Читать книгу Verstevlei - Jaco Fouché - Страница 15

5

Оглавление

Middagete in die eetkamer, vier aan ’n tafel, en die stemme styg op saam met die klank van messegoed. Twee vroue en Abel sit by my, maar ek probeer om nie baie aandag aan hom te gee nie. Hy is behoeftig en raak gou ’n probleem, hy sal sommer ’n dag lank agter ’n mens aanloop.

“Renier,” sê hy vir my. “Ek het vir jou werk.”

“Ek het nie werk nodig nie, Abel.”

“Jy kan iets doen.”

“Nee dankie.”

“Dis my kamera, man. Ek wil hom verkoop. Dan kan jy ’n fliek oor die huis maak.”

“Behoede ons,” sê een van die vroue.

Ek knik. “Z-tv vat sulke flieks wat amateurs maak. Dis om die samelewing gereflekteer te sien. Hulle sê Oblique reflekteer die tydsgees.”

Abel frons.“Hoe nou?”

“Hy is soos die Nar wat snags ry, die Buiter sonder ’n bende.”

“Wat doen hy?”

“Hy ontset gevange mense. Hy red ons van verveling. Na waters waar rus is …”

Maar Karen by die tafel langsaan kyk kwaai na my en ek bly stil. Godsdiens geniet ’n ekstra dimensie onder geestesiekes.

Ná die ete gaan sit ek langs die huis by die voëls. Suster Kloppers het twee lovebirds wat sy in verskillende koue aanhou, want hulle baklei maklik met mekaar. Die koue staan op ’n draadtafel in die koelte van die oorhangende dak.

Ek gaan by Abel se kamer om. Hy sluit sy kas oop en haal ’n trommel uit wat hy ook oopsluit. Die kamera is redelik nuut, of ten minste nog nie baie gebruik nie. ’n Skootrekenaar kom saam. Dié is wel ’n bietjie oud en groot, maar dit werk nog goed. Jy laai die beeldmateriaal op die rekenaar en redigeer dit daar.

Ek vra Abel hoeveel en hy sê my en ek stap winkelsentrum toe waar ek die geld trek. Nou is ek die eienaar van ’n kamera waarmee ek myself touwys maak, tot groot irritasie van suster Kloppers en die ander vroue wat ek om elke hoek en draai verfilm. Teen die aand meen ek ek verstaan die toerusting, hoewel ek nog ’n behoorlike studie van die redigeerprogram moet maak.

In die nag lê die kamera op die lessenaar terwyl ek my in my eie, baie persoonlike visuele materiaal verdiep. Ek droom van weermagte. Ek word wakker en kyk na die skaduvlekke teen die plafon en luister na die verkeer.

Toe dit lig word, staan ek op, vroeg genoeg om suster Kloppers haar wenkbroue te laat lig, en ná ek gestort het, gaan sit ek buite by die voëls.

Verstevlei

Подняться наверх