Читать книгу Bybelboodskappe - Jan Hulme - Страница 4

Voorwoord

Оглавление

’n Kind van die Here vir wie die Woord lewe … dit was my ervaring van Jan Hulme en sy boek. As gevangenisbearbeider oor jare heen is talle vrae oor die praktiese van Christenwees aan hom gestel. Onder leiding van die Gees van God het hy gaan sit en ’n boek saamgestel wat wonderlike Bybelsgefundeerde antwoorde en boodskappe verskaf aan werkers in tronke, maar ook aan enige gelowige wat Skrifantwoorde soek op praktiese geloofskwessies. Omdat Jan hom deur die Gees laat lei het, is die boek logies, verstaanbaar en bo alles: Woordgefundeerd en Christusgefundeerd. In Hom vind Jan sy antwoorde en oplossings – vir ander en vir sy eie lewe.

In my kontak met die skrywer het ek iets van ’n Lotshart by hom ervaar. Soos Lot van ouds in Sodom en Gemorra hom baie gekwel het oor die afgedwaaldes en roekeloses, so ook met Jan – daar is by hom ’n opregte omgee vir hulle wat nie van beter weet nie en om vir hulle te kan sê: Die “Here” het vir jou antwoorde. Die “Here” is jou antwoord in Christus. Dis lekker om in sy boek saam met iemand die pad te stap vir wie Christus self sy lewe geword het.

Vir Jan was die samestelling van die boek nie iets wat hy self loop en bedink het nie. Soos hy telkens vir my gesê het as ons saam oor sekere hoofstukke gesels het – die Here gee vir my die woorde en die teksgedeeltes. Jan is nie ’n opgeleide teoloog nie – die werklike wysheid en insig het die Gees self aan hom gekommunikeer.

Die boek sou baie sinvol gebruik kon word in gevangenisbearbeiding maar ook in die persoonlike Bybelstudie. Uiters aktuele temas word bespreek en belig uit die Woord.

Iets oor die skrywer self: ’n baie vriendelike, aangename persoon sonder enige selfvoldaanheid of pretensie. ’n Eerlike, opregte kind van ons Heer wie se lewe uitverkoop aan Hom. Jan is ’n hulpvaardige, liefdevolle persoon wie se boodskappe en lewe mekaar telkens ontmoet. Verder is Christus vir hom ’n lewende werklikheid as synde Christus nou hier teenwoordig in ons daaglikse lewe.

Ek het die grootste vrymoedigheid om die boek by u te kan aanbeveel.

Ds GK Malherbe

Bybelboodskappe

Подняться наверх