Читать книгу Bybelboodskappe - Jan Hulme - Страница 10

Оглавление
Boodskap 4 Twee soorte mense

Skrifgedeelte

Lukas 12: 8–12; 16–34

8“Ek sê vir julle: Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook openlik uitspreek voor die engele van God. 9Maar hy wat My voor die mense verloën, sal voor die engele van God verloën word.

10“Elkeen wat teen die Seun van die mens iets sê, kan vergewe word; maar hy wat teen die Heilige Gees laster, kan nie vergewe word nie.

11“Wanneer hulle julle voor sinagoges en owerhede en gesagvoerders bring, moet julle julle nie bekommer oor hoe of waarmee julle julle gaan verdedig of wat julle gaan sê nie, 12want die Heilige Gees sal julle op daardie oomblik leer wat gesê moet word.”

16Toe vertel Hy hulle ’n gelykenis: “’n Ryk man se grond het goed gedra. 17Hy het toe by homself gedink: wat moet ek doen? Ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie. 18Toe besluit hy: Dít sal ek doen. Ek sal my skure afbreek en groter bou. Daarin sal ek al my graan en my ander goed opgaar. 19Dan sal ek vir myself sê: ‘Mens, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare. Hou op met werk: eet, drink en leef lekker.’ 20Maar God het vir hom gesê: ‘Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’ 21So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.”

22Verder het Jesus vir sy dissipels gesê: “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. 23Die lewe is tog belangriker as kos en die liggaam as klere. 24Kyk na die kraaie: hulle saai nie en oes nie; hulle het geen spens of skuur nie, maar God sorg vir hulle. Julle is tog baie meer werd as voëls. 25Trouens, wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng? 26As julle nie eens so ’n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge?

27 “Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 28As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges! 29Julle moet julle ook nie gedurig afvra wat julle gaan eet of drink nie, en julle moenie besorg wees nie. 30Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges in die wêreld begaan is, maar julle het ’n Vader wat weet dat julle dit nodig het. 31Beywer julle vir sy koninkryk, dan sal Hy julle ook hierdie dinge gee.

32“Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee.

33“Verkoop julle besittings en gee bydraes vir die armes. Skaf vir julle ’n beurs aan wat nie leeg raak nie, ’n onuitputlike rykdom in die hemel, waar geen dief dit kan bykom en geen mot dit kan verniel nie. 34Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.

Preekskema

Hoekom het Jesus aarde toe gekom?

1 Hy het aarde toe gekom om skeiding tussen gelowiges en ongelowiges te bring (Luk 12:51). Hy het gewaarsku dat daar selfs verdeeldheid in huisgesinne sal wees. Een broer of suster of ouer gaan aangeneem word by die wederkoms van die Here, die ander een gaan verwerp word. Soos Matteus 24:41 dit stel: Een vrou by die meul gaan aangeneem word, die ander een gaan agterbly.

2 Hy het gekom sodat hulle wat Hom aangeneem het, anders sal begin dink en dinge anders doen.

3 Hy het gekom om gelowiges deur sy bloed te reinig sodat hulle nie meer die bagasie van sondes hoef te dra nie. Wanneer hulle vergewe en vrygemaak is van skuldgevoelens, het hulle ook nie meer die begeerte om te sondig nie en verbreek hulle hul bande met die wêreldse dinge. Nou maak hulle vir hulle skatte in die hemel bymekaar, want waar ’n mens se skat is, sal jou hart ook wees (Luk 12:33–34). Wêreldse besittings kan jy tog nie met jou heengaan saamneem nie, nie hemel toe nie; en die verlorenes ook nie hel toe nie (Luk 12:16–21, 33).

Ons is getuies vir Jesus (Luk 12:8–12)

1 As ons ons openlik en sigbaar voor die mense uitspreek vir Jesus, sal Hy Hom openlik vir óns uitspreek voor die engele van God. Ons kan mos vir Hom getuig by ons bure, maats, vriende, werksmense, in wyke en in selgroepe, by mense wat ons ontmoet en veral kan ons deur die voorbeeld wat ons stel, ongelowiges probeer oortuig om Jesus aan te neem as hulle Verlosser.

