Читать книгу Verstevlei - Jaco Fouché - Страница 12

IV

Оглавление

Ek het nooit verkies om te gaan dans nie, ek het bloot die werk gekry omdat ek reg was daarvoor. Ek het die maagspiere gehad en het aanvaarbaar gelyk in styfpassende klere. Ook het ek weens alkohol kordaat gevoel toe ek op die advertensie in die kroeg gereageer het.

Sekerlik kon ek iets anders gekry het om te doen. Op ’n keer het ek selfs vir ’n onderhoud by die staatsdiens gegaan, maar toe die onderhoudvoerder my vra hoe lank ek vir die staat gaan werk, het ek gesê nie lank nie, want ek wil gaan swot. Dit was baie dom.

Maar dit was moeilik om in my pa se voetspore te volg. Dit het seker te doen met die eie identiteit wat ’n mens wil vestig, dat ’n kind sy of haar eie rigting wil inslaan. Ek het ook vermoed ek sou nooit sy plek kon volstaan nie.

Ek onthou ek moes my hare in ’n windgatstyl laat sny en wangbaarde groei – dis nou vir die dansery. Natuurlik moes ek ook ’n paar passies leer. Toe is ek ’n danser, saans van nege tot twee in ’n klub in die hoofstraat. Dit was ’n massiewe plek, nou toegemaak ná ’n dwelmsaak en ’n paar tronkvonnisse. Destyds het die plek gedy, ’n gunsteling van die energieke jeug van die Vaaldriehoek.

Die dansverhoog het jy met ’n smal loopweg langs bereik wat oor die groot dansvloer gestrek het. Wanneer jy daar op die platform gestaan het, het gekleurde ligte oor jou gespeel en kon jy die musiek vertolk soos jy wou. Jy moes net aan die beweeg bly, daar bokant die wiegende, aangeklamde publiek op wie jy afgekyk het soos ’n god uit die oudheid.

Die lekkerste tyd was wanneer jy klaar was en aangetrek het om huis toe te gaan. Die mans en meisies het saam aan- en uitgetrek. Ek het soms gesprekke met van die ouliker meisies probeer aanknoop, maar dit het meestal oor drank en klere en musiek en spierpyne gegaan. Dit was onbeleef om na hulle kaal borste te staar wanneer hulle verklee, en ek het my op vinnige blikke verlaat wat diep in my geheue ingeprent is.

Een aand nadat ek gedans het, het Pa vir my gewag. Ek sien hom nog daar staan met die fris lyf wat ek nie geërf het nie en die bril op sy gesig. Ten spyte van sy frisheid het hy ’n akademiese indruk gemaak – hy het soos ’n pennelekker gelyk met sy netjiese sypaadjie en wit langmouhemp.

Iets was fout, maar ek het eers gedink dit was my loopbaankeuse. Ons het vantevore woorde gehad oor die dansery, wat Pa my gemaan het ’n doodloopstraat was. “Wat maak jy as jy naby veertig kom en die jonges wil iemand van hulle eie ouderdom sien baljaar?”

Hy was reg: dit het my ook begin pla. Ek het geweet van dansers wat later in die seksbedryf beland het. ’n Ander het ’n fiksheidsinstrukteur geword. Nog een het assuransie begin verkoop.

Maar dit was nie vir my opsies nie, daarvoor was ek te eiesinnig, of selfs te onverstandig. Nee, wat ek wou doen, was om my aand ná aand bloot aan die musiek oor te gee terwyl ’n klomp mense my dophou en ’n wantrouige bestuurder my agterna ’n paar geldnote gee. My sorgelose jeug moes ’n sorgelose leeftyd word.

“Jou ma is oorlede,” het Pa gesê.

Daar was nog mense in die vertrek wat ons as aantrekhok gebruik het, ek weet nie meer wie nie. Ek het in elk geval nie juis vriende onder die dansers gemaak nie, omdat die meeste gevoel het hulle doen dit net tydelik, terwyl hulle vir iets beters wag. Ek was daar vir die dans en die drank ná die tyd. Ek het geglo ek bring my jeug op ’n verstandige wyse deur.

Maar toe het my jeug einde gekry: Ma was dood. Hartaanval. Dit was glo gou verby, nog voor Pa haar by die hospitaal kon kry.

Ek het gedink aan haar maer lyf, haar bleekheid wat ons vir lank gekwel het, die dokters wat sy besoek het, dat sy vroeg oud geword het. Langs ons het een van die meisies “Ekskuus, oom” gesê toe sy haar rug op ons keer en haar gewone bra losknip voor sy haar sportbra aantrek.

Pa het ’n oomblik na haar gekyk en my toe gevra: “Kom jy huis toe?”

En dis waarheen ek gegaan het, na my ouerhuis toe. In die volgende dae was daar familie, en toe die begrafnis. Daardie tyd het min mense by ’n begrafnis gepraat, anders as later toe Pa dood is, by welke geleentheid ek wel iets gesê het. Oor Ma kon ek in elk geval nie praat nie. Ek het ongelooflik skuldig gevoel oor die dansery, wat ek geweet het my ouers nie aanstaan nie.

So is my ma dan dood toe ek vroeg in my twintigs was, en miskien kan jy sê ek was gelukkig om daardie skraal en vriendelike en soms ondeunde vrou so lank as my ma te ken, maar ek voel verneuk. Dis asof ek my ma aan ’n siekte moes afstaan, of aan ’n stiefpa. Dis vir my geen verrassing dat ek ’n goeie vriendin in Pamela gevind het nie.

Ek het haar in ’n koffiewinkel ontmoet. Toe het ek reeds ophou dans en in ’n boekwinkel gewerk. Die boekwinkel het meestal tweedehandse boeke verkoop, maar ook as ’n klein bysaak eerste uitgawes ten duurste aangeskaf en weer verkoop. Op daardie stadium was ek juis ’n bietjie in die moeilikheid, want ek het vir die grap ’n afdruk van Shakespeare se gesig onderteken met Keep on rocking. Met my baas so ontevrede het ek besluit om hom ’n uur of wat te vermy deur in die koffiewinkel te gaan sit.

Pamela was daar, ’n ou vrou in ’n vormlose rok en stewels waarvan die een ’n opgeboude sool gehad het. Die kelnerin het ongeduldig gelyk toe sy Pamela bedien. Maar dit was ’n mooi herfsdag, vol son, en ek kon sien waarom die ou vrou juis daar wou bly sit waar die lig so mooi na binne geval en teen die spieëls geskyn het. Sy was besig om ’n boek met ’n blou omslag te lees. Dit was die Big Book, Alkoholiste Anoniem se Bybel.

Dit het sy gesê toe sy merk ek kyk na haar. Sy het met ’n verwelkomende lag begin praat en later sou ek dink dat sy my op baie bedrewe wyse bevriend het. Sy het vertel hoe haar lewe verander het – ná jare van eensame drankmisbruik het sy haar deesdae slegs tot sterk koffie gewend. En natuurlik sigarette, wat haar saam met die rok wat ’n was gekort het na iets laat ruik het wat nie vir my onaardig was nie.

Dit het my herinner aan my vroeëre leefstyl, toe ek ook gedurig na ou drank en sigarette en vuil klere geruik het. En ek wóú. Ek vermoed dat ek, hoewel ek dit nie in soveel woorde sou kon stel nie, iets wou aanneem wat ver verwyder was van dit wat ek in my ouerhuis geleer het.

Verstevlei

Подняться наверх