Читать книгу Bybelboodskappe - Jan Hulme - Страница 13

Оглавление
Boodskap 7 Die wederkoms van die Here

Skrifgedeelte

Openbaring 22:6–8, 10, 12, 20

6Toe sê die engel vir my: “Hierdie woorde is betroubaar en waar. Die Here God, wat sy Gees aan die profete gee, het sy engel gestuur om vir sy dienaars te wys wat binnekort moet gebeur.”

7Jesus sê toe: “Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boek ter harte neem.”

8Dit is ek, Johannes, wat dit alles gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek voor die voete van die engel wat dit alles vir my gewys het, op my knieë neergeval om hom te aanbid …

10Verder sê hy vir my: “Moenie die woorde van hierdie profetiese boek geheim hou nie, want die eindtyd is naby …”

12Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. 13Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde …”

20Hy wat dit alles getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!”

Amen! Kom, Here Jesus!

Preekskema

1 Niemand weet wanneer die Seun van die mens kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun van die mens nie. Net die Vader weet dit (Matt 24:36). Jesus kom op ’n dag en ’n uur wanneer niemand dit verwag nie. Volgens Matteus 24:42–44 moet ons dus altyd gereed wees. Volgens Openbaring 22:6, 12 en 20 sê die Here dat Hy “gou” kom.

2 Daar gaan wel tekens wees wat ’n aanduiding gee dat Jesus se wederkoms naby is: Daar sal opstand wees tussen nasies en koninkryke. Daar sal groot aardbewings wees; hongersnode, epidemiese siektes (soos vigs) en skrikwekkende dinge gaan gebeur, soos oorstromings en groot tekens aan die hemel af. Almal wat in Jesus Christus vrugbaar lewe en in die geloof en liefde volhard, sal ter wille van Jesus gehaat, verraai en vervolg word, selfs deur eie familie (2 Tim 3:1–14). Ons ervaar en sien dié dinge al klaar gebeur, maar hierdie tekens gaan al hoe hewiger word hoe nader ons aan die einde kom.

3 Die laaste afvalligheid en die verskyning van die antichris wat met groot magsvertoon deur Satan gedryf word, saam met allerhande valse getuies en Satansleuens soos die verdraaiing van God se Woord, sal die wederkoms van Christus voorafgaan (2 Tim 2:3–12). Die Satan gaan wonderwerke doen soos die genesing van siekes, toorkrag gepaard met gruwelike misleiding van ongelowige mense wat nie in God se lig wandel nie en die waarheid nie lief het nie.

4 Hierdie wettelose mens is bestem vir die oordeel en die verderf. Die geheime krag van die wetteloosheid is al aan die werk. Hy sal selfs in die huis van die Here sit en homself as God voordoen. Hy sal homself vereer, en hom verset teen alles wat God genoem word en heilig is; hy sal hom bo ons verhef.

5 Jesus het ons die gelykenis van die ryk man en Lasarus in Lukas 16 gegee. As ons te sterwe kom, bevind ons ons daarvolgens op een van twee plekke: Óf saam met die ryk man in die doderyk, waar jy volgens Lukas 16:23–24 verskriklik gaan ly en in ’n vuur in pyn gaan verkeer, en volgens Openbaring 20:14 uiteindelik na die verdoemenis gaan; óf saam met Lasarus by vader Abraham, waar dit goed gaan en jy uiteindelik opgewek gaan word en ewig sal lewe saam met Jesus ons Verlosser by God die Vader.

6 Daar is ’n onoorbrugbare kloof tussen bogenoemde twee plekke en niemand kan van die een kant oorgaan na die ander kant (Luk 16:26) tydens hierdie dimensie ná die dood nie. Die keuse waar ons ons wil bevind, moet ons tydens ons lewe hier op die aarde maak.

7 Ons weet ook uit Lukas 16: 22 dat die engele die gelowiges pas na hul dood na vader Abraham wegdra. Daar is ’n eerste opstanding van al die gelowige mense wat gesterf het in Jesus en ook al die gelowige mense wat lewe by Jesus se wederkoms (1 Tess 5:10). Hulle word saam weggevoer Jesus tegemoet. “Geseënd en heilig is die wat aan die eerste opstanding deel het. Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en Christus wees en hulle sal saam met Hom regeer” (Op 20:6). Die ander dooies word nie opgewek voor’n tydperk van 1 000 jaar ná die eerste opstanding verby is nie (Op 20:5).

8 Die valse profeet of antichris en die dier is die eerstes wat in die hel gegooi gaan word; die Satan self n sy demone beland ook daar, en verder almal wie se name nié in die boek van die lewe geskryf is nie (Op 20:10, 15).

9 Met die koms van die Seun van die mens sal Hy in ontsaglike majesteit verskyn, soos ’n weerligstraal wat uitslaan en die hemelruim verlig van die een kant na die ander. Die Here sal met sy magtige engele in ’n vuurvlam uit die hemel verskyn. Wanneer God die bevel gee, sal die stem van die aartsengel en die laaste trompet van God weerklink en almal sal dit wêreldwyd hoor. Christus sal sy volgelinge kom haal, dié wat reeds gesterf het en dié wat nog lewe, want Jesus is die opstanding en die lewe. Al sterf ons ook die aardse dood, sal ons in alle ewigheid nooit die ewige dood ingaan nie (Joh 11:25–26).