2 Volgens Romeine 10:17 kom geloof deur die prediking wat ons hoor en deur ander vorme van die verkondiging van Christus. Is jy ’n getuie vir Jesus, en praat jy woorde van die lewe? Ons kan almal God se boodskap van genade en redding verkondig “sodat almal daaruit kan leer en almal bemoedig kan word” (vgl 1 Kor 14:31). Hierin lei God se Gees ons deur sy Woord.

3 Volgens Lukas 12:9 sal dié wat Christus voor die mense verloën, voor die engele van God verloën word. Ons moet dink voor ons praat – as ons leuens en vuil grappe vertel, of mense veroordeel, breek ons God se beeld af, wat ons veronderstel is om in ons lewe te vertoon. As ons skinder van iemand, kan ons daartoe bydra om die beeld van God af te breek in die lewe van ’n gelowige kind van God, in wie die Heilige Gees woon. Onthou dat Matteus 12:36–37 waarsku dat ons eie woorde ons vryspreek óf veroordeel. Laat God liewer oordeel. Ons moenie ligtelik praat sonder om te dink wat die gevolge van ons woorde kan wees nie. Volgens Lukas 12:10 kan laster teen die Heilige Gees, nie vergewe word nie. Dit gebeur wanneer ’n mens God, sy Gees en Jesus se verlossingswerk volkome en volgehoue verwerp. Moenie ’n oordeel oor jou bring in ’n oomblik van onbesonnenheid nie.

God sorg vir sy kinders (Luk 12:22–34)

1 As kinders van die Here hoef ons ons nie te bekommerd oor môre nie. Ons Vader sorg vir die lelies en die kraaie. Hoeveel te meer sal Hy nie vir ons, sy erfgename, sorg nie? Jesus sê dat bekommernis nie ons lewe sal verleng nie, maar eerder stres veroorsaak wat mense op die lang duur kan vernietig. Dra jou behoeftes deur die werking van die Heilige Gees in gebed aan Jesus op, want ons Vader weet wat ons nodig het, nog voordat ons daarvoor gevra het (Luk 12:30; vgl Ps 56:9). Ongelowiges is oor dié dinge bekommerd, nie gelowiges nie. Daarom is daar verdeeldheid tussen dié twee groepe mense.

2 God wil hê ons as sy kinders moet die lewe geniet en dat dit met ons moet goed gaan, daarom seën en sorg Hy vir ons (Luk 12:31).

3 Ons moenie dink dat ons een keer tot bekering kom en dan nooit weer sal afdwaal nie. Ons moet weer en weer tot inkeer kom. Daarom sê die Woord ons moet gedurig bid en deur die krag van die Heilige Gees in Jesus, vir die Vader vra wat ons nodig het, anders ontvang ons nie (Matt 7:7–8; Joh 16:23–24). Deur die Heilige Gees lei Jesus, ons grootste vriend, ons gedurig. Hy is soos ’n lamp voor ons voet en die lig op ons lewenspad; boonop kan ons “gedurig” tot Hom bid oor enige saak (1 Tess 5:16–19), en kan ons die mense op ons pad in Jesus se Naam seën en sy vrede oor hulle uitspreek (Ef 6:23).

4 Hoe vreemd dit ook al mag klink, kom Jesus se krag juis tot volle werking in jou wanneer jy swak is. Sy genade is altyd vir jou genoeg (2 Kor 12:9–10).

Leef in vrede

1 Maak vrede met jouself, vergewe jouself en dra die vrug van die Heilige Gees, volgens Galasiërs 5:22–23. Styg bo jou ou lewe uit en word ’n spieëlbeeld van Christus. As jy iemand veronreg het, maak liewer reg. Vra om vergifnis deur persoonlike kontak, of deur middel van ’n leraar, of deur ’n briefie. Jesus vergewe ons sondes en daarom moet ons mekaar vergewe. (Matt 6:12,14–15). Jesus se gesindheid teenoor die vrou wat in owerspel betrap is, soos wat Johannes 8:1–12 vertel, wys ons ook hoe ver sy vergifnis strek. Dit moet vir ons ’n voorbeeld wees. In hierdie verhaal sien ons ook dat ons álmal sondig – daar was immers nie een van die owerspelige vrou se haar aanklaers wat self so sondeloos was dat hy die eerste klip op haar kon gooi om haar tereg te stel nie. Ons is almal in sonde gebore en slegs deur God se liefde en genade word ons gered. Jesus het vir die vrou gesê Hy voltrek ook nie ’n oordeel oor haar nie, maar dat sy voortaan nie in sonde moes volhard nie.

