Читать книгу Bybelboodskappe - Jan Hulme - Страница 5

Inleiding

Оглавление

Elke tweede Sondag hou ek ’n kerkdiens by die Korrektiewe Dienste se Jeugsentrum in Mosselbaai, waar ek as geestelike werker betrokke geraak het. Omdat ek nie gepaste boodskappe kon vind vir my voorbereiding nie, het ek die Here se leiding gesoek hieroor. Die Here Jesus het deur sy Gees op wonderbaarlike wyse boodskappe aan my bekend gemaak.

Ná agt jaar se bediening het ek besef dat daar ook by baie ander geestelike werkers ’n behoefte bestaan om gepaste boodskappe te vind vir soortgelyke dienswerk. Toe het die Here dit op my hart gelê om die “preke” wat ek oor jare heen geskryf het, te verwerk en in boekvorm te laat publiseer. So het hierdie boek ontstaan.

Al is die boodskappe oorspronklik geskryf met die oog op ’n bediening in die gevangenis, is dit geskik vir gebruik deur werkers in alle Christelike kerke en denominasies in verskeie dienswerksituasies. Dit dek feitlik die hele Bybel se inhoud, is tematies gerangskik en in geselstrant geskryf. Stellings is met Skrifgedeeltes toegelig vir verwysingsdoeleindes. Geestelike bedienaars van die Woord kan die boodskappe gebruik net soos dit aangebied word, of hulle kan dit verwerk soos die Here hulle deur sy Gees lei.

Hierdie handleiding kan ook deur individue gebruik word tydens selfstudie in die Woord, byvoorbeeld wanneer ’n mens twyfel oor jou geloof, soek na die Here se teenwoordigheid, bang is vir die dood of as jy hunker na die lewe van ’n vrygemaakte kind van die Here. Dit openbaar God se Woord op baie unieke maniere.

Al die verskillende Christelike kerke vorm almal saam die liggaam van Christus. Al verskil die lidmate van mekaar oor sake soos die doop of die eindtye, word ons almal gelei deur die een Heilige Gees wat in ons woon. Jesus het sy bloed vir almal gestort en ons word almal gered deur God se genade. Ek noem dit omdat daar klemverskuiwings tussen verskillende denominasies mag wees, maar met geringe aanpassings is die boodskappe bruikbaar vir alle Christengroepe.

Wanneer mense die Woord van God begin verstaan, verander dit hul hele lewe. Dit beïnvloed hulle positief en gee hulle ’n nuwe lewensbeskouing. Wanneer mense Jesus deur die Woord beter leer ken, inspireer sy liefde en genade hulle gewoonlik om weg te draai van hul verkeerde weë en Jesus se pad te stap.

Ek bid dat God hierdie boek mag gebruik om juis dit deur sy Gees in mense se lewe te bewerkstellig. My hartsbegeerte is dat die saad wat deur hierdie boek gesaai word, ’n goeie oes vir God se koninkryk sal oplewer.

Bybelboodskappe

Подняться наверх