Читать книгу Bybelboodskappe - Jan Hulme - Страница 15

Оглавление
Boodskap 9 My God is ’n praktiese, alomteenwoordige God

Skrifgedeelte

Matteus 6:19–21

19“Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. 20Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. 21Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees.”

Preekskema

Hoe betree ek God se teenwoordigheid? Wie mag in sy teenwoordigheid kom? Die volgende punte mag dit vir ons duideliker maak.

Bekering en vergifnis

1 Psalm 66:18 sê God hoor nie as daar ongeregtighede in my is hart is nie.

2 1 Johannes 1:9 sê ons moet ons sondes bely en God sal ons vergewe en van ons sondes reinig om Jesus se ontwil. God is getrou en regverdig en sal ons vergewe.

3 Volgens Psalm 24:4 kan ons in God se koninkryk ingaan as ons hande rein en ons harte suiwer is, sonder sonde.

4 Jesaja 59:1–3 herinner ons dat ons oortredinge skeiding bring tussen God en ons, want God hou Hom doof vir ons as ons nie daarmee ophou en met die sondes breek nie.

5 Matteus 6:14–15 sê dat as ons ander mense hul oortredinge vergewe, vergewe God ons. As ons ander mense, wat ons leed aangedoen het, nie vergewe nie, sal ons Vader ons oortredinge en sondes ook nie vergewe nie,

Kruisiging van jou eie ek

1 Jy moet jou kruis opneem, jou eie ek kruisig en Christus se voorbeeld volg; dus die weg bewandel wat Hy vir ons kom wys het.

2 Jakobus 4:3–4 sê ons moet ontslae raak van al ons selfsugtige begeertes. Ons moet ons vriendskap met die wêreldse dinge verbreek sodat ons soos Jesus word en ’n vriend van God kan wees. Vriendskap met die wêreld is vyandskap met God.

3 In Jeremia 29:11 sê die Here Hy beplan voorspoed vir ons en nie teenspoed nie. Die Here wil dus hê dat dit moet goed gaan met sy kinders. Ons moet daarom ons eie planne en drome onderwerp aan God se mooi drome en planne vir ons.

4 In 1 Tessalonisense 5:23–24 lees ons: Mag God wat vrede gee, ons volkome aan Hom toegewyd maak, sodat ons geheel en al na gees en liggaam so bewaar word dat ons onberispelik sal wees, wanneer ons Here Jesus Christus weer kom. God sal dit doen, want Hy wat ons roep, is getrou.

Danksegging

Filippense 4:6 verseker ons dat ons oor niks hoef bekommerd te wees nie, maar ons moet ons begeertes en behoeftes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend maak.

Lof

Psalm 18:1–3: “Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.” Deur lofprysing verklaar ons God se grootheid en almag en beskryf ons sy karakter van genade en liefde. Sê vir die Here dat jy ook baie lief is vir Hom soos Dawid Hom besing het.

Aanbidding

In Jesaja 56:7 loof die profeet God deur te sê Hy sal ons na sy heilige berg bring, na sy huis van gebed vir alle volke. Die Here gee ons vreugde gee en verhoor ons gebede. Ons moet God gereeld aanbid om eer aan Hom te betoon en ons liefde vir Hom te verklaar.

Luister

Johannes 10:4 sê dat wanneer Jesus sy skape uitbring, loop Hy vooruit en sy skape volg Hom, omdat hulle sy stem ken. Ons moet egter op ons hoede wees dat die duiwel ons nie met ’n ander vreemde stem van agter af probeer mislei nie, Bid vir onderskeiding om te bepaal of dit God is wat met ons praat, of dalk die duiwel?

Ons moet bewus wees van wat God begeer vir ons. Om dit te weet, moet ons ons instel om te luister na sy stem. God wil sy planne vir ons aan ons bekend maak.

Bid God se beloftes

In Jeremia 23:29 sê die Here sy Woord is soos vuur, soos ’n hamer waarmee rotse vermorsel word. God se Woord is betroubaar en regverdig. God wil hê dat ons sy Woord suiwer en kragtig verkondig en nie verdraai nie (Jer 23:31). Ons kan in ons gebede God se Woord aanhaal, Hom herinner aan en verwys na beloftes in sy Woord (bv Joh 1:12; 7:37–39).

Intersessie

Esegiël 22:30: “Ek het iemand tussen hulle gesoek wat ’n muur sou bou en vir die stad in die bres sou tree dat dit nie vernietig word nie, maar ek het niemand gekry nie.” Kinders van die Here, is julle beskikbaar om vir die Here in die bres te tree en te sorg dat sy koninkryk nie skade aangedoen word nie? Esegiël 22:31 sê die Here laat ons kry wat ons verdien, die vraag is: Dra ons vrug vir Hom? Die beginsel word bevestig in Matteus 25:14–30 oor die gelykenis van die muntstukke.

Ons moet God se koninkryk uitbou en mense tot bekering lei. As ons vervul is met God se Heilige Gees, kan ons tog nie stilsit as die saailand braak lê en die saad wag om gesaai te word nie. Wat ons ook al vir Hom doen, moet ons in nederigheid doen, want Jesus het vir ons die voorbeeld gestel deur sy dissipels se voete te was (Joh 13:1–17).

Bybelboodskappe

Подняться наверх