10 Ons wat waaksaam is, sal gereed wees, want ons het mos uitgesien na dié gelukkige en heerlike dag wat ons verwag (Tit 2:13–14; 1 Tess 5:6). Die man wat op die dakstoep sit, sal nie nog na binne kan gaan om sy besittings in die huis te gryp nie. Die man op die land moet ook nie omdraai na sy huis nie (Luk 17:24, 31). Twee sal op een bed slaap, een sal weggevoer word en die ander een word agtergelaat. Twee vroue sal koring maal, een sal saamgeneem word en die ander een sal agtergelaat word (Luk 17:34–35).

11 Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, binne ’n oomblik, in ’n oogknip, onverganklik uit die dood opgewek word, daarna sal ons wat dan nog lewe en in Christus is, verander word. Almal sal saam weggevoer word ons Verlosser tegemoet. Ons sal Hom dadelik herken en saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel (Kol 3:4). Ons word uitgenooi na die bruilofsmaal van die Lam, wat hierná volg (Op 19:9) en ontvang sy oorwinnaarskroon en lewe dan vir altyd by God (2 Tim 4:8).

12 Volgens 2 Korintiërs 5:10 moet ons almal voor die regterstoel van Christus verskyn, maar ons wie se name in die boek van die lewe geskryf is, sal net daar wees om ons loon te ontvang volgens wat ons tydens ons aardse lewe gedoen het (Op 22:12). Ons hoef geen vrees te hê vir die oordeelsdag nie, want ons het volmaakte liefde ontvang deur die Heilige Gees in God die Vader, wat in ons bly deur die toedoen van Jesus Christus, ons Verlosser. Jesus het deur sy bloed aan die kruishout vir ons sondes betaal en ons is dus volkome gereinig. Jesus is ons voorspraak by God, sodat ons saam met Hom erfgename kan wees van God se koninkryk (Rom 8:17).

13 So kom die skeiding tussen gelowiges en ongelowiges: die skape wat van die bokke geskei word. Die ongelowiges, wat agterbly, word eers na 1 000 jaar opgewek. Nadat die Satan ’n kort tydjie vrygelaat is en verwoesting gesaai het, word hulle wat nie in Christus gesterf het nie, opgewek. En hulle wat nog lewe en ook nie Christus in hulle lewe aangeneem het nie, verskyn dan saam voor God se groot wit troon om hulle skrikwekkende straf te ontvang. Hierdie mense is die antichris en sy volgelinge wat bekend staan as “die wettelose mens” wat vir die verderf bestem is. Dit is dié wat op die bed agtergebly het en die een vrou wat by die meule agtergebly het, wat dwaalleringe aanvaar het en wat nie die liefde van die waarheid aanvaar het nie (2 Tess 2:11).

14 Hulle wat hulle buite die nou poort sal bevind is die dwaalleraars, die bedrieërs, die onsedelikes, die moordenaars, die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen, hulle is op pad na die breë poort van verderf. Hulle sal volgens hul slegte dade veroordeel word (Op 22:15). Hulle sal vir altyd geban word uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag (2 Tess 1:9–10).

15 Volgens 1 Tessalonisense 5:23 is Paulus se groet aan alle medegelowiges: “Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees, wanneer ons Here Jesus Christus weer kom.” My gebed is dat jy wat hierdie woorde lees of dit hoor, ernstig sal bid vir verlore gaande mense sodat hulle betyds tot inkeer sal kom en Jesus ons Saligmaker sal aanneem. Onthou dat ons lewe maar soos ’n wolk is wat verby trek, vandag sien jy hom, maar môre is hy nie meer daar nie. Wanneer ons sterf, is dit vir ewig te laat om gered te word. En tog sal dit die gevolg wees van my en jou eie wilsbesluit.

16 Mense wat dink dat hulle en hulle nageslag met al hul aardse besittings watvan geslag tot geslag oorgedra word, vir ewig op hierdie aarde gaan voortbestaan, maak ’n baie groot fout. In Hebreërs 12:26–27 sê die Here duidelik dat Hy die aarde en die hemel nog een maal gaan laat bewe. Hierdie woorde “nog een maal” laat duidelik blyk dat die geskape dinge, wat reeds aan die wankel is, finaal weggeneem sal word, sodat slegs die ewige, onwankelbare dinge kan bly.

17 By die oordeelsdag – nie die wederkoms van Christus nie – sal die hemel met ’n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame verbrand tot niet en die aarde met alles wat daarop is, vergaan (2 Pet 3:10). Vers 13 dui vir ons aan dat daar ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gaan wees, waar God vir ewig by sy aangenome kinders teenwoordig gaan wees.

Bybelboodskappe

Подняться наверх