Читать книгу Bybelboodskappe - Jan Hulme - Страница 6

Riglyne vir voorbereiding van dié boodskappe

Оглавление

Dikwels word dienswerkers gevra om mense of groepe te lei in die bestudering van die Woord, of om ’n boodskap uit die Woord aan ’n groep mense te bring, sonder dat hulle riglyne ontvang of voorberei word op dit wat hulle te wagte kan wees. As ’n mens dit al baie jare lank doen, is jy al op jou gemak en weet jy al hoe om te werk te gaan as jy mense op hierdie manier bedien. Maar dalk het jý dit nog nooit gedoen nie, of dalk doen jy dit nie so gereeld nie. Hierdie riglyne is bedoel om jou goed toe te rus sodat jy kan ontspan en kan fokus op dit wat werklik belangrik is: die boodskap wat jy gaan oordra.

Voorbereiding van die boodskap

Bid vooraf ernstig oor die boodskap en vra die Here om jou te lei in die keuse van ’n tema. Dit is belangrik dat die boodskap eenvoudig en verstaanbaar sal wees – en natuurlik dat dit Bybels sal wees. Daarmee bedoel ek dat die grondslag daarvan uit die Skrif moet kom. Dit moenie bloot jou eie gedagtes wees waarby jy ’n paar Bybeltekste ter ondersteuning van jou eie standpunt vasplak nie. Dit moet in die eerste plek die Bybel se eie boodskap wees, maar jy kan wel die boodskap met ’n kort, toepaslike gebeurtenis, illustrasie of verhaaltjie toelig of verduidelik. Maak dit van toepassing op die individu – met ander woorde, dit moet aan elke luisteraar die persoonlike vraag vra: Wat sê dit vandag vir mý? Hoe verstaan ék dit?

Gee duidelike inligting oor hoe die Skrifgedeelte wat julle gaan behandel,verklaar kan word. Gaan lees ook weer wat die Woord self sê oor Woordverkondiging, byvoorbeeld in Romeine 10:17, 1 Korintiërs 14:31 en Titus 2:8a. As dit vir jou moontlik is, nooi iemand uit om saam met jou te gaan en as getuie op te tree van hoe die Here hom of haar geroep het of hoe die Here hulle lewe verander het.

Die lokaal

Maak vooraf seker dat die lokaal waar die boodskap aangebied gaan word, geskik is vir die doel. Is daar genoeg sitplekke vir die hoeveelheid mense wat waarskynlik gaan kom luister? Is daar genoeg lig en genoeg vars lug? Sal die mense jou duidelik genoeg kan hoor?

Wanneer jy gereed is

1 Deel die groep mee dat jy in die Naam van die Here kom.

2 Gee jou gas wat as getuie gaan optree, die geleentheid om sy of haar getuienis te gee. Dit moet kort en kragtig wees.

3 Maak kontak met individue in die gehoor (vra waar elkeen vandaan kom) of met die groep as geheel (hoe gaan dit met hulle?).

4 Vertel kortliks wie jy is.

5 Gee aan jou gehoor ’n aanduiding van hoe lank jy gaan gesels. Daar moet ’n vasgestelde tyd wees waarbinne jy die boodskap gaan bring. Wees egter versigtig om nie die indruk te wek dat jy haastig is nie.

6 Bepaal die orde van die diens of gesprek. Gewoonlik sal dit uit die volgende bestaan: sang, gebed, die boodskap, opvolg, afsluiting.

7 Verseker jou gehoor dat daar geleentheid sal wees om ná die boodskap met jou te kom gesels of vrae te vra as iets onduidelik was of as hulle meer inligting wil hê.

8 As daar sang gaan wees, moet dit nie te lank wees nie. Die klem moet nie op die sang wees nie, maar wel op die boodskap.

9 Wanneer jy bid, open met ’n kort gebed en vra dat die Heilige Gees jou sal lei met die boodskap wat deur God aan jou toevertrou is.

10 Reken daarop dat die Here deur sy Heilige Gees reeds die boodskap in jou hart gelê het. Lees die bepaalde Skrifgedeelte waarop jy gaan fokus, voor. Bring dan die boodskap grond toe; elke luisteraar moet voel dat dit vir hom of haar persoonlik bedoel is. Die boodskap van Saggeus in Lukas 19:1–10 is ’n goeie voorbeeld. Saggeus was iemand wat ’n begeerte gehad het om die Here te ontmoet. Hy doen moeite en ontdek dan dat die Here ook met hom wou praat. Uit dankbaarheid vir die sinvoller ontmoeting berei Saggeus vir Jesus ’n maaltyd voor en tydens die gesprek aan tafel kom hy met ’n belydenis: Hy gaan die helfte van sy goed vir die armes gee en waar hy iemand afgepers het, sal hy dit vierdubbel teruggee. Die kern van die boodskap waarop gefokus moet word, is dat Saggeus en sy huisgesin gered word as gevolg van sy ontmoeting met Jesus (Luk 19:10).

11 Wanneer jy die boodskap gebring het, volg jy dit op met ’n uitnodiging vir gesprek indien iemand hulp of leiding nodig het. Kyk wat sê Petrus in 1 Petrus 2:2 oor die “melk”-stadium van geestelike groei. Nooi individue uit om jou ná die diens te kom spreek of volg dit op met geleentheid later indien hulle ’n persoonlike geestelike gesprek verlang.

12 Sluit die verrigtinge af met gebed.

Neem in ag dat dienste normaalweg ongeveer ’n uur lank duur. Berei dus ’n boodskap voor wat ongeveer 30 tot 40 minute lank is. Sommige van die boodskappe in hierdie boek is langer met die oog op geleenthede waar langer boodskappe verlang word, en kan verkort word soos nodig.

Onthou dat hierdie preeksketse voorberei is as ’n hulpmiddel vir jou as geestelike werker. Dis toegelig met Bybelverse sodat jy daaruit kan haal wat jy in jou boodskap wil inskakel. Jy kan dit egter ook gebruik net soos wat dit hier aangebied word.

Dit is jou taak as dienswerker om getrou te wees in die oordra van die boodskap wat die Here aan jóú openbaar. Jy is as ’t ware die bode wat die boodskap aflewer. Die hoorders is die saailand wat gereed lê en wag vir die saad. Die boodskap wat jy bring, is die saad wat gesaai word in hulle harte. Jesus sal self sorg vir die oes. Dit is Hy wat sorg dat die saad ontkiem en groei, sodat vrug na vore kom op die regte tyd en op die regte manier.

Bybelboodskappe

Подняться наверх