Читать книгу Bybelboodskappe - Jan Hulme - Страница 12

Оглавление
Boodskap 6 Twee poorte

Skrifgedeelte

Johannes 10:1–15, 27–28

1“Dít verseker Ek julle: Wie nie deur die hek in die skaapkraal ingaan nie maar van ’n ander kant af inklim, is ’n dief en ’n rower. 2Maar hy wat deur die hek ingaan, is die skape se herder; 3vir hom maak die hekwagter oop. Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit. 4Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. 5Hulle sal nooit ’n vreemde volg nie maar van hom af weghardloop, omdat hulle nie die stem van vreemdes ken nie.”

6Deur hierdie beeld het Jesus met hulle gepraat, maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy vir hulle wou sê nie.

7Toe het Jesus verder gesê: “Dít verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. 10’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

11“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. 12’n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy ’n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. 13Hy is ’n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie.

14“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, 15net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape …

27My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. 28Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Preekskema

1 Die Bybel oftewel die Skrif, die Woord van God, is deur God self geïnspireer (2 Tim 3:16–17). Reg deur die Bybel loop ’n goue draad wat vir elke mens wat geleef het, wat nou leef en wat nog sal lewe, die lewensweg na die ewigheid aandui. Hierdie pad eindig op by ’n punt waar dit in twee weë vertak, met twee poorte, een breed en een smal (Matt 7:13–14).

2 Die Bybel sê die pad na die nou poort is smal en min mense gaan dit kry. Hierdie pad lei na die koninkryk van die lig, waar Jesus in God se heerlikheid is. God is die Skepper en die heerser oor hierdie koninkryk. Dit is die pad vir gelowige Christene. Geen mens kan in dié koninkryk ingaan behalwe deur die toedoen van Jesus Christus nie. Hy is self die “ingang” na dié koninkryk (vgl Joh 10:9). Jesus is die goeie herder en sy skape ken Hom en hulle ken sy stem. Volgens Jesaja 43:1 ken Hy ons elkeen by die naam, soos ’n goeie herder sy skape ken. Hy het die name van sy kudde in “die boek van die lewe”(Op 20:15) geskryf.

3 Jesus het, soos ’n herder wat sy skape tot die dood sal beskerm, sy lewe vir ons afgelê aan die kruis. Hy het sy bloed gestort om ons sondes te vergewe, sodat ons nou, as rein mense wat die wil van die Vader doen, geskik is om deur Hom, die ware “ingang” of “poort”, God se koninkryk binne te gaan. Volgens Openbaring 21:27 kan niks en niemand wat onrein is, ooit in die koninkryk van God kom nie. Ons is nie bestem om gestraf te word nie, maar om die ewige lewe by sy wederkoms te ontvang, ongeag of ons dan lewe of reeds dood is (1 Tess 5:9–10).

4 Die pad na die ander poort is breed en daardie poort is wyd en dié wat daardeur gaan, is baie. Wie deur hierdie poort ingaan, gaan egter nie na God se koninkryk nie, maar na die koninkryk van die duister, waar die duiwel die regerende prins is. Hierdie plek is deur God geskep as die plek van verderf. Mense wat Jesus nie aangeneem het as hulle Verlosser en Saligmaker nie, en wie se name nie deur Jesus in die boek van die lewe geskryf is nie, maar wat opgeteken is in die boek van verdoemenis, gaan in die ewige vuur van die hel beland, saam met die duiwel en sy engele en demone. Volgens Markus 9:46 en 48 gaan die mense in daardie plek te doen kry met ’n onuitblusbare vuur en swael, waar hulle dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid (Op 14:10–11). Dié haglike toestand staan bekend as die tweede dood (Op 20:14–15).

5 Tot met Jesus Christus se wederkoms na die aarde as Verlosser, ’n gebeurtenis waarna ons as gelowiges met soveel verwagting uitsien (Tit 2:13), gaan die duiwel ons dag en nag by God aankla (Op 12:10). Maar volgens Openbaring 12:11 het ons egter oorwinning behaal, danksy die bloed van die Lam en die getuies wat ons gelewer het. Ons sien hier duidelik in vers Openbaring 12 dat ons oorlogstryd hier op aarde nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die “draak”, die bose magte in hierdie sondige wêreld; teen die bose geeste in die lug (vgl ook Ef 6:10–13).

6 Volgens Jakobus 4:7 weet ons dat ons wat ons onderwerp het aan God se krag en groot mag, en wat sy wapenrusting aantrek, kán die duiwel teëstaan, sodat hy van ons sal wegvlug. Ons wat glo, weet dat ons werklik vrygespreek is van die straf van die wet (Gal 2:16–19). Christus het die vloek op Hom geneem, soos vermeld in Galasiërs 3:11–13, en ons het niks om te vrees nie. Die duiwel kan ons daarom maar aankla tot hy blou in die gesig is. Ons is vrygespreek.

7 Omdat ons al hierdie dinge uit die Woord weet, het ons die bemoediging om te volhard tot die einde (Matt 24:13), want Jesus woon deur sy Gees in ons. Sorg dus dat jy jou op die pad na die nou poort bevind deur Jesus te volg wanneer jy by die kruispad kom; en jy sal gered word.

Bybelboodskappe

Подняться наверх