2 Ons moenie wraak neem nie (Rom 12:17–19); tog is ons hele lewe is vervleg met wraak en weerwraak. Daarom word ongeveer 20 000 mense elke jaar in Suid-Afrika vermoor; 55 000 en meer vroue en kinders verkrag, en word daar altesaam nagenoeg 250 000 geweldsmisdade in Suid-Afrika gepleeg. Die Bybel sê egter dat enige wraak of vergelding aan God oorgelaat moet word, en dat die verdoemenis reeds voorberei is vir geweldenaars wat hulle nie bekeer nie. Onthou, ons as gelowiges het Christus aan ons kant, en volgens Matteus 6:14–15 moet ons mense hul oortredinge vergewe. Het Jesus dan nie die voorbeeld gestel deur dié wat Hom gekruisig het en ook die misdadiger wat langs Hom aan die kruis gehang het, te vergewe nie?

Ongelowiges

1 Wêreldwyd sterf daar elke dag 50 000 mense wat nog nooit van Christus gehoor het nie. Nog meer mense sterf elke dag wat van Christus gehoor het, maar Hom nie aangeneem het nie of afvallig geword het. In Openbaring gebruik Christus die beeld dat Hy “lou”, onbetrokke Christene uit sy mond sal spuug (Op 3:16). Baie gaan volgens Matteus 7:21–23 by Jesus se wederkoms pleit om God se koninkryk te mag binnegaan, maar Jesus gaan hulle wegwys, want Hy ken hulle nie. Jesus sê in Lukas 13:24–28 dat baie sal probeer om by die smal deur in te gaan, maar sal nie ingaan nie, omdat hulle nie gedoen het wat reg is nie. Hulle sal weggejaag word en daar buitekant die koninkryk sal hulle huil en op hul tande kners, omdat hulle daarbuite die ewige straf gaan ontvang.

2 Net mense wat God se wil gedoen het, ontvang die ewige lewe (Matt 25:46). Geen onreinheid word in God se koninkryk toegelaat nie, sulke mense gaan na die verdoemenis. Volgens 2 Korintiërs 13:5 moet gelowiges hulleself telkens op die proef stel en ondersoek of hulle gered is en in Jesus lewe.

Christus is die fondasie

1 Die kerk van Christus se fondasie is 2 000 jaar gelede gelê. Ons hoef nie meer ’n fondament te lê nie, Christus self is ons fondasie; ons moet net sy kerk op aarde uitbou. Óns is die kerk. Ons moet God se boodskap van verlossing in Christus, van sy koninkryk, en van die inwoning van die Heilige Gees ín ons verkondig met onaanvegbare prediking (vgl Tit 2:7–8). Ons is nou sy dissipels en moet lewe volgens sy nuwe gebod van liefde vir God en liefde vir ons naaste (Joh 13:34–35).

2 Ons woorde en dade, trouens, ons hele wese moet ’n sprekende voorbeeld van ons Christenskap wees, want ongelowiges hou ons doen en late dop as ons sê dat ons Christus se volgelinge is. En as ons woorde en dade nie ooreenstem nie, is dit ’n klad op die naam “Christen”.

3 Ons weet dat, wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het, ’n woning wat deur God vir ons voorberei is (2 Kor 5:1).

4 Ons lewe is soos ’n wolk wat verby trek. Vandag sien ons hom; môre is dit al weer weg. Is jy gereed om uit hierdie lewe te gaan en God te ontmoet? Is jy seker dat jy gaan aansit by die feesmaal in God se Koninkryk (Luk 13:29–30). As jy nie seker is van jou redding nie, neem die belangrikste besluit van jou lewe vandag: om Jesus se verlossing te aanvaar. Lees 1 Johannes 4:7–21, of gaan gesels met ’n predikant of geestelike werker. Môre kan vir ewig te laat wees.

Bybelboodskappe

Подняться наверх