie voor my se lig gaan nie aan nie, hoewel ek die knoppie druk. Ek trek my manuskripboek nader en maak dit oop. In die donker kan ek niks lees nie, maar ek kan net-net uitmaak waar daar ’n skoon bladsy is. Daar skryf ek met groot, lelike, dowwe letters ’n paar sinne, sit dan net in die donker en hunker na waters waar rus is. Nou is ek wakker, uitgeslaap. Dit gebeur wanneer ek ’n paar dae lank baie geslaap het. Dan word ek een nag wakker en ek is sommer helder wakker en iets moet gebeur.
Die leeslampie gaan uiteindelik aan, en ek kan lees wat ek geskryf het: Poeding is my heenkome. Damme water is my heenkome. Kansa is my heenkome. Ek sal sewe keer ’n dag bid en in die aand vertrou dat ek nie in my slaap sterf nie. En in die oggend sal ek vertrou dat ek nie in die dag sterf nie. So sal ek bly vertrou. En wanneer die dood aanbreek, sal ek ontdek dis ook maar nie so ’n big deal nie.
Ek sit die radio aan. Dis gospel, intense musiek wat iets aan jou doen, ek weet nie mooi wat nie. Dit raak ’n mens só dat jy lus voel vir bid en omgee vir ander mense. Ek weet uit ondervinding dat dit jou in die kerk ook lus maak om kollekte te gee. Is dit die musiekstyl? Is dit die instrumente? Het die evangeliese gemeenskap op ’n foolproof manier afgekom om mense te laat saamwerk? Ja, dit en die woorde: “Ek val voor U neer en aanbid U alleen, o Heer.” Baie gospelmusiek en eintlik godsdiens in die algemeen het hierdie supplikante-ding in: ’n mens moet jou neervly voor jou God en hom aanbid. En doen jy dit so twintig minute lank, voel jy beter en weer vasberade.
Ek begin wieg, daar waar ek in my LO-broek en met my bolyf kaal sit, en voel die genade van Huis Genade oor my kom. My siel sit uit en vul die kamer, beur dan deur die venster en onder die deur deur, styg in die naglug op, kyk na sterrekonstellasies en onthou dat ’n mens elke af en toe ’n nuwe fase in jou lewe moet aanpak. Hoe rustig is ek nie, hoe seker van my reis, hoe wink my bestemming nie.
Dwar-dwar-dwar.
“Meneer Proot! Sit af daai musiek!”
Ek maak my oë oop en is net nog ’n man in sy veertigs met pap spiere en ’n maag en te veel herinneringe aan sy jeug.
“Suster, jy dryf my tot sonde!” roep ek en sit die radio af. “Hier moet ek nou die prentjies uithaal en betrag en wie weet wat dit aan my ekwilibrium doen?” Ek trek ’n lessenaarlaai hard oop en vroetel met papier, slaan dit dan toe.
Die deur gaan oop.
Suster Kloppers staan daar in haar uniform, en agter haar staan Karen met die wilde swart hare.
“Suster, is jy nooit van diens af nie? Karen, moet jy nie die engele gaan aanbid nie?”
“Meneer Proot, jy moet ’n plan maak.” Die suster stap tot by my en kyk na die papier op die lessenaar en na die woorde in die oop manuskripboek.
“Toe maar, suster, ek besit geen verderflike materiaal nie. Dit skaad my net.”
“Gaan vir twee weke weg, meneer Proot.”
In die bed lê ek en probeer aan rustige dinge dink: landskappe, skepe wat tydsaam vaar, enigiets om gou aan die slaap te raak. Ek droom dat ek op ’n trein klim om my maat Bester se vrou ’n duisend kilometer verder te gaan ontmoet. Ek is so versot op hom dat ek oor sy vrou droom.