Читать книгу Verstevlei - Jaco Fouché - Страница 17
6
Оглавление“Is jy nog nie weg nie?” sug suster Kloppers toe ek by die tehuis instap.
Maar sy het min rede om oor my te kla. Ek gaan slaap laat, maar ek werk sag en versigtig met die kamera en die redigering op die rekenaar, en soggens is ek vroeg op om daarmee voort te gaan. Ek gaan eet selfs ontbyt. Wenkbroue lig as ek by die eetkamer instap en ek knik statig in alle rigtings en sê: “Dankie, dankie. Handtekeninge in die kleinhuisie.”
Ek maak ’n fliek, van die tehuis. Die probleem is dat niemand wil saamspeel nie. Stap ek by die sitkamer in, draai mense hulle gesigte weg of frons en probeer my afjak. Kom ek in die kombuis, druk die personeel my weer by die deur uit. Die gevolg is beelde van ’n klomp ontevrede mense, en dis duidelik dat hulle ontevredenheid op die kameraman gemik is.
Ek stap winkelsentrum toe en neem mense en die binnekant van die plek af. Wat sal ’n mens egter oor ’n winkelsentrum sê wat nie reeds deeglik bespreek is nie? Die nuwe kerk, of ’n blinkgevryfde model van die hel waarin die mens eendag sal afdaal. Selfs ’n skematiese voorstelling van die wêreld waarvolgens in alle behoeftes van die mens voorsien word, ook slaapplek, want daar is ’n hotelletjie aan die een kant van die sentrum.
Terug by die tehuis sit ek in die tuin.
Een middag stap ek om die hoek na die agtertuin en van die vroue baai in die son. Ek het nog nie die kamera gelig nie toe Karen sê: “Waag dit net en jy loop met krukke.”
“Dit kan jou groot kans wees hierdie,” mompel ek.
“Dit sal jou laaste kans wees.”
Ek is lank vies. Die aand besluit ek om uit wraak die vroue in hulle badkamer af te neem. In die mans se badkamer is daar ’n luik in die plafon en ek behoort daar te kan in. Ek hoef net ’n paar meter met die dakbalke langs te kruip en dan is ek bo die vroue se badkamer. Om ’n gaatjie in die plafon te maak sal seker nie so moeilik wees nie.
Maar ek is nog besig om ’n stoel op ’n tafel in die mansbadkamer op te stel toe suster Kloppers daar instorm.
“Wat maak jy met die eetkamer se meubels, meneer Proot?”
“Wie het nuus aangedra?”
“Die pasiënte probeer hulleself teen jou impulse beskerm.”
“Ek het niks om te sê nie.”
“Dra terug. En kom kantoor toe.”
In die kantoor gaan sy my lêer na. “Ek dink jou medikasie se dosis moet verhoog moet word.”
“Ek voel goed, suster. Ek is energiek en lus vir die lewe.”
“Ons sal iets daaraan doen.” Sy maak nie ’n grap nie, ek kan sien.
“Ek sal my gedra,” sê ek.
“Wat gaan Michelle sê? Vader, dis nog lank voor sy terugkom.”
Ek gaan lê op my bed en voel soos ’n tiener. Ek sal seker maar iewers heen moet gaan. Ek bel vir Rhyn de Wet.
“Meneer De Wet?”
“Majoor De Wet. Goeiedag.”
“My naam is Renier Proot en ek kry u nommer by ’n weermagvriend van my. Hy sê … hy sê …”
“Wie, meneer?”
“Bester.”
“Meneer Yler, ek sal vir u sê ek het lewensversekering …”
“Sê weer?”
“Ek het nie die naam gehoor nie?”
“Ek is Proot. My vriend is Bester. Julle het al kontak gehad.”
“Dit klink nie bekend nie.”
“In elk geval, ek sou graag meer oor julle wou weet. Ek bedoel, die militêre dinge.”
“Daar is geen groot geheim nie. Ons is die Korps. Ons kom soms naweke bymekaar op my plasie buite Ehlersdorp.”
“Julle skiet seker en so?”
“Drilwerk, LO en skietbaan, ja. Soms ’n genooide spreker of rugby kyk. En ons braai natuurlik.”
“Natuurlik.”
“Natuurlik.”
“Ek het gewonder of u dalk in opnames sou belangstel?”
“Opnames?”
“Sien, ek het ’n videokamera en ek …”
“Meneer Proot, ons het slegte ervarings met joernaliste gehad.”
“Nee, nee, dis in my private hoedanigheid. Ek is ’n bekommerde Afrikaner en …”
“Ja?”
“Wel, dié dinge is deel van ’n sterwende geskiedenis en …”
“Ek moet jou sê ek neem eksepsie, meneer Proot. Van sterf is daar nie sprake nie. Ek voorsien dat ons binnekort ons merk sal maak en ons sal laat geld. Ons gaan tans net deur ’n laeprofielfase.”
“Natuurlik, natuurlik. Maar moet dit nie gedokumenteer word nie?”
“Vertel my meer?”
“Wel, ek het … ek stel belang in die Afrikanersaak en ek het gewonder of ek nie visuele materiaal kan versamel oor julle bedrywighede nie. Dis tog ’n kulturele saak van wye belang.”
“En wat doen jy met die materiaal wat jy versamel?”
“Ek weet nog nie mooi nie. Maak iets daarvan. Wys die ander kant van die saak.”
“Ja, so ’n regstelling is nogal nodig. Nie lank terug nie lees ek in ’n bekende Afrikaanse roman dat die AWB-karakter daarin ’n vroueslaner is. En dis nie algemeen die geval nie.”
“Ja, ’n mens moet ’n verskil probeer maak. Kan ek vra: watse musiek is dit op die agtergrond?”
“Dis A-ha. Ek is ’n bewonderaar.”
“O ja, A-ha. Hulle is baie goed.”
“A-ha is beter as Uhuru. Vertel my van jou herkoms, meneer Proot.”
“Wel, my voorsaat was ’n Hollandse skipbreukeling in Tafelbaai. My pa kom uit die Karoo, my ma uit die Vrystaat.”
“Enige van jou mense in die Boereoorlog geveg?”
“Ek weet nie … Seker nie, of ek sou geweet het.”
“En het jy militêre opleiding ondergaan?”
“Ja. Ek was ’n drywer.”
“Hmmm … Ons sal logistieke mense ook nodig hê. Kan jy ’n professionele produk lewer? ’n Blote tuisfilm kan ons saak eerder skaad as bevorder.”
“My toerusting is redelik nuut. Ek neem met die kamera af en sal op ’n rekenaar redigeer.”
“Nou ja, die Korps trek die afgelope ses maande aandag in die media, daar is hernieude belangstelling in ons bedrywighede. Maar kom Ehlersdorp toe en kom praat, ons het juis hierdie naweek ’n byeenkoms op die plaas. Weet jy van die Marais-voorval by z-tv?”
“Nee.”
“Kom kyk. Hy gaan ’n toespraak lewer